Dinsdag 03 Maart 2020

Gewig - Jou lyf is al wat jy het

Ek het al so paar stories oor diete, gewig en gesondheid geskryf. Die wat my ken weet dat ek baie agterdogtig is teenoor dieet foefies en oor die algemeen vertrou ek op die Grotman om leiding te gee.

Sondag - Gebraaide hoender en aartappel
Gedurende Oktober 2016 het ek 'n wilsbesluit geneem om my leefstyl aan te pas. Ek was lelik oorgewig, het pre-diabeties geraak en het verskeie probleme met my hande, bene, voete en rug gehad. In kort, ek was letterlik in my moer in en het besef dat die kanse skraal is dat ek Kersfees 2016 gaan sien.

Op aanbeveling van my oudste seun het ek vir Eli Fourie gaan sien. 'n Merkwaardige man, hy is 10 jaar ouer as ek en sy hele lewe lank betrokke by die Ligaamsbou bedryf. Wat vir my die belangrikste was is dat hy duidelik ou ligame goed verstaan want hy het self een en is in goeie kondisie.

So begin ek met die kastyding, Maandae, Woensdae en Vrydae. Om te sê dat ek sleg was is heeltemal te sagkens gestel en verskoon maar die kruheid, maar feiete is feite en die feit was dat ek ordentlik gefok was. Oor 'n periode van 15 jaar het ek my ligaam verwaarloos en verniel tot op 'n punt waar hy letterlik begin ingee het.

Maandag - Sampioene, hoender en chili roomsous
Die aanvanklike oefensessies was pure hel en ek het my afgesluit van wat ander mense waar kon neem. Ek het die sessies omgewroeg en heeltyd verskonings gesoek om op te gee. Ek dink Eli het heimlik maar net sy kop geskud en deur die motions gegaan ... Goddank bly as die 55 minute verby was. Ek het my 108.5kg lyf met moeite deur die proses gesleep.

Terselfdertyd het ek begin oplet na wat ek eet en het daadwerklik gewerk aan my porsie beheer en dit afgeskaal na wat mens as ordentlik en genoeg sou kon beskou. Geen tweede skeppies nie en versigtig met die fyngebak.

Omdat die porsies kleiner was het begin fokus op smaak en tekstuur om darem die ete so aangenaam as moontlik te maak alhoewel dit baie minder was.

Dinsdag - Mossels Al Fredo
So worstel ek voort maar kan sien dat dinge verander en by Maart 2017 is my gewig af met 4kg. Meer bekangrik is dat ek kon sien ek begin verander in vorm en my klere raak al hoe losser. Ek het nie veel meer gewig verloor nie maar het daadwerklik sentimeters afgegooi. Duidelik was ek besig om spiermassa te vermeerder en dit het die gewigsverlies uitgekanselleer.

Ek gaan nou nie besonderhede gee van my oefenprogram nie, want dis nie belangrik nie. Wat interresant is, is dat ek begin het met Size 42 broek. By Oktober 2018 is ek vas in die roetine van 3x per week gym toe en my broek staan by los 38. En toe laat Oktober sien ek op 'n TV program hoe 'n Hart spesialis verduidelik wat die rol van oefening is vir gewig verlies. In kort kom dit bloot daarop neer dat jy in die eerste 30 minute van oefen vet verbrand, daarna stop dit en jy brand spiere vir energie. Die Sondag daarna sien ek 'n program waar 'n man praat oor die sogenaamde Wolf dieet. In kort is dit maar bloot net 'n Een Maaltyd per Dag ding.

Woensdag - Hoenderlewer, groenmielies en tamatie
Die eerste week in November 2018 begin ek myself dryf in die gym en druk om my roetine wat normaalweg 55 minute neem, in 30 minute in te druk. Dit het 3 sessies geneem en toe is ek daar. Dit was hel en my lyf het dit gevoel maar ek het dit gemaak.

Ek het terselfdertyd begin om my lyf te leer om net een maal per dag te eet. Dit was woes, party dae wou ek mal word en in die nag het ek gedroom van kos. Ek het gekerfde biltong en gekookte eiers byderhand gehou vir die tye wat ek absoluut gek wou word van die honger. Maar ek het vas gebyt en sterk daarop gefokus om my suiker en stysel inname kwaai af te skaal. In wese maar Banting of Atkins.

Drie weke in en my gestel het aangepas en die peusel ding het kwaai afgeskaal tot by die punt waar ek slegs op gym dae so ietsie tussin in geneem het. Vandag is dit 'n leefwyse vir my en ek doen dit sonder enige werklike konsentrasie. Soms eet ek miskien net twee eiers en 'n stukkie roosterbrood vir aandete en daar gaan ek.

Die beste was dat van November 2018 tot Maart 2019 verloor ek gewig van 104.5kg na 90.5kg toe. Broek size is nou 34, iets wat ek in die laat 80's laas gesien het.

Donderdag - Skaaprib met Appel, peer en wortelslaai
Die afgelope naweek kuier ons by ou vriende in Pretoria en natuurlik kom oefen en dieet ter sprake. Hulle is nie heeltemal so seker oor die een ete per dag ding nie. Gisteraand het ek vir hulle fotos gewys van my voorafgaande 5 maaltye. Ek sit die fotos ook nou hier op. Dit is smaakvolle etes en heeltemal genoeg om my 24 uur aan te dryf.

Wat ek geleer het is dat 'n mens nie jou lyf kan opdonner oor 10 of 15 jaar en dan dit wil regmaak in 90 dae nie. Dit sal nie werk nie. Ek het van Maart 2019 tot nou my gewig so rondom 91kg gehou en kan met gemak aanvaar dat dit gestabiliseer is. As ek sou uitskiet dan trek ek net die belt bietjie styf vir 'n dag of twee en die gewig is weer reg. Maak dit 'n gewoonte om jouself een maal per week te weeg en altyd min of meer op dieselfde tyd. Sodoende kry jy nie verrassings nie.

Ek het 'n lewensfilosie ... If you can measure it, you can manage it.

Kyk na die fotos, ek eet vir seker lekker maar ek eet ook smaaklik. Alle souse is met room en varkvet gemaak. Sekerlik nie wat deur meeste mense as dieetkos gesien word nie maar die Grotman in my hou van dit en kan dit hanteer.

Ten slotte, as ek die spiermassa aanwins en beendigtheid vermeerdering in berekening bring dan het ek omtrent so 26kg vet afgegooi. Dis hel baie en dink so daaroor, hoeveel werk moes my hart doen om daardie vet instand te hou, hoeveel stres moes my skelet verduur om daardie vet rond te dra. Dit is net eenvoudig waansin om jou ligaam so te verwoes. Vir myself was dit skokkend om die waarheid in die oë te kyk maar ek is Goddank bly ek het dit gedoen. Ek is vandag gesond, sterk en fiks en op byna 68 jarige ouderdom voel ek beter as wat ek op 48 gevoel het.

So, kyk na jouself sonder emosie en verander as jy langer en gesonder wil lewe. Dis nie maklik nie maar glo my, dis die moeite werd.

Begin iewers en begin klein maar ... BEGIN.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.