Wys tans plasings met die etiket SPAR Deeg. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket SPAR Deeg. Wys alle plasings

Vrydag 24 Augustus 2018

Vetkoek - Vark lekkerte

Vandag is dit koel en klam in die Laeveld. Daardie tipe koue wat jou kort kort laat mik vir iets om aan te peusel. Augustus is mos ook Vetkoek maand en Amagwinya feeste is volop.

Wel hierdie jaar het ek besluit om ietsie anders te doen. Ek het vetkoek en vark Prego gemaak.

Vetkoek en Prego Steak
Nou voor ek verder gaan ... feitlik almal wat Prego ken, weet dat die goed gewoonlik stinkend van die knoffel is en dit is presies wat my enige dis wat die woord Prego in het, laat vermy soos die pes. Sit daar by dat dit van die minder goeie snitte gemaak word en jy sit met taai en seningrige stukkie vleis wat hop van die knoffel en meer van 'n troosprys is as iets van waarde.

So tydjie gelede het ek 'n verhouding aangeknoop met die plaaslike ESKORT slaghuis in Nelspruit. Hy het aangebied om die #ManKos Potjiekos span te borg. Dit was natuurlik 'n goeie ooreenkoms want ons Potjiekos spyskaart is 100% gebou op vark.

Voeg hier by die feit dat ek 'n groot liefde vir varkvleis het en jy kry nogal interesante disse uit die vark se lyf uit.

Terug by vandag. Ek staan in die kombuis en wonder oor wat ek in my vetkoek wil insit. My oë dwaal deur die yskas en toe onthou ek, Andrè het vir my 'n pakkie van ESKORT se Prego Steaks gegee om te probeer.

ESKORT Prego Steak
Op die oog af is dit duidelik dat die vereiste chillis is aanwesig en dit lyk na 'n goed gegeurde olie in die pakkie. Ek het nou al geleer dat vark nie regtig van baie hoë hitte hou nie en ek smelt so teelepel vark vet in my pan. Toe ek die pakkie oopsny ruik ek dadelik dat daar knoffel in die storie is en ek frons, maar nouja dis die tradisie en ek gaan maar kyk hoe rof is dit regtig.

Daar is vyf mooi stukkies steak in die pakkie en ek hou van dit wat ek sien. Ek braai dit vir so 90 sekondes op die een kant en draai om. Goed gebraai met die regte hoeveelheid korsie wat gevorm het. Nog negentig sekonds en albei kante is mooi gebraai maar ek vermoed dat dit nog rou gaan wees. Halfgaar vark is nie regtig iets wat jy moet eet nie.

Ek haal die steaks uit die pan uit ... daar is nou 'n goeie laag gebraaide sous en chillies besig om vas te brand. Ek gooi so kwart koppie water in die warm pan in en dit begn dadelik borrel. Met 'n lepel skraap ek die pan bodem mooi skoon en pak die steaks terug in die sous in. So een minuut aan elke kant en ek sny die dikste een met 'n mes. Die kleur is reg en ek haal dit uit en laat rus terwyl ek my vetkoek voorberei.

Ek bak my vetkoeke vir die soort ding altyd sodat dit heeltemal hol is. Baie plek vir vulsel met 'n heerlik korsie.

Bietjie botter ... of baie ... skeppie appelkoos konfyt, tuisgemaak, breek die steak in stukkes en pak 'n mooi lagie in die holte. Volgende, dun skyfies tamatie en 'n klompie slaai blare.

En daar is hy ... heerlik ... baie lekkerder as wat ek verwag het en die knoffel is vir my, 'n man wat sensitief is vir koffel, gladnie 'n probleem nie.

Ek kan die pakkie  #ESKORT Prego Steak aanbeveel. Dis goeie waarde vir geld en anders as met baie Prego pakkies, is hierdie vleis heerlik sag en sappig.

Lekker Vetkoek dag vir julle.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 15 Augustus 2017

SPAR Deeg - Pizza in my Braaier

Vandag se storie is 'n ding wat al baie lank in my kop maal. Sien, die ding werk so, ek het in die 80's al besluit dat Gas Braaiers is die ding vir my ... die goed is vinnig, skoon en maklik om te gebruik. Poppie braai self maklik as sy nie die stoof wil bemors met spattende vet nie. Ons kan op die ingewing van die oomblik besluit om te braai en dan 15 minute later is die vleis op die roosters.

Pizza in Braaier
Die puriste vertel jou van die smaak van hout en wie weet wat nog maar vir my is dit meesal verbeelding. As jy hout laat uitbrand tot kole is daar niks van hout reuk meer in daai vuur nie. Net hitte.

'n Goeie gasbraaier wat goed ingeloop is het heeltemal genoeg aangebrande vet op wat aan die brand slaan sodra jy vet vleis opsit. Die vlamme gee dieselfde skroei effek as 'n houtvuur wat vlamme maak. Maar dit daar gelaat ... dis 'n argument wat nooit gewen kan word nie ... omtrent soos om te stry oor wat is die beste kamera, Canon of Nikon ... of wat is die beste bakkie, Toyota of Ford.

Reg vir die vuur
Ek het 'n baie goeie braaier en hy het ook 'n toeklap deksel wat 'n lekker oond vorm. Nou het ek al oor die jare opgemerk dat as ek die oond sou gebruik dan kom daardie temperatuur baie maklik by 350C by ... iets wat my elektriese oond nie kan doen nie ... en ek twyfel sterk of daar enige huishoudelike oonde is wat dit kan doen.

Op die Braaier
Vir 'n lang tyd oorweeg ek dit al om een of ander vorm van vuur gedrewe oond ding te kry om Brood in te bak en ek het na verskeie modelle gekyk ... pryse wissel van 'n aanvaarbare R3,500.00 tot 'n obsene R24,800.00 ... almal is hout aangedrewe of houtskool aangedrewe. Ek het 'n renons in vuurmaak en behalwe dat dit hoogs onbetroubaar en onstabiel is, is dit die alewige gemors daarna asook die onvermydelike ... "Ons het nie charcoal nie." storie.

8 minute later
So kom dit dat Poppie Vrydagaand by die huis aankom met 'n bol SPAR deeg. Toe ek ernstig begin Brood bak het, het ek met die SPAR deeg eksperimenteer om my oond bestuursvernuf te verfyn. Soek maar op die blog se indeks vir SPAR Deeg en jy sal verskeie stories kry wat ek geskryf het.

Ek weet nie eintlik hoekom het sy die deeg gekoop nie want ek bak al vir byna 'n jaar Suurdeeg Brood.

Perfek vir my
Ek staan die bol deeg so en bekyk en besluit ek gaan vir ons pizzas maak. Ek het 'n fancy pizza steen vir my oond en kry gewoonlik redelike aanvaarbare resultate ... dit vat egter omtrent 20 minute per pizza. Die oond loop dan op 230C.

Lekker kors
So ruk terug het ek dit oorweeg om gewone klei teëls op my oondrak te pak en daarop brood te bak. Dit het nooit gebeur nie en die teëls lê onder in my kas. Dit is rou teëls wat my seun vir my gekoop het en het geen glasuring op nie. Was nogal baie goedkoop ook vir die pakkie teëls.

Ek besluit om die teëls in te span vanaand in my braaier. Nou my braaier het twee stelle branders, links en regs ... en die branders kan afsonderlik beheer word. Ek het al baie eende in die oond gebak deur die oondpan op die linkerkant te plaas en slegs die regterkant se branders te gebruik ... so die eend kry geen vuur onder sy pan nie. Ek beluit om dieselfde beginsel met die pizza toe te pas. Teël op die regterkant laag gestel en groot vuur aan die linkerkant. Ek steek die braaier aan die brand, sit die teël op en maak die deksel toe. Hy moet nou warm word terwyl ek die pizza bou.

Net 'n wenk, as jy jou pzza basis maak ... doen dit maar met die hand en nie 'n koekroller nie. Jy wil die pizza spesifiek maak dat hy 'n prominente rant het. Dit verhoed dat jou vulsel die hele plek vol loop en alles besmeer. Vir die teël grootte wat ek gebruik het, is so 130gram deeg 'n goeie grootte.


Ontbyt Pizza
Nou my pizzas het ek 'n tuisgemaakte tamatie bredie/sous ding gebruik. Cheddar kaas, bietjie mozarella, fyn gekapte tamatie en dun skyfies cheesy russians. Kruie en speserye waarvan ek hou en dis dit. Nou pizzas is baie persoonlik en elke mens het sy eie smaak. Bou die ding soos jy van dit hou maar ... en dit is 'n GROOT MAAR ... weerhou jouself daarvan om die bolaag oordadig dik te maak. Dis waar die meeste pizzas faal ... gaan kyk maar na 'n tradisionele pizza en jy sal sien dat die basis baie dun is en die bolaag is feitlik net 'n enkel laag ... nie stapels goeters nie. Die stapels gaan keer dat jou kors lekker stewig bak en sodra jy die pizza sny en optel gaan die bolaag afgly van die deeg af. Maar dis steeds jou keuse.

Heerlik bros

Nou vuur toe. Die oond is lekker warm en ek slide die pizza af op die teël. Maak die deksel toe en begin my tydhouer. Op 2 minute maak ek die deksel oop en draai die pizza 90 grade. Weer 2 minute en draai weer 90 grade. Die eerste draai moes ek die teël draai maar by die tweede draai was die pizza kors reeds gevorm en het ek net die pizza gedraai op die teël. Nog 2 minute en nog 'n draai ... die pizza was nou reeds goudbruin en sommiges sal hom so wil hê. Ek het spesifiek gesoek na so bietjie brandkolle soos wat jy in 'n goeie pizza houtvuur oond kry. Nog 2 minute en ek haal hom uit. 8 minute in totaal.

Kyk maar vir jouself hoe dit lyk en besluit of jy van dit sal hou.

So hou ek van Pizza
Die pizza was perfek vir my ... lekker bruin kors, krakerig en net genoeg brandmerke om die smaak te bevorder. Ek is baie tevrede met die resultate en het so dan ook nou 'n nuwe aanwending gekry vir my braaier. Die mense met WEBER braaiers kan 'n doelgeboude steen koop vir die braaier maar met so bietjie kopkrap is ek seker die teël sal ook reg werk in die WEBER.

Sondagoggend het ek besluit om vir ons 'n ontbyt pizza te maak ... 3 soorte kaas met Pomelo konfyt as basis sous. Nadat dit gebak is het ek heuning oor gedruip. Heerlik.

Hierdie manier van pizza maak is perfek vir die manne om te maak ... dis mos baie manlik om so met deeg en warm vure te werk.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 22 Mei 2014

Maalvleis - Frikkabolletjies is mos man kos

Hierdie ding van Man Kos is iets wat baie naby aan my hart lê. Man Kos is vir my die soort kos wat manne van hou en wat manne ook graag sal wil kan maak. Maar dis nie waar dit eindig nie ... nee, ek kyk altyd uit vir Man Kos wat vrouens ook van hou. Hoekom ... wel, as die vrouens dit like dan sal hulle dit vir hulle manne maak.

Oor die laaste jaar het my kosmaak deur 'n groot meule gegaan en my kuber vriendin Renette Vosloo het 'n groot rol in dit gespeel. Vandag is ek bereid om te sê dat ek die MOER BY Kok verseker afgeskud het en diep in die kas gebêre het.

Frikkabolletjies
Nou kom ons kyk na die Frikkabolletjies. Hierdie was gedoen om in te pas by my hedendaagse gebruik om net 3 goed op 'n bord te sit ... vleis, stysel en plante.

Om mee te begin moet jy 'n lekker maalvleis mengsel aanmaak ... my SPAR merk deesdae hulle maalvleis soos die Amerikaners en dui die vet persentasie aan ... ek koop die 10% vet maalvleis.

Volgende moet jy jou maalvleis ordentlik spice en geur maar bly weg van enige oormatige souse in die geur proses. Jy soek 'n realtiewe droeë maalvleis mengsel. As jy dit sloppy maak gaan jy die bolletjies verongeluk want dan gaan die sous uitloop en die bolletjies se struktuur verongeluk.

Meng jou maalvleis goed
Moenie grillerig wees nie ... die maalvleis moet baie goed gemeng word. Ek vat so hand vol en maak dan 'n vuis en pers die mengsel tussen my vingers deur. Hou so aan tot jy seker is die mengsel is regtig goed gedoen. Die het nog 'n voordeel en dit is dat dit makliker is om bolletjies of patties te maak sonder om brood en eiers en ander bindmiddels in te gooi. Ek het 'n helse renons in bindmiddels ... ek soek pure vleis.

Moenie die mengsel nat maak nie.
Vir my is die volgende stap ook baie belangrik ... maak 'n klein pannetjie warm op die stoof en maak so klein pattie van die mengsel maalvleis ... braai dit en proe of dit reg is voor jy die balletjies begin maak.

Nou kom ons by 'n stap wat ek getrou volg ... en ek weet ook baie gaan dit vreemd vind. Ek weeg my frikkadelle af ... almal moet min of meer dieselfde gewig en groote hê.
Weeg jou vleis porsies

Hoekom ... hoor ek jou vra.

Wel dis wiskunde ... jy wil hê die goedjies moet almal dieselfde tyd gaar wees. Deur dit te weeg gaan jy verseker dat hulle dieselfde gaar gaan word.

Ek maak myne so 100g rou vleis en maak dan 'n lekker stywe bal. Dis goeie porsie vir die wat versigtig eet en 'n honger man vat maar twee.
Vou die deegkombersie mooi oor

Volgende is dit jy en die deeg. Ek het sommer 'n pak SPAR deeg gekoop. Jy kan brooddeeg maak as jy wil.

Werk versigtig dat jy nie die deeg skeur nie
Gooi meel op jou werkplank en dop die deeg op dit uit. Strooi nou meel ook oor die deeg en druk die deeg plat. Moenie rol nie. Werk maar met jou vingers en handpalms en druk dit omtrent so 10 to 15mm dik. Dop die deeg maar gereeld om terwyl jy dit plat maak en strooi genoeg meel sodat jy die deeg maklik kan hanteer sonder dat dit aan jou hande vasklou. Dis belangrik want anders gaan jy baie sukkel om die kombersies te maak. Moenie nou olie of vet aansmeer nie want die varsmeel gaan help om die sousies binne die bolletjies te hou.

Goed geoliede pan
Ek het gevind op so om en by 12mm dik kalmeer die deeg en krimp nie te kwaai terug nie. Nou gebruik en sommer 'n teekoppie en sny 'n sirkel deeg uit.

Maak die degie nou plat deur dit met jou vingers te druk en rek, maar net soos jy a pizza so doen. Jy sal sien dat die rant altyd effens dikker bly. Dis reg so want jy gaan dit benut as jy die kombersie toeknyp.

Mooi blink en styf teen mekaar
Ek sit my frikkadelle op die werksplank en as die degie groot genoeg is dan trek ek hom oor die bolletjie, draai die pakkie om en tel die randjie op en trek na die middel toe. Dis nou wat jy daai dik rand dunner trek. As jy begin toemaak moet jy maar eweredig optrek sodat jy die hele rand rek tot waar jy toeknyp.

Heerlik
Ek olie my pan baie goed met olyfolie ... Woolies het Cooking Olive oil wat ek gebruik.

Sit nou die bolletjie in die pan met die toeknyp kant onder. Nou moet jy die bolletjie mooi verf met olie aan alle kante. Kry iemand anders om hiermee te help want as jy olie aan jou hande kry gaan jy sukkel met die toemaak van die frikkadelle.

Werk maar so vinnig jy kan en pak hulle lekker styf in die pan soos op die fotos gewys.

Jou mikpunt is om die deeg so dun as moontlik om die vleis te kry. Ons gaan annerdag anner goedjies maak waar ons meer deeg soek.

Oond op 210 C ... lekker warm.

Breek versigtig uitmekaar
In die oond in vir 15 tot 20 minute ... jy moet maar kyk wanneer die kleur mooi goudbruin is. Draai nou af na 160 C vir nog so 10 minute.

Haal die pan uit die oond uit. Toets met a spatel ov mes dat die rante nie vasklou nie en dop die baksel uit op a bord.

Jy kan die bolletjies nou versigtig van mekaar aftrek ... ek gebruik 'n mes se punt om vas te druk waar ek sien die buurman se degie wil saamkom.

Nou sit ek 'n ander bord bo-op die omgedoptes en draai die bondel om.
Lekker ete

Maak hulle nou verder los van mekaar. Dit is nie baie moeilik nie want afhangende van hoe goed jy die bolletjies geolie het in die begin, sal hulle maklik loskom.

Dis seker amper onvermydelik dat van die middelstes so bietjie sous gaan lek maar vir my is dit nie 'n probleem nie.

Man Kos
Die warm oond laat die kors vinnig vorm en help om te keer dat daar sous uitloop tydens die gaarmaak proses.

Op die mates wat ek gebruik is so Frikkabol en slaai nogal 'n vullende maaltyd. Ek het so soet-suur tamatiesous wat ek saam met die bolletjie geeet het.

Vanoggend wou my jongste proe hoe die Frikkabol proe en toe het ek hom net vir 30 sekondes in die mikrogolf oond opgewarm.

Hierdie bolletjies maak lekker kosblik en padkos happies.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy kan.


Saterdag 26 April 2014

Kaptein - jou karnallie ...

Jis die ding vreet mos nou al lank aan my maar ek kon nog net nooit die karnallie vaskeer nie ...

"Waarvan praat jy ?" mompel Poppie geirriteerd ... my Poppie is nie een wat van sulke halfvoltooide nikseggende stellings hou nie.

"Man ... hier is iets of iemand wat my dophou as ek kook."

Kyk ... nou het ek die verkeerde ding gesê. As daar een ding is wat my Poppie se moer kan koer dan is dit nou die soort ding. Nee my maat, sy duld nie sulke stories nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is gladnie liggelowig, bygelowig, of bang vir tokkelossies nie maar in my lewe het ek al heeltemal teveel dinge gehoor of gesien wat gladnie verklaar kan word nie. So in my kop los ek maar ruimte vir "moontlikhede" want so redeneer ek ... net omdat ek dit nie kan verklaar, sien of voel nie, beteken gladnie dat dit nie bestaan nie.

Daai klein seuntjie in my my wil so graag aan feetjies en kabouters glo en elke keer as ek in my tuin stap dan loer ek so bietjie onder die blomme en agter die blare in ... wie weet, dalk sien ek een van hulle. Pure twak sou my ma gesê het en ek sou nie kon stry nie. Maar nouja, maak nou nie saak nie, volgende keer as ek tuin toe gaan sal ek verseker weer bietjie rondloer.

Maar ek dwaal af ... laat ek by die hoofstorie bly.

Dis nou al 'n lang tyd wat ek die gevoel kry iemand kyk vir my daar waar ek kook. Ek kook baie aande diep in die nag ... dan is ek alleen wakker hier in my huis en rondom my is die bos donker en stil. Wel nie altyd so stil nie ... soms skreeu die nagape of hoor ek die uile mekaar roep. Partymaal hoor jy 'n geritsel, geskarrel en benoude twiet ... en iets het sy aandete in die hande gekry. Dis mos maar die lewe en dis mos maar die weg van die bos.

Nou stap ek van my studeerkamer af kombuis toe om koffie te gaan kry en sommer te sien of die oond al op temperatuur is. Vannaand bak ek weer brood ... die ding met die korsies is mos een van my passies en ek wil die proses presies bemeester ... ek wil presies weet hoe om daai lekker dik "artisan" kors te kry en ek wil ook weet hoe om 'n dun taai krakerige korsie te kry vir die meer gesofistikeerde geleenthede.

Halfpad draai ek om ... ek wil my ernstige kamera vat ... ek soek bietjie meer tegniese versorging van my fotos vir hierdie een. Dis al sterk skemer en toe ek terug in die kombuis kom vang iets my oog ...

Wat is dit ?
"Wat de F.... "

Daar op die stoof lê die pan reg met die brooddeeg ... maar dis nie wat my oog vang nie ... nee, daar is iets op die rand van die pan.

"Het jou Katvis ... " dink ek terwyl die kamera amper outomaties aan die skiet gaan.

'n Vinnige kyk na die kamera se skerm en ek besef die lig is laag. My linkerhand skiet uit en die elektriese lig stroom deur die vertrek.

En so wrintiewaar ... daar staan hy ... rooi jas en swart hoed, stewels en so windmaker snor. Die outjie het nou probleme ... hy is in die hoek vasgekeer, voor hom lê 'n vlakte van uitgepofde deeg en aan twee kante, kombuisteels. Op die oopkant staan ek ... formidabel vir hom.

Kaptein Karnallie
Wat my dadelik opval is dat hy beslis nie paniekerig lyk nie ... alles behalwe. Inteendeel ... hy lyk heel opgeruk oor iets.

"En wie is jy ?"

Ek moes mos eenvoudig vra ... ek kan nie anders nie ... maar ek kyk tog versigtig rond of hier nou nie iemand anders naby is wat my hoor nie ... ek kyk ook blitsvinnig weer na die kamera skerm, net om seker te maak ek verbeel my nie. Hierdie kan mos lelike dinge vir my afgee ... Valkenburg is verseker nie op my Bucket List nie.

"Kaptein Karnallie tot jou diens."

Hmmmm ... interesante naam en nogal tot my diens.

"Ok ... en wat maak jy hier?"

Ek was regtig nuuskierig ... binne in my spring die klein seuntjie op en af maar ek hou myself baie kalm ... met moerse inspanning maar ek hou my kalm.

Hy like spices
En toe begin hy my vertel van sy wedervaringe. Stories van sy reise oor die wilde see en hoe hy op die mees fantastiese eilande en plekke al was. Hy praat oor kos ... baie stories oor kos want soos hy verduidelik ...

"Die lewe is te kort om smaaklose kos te eet ..."

Te kort wonder ek ... jis hy klink vir my honderde jare oud.

"Staan so bietjie opsy asseblief." fluister ek "... die brood moet oond toe."







Baie te sê oor die sop
Hy spring rats van die pan se rand af en staan my en dophou terwyl ek die pan in die oond sit. Die deur klap toe en ek sien hy staan op die sop pot se rand.

En toe raak hy bekkig.

"Wel ek sien jy is darem nie heeltemal onhandig nie ... die deeg het goed gerys en die oond is lekker warm ... 210 C ..."

Ek is nou die ene ore, die mannetjie weet skynbaar waarvan hy praat.

"Dis vir my fantasties om te sien jy sproei die deeg goed nat met water voor jy dit in die oond sit en dis veral goed dat jy daardie laaste paar spuite sommer so in die oond in sproei.

O ja terloops, die olyfolie wat jy in die pan smeer en oor die deeg verf, werk baie goed. Nie net kry jy 'n lekker kors nie maar jou brood bly langer vars ... dis nogal belangrik as jy op die oop see is."

"Alles dinge wat gaan verseker dat jy 'n lekker sagte brood gaan kry met mooi korsies."

Hy gooi maar net sy hande in die lug
"Dankie Kaptein." sê ek en die frons verslap so effens op my voorkop. Die outjie het nou my volle aandag.

"Man moenie my bedank nie ... ek doen maar net my werk ... dis jy wat bereid was om te luister as ek praat."

"As jy PRAAT !" ... nou is ek nie so mooi by hom nie. Waarvan praat hy ... as hy PRAAT.

"Kom nou Colyn ... hoe lank is ek nou al hier in jou kombuis ... dis nou al maande. Ek hou jou dop en ek het al baie vir jou tips gegee."

Aggenee ... nou laat die klein wetter my regtig twyfel aan my geestesgesondheid. Hoe de hel kan hy met my praat. En toe begin ek dink ... hoeveel keer het ek al so in my stilligheid voor 'n mengbak, pot, pan of bakplaat gestaan en gewonder ... en dan is dit asof daar 'n stemmetjie fluister ... maak so of so..

Baie happy oor die sop
"Vat nou hierdie einste pot sop wat hier voor my is. Die aand toe jy gewonder het hoe kan jy maksimum geur in die hoenderborsies inkry wat jy die pastei mee wou maak."

"Wie het jou vertel om dit in die sous te laat prut in die oond. En toe jy die hoender uithaal ... wat terloops bevange lekker gelyk het ... wie het jou aangemoedig om nie die sous weg te gooi nie ?"

Nou onthou ek die spesifieke aand ... Poppie wou hoenderpastei hê en ek het gewonder hoe kan ek die borsies sagter en meer geurig kry.

Op die einde het ek toe so stock poaching ding probeer en dit het baie goed gewekr. Die pastei was heerlik.

Later die aand het ek sous in a bak gegooi en gevries. Ek was vannaand hoeka nie seker waar die sop vandaan gekom het nie en het dit maar ontdooi en 'n kans gevat. Ek het 'n sous, soppie gesoek vir saam met die brood vannaand.

Die alarm op die oond gaan af ... 20 minute ... nou tyd om die temperatuur af te draai na 170 C toe.

Inspekteur die brood
"Mooi so ... nou gaan jy die korsie lekker maak ... so 20 minute teen die temperatuur en dinge behoort regtig lekker te weees."

Ek begin nou gemaklik raak met die Kaptein in die omgewing en ons gesels land aan sand. Hy vertel my van spesery en kruie wat hy al teëgekom het en my oë blink. Hierdie is mos nou 'n regte feëverhaal en die seuntjie in my is op sy stukke.

Baie tevrede met die brood
Hierdie is my eie Kaptein ... 'n ou kalant wat die wêreld al gesien het ... en hy is net myne.

Tyd om die brood uit te haal en weereens is die Kaptein vol stories.

" Dis mos nou hoe brood moet lyk ... pragtige goue kleur en dit ruik sommer soos brood. Ek hou van die korsie en dis die regte ding om die brood op 'n rakkie te laat afkoel."

Hy spring van die brood af en loop na die punt toe. Met sy klein vingertjies trek hy aan die sagte wit waar die brode uitmekaar gebreek is. Hy knik sy kop, so amper asof hy heelhartig saamstem.

Poppie kom in die kombuis in terwyl ek opskep en ek merk dat die Kaptein nêrens te sien is nie. Beter so dink ek. Ek is nie nou lus vir 'n klomp verduidelikings nie. Sy dink mos hoeka dat my kop soms raas. Terwyl ek eet dink ek aan wat hy gesê het oor die brood en heimlik wens ek hy kon a stukkie van die brood proe.

Nie tevrede met hoe die een lyk nie
Ek breek die punt van een broodjie af en breek hom oop. Nou is ek sommer lus vir slordig wees ... slordig maar smaaklik dink ek terwyl ek die botter goed opplak en dan 'n ordentlike skep van my koejawel konfyt. Ek is regtig nie meer honger nie en die een is uit en uit net agter die lekkerte aan.

Poppie staan op en gaan gee die honde kos en so wrintie waar ... toe ek mik om my broodjie op te tel toe staan hy daar.

"Hokaai ou grote ... dis mos nou regtig nie mooi gedoen nie ... ja ek stem dit lyk lekker maar ek dink dis beter dat jy nou begin fokus en konsentreer daarop om jou kos mooi te laat lyk ook."

Ek kyk na hom en toe na die broodjie wat hy so ooptrek ... en ek moet saamstem, dit lyk bietjie oes.

"Met wie gesels jy ?" Poppie staan by die agterdeur en kyk vir my. Ek kyk oor my skouer en en staan op. Nou voel ek sommer simpel. Ek dog ek moet haar maar wys en draai om, om die bord op te tel.

NIKS ... hy is weg.

"Ag man ek sit sommer so met myself en praat. Jy weet mos soms raak ek diep in gesprek met myself." sê ek terwyl ek 'n lekker groot hap van die oes broodjie vat.

Hierdie Kaptein gaan my nog soos 'n kluit laak lyk dink ek terwyl ek die tafel skoonmaak. Hy is skoonveld en ek wonder waar is hy heen. Een ding is verseker ... ek het my nie verbeel nie ... nee beslis nie, want ek het die fotos om dit te bewys.

Lag en kook en wees vrolik tot ek weer 'n storie skryf.

PS ... Hier was geen drank of eksotiese kruie betrokke by hierdie storie nie.

Hier is my Facebook bladsy ... share hom wild en wakker asseblief en LIKE hom stukkend.

Dinsdag 11 Februarie 2014

SPAR Deeg - Colyn bak brood met SPAR Deeg

As jy in Suid Afrika bly dan beteken SPAR Deeg vir jou gewoonlik net een ding ... Vetkoek. Ek het 'n storie geskryf oor die maak van lekker hol vetkoeke, Kom ons maak Vetkoek.

So tydjie gelede het ek ook 'n storie geskryf oor 'n ander lekkerte vir die bondeltjie deeg ... tuisgebakte brood. Let wel ek sê gebakte en nie gemaakte. Lees gerus Brood met Siel ...

Nouja asof daar nie genoeg oor die deeg geskryf is nie, het ek gister oggend weer 'n bondeltjie SPAR Deeg uit die yskas gehaal, bruinbrood die keer. Terwyl ek so na die pakkie staar werk my kop teen honderd myl per uur ... en vir die jonges, dit is baie vinnig. Dis so eenvoudige pakkie, geen pretensies en geen gespoggery ... maar as jy so bietjie dieper dink oor dit is die ou vaal pakkie propvol beloftes.


Beloftes van ouma se kombuis se reuk op broodbakdag ... die herrinnering alleen laat my mond al water.

Instinktief strooi ek my werkplank vol meel en sny die pakkie oop. Toe ek die deeg uitlig skrik ek wakker ...

Wat maak jy ... die plan is mos om VERDER TE KYK ...

Ergelik sit ek die deeg neer op die plastiek en was my bord af. Ek wil mos vandag die grense so bietjie verskuif. Ek gooi so eetlepel en nog 'n bietjie olyf olie op die plank en versprei dit met met my vingers. Ons gaan "artisan" brood maak en die olyfolie gee 'n lekker geur plus dit verseker dat jou brood sommer vir 'n paar dae lekker bly.



Die deeg val in die middel van die oliekol en dril so liggies voor hy tot rus kom. Janee, dis maar 'n vaal hopie sonder enige tierlantyntjies. Diep ingedagte sny ek die bondel in vier stukke. Hoekom vier dink jy. Wel my gedagte is dat as mens dan nou die grense wil verskuf dan doen ons dit nie een treetjie op 'n slag nie, nee ons gaan darem bietjie verder as dit.



Vir my eksperiment het ek besluit op growwe sout, All Spice, Kaneel , Cranberries en Okkerneute. Ek gaan die goedjies gebruik om verskilende broodjies te maak.







1. BESSIE BOL:
Daar is 'n magdom gedroogde bessies beskikbaar en so ook sultanas, appelkoos snippers ens. Enige van die gedroogde vrugte of bessies kan gebruik word. Laat jou eie smaak en voorliefdes jou maar hier bestuur. Ek het "Cranberries" gebruik.

Dis belangrik om te onthou dat die deeg heel waarskynlik die suurdeeg aksie reeds uitgeput het en nie sommer goed gaan rys nie. So ek strooi standaard so half teelepel suiker oor die bessies na ek dit op die deeg geplaas het. Dit sal die suurdeeg weer aktiveer.

'n Tweede ding om in gedagte hou is dat jy nogal gaan sukkel om die bessies in die deeg versprei te kry want dis al so goed geknie deur die masjiene by SPAR dat die glutin regtig baie elasties is. So, 'n plan wat vir my werk is om die deeg met my vingers plat te maak op die olieplank sonder om dit om te draai. Met ander woorde die bokant is nog nie geolie nie.

Strooi jou bessies en suiker oor die oppervlak en begin dan om dit op te rol van een kant af soos a Swiss Roll. Nou dra jy olie oor na die binnekant toe met die oprol. Vorm nou die broodjie op die olie plank deur dit op die kante te druk, langwerpig of rond. net soos jy verkies. Onthou dat jy die rol net so rol dat die naat nou onder die broodjie is.



Plaas hom nou op jou bakplaat wat ook mildelik met olyfolie gesmeer is. Verf dan die sigbare dele van die broodjie lekker met olyfolie. Hierdie was Poppie se derde keuse en my eerste keuse.

2. TWISTER:
Vir hierdie een het ek nie suiker bygesit nie want ek wil nie hê hy moet kwaai rys nie. My idee is om die as 'n lekker bykos vir braai te maak. Die aard van die broodjie leen hom daartoe dat jy stukke afbreek soos jy benodig en dat daar baie kors is. Mans is mos gewoonlik gek oor die kors en hoe meer hoe beter. Hierdie broodjie is baie kors.

Maak jou deeg langwerpig en omtrent so 10 mm dik ... ek noem dit sommer vinger dik. Nou strooi ek Kaneel, All Spice en growwe sout oor. Druk dit liggies vas op die deeg. Sny nou drie repe soos wanneer jy koeksusters sou maak maar net op groter skaal. Vleg nou die brood.

Ek druk die vlegsel so bietjie inmekaar in oor die breedte en die lengte. Sit hom op die bakplaat soos die vorige een en verf met olyfolie.

Poppie het hom nommer twee gemaak. Vir my was hy ook nommer twee.













3. NUTTER:
Hierdie een maak ek net soos die BESSIE BOL behalwe dat ek neute in hom gebruik het. My keuse was Okkerneut maar jy kan enige neut gebruik. Ek dink Amandels of Pekaneute sal lekker smaak.

Hy was Poppie se eerste keuse, ek het hom derde geplaas.




Hierdie broodjie is een wat ook baie lekker Crostinis kan maak ... ek sal nog eendag so bietjie skryf oor Crostini en die lekkerte daaraan.








4. SIMPLICITY:
Vir hierdie een het het ek niks ingesit nie net so bietjie suiker ingewerk en die kroon met growwe sout besprinkel. Heel eenvoudig maar die "magic" is in die bak.

Nouja en nou gaan ons hulle kans gee om te rys.










Sowat 30 minute later en die pan is lekker vol.










BAK OPMERKINGS:

Laat my toe om so bietjie langdradig te wees. Vir my is die sukses van enige brood wat ek bak in die kors. Ek hou van 'n kraakvars kors. Die olyfolie op die bakplaat en bo-oor die brood gaan verseker dat die regte komponente daar is om vir jou 'n kraakvars kors te gee.

Die volgende stap is om die brode goed nat te spuit met 'n sproei kannetjie net voor dit in die oond ingaan. Ek spuit ook sommer so so paar stewige sproei spuite in die oond in voor ek die deur toemaak. Ek sit ook 'n oondpan tussen my onderste element neer en gooi so koppie vol water in sodra die brode in is.

Temperatuur is baie belangrik. Ek maak die oond 210 C warm vir die begin. Dan bak ek die brood vir 15 tot 20 minute teen hierdie temperatuur. Na dit draai ek  die oond af na 170 C to en bak nog 15 tot 20 minute. Die proses gee vir jou 'n goed ontwikkelde kors en die tweede deel maak seker dat jou brood lekker gebak is binne.



Pasop net vir deeg wat baie suiker of botter in het, veral wit deeg, die eerste been van die bak kan dit te donker laat word.

Ek gebruik nie die waaier in my oond vir die nie, as jy baie moet maak en natuurlik jou waaier wil inspan dan moet jy die temperatuur so met 20 C verminder. Jy kan ook ys in plaas van water in die oondpan tussen die element onder ingooi.

Sodra die brode klaar is in die oond, haal dit uit en kry dit op 'n draad rakkie so vinnig as wat jy kan. Nou kan jy terugstaan en jou handewerk bewonder. Ek het sommer dadelik 'n stukkie afgebreek van die TWISTER af ... ai tog, so lekker bros kors is hemels en die sagte brood is soos fluweel op my tong gewees.

Jy kan natuurlik kaas ook op die broodjies gebruik. Pas maar op vir waterige goed soos tamatie of uie in jou brood want dit kan die deeg nat maak en die brood soos 'n kluitjie laat uitkom. Die kors word ook nie sommer hard nie.

Nouja ek glo dat julle nou met ander oë na die sakkies SPAR deeg gaan kyk. Wees so gaaf en kom vertel wat jy gedoen het.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Maandag 03 Februarie 2014

Maklike brood met siel ...

Nouja, vandag gaan ek praat oor brood. Brood met siel want daar is baie min dinge in hierdie wêreld wat soveel emosie by 'n mens ontlok as die geur van vars gebakte brood nie.

Vir 'n baie lang tyd hou ek my al besig met die dinge rondom brood en vir my het brood so spesiale plekkie in die lewe. Sowat 4 jaar gelede is ek gediagnoseer met Sindroom X en dit het beteken dat ek moet wegbly van hoë GI eetgoed. Dit was 'n slag vir my want ek is dol oor brood en aartappels. Maar nouja, as mens se gesondheid ingee dan maak jy 'n plan of jy betaal die prys.

Ek het my brood verbruik dramaties gesny tot op a punt waar ek selde meer as twee keer per week enige brood eet. Dit het egter nie my beheptheid met brood laat afneem nie want soos ons almal weet ... brood is man kos sonder gelyke. Die gewildheid van my Steakbroodjie is bewys hiervan.

Laat ek dit ook sommer dadelik duidelik maak, vandag se storie gaan oor die bak van die brood, nie oor resepte nie. Deesdae kyk meeste van ons met kwylende monde na die kokke se koskenades op televisie en menigmaal dan skud jy maar net jou kop en mompel onderlangs. Party van hulle kry dit goed reg om my te laat voel my ma moes my eintlik teruggegee het vir die Nursing Home.

In my kinderdae het ons helde gehad soos Superman, Batman, Mannetjies Roux en Frik du Preez. Vandag is name soos Gordon Ramsey, Heston Blumethal en Paul Hollywood soos daai helde van ouds. Om goeie kos te kan maak het skielik op die voorgrond gespring en ons word geinspireer deur die Kokkedore en die Masterchefs.

Nou gaan ek julle vertel hoe om 'n eenvoudig oninterresante pakkie SPAR deeg te omtower in 'n lip aflek lekker broodjie. Ja jy het reg gelees ... dood gewone SPAR deeg.

Jy het so paar ekstra dingetjies nodig voor jy begin.

1. Sit a bakpan onder in jou oond tussen die elemente.
2. Olyfolie.
3. Sproei botteltjie met water.
4. So bierbeker vol ys. As jy nie ys het nie sal so 250 ml water ook reg wees.



Smeer a bakplaat lekker duk met olyfolie. Ek gooi dit sommer so in die plaat en verf dit dan met 'n kwas orals in. As jy dit gedoen het moet dit 'n lekker laag in plaat lê, moenie snoep wees nie. Behalwe dat jou brood dit gaan opsuig het jy die voordeel dat die olyfolie baie help om die brood vars te hou. Sommer twee of drie dae, selfs langer.



Ek begin deur die deeg te verdeel. Jy mag nou wonder hoekom. Wel die groot lekker van brood is die kors en hoe meer broodjies jy maak, hoe meer kors is daar. Jy kan nattuurlik net een ook maak.






Vorm nou jou brode. Ek maak een ronde een van die helfte van die deeg en twee langwerpiges van die ander helfte. Sit dit in die pan en verf nou lekker duk met olyfolie. Ek gebruik sommer van die olie wat reeds in die pan is. Dis hoekom ek maar mildelik gooi in die begin.



Laat dit nou toe om te rys. Ek maak gewoonlik my oond so bietjie warm en dan sit ek dit af en plaas die pan met brode in die oond met 'n vadoek oor. Moenie te warm maak nie want dan gaan die gis dood. Maar elkeen het tog seker sy geliefde manier van deeg laat rys. Jy het net 'n lekker warm plekkie nodig. Vir my vat dit so 30 minute.




Maak jou oond nou lekker warm, 210 C ... en sit jou rakkie in die middel rond, nie te laag nie want dan gaan jy jou brood onder brand.

As die brood klaar gerys het en jou oond is goed warm, sproei die brode nou lekker nat met die water, moenie teveel bekommer nie, dit kan maar lekker nat wees. Gooi nou die ys of water in die pan wat onder tussen jou elemente staan, daar gaan dadelik 'n reuse stoom storm losbars. Kry die brode in die die oond en maak die deur toe.



Stel nou die temperatuur af na 210 C toe en laat dit bak vir 15 tot 20 minute, hou maar dop, jy soek 'n mooi ligbruin kleur op die brood.

Draai nou die temperatuur af na 170 C toe en bak verder vir 20 minute. Nou behoort jy 'n mooi goudbruin broodkors te sien.



Haal die brood uit en plaas op a draadrakkie om af te koel. As jy mooi luister sal hoor hoe kraak die korsie as dit op die rakkie lê.






Al wat nou oorbly is eerstens te keer dat die brood nie so stuk stuk verdwyn nie. Kry lekker botter en konfyt uit die spens en laat die fees begin.








Ek hoop dat ek julle almal nou kon inspireer om die vaal sakkie SPAR deeg in 'n heerlike lekkerte te omskep.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien jy kry baie lesers. O ja en +1 is ook belangrik.

Lekker eet tot ek weer 'n storie skryf.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.