Vrydag 25 Desember 2015

Nagereg - Man Kos Kluitjies

Man Kos Kluitjies
Menige man is baie lief vir so ietsie soets aan die einde van die ete. Ek persoonlik is nie baie lief vir warm nageregte nie maar hierdie een is die uitsondering. So ruk gelede het Dine van Zyl my gevra of ek nie 'n lekker maklike nagereg het wat op die vuur gemaak kan word nie en dit het my so bietjie laat sit en dink ... en toe kom ek met die een op.

Dis 'n baie eenvoudige resep en die bestandele is nie ingewikkeld nie.
Eenvoudige bestandele
Hierdie nagereg kan op die stoof of op die vuur gemaak word. Dis vinnig en baie lekker. Dit is
verseker ryk maar nie te soet nie.
Die resep lewer 6 tot 10 porsies, afhangende van hoe honger die mense is maar as jy dit in koppies opskep behoort jy maklik 10 koppies te kan vul.
Die is 'n regte Man Kos nagereg waarvan vrouens ook hou. Meer belangrik, dis baie maklik om te maak en die kluitjies is altyd lekker lig.
Karamel en water in die pot
Bestandele:
1x Blikkie Nestle Caramel Treat
1x Houertjie 500ml Vars Room
1x Blik 410gr ingelegde Appelkose (Jy kan Perskes ook gebruik)
Perskes en room bygevoeg
Nota: Die poeding is glad nie baie soet nie. As jy dit meer soet wil maak kan jy so 2 eetlepels goue
stroop in die sous sit. Lekker fynbos heuning is vir my 'n beter opsie. Ek stel voor jy maak dit een maal en proe self of dit soet genoeg is. Ek persoonlik verkies 'n nagereg wat nie te soet is nie. Ek hou maar die bottel heuning byderhand sodat die gaste self besluit hoeveel hulle wil by sit.






Sous:
Kluitjie deeg
Plaas die karamel in 'n ysterpot en dreineer al die stroop in die vrugte blik ook in die pot in. Gooi
nou een en 'n half maal van die karamel blikkie vol water by en verhit. Roer maar gereeld totdat
alles mooi opgelos is. Moenie omgee as dit lyk of die karamel skif nie.
Haal nou die pot van die hitte af en maak jou kluitjies aan.

Kluitjies ingeskep
Hierdie stap is belangrik want as jy die kluitjie deeg aanmaak moet dit vinnig gebeur anders gaan jy die veerligte tekstuur verloor as jy te lank wag voor jy dit in sous skep. Daarom kook ek die stroop en maak dan die deeg aan.


Kluitjies:
250 ml koekmeel – 1 Koppie
125 ml wit suiker - ½ Koppie
5 ml bakpoeier – 2 Teelepel
2 ml sout - ½ Teelepel
40 g margarien
Kook lekker vinnig
1x eier en genoeg koue water om saam 100 ml op te maak. Die is belangrik want dit gaan bepaal hoe hanteerbaar is jou rou kluitjie deeg.





Meng al die droë bestandele saam en vryf dan die margerien of botter in soos waneer jy skons bak.

Deksel toe
Gooi nou die room in jou SOUSPOT en laat dit goed en vinnig kook. Gooi nou die perske stukke ook in die sous en meng solank jou meel met die eier-water mengsel.

Meng nou die meel mengsel en eier-water ... moenie getempteer raak en meer water by sit nie. Jy soek 'n taai deeg. Jy moet nou vinnig werk want jou pot kan oorkook.

Lekker lig en romerig
Nou gebruik ek 'n grootlepel en skep sulke hompies deeg in daardie borrelende sous in. Werk vinnig en maak die deksel toe. Draai die hitte nou laag af en los die pot uit vir 30 minute. Moenie die deksel oplig nie want die stoom proses is baie nodig om jou kluitjies gaar te kry.

Na 30 minute sit jy die hitte heeltemal af en laat die pot net so staan vir nog 30 minute. Jy kan loer as jy wil maar dis beter om nie die deksel op te lig nie. Die kluitjies is veerlig en gaan nou staan en die sous ordentlik opslurp.

In die koppies
As jy jou kluitjies bietjie droër wil hê kan jy die halwe blikkie water uitlos wat jy in die begin ingooi, met ander woorde jy gooi net 1x blikkie water in die sous.

Jy kan kaneel of mixed spice ingooi as jy wil om so bietjie feestelikheid in die pot te sit.

Die nagereg is heerlik saam met geklopte room of roomys ... jy kan ook vla by bedien as jy wil ... ek doen dit nie want die poeding is souserig genoeg.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.