Saterdag 03 Mei 2014

SOESE - Ek ken dit as choux

Sit ek so en kyk na die Kokkedoor program oor die "High" en "Low Tea" en ek hoor a woord wat ek gladnie geken het nie ... SOESE of soos ek dit hoor ... SUSHI. My kop wil nie om die ding kom hoe SUSHI Afrikaans Onthoukos is nie maar ek trek maar 'n lang teug aan my Camel en kyk verder.

Nou soos die ou gesegde gaan ... 'n Man kyk nie TV nie, nee, hy word die TV. Ek het later by Hetta gehoor dat hulle nie die stuk gewys het waaar sy vertel het van waar SOESE vandaan kom nie. Nogal jammer want dan sou ek baie minder verward gewees het.

Soos die program vorder kom ek toe agter wat die SOESE eintlik is.

"Choux ... dis wat dit is" mompel ek en Poppie loer so onderlangs na my kant toe. Sy lyk nogal verbaas want dis ongehoord vir my om te praat terwyl ek TV kyk ... of liewer terwyl ek die TV is.

Op die einde het ek mooi verstaan wat SOESE nou eintlik is en toe dink ek ... ek het die een keer baie lank terug gemaak en dit was nie te sleg nie. Maar toe was ek nognie so gemotiveerd met die bakkery nie en het dit bloot gedoen om te sien of ek kan.

Hetta se storie kom toe uit op haar Blog .... Kos se Storie ... en ek besluit om die bul by die horings te pak. Een van die kokke op Kokkedoor het mos gesê ... "Soese, die ding kan mos 'n kok se vrees ruik."

Nou hierdie ding, Soese, dit vorm die basis van iets wat baie mans van hou maar ek twyfel of baie mans dit sal aanpak ... hierdie is nou Man Kos wat die vrouens maar sal moet maak. O en glo my, as jy dit vir jou man maak gaan jy sommer baie bonuspunte verdien.

Nou kom ons begin met die storie. Gelukkig vir my het Kaptein Karnallie ook verskyn terwyl ek die bestanddele afmeet en die outjie het 'n klomp dinge te sê gehad.

Min bestanddele vir SOESE
Daar is baie min bestanddele, net water, botter, meel, eiers, sout en suiker .... die suiker is heeltemal opsioneel en kan gebruik word as jy 'n soet ding wil maak. Ek is nie baie seker of margarine die ding gaan doen nie ... die botter is 'n groot komponent van die deeg en verseker gaan dit die smaak sterk beinvloed. Ek dink nie dis 'n maak of breek storie nie maar ek sal by botter bly.

Wat baie belangrik is van die maak van die Soese is die op en af skuif van die pot van die vuur af. Dis 'n ding wat mens maklik kan laat struikel.

Nou soos die wat my ken goed weet ... ek soek altyd na die Wiskunde in my prosesse. Vir die wat my nognie ken nie ... vir my is enige ding wat gekoppel is aan chemies of ander wetenskaplike feite sommer net wiskunde.

Kook die water en botter
Die wiskunde in die op en af van die vuur af is daar vir 'n goeie rede. Eers sit jy die water en botter sterk aan die kook op die vuur en dan gooi jy die meel in een hou by. Nou moet jy roer dat dit bars, met 'n houtlepel verkieslik, en die deeg in 'n stywe bal in kry. Sodra die deeg wegtrek van die kante van die pot af en die bal begin vorm moet jy die pot van die vuur afhaal. Deel van hierdie proses laat die meel reeds so bietjie gaar word.
Voeg al die meel by

Nou haal jy die pot van die stoof af en begin die eiers een een in die deeg inwerk. Pasop dat die eier nie skif nie ... dit kan baie maklik gebeur as jy nie vinnig is met jou roerdery nie.

Roer dat dit bars
Dis nou hier waar 'n mens die kluts kan kwyt raak want die deeg is hardegat en wil nie die eier sommer opneem nie. Jy moet roer dat dit bars en as jy woes raak spat van die eier oor die pot se rand of stukke van die deeg klim uit die pot uit. Dis nou wat jy sterk moet staan en moet glo die resep skrywer lieg nie vir jou nie.

Sodra die eerste eier in is gooi jy die volgende een in en so aan. Maar jy moet die eiers een in roer, moenie hier nou slim raak en al die eiers gelyk ingooi nie want dan gaan jy kwaai sukkel en die temperatuur van die deeg te vinnig afbring.

Eerste eier gaan in
Hier is die groot rede hoekom ek my getroue ysterpotte so baie like ... die pot hou sy temperatuur goed en terwyl ek spook met die eiers word die mengsel nie te koud nie. Ek het ook by die tweede eier se einde die houtlepel laat aftree en my whisk nadergetrek. Die whisk sny die taai deeg vinniger stukken en kry die eier makliker in die deeg in.

Tweede eier is in
En toe asof toordery word dit 'n mooi gladde deeg. Jy wil dit nie te styf hê nie maar verseker nie papslap nie want dan gaan dit nie hulle vorm behou as jy die poffertjies maak nie. So dit kan dalk nodig wees om so bietjie meel by te gooi as die vierde eier dit te slap gemaak het. Onthou net om baie goed te roer as jy meel bygooi.

Nou slaan ek oor na die whisk toe
As jy hierdie punt kon bereik dan is jy nou byna oor die hond se rug. Meeste mense struikel in die eiers bymeng proses.

Resepte skrywers vertel jou jy moet baie vinnig werk en dis hoofsaaklik omdat die mengery die temperatuur gaan afbring en die proses gaan nie lekker werk as die deegmengsel te koud word nie.

Baie kokke skuif die pot so dan en wan terug vuur toe om die temperatuur op te hou. My ysterpot hou sy hitte goed en ek word nie so kwaai onder druk gesit nie.

Jou arm gaan les opsê en jy moet maar vasbyt en deurdruk. Die inbring van die whisk help baie. Maar onthou, dis nie maklik nie ... dis eenvoudig maar verseker nie maklik nie.

Nou het jy jou SOESE deeg en wat vorentoe gebeur gaan afhang van wat jy wil doen.

Glad en lekker hanteerbaar
Op die bakplaat
Jy kan piepklein poffertjies maak met allerhande eksotiese vulsels in, jy kan parmantig raak met wat jy bo-oor gaan sit vir versiering.

Jy kan ook lekker groot poffertjies maak, ordentlike Man Kos. Dan kan jy weer besluit oor wat binne in moet gaan en wat jy bo-op wil sit.

Ek het besluit om Renette se sliders te maak en dan vir poerring gaan ek Eclairs maak.

Uit die oond uit
Jou groot issue gaan nou wees om nie te draai nie. Jou oond moet op hitte wees, 200 C ... ek het 210 C gebruik. Jou panne moet gesmeer wees en jy moet nou vinnig die deeg op die panne kry.

Laat afkoel in die oond.
'n Belangrike element om die poffertjies regtig te laat opblaas is temperatuur en ek is 'n ou wat glo in stoom. Nou in ons huisoonde is stoom nie so maklik nie maar ek het 'n metode wat ek gebruik. Nadat jou poffertjies gevorm is op die bakplaat, sproei dit nat met 'n sproeikannetjie, nou blitsig in daai oond in en hou die deur op so skrefie en sproei weer so drie of vier skote in die oond in en druk die deur toe.

Nou moet jy jou oog op die poffertjies hou want jou oond is warm en die deeg het baie vet in. Dinge kan baie maklik skeefloop en die goed verbrand.

Hierdie is 'n twee fase bakproses en dis belangrik dat jy veral in die eerste fase met die warm oond wakker moet staan. As jou oond 'n glasdeur het dan is dit makliker want jy moet verseker nie die oond oopmaak voor ten minste 15 minute verby is nie.

Kaptein se eertse toets ... veer lig
Op 18 minute was my poffers mooi groot en het die kenmerkende krake in die deeg gewys. Hierdie krake is baie belangrik want soos die Kaptein verduidelik ...

"Dis 'n goeie teken want die aanvanklike hitte het die goedjies laat opblaas en begin verkleur en dan soos die binneste deeg warm genoeg raak druk dit nog so ekstra bietjie uit."

So dis 'n goeie teken dat jou hele poffertjie ontplof het en daar sit nie 'n klont taai deeg in die middel nie.

Kaptein se finale toets ... mooi hol
Nou haal ek dit uit die oond en blitsig steek ek so gaatjie in die kant in en dan terug oond toe. Jy moet dit vinnig doen want die poffertjie kan nou baie maklik inmekaar val. As jy skrikkerig is, los die stappie uit. Wat die gaatjie doen is om toe te laat dat die hitte mooi inkom in die tweede fase maar meer belangrik, dit gee plek vir die stoom van die sagte binnekant om te ontsnap en jou met 'n lekker bros kors los. Ek weet meeste kokke los die gaatjie ding tot na die tweede fase en dan laat hulle die poffertjies afkoel in die oond.

Nou draai ek my oond af na 170 C toe vir die laaste 20 minute of so. Maar weereens, hou maar dop en stel koeler want die goedjies sal binne sekondes brand met al daardie vet in die deeg.

Sodra die tweede fase klaar is is dit noodsaaklik dat jy nou 'n gaatjie maak as jy nog nie het nie en sit dan die oond af dat die poffertjies in die oond afkoel. As jy dit uithaal en in koue plek neersit gaan hulle heelwaarskynlik inmekaar val, nie noodwendig omdat jy iets verkeerd gedoen het nie maar omdat die wiskunde dit voorspel. Die skielik afkoeling laat inkrimping plaasvind en die poffertjies is wel mooi gekleur maar het nognie genoeg struktuur om sulke hardhandigheid te oorleef nie.

Nou het jy mooi poffertjies en jy kan nou doen wat jy graag wil met dit, soet, sout of 'n mengsel.

Hier is die tydlyn opsomming:

1. Meet jou bestanddele af. Dis belangrik want dinge gebeur vinnig as dit begin. Maak seker jou eiers ... man ek meen die hoender eiers ... by kamertemperatuur is. As dit koud uit die yskas kom gaan jy sukkel.

2. Sit jou oond op 220 C en die rakkie reg in die middel. As jy die poffertjies insit draai af na 200 C.

3. Smeer jou oondpanne.

4. Kook jou water en botter en sout en suiker. Afhangende wat jy gaan insit. Jy kan natuurlik 'n geursel ook in die water gooi, Lemoen, anys, suurlemoen, rooswater.

5. As die water kook ... gooi al die meel in.

6. Roer die deeg tot die deeg 'n bal vorm en wegkom van die pot rand af.

7. Haal van die hitte af en begin eiers inwerk.

8. As die deeg lekker glad is ... gebruik spuitsak of lepels en plaas op panne. Gee genoeg spasie vir uitpof.

9. Finaal mis sproei ek die degies vinnig en maak lelike puntjies plat met my nat vinger.

10. In die vuurwarm oond in wat jy nou afdraai na 200 C toe.

11. 20 minute en draai oond af na 170C.

12. 20 minute en sit oond af. Maak gaatjies in die poffertjies en laat afkoel in die oond.

Kaptein Karnallie het in die deeg beland
Die resep met aanwysings is hier by Hetta se Kosstories ... SOESE.

Dit was vir my een groot avontuur en het net weereens bewys ... wiskunde werk. Die Kaptein was van baie waarde maar sy oorywerigheid het hom in die deeg laat beland.

Kook lekker tot ek die volgende storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Volgende sal ek vertel wat ek met my poffertjies gemaak het.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.