Saterdag 19 Desember 2015

Mieliepap - Laatnag Snaxie

Teen hierdie tyd hoef ek nie meer te vertel van hoe lief ek vir mieliepap is nie, die wat my ken, weet dit baie goed. Ek is tans op a sending om die gebruik van mieliepap te bevorder. In die proses gaan ek probeer om die stories so te skryf dat die jongmense lus gaan kry om pap te maak en as hulle dit doen dan moet hulle ook seker wees hulle gaan 'n goeie resultaat kry.

Die maak van pap word deur die meerderheid van mense as 'n maklike proses gesien en baie beskou dit as 'n onding om maatbekers te gebruik. Dit werk vir hulle maar vir my, ek hou van voorspelbaarheid en ek is vol nukke oor korrekte mate.

Een vorm van pap wat vir my werklike trooskos is, is slappap ... lekker warm, syglad en ryk. Dis iets wat my op vêr paaie laat teruggaan en bring altyd so gevoel van rustigheid oor my. My werk vereis dat ek selde voor 01h30 in die nag gaan slaap. Ons eet gewoonlik tussen 18h00 en 19h00 in die aand en dit beteken dat by middernag het gewoonlik so hol kol op my maag. 'n Beskuit en koffie is gewoonlik die antwoord maar soms, net soms ... was dit a wilde dag en my siel soek lafenis. Dis dan dat ek my klein potjie uithaal en pap maak ... lekker slappap.

Vanaand is dit weer so en ek haal die bak met die GWK Meelsakkies in van die rak af. Ek vat die Rof en Grof met semels en meet 80ml af ... dis so 1/3 de koppie.

In die potjie gooi ek een koppie melk en 'n half koppie water. 'n Knippie growwe sout en 'n teelepel botter.

Ek staan en kyk by die venster uit terwyl ek vir die water wag om te kook. Dis baie belangrik dat dit goed kook. Ek sien hoe 'n nagapie 'n mot skraap onder die sekuriteitslig en dan is albei weg. DIs doodstil in my huis en buite ritsel die blare net so nou en dan ... wind of gedierte ... dit weet ek nie altyd nie.

Die borrelde water ruk my terug en ek gooi die meel vinnig in. Nou is dit baie belangrik dat jy dit baie goed roer ... daar moet absoluut geen klonte wees nie. Ek het so kly mini-whisk wat ek gebruik maar a gewone tafelvurk werk ook goed. Wees versigtig want die pap is slap, borrelend en hitsig ... as dit op jou hand spat gaan jy dit weet. O ja ... soms kan dit lyk of die potjie wil oorkook ... roer maar soos 'n mal ding en as dit handuit wil ruk ... skuif die potjie van die plaat af.

Deksel terug en dan draai ek die hitte af. Nou stel my horlosie en ontspan ... die volgende aksie is oor 10 minute.

Die klokkie lui en ek maak die deksel oop ... die mel en die vloeistof kan nou effens geskei het maar dis normaal ... roer weer baie goed en kyk of dit glad is ... met baie growwe meel, soos wat ek hier gebruik ... gooi ek nou 'n kwart ko[[ie water by en roer tot mooi glad.

Op met die deksel en wag weer 10 minute. Die klokkie lui en ek roer die pap goed ... dis te dik na my smaak en ek gooi weer 'n kwartkoppie water in en roer baie goed. Baie mense sal die pap nou al eet ... nie vir my nie ... die volgende 10 minute is wat die slappapgaan onderskei van koshuispap of hospitaalpap.

Die horlosie lui na nog 10 minute en die geur vul my kombuis as ek die deksel afhaal. Ek is nog altyd van mening dat die meeste mense rou pap eet ... nou nie heeltemal rou nie maar verseker nie goed gaar nie.

Ek dop die potjie pap om in a lekker diep bord en sit 'n teelepel botter in die middel neer. Die warm pap laat die botter smelt en die stroompies heerlikheid vind hulle weg na die rant toe. Ek strooi die suiker oor en kry 'n glas lekker koue melk. Ek eet nie melk oor die pap nie ... nee ek vat sulke versigtge skeppies teen die rant om en kort kort so slukkie koue melk. En dis soos ek van my slappap hou.

Baie maal sal ek so bietjie kaiings oorstrooi, of gekerfde biltong, gesnipperde oorskiet braaivleis of wors ... enigeiets om so bietjie ekstra geur in te sit ... maar op die einde is daardie kaal pap met botter en suiker genoeg vir my.

Ai en hoe vêr gaan my gedagtes nou terug ... koue wintersoggende op die plaas, laataande in my ouma se kombuis met die wind wat huil om die hoeke en die reën wat teen die kombuisvenster spat ... goeie gedagtes en goeie tye.

Hier is die resep:
80ml Meel
250ml Melk
125ml Water
Knippie sout
1 Teelepel Botter
Ekstra 125ml Water

Metode:
Gooi melk, halfkoppie water, sout en botter in 'n klein potjie en laat kook.
Gooi meel in en roer goed met a gewone vurk en maak seker daar is geen klonte nie.
Draai plaat af na laag en laat prut vir 10 minute.
Roer nou goed en gooi die helfte van die ekstra water in en roer goed in.
Prut weer 10 minute met die deksel dig toe.
Gooi nou die laaste water in en roer weer goed.
Prut nou weer vir 10 minute.
Totale kooktyd is 30 minute.
Skep op.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.