Vrydag 25 Desember 2015

Nagereg - Man Kos Kluitjies

Man Kos Kluitjies
Menige man is baie lief vir so ietsie soets aan die einde van die ete. Ek persoonlik is nie baie lief vir warm nageregte nie maar hierdie een is die uitsondering. So ruk gelede het Dine van Zyl my gevra of ek nie 'n lekker maklike nagereg het wat op die vuur gemaak kan word nie en dit het my so bietjie laat sit en dink ... en toe kom ek met die een op.

Dis 'n baie eenvoudige resep en die bestandele is nie ingewikkeld nie.
Eenvoudige bestandele
Hierdie nagereg kan op die stoof of op die vuur gemaak word. Dis vinnig en baie lekker. Dit is
verseker ryk maar nie te soet nie.
Die resep lewer 6 tot 10 porsies, afhangende van hoe honger die mense is maar as jy dit in koppies opskep behoort jy maklik 10 koppies te kan vul.
Die is 'n regte Man Kos nagereg waarvan vrouens ook hou. Meer belangrik, dis baie maklik om te maak en die kluitjies is altyd lekker lig.
Karamel en water in die pot
Bestandele:
1x Blikkie Nestle Caramel Treat
1x Houertjie 500ml Vars Room
1x Blik 410gr ingelegde Appelkose (Jy kan Perskes ook gebruik)
Perskes en room bygevoeg
Nota: Die poeding is glad nie baie soet nie. As jy dit meer soet wil maak kan jy so 2 eetlepels goue
stroop in die sous sit. Lekker fynbos heuning is vir my 'n beter opsie. Ek stel voor jy maak dit een maal en proe self of dit soet genoeg is. Ek persoonlik verkies 'n nagereg wat nie te soet is nie. Ek hou maar die bottel heuning byderhand sodat die gaste self besluit hoeveel hulle wil by sit.






Sous:
Kluitjie deeg
Plaas die karamel in 'n ysterpot en dreineer al die stroop in die vrugte blik ook in die pot in. Gooi
nou een en 'n half maal van die karamel blikkie vol water by en verhit. Roer maar gereeld totdat
alles mooi opgelos is. Moenie omgee as dit lyk of die karamel skif nie.
Haal nou die pot van die hitte af en maak jou kluitjies aan.

Kluitjies ingeskep
Hierdie stap is belangrik want as jy die kluitjie deeg aanmaak moet dit vinnig gebeur anders gaan jy die veerligte tekstuur verloor as jy te lank wag voor jy dit in sous skep. Daarom kook ek die stroop en maak dan die deeg aan.


Kluitjies:
250 ml koekmeel – 1 Koppie
125 ml wit suiker - ½ Koppie
5 ml bakpoeier – 2 Teelepel
2 ml sout - ½ Teelepel
40 g margarien
Kook lekker vinnig
1x eier en genoeg koue water om saam 100 ml op te maak. Die is belangrik want dit gaan bepaal hoe hanteerbaar is jou rou kluitjie deeg.





Meng al die droë bestandele saam en vryf dan die margerien of botter in soos waneer jy skons bak.

Deksel toe
Gooi nou die room in jou SOUSPOT en laat dit goed en vinnig kook. Gooi nou die perske stukke ook in die sous en meng solank jou meel met die eier-water mengsel.

Meng nou die meel mengsel en eier-water ... moenie getempteer raak en meer water by sit nie. Jy soek 'n taai deeg. Jy moet nou vinnig werk want jou pot kan oorkook.

Lekker lig en romerig
Nou gebruik ek 'n grootlepel en skep sulke hompies deeg in daardie borrelende sous in. Werk vinnig en maak die deksel toe. Draai die hitte nou laag af en los die pot uit vir 30 minute. Moenie die deksel oplig nie want die stoom proses is baie nodig om jou kluitjies gaar te kry.

Na 30 minute sit jy die hitte heeltemal af en laat die pot net so staan vir nog 30 minute. Jy kan loer as jy wil maar dis beter om nie die deksel op te lig nie. Die kluitjies is veerlig en gaan nou staan en die sous ordentlik opslurp.

In die koppies
As jy jou kluitjies bietjie droër wil hê kan jy die halwe blikkie water uitlos wat jy in die begin ingooi, met ander woorde jy gooi net 1x blikkie water in die sous.

Jy kan kaneel of mixed spice ingooi as jy wil om so bietjie feestelikheid in die pot te sit.

Die nagereg is heerlik saam met geklopte room of roomys ... jy kan ook vla by bedien as jy wil ... ek doen dit nie want die poeding is souserig genoeg.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 19 Desember 2015

Mieliepap - Laatnag Snaxie

Teen hierdie tyd hoef ek nie meer te vertel van hoe lief ek vir mieliepap is nie, die wat my ken, weet dit baie goed. Ek is tans op a sending om die gebruik van mieliepap te bevorder. In die proses gaan ek probeer om die stories so te skryf dat die jongmense lus gaan kry om pap te maak en as hulle dit doen dan moet hulle ook seker wees hulle gaan 'n goeie resultaat kry.

Die maak van pap word deur die meerderheid van mense as 'n maklike proses gesien en baie beskou dit as 'n onding om maatbekers te gebruik. Dit werk vir hulle maar vir my, ek hou van voorspelbaarheid en ek is vol nukke oor korrekte mate.

Een vorm van pap wat vir my werklike trooskos is, is slappap ... lekker warm, syglad en ryk. Dis iets wat my op vêr paaie laat teruggaan en bring altyd so gevoel van rustigheid oor my. My werk vereis dat ek selde voor 01h30 in die nag gaan slaap. Ons eet gewoonlik tussen 18h00 en 19h00 in die aand en dit beteken dat by middernag het gewoonlik so hol kol op my maag. 'n Beskuit en koffie is gewoonlik die antwoord maar soms, net soms ... was dit a wilde dag en my siel soek lafenis. Dis dan dat ek my klein potjie uithaal en pap maak ... lekker slappap.

Vanaand is dit weer so en ek haal die bak met die GWK Meelsakkies in van die rak af. Ek vat die Rof en Grof met semels en meet 80ml af ... dis so 1/3 de koppie.

In die potjie gooi ek een koppie melk en 'n half koppie water. 'n Knippie growwe sout en 'n teelepel botter.

Ek staan en kyk by die venster uit terwyl ek vir die water wag om te kook. Dis baie belangrik dat dit goed kook. Ek sien hoe 'n nagapie 'n mot skraap onder die sekuriteitslig en dan is albei weg. DIs doodstil in my huis en buite ritsel die blare net so nou en dan ... wind of gedierte ... dit weet ek nie altyd nie.

Die borrelde water ruk my terug en ek gooi die meel vinnig in. Nou is dit baie belangrik dat jy dit baie goed roer ... daar moet absoluut geen klonte wees nie. Ek het so kly mini-whisk wat ek gebruik maar a gewone tafelvurk werk ook goed. Wees versigtig want die pap is slap, borrelend en hitsig ... as dit op jou hand spat gaan jy dit weet. O ja ... soms kan dit lyk of die potjie wil oorkook ... roer maar soos 'n mal ding en as dit handuit wil ruk ... skuif die potjie van die plaat af.

Deksel terug en dan draai ek die hitte af. Nou stel my horlosie en ontspan ... die volgende aksie is oor 10 minute.

Die klokkie lui en ek maak die deksel oop ... die mel en die vloeistof kan nou effens geskei het maar dis normaal ... roer weer baie goed en kyk of dit glad is ... met baie growwe meel, soos wat ek hier gebruik ... gooi ek nou 'n kwart ko[[ie water by en roer tot mooi glad.

Op met die deksel en wag weer 10 minute. Die klokkie lui en ek roer die pap goed ... dis te dik na my smaak en ek gooi weer 'n kwartkoppie water in en roer baie goed. Baie mense sal die pap nou al eet ... nie vir my nie ... die volgende 10 minute is wat die slappapgaan onderskei van koshuispap of hospitaalpap.

Die horlosie lui na nog 10 minute en die geur vul my kombuis as ek die deksel afhaal. Ek is nog altyd van mening dat die meeste mense rou pap eet ... nou nie heeltemal rou nie maar verseker nie goed gaar nie.

Ek dop die potjie pap om in a lekker diep bord en sit 'n teelepel botter in die middel neer. Die warm pap laat die botter smelt en die stroompies heerlikheid vind hulle weg na die rant toe. Ek strooi die suiker oor en kry 'n glas lekker koue melk. Ek eet nie melk oor die pap nie ... nee ek vat sulke versigtge skeppies teen die rant om en kort kort so slukkie koue melk. En dis soos ek van my slappap hou.

Baie maal sal ek so bietjie kaiings oorstrooi, of gekerfde biltong, gesnipperde oorskiet braaivleis of wors ... enigeiets om so bietjie ekstra geur in te sit ... maar op die einde is daardie kaal pap met botter en suiker genoeg vir my.

Ai en hoe vêr gaan my gedagtes nou terug ... koue wintersoggende op die plaas, laataande in my ouma se kombuis met die wind wat huil om die hoeke en die reën wat teen die kombuisvenster spat ... goeie gedagtes en goeie tye.

Hier is die resep:
80ml Meel
250ml Melk
125ml Water
Knippie sout
1 Teelepel Botter
Ekstra 125ml Water

Metode:
Gooi melk, halfkoppie water, sout en botter in 'n klein potjie en laat kook.
Gooi meel in en roer goed met a gewone vurk en maak seker daar is geen klonte nie.
Draai plaat af na laag en laat prut vir 10 minute.
Roer nou goed en gooi die helfte van die ekstra water in en roer goed in.
Prut weer 10 minute met die deksel dig toe.
Gooi nou die laaste water in en roer weer goed.
Prut nou weer vir 10 minute.
Totale kooktyd is 30 minute.
Skep op.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 07 Desember 2015

Mieliepap - Rof en Grof met Semels

Na my storie oor die stories rondom mieliepap het ek vele navrae gekry vir meer besonderhede. As jy regtig wil lekker mieliepap maak dan stel ek voor dat jy die Mieliepap - Iets wat ons almal ken ... storie ook mooi aandagtig deurlees.

Die begin van Putu
Soos met menige disse regoor die wêreld sal die sukses bepaal word deur die bestandele wat gebruik word. Vandag gaan ek die storie vertel van GWK se 100% Braaipap - Rof en Grof met semels.

Hierdie meel is vir my alles wat ek van mieliemeel vra teneinde lekker pap te maak. Ek het die 5lb sakkie, ja jy lees reg, 5lb ... eerste oopgemaak en begin eksperimenteer. Ek beskou myself nogal as 'n goeie papmaker en ek is puntenerig oor die mates en volumes wat gebruik word. Ek maak pap met maatbekers.

Kom on begin met die mees populêre gebruik van pap ... mieliepap vir 'n braai. My storie mag langdradig wees vir die ou hande maar daar is hele geslag jonges wat nie regtig weet hoe om pap te maak nie.

Putu op die bord
Dit is baie belangrik om die pap se finale tekstuur reg te kry vir 'n braai. Daar is gewoonlik een of meer souse beskikbaar en dan is daar ook diegene, wat slegs botter op die warm pap sit ... dan is daar die mense soos ek, wat botter en suiker op die pap sit. Dit is egter nie regtig belangrik nie, wat meer belangrik is, is dat die pap of met mes en vurk hanteer kan word maar ook geskik is om net met die hand te eet.

Nou die pap wat beste werk vir braai is Putu ... sommiges verwys na dit as krummelpap en ek het die verskille aangespreek in die ander storie, hier bo gemeld. Die hoof kenmerk van Putu is dat dit losserige groot stukkies vorm in die pot maar as jy dit vat kan jy dit in bolletjies saampers.

Om 'n goeie Putu te maak verg so bietjie konsentrasie en die begrip van die kookproses. Jy kan Putu van enige mieliemeel maak en al wat gaan verskil is die hoeveelheid water.

My storie van vandag gaan spesifiek oor die GWK Braaipap - Rof en Grof met Semels. My resep is vir 4 mense, twee mans en twee dames.

Jy benodig 'n goeie pot, ek gebruik net ysterpotte. Jy moet ook a stewige tweetand vurk byderhand hou en dan 'n maatkoppie. (225ml).

Bestandele:
2x Koppies meel
3 1/2 koppies water (As jy gewone braaipap meel gebruik is 3 koppies genoeg.)
2x Eetlepels botter (Opsioneel maar sterk aanbeveel)
1x Teelepel sout

Metode:
Kook die water
Ek meet my meel af en gooi dit in die pot se deksel.
Kry nou die water, botter en sout aan die kook.
Gooi die meel in
Sodra die water sterk kook dop ek die meel in die pot om. Dit vorm 'n hopie in die water. MOENIE ROER nie en sit die deksel dadelik op. Jy kan jou plaat so knertsie koeler draai as jy nie 'n ysterpot gebruik nie. Maar dis belangrik dat daardie water steeds sterk kook. Die deksel moet ook mooi stewig seel sodat jy nie teveel vog verloor deur stoom wat ontsnap nie.
Stel nou die horlosie vir 15 minute en ontspan. Die kans dat die pap sal brand is skraal maar as jy 'n dun pot gebruik kan dit gebeur.

Na 15 minute
Dis regtig belangrik dat jy die proses mooi verstaan en fokus terwyl jy met die pap werk. Ek weet baie ou hande gaan grynslag en as jy nou eers leer om pap te maak gaan van die toeskouers dalk baie kommentaar lewer. Ignoreer dit en fokus ... as jy hierdie resep en metode goed onder die knie het kan jy na ander se stories luisters. As jy nou vir hulle luister gaan jy dalk ook net soos meeste van hulle, jou lewe lank putu maak wat nie regtig putu is nie.

Die eerste roer
Na 15 minute, haal die deksel af en skud die water in die deksel terug in die pot in. Gebruik nou die tweetand vurk en begin die meel mooi deurwerk in die slap pap wat om die rand gevorm het. Jy moet regtig vinnig werk want jy sal sien hoe ontsnap die stoom terwyl jy die roerwerk doen. Die pap gaan taai lyk en nog nie eintlik enige geur afgee nie. Meng goed en sit die deksel terug.

As jy hierdie roerproses met 'n lepel doen gaan jy 'n pot mielie klei maak in daardie pot ... moenie dit doen nie.

Nou draai ek my plaat baie laag ... ek gebruik gas as jy 'n elekriese plaat gebruik sal 2 'n goeie stelling wees. Weer stel ek die horlosie vir 15 minute en moenie daai deksel oplig nie. Niks van 'n geloer nie, wag geduldig.

Op die tweede alarm moet jy weereens vinnig werk en die pap goed deur krap met die vurk. Nou moet jy pasop dat jy die kors wat begin vorm teveel versteur nie. Jy sal ook nou die pap se geur begin ruik. Deksel terug en stel die alarm weer vir 15 minute.

Die finale produk
By die volgende alarm kan jy ontspan en seker maak jy roer die pap baie mooi. Daar sal nou duidelik klonte begin vorm wat uitmekaar breek as dit roer. Deksel terug en stel die alarm.

Nou is jy op die pylvak ... sodra die alarm afgaan is dit 60 minute en jy behoort nou 'n geurige pot pap te hê. Roer weer goed en stel die plaat nou op sy laagste. Van hier af sal elke minuut wat die pot staan net vir jou beter resultate gee. Ek laat myne nou 30 minute op daardie baie lae hitte staan.

En dis al wat jy moet doen om goeie putu te maak.

Vir variasie kan jy die botter met uitgebraaide varkvet vervang, jy kan kaiings ingooi na 30 minute. Jy kan die water vervang met een van Ina Paarman se sous poeier mengsels. Pasop net, die souse is baie sout.
Jy kan die water vervang met melk of gedeeltelik vervang.
Jy kant heelpit mielies wat gedreineer is ingooi op 45 minute.
Alles dinge waarmee jy kan esperimenteer as jy eers die basiese putu maak onder beheer het.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk. Hierdie spesifieke meel het 'n baie lekker tekstuur en 'n baie lekker geur. Tans is dit die beste Braaipap wat ek ken.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 06 Desember 2015

Mieliepap - Iets wat ons almal ken

Man Kos gaan oor die soort kos waarvan mans hou en dan is dit ook die kos waarvan baie vrouens ook hou.

Vir die meeste Suid Afrikaners is daar min dinge so basies, so aards, so vanselfsprekend as mieliepap. Dis 'n gegewe by byna elke braai en dis tradisionele ontbytkos.

Mieliepap, pap, braaipap, putu, krummelpap en slappap ... alles benamings wat meeste van ons gebruik. Wat egter ook waar is, is dat daar vele verskillende betekenisse aan die verskillende benamings geheg word. Van hier af gaan ek die woord pap gebruik as 'n algemene benaming vir die kos en sal ek die verskillende tipes pap meer volledig beskryf. Al wat jy nodig het is meel, water en sout.

Mieliepap ... Trooskos vir my
Nou wonder jy seker hoekom ek nou 'n storie oor pap wil skryf ... wel soos met baie van ons tradisionele kosse, is pap een van daardie dinge wat baie min mense regtig die fokus gee wat dit verdien. Meeste kokke is redelik traak-my-nie-agtig as dit by die voorbereiding kom en mates is meesal 'n lukraak gevoel vir volumes as wat dit regtig ernstig opgeneem word. Mense meet sommer met hande, gooi net uit die houer in die pot en roer en kook ... in kort, pap word meesal op 'n Moerby basis voorberei.

In die laaste 2 of 3 jaar is daar 'n sterk opwelling in die voorbereiding van goeie kos en mense soos Dine van Zyl het ons tradisionele kos weer terug op die tafels gesit met haar Boerekos reekse en boeke. Die magdom kos programme op televise het ook die fokus op kos voorbereiding gevestig. Daarmee saam is die gevare van bymiddels en prosessering, menige dae op die voorblaaie.

Dit is nou regte egte krummelpap
Een ding is verseker, mieliepap is 'n basiese stapelvoedsel in Suid Afrika en vir menige mense is dit soms al wat hulle vir die dag kry om te eet.

Na baie rondvra en bel het ek tot die slotsom gekom dat mieliepap in die volgende vorms aangebied word en sekere benamings is verwarrend en het verskillende betekenis in verskillende streke. Ek gaan die hoofgroepe nou noem met so bietjie meer beskrywende verduidelikings. Dis verseker nie noodwendig gesaghebbend nie maar is bloot net ter inligting en is my eie siening van die verskillende tipes.

Verskillende tipes word hoofsaaklik bepaal deur die verhouding tussen die water en die mieliemeel.

1. Slappap ... hierdie vorm is alombekend en is gewild as ontbyt kos. Dit kan wissel van iets wat byna soos dik sop lyk tot 'n meer stewige vorm wat jy met 'n groot opskeplepel kan opdien, byna soos vla.
Die verhouding is min of meer 4 dele water en een deel meel. 4:1 Water teen meel.

2. Stywepap ... hierdie vorm is meesal gewild as bykos en kan wissel van sagte mengsel wat in skywe gesny kan word tot iets wat baie naby aan 'n koek tekstuur is.
Die verhouding hier is so ongeveer 2:1 water tot meel.

3. Putu ... hierdie is 'n gewilde vorm vir braaivleis en baie mense verwys ook hierna as krummelpap. Laasgenoemde is nie heeltemal korrek nie maar die ware toets vir putu is of jy so handjievol van die pap kan vat en dit kan saampers in 'n bolletjie.

4. Krummelpap ... hierdie is die vorm wat dit moontlik maak vir mieliepap om te begin meeding in die omgewing van sogenaamde "fine dining". Jy kan dit van redelik grof tot ultra fyn krummels voorberei en die eindresultaat kan as plaasvervanger vir rys gebruik word. Dit onderskei dit self van die tradisonele putu deurdat dit nie werklik in bolletjies gepers kan word nie.
Die verhouding hier is om en by 1 deel water en 2 dele meel. 1:2 ... maar die verhouding kan geweldig aangepas word en jou kookproses gaan bepaal hoe die eindproduk gaan uitkom.

Sygladde slappap wat prut
Al hierdie tipes kan baie verskil en die eindresultaat word erg geaffekteer deur jou kookproses en die graad van fynheid van jou meel. Water tot meel verhoudings word grootliks bepaal deur die meel en die kookproses.

Vir die res van my vertelling gaan ek die bogemelde benamings gebruik.

As jy putu maak met sogenaambe braaipap meel en gewone meel fyn mieliemeel sal die verhouding verskil en dis daarom belangrik om met jou soort meel te eksperimenteer en neer te skryf wat jy doen en wat die resultaat is.

Dwing jouself om maatkoppies te gebruik
Dwing jouself om maatkoppies te gebruik, maak nie saak of die toeskouers dink jy is onervare nie. Goeie pap is werklik 'n kuns en verhoudings is deurslaggewend. As jy eers jou verhouding uitgesorteer het dan kan die porsies beheer deur die maatbeker wat jy gebruik. Een koppie kan dan maklik een bakkie of een lepel word, die verhouding sal dieselfde bly en net die kooktyd gaan verander.

In my kombuis waar ek meesal vir 3 mense kook is die mengsel grootte van so aard dat die pap gaar is na 60 tot 75 minute. As ek slappap maak dan is dit net vir een en die kooktyd is 30 minute.

Die begin van Putu
En so lyk die Putu as dit gaar is
Sonder om nou spesifieke pap resepte te bespreek gaan ek nou so bietjie uitbrei oor van die meer bekende gaarmaak metodes. Dit verskil van streek tot streek en van familie tot familie. In my lewe het ek die meeste van papmaak geleer by verskillende huishulpe wat ek as kind, en later as grootmens geken het. My leefstyl het my ook baie in die posisie geplaas dat ek soms vir lang tydperke op konstruksie persele diep in die bos moes leef en daar het ek by die swart mans gesien hoe hulle pap maak.

In my eie lewe was dit hoogs uitsonderlik om nie pap vir ontbyt te eet nie tot ongeveer die einde van my universiteits loopbaan. Maar my liefde vir pap het nooit verdwyn nie en in my latere lewe was dit vir my gladnie vreemd om drie keer per dag pap te eet nie.

Tydens die groot droogte in die sewentigs het ek die eerste keer met geel mieliemeel kennis gemaak en dit het my gefasineer. Toe die geel meel verdwyn was ek nogal terleurgesteld. En toe in die middel laat tagtigs maak Braaipap sy verskyning. Dit was vir my koningskos want dit was lekker grof en die hartjies en doppies was duidelik sigbaar in die meel. Ek moes my papmaak resep aanpas want die growwer meel het veroorsaak die pap wat gewoonlik stywepap was nou verander het in putu. Ek het egter vinnig geleer en toe die terleurstelling, toe ek opmerk die braaipap word al hoe fyner, nog die semels ingehad maar dit het fyner geword. Deesdaae is die groot handelsmerke braaipap maar basies gewone graad meel met so bietjie semels by.

Krummelpap met styl
En toe twee jaar of so gelede toe verskyn Janpap se braaipap op die mark en ek was in die sewende hemel. Die meel is lekker grof en nie spierwit nie. Ek het met oorgawe in die meel ingeklim. Maar nouja die euphoria was van korte duur want net so vinnig as wat dit in die Laeveld verskyn het, so vinnig het dit weer verdwyn. Vandag moet ek regtig soek om van dit te kry.

So paar weke gelede kom ek toevallig op 'n produk van GWK af  op Facebook ... 100% Braaipap. Ek het dadelik navraag gedoen en ontvang die volgende inligting ...

Die braaipap is in 4 soorte beskikbaar:

·       Lekker grof (soortgelyk aan die meeste braaipappe tans op die mark)

·       Bitter grof (ordentlik grof en maak super krummelpap)

·       Rof en grof met semels( selfde tekstuur as Lekker grof maar die semels van die mielie is bygevoeg)

·       Geelmeel (standaard geelmeel – omtrent selfde tekstuur as Lekker grof)

Nog so bietjie vrae en toe laas Vrydag ariveer hier 'n paar sakkies van elk. Ja, sakkies, die meel word in egte regte outydse meelsakkies verpak. Dit het sommer dadelik die gevoel van nostalgie oor my laat spoel. Heel eerste maak ek die Rof en Grof met Semels oop want ek wou woes gaan met braaipap en die het vir my reg geklink.

Ek ontrafel die sakkie se opening baie versigtig want dit sou banaal wees om die sakkie te beskadig. Jis maar was ek in my skik toe ek die inhoud bekyk. Dis mos Braaipap ... 100% Braaipap.

Die besonderhede oor die resepte gaan ek in ander stories vertel want ek is besig om die sakkies een vir een deur te werk en maak pap vir die vale. In my huis is mieliepap nou op die spyskaart by elke ete. En weereens leer ek meer van pap maak. Pap en melk, pap en vleis en pap en sous ... dis wat hier gemaak word. Poppie is nie 'n groot pap eter nie maar ek sien sy vat omtrent elke keer 'n tweede skeppie.

As dit by pap maak kom is daar basies drie metodes.

1. Die meel word in koue water gemeng totdat dit byna soos koekbeslag lyk en dan word it in 'n pot geskep om gaar te word. Die metode word gebruik vir slappap en stywepap. Ek ken dit as koshuispap of hospitaalpap maar vir baie mense is dit hoe pap gemaak word.

2. Die meel word by vinnig kokende water ingeroer tot dit goed gemeng is en word dan gaar gemaak. Weereens goed vir slappap en stywepap maar menige mense maak putu ook so.

3. Die meel word eensklaps op 'n hopie in die kokende water gegooi en die deksel word toegemaak. Nou moet jy nie aan die deksel raak nie, vir tenminste 15 minute. Sommiges laat dit self gaan vir 30 minute. Moenie die hitte te laag afdraai nie want jy wil die water laat bly kook en die meel stoom. Na die aanvanklike wagtyd maak jy die deksel oop en begin die meel deurwerk met 'n tweetand vurk. Die vurk is belangrik want dit sny die meelklonte goed sonder om die pap te brei. Sommige mense gebruik die agterkant van 'n houtlepel. Ek verkies die vurk.

Sodra die meel nou egalig nat is maak jy die deksel toe en draai die hitte baie laag. Daardie pap moet nou stadig stoom en gaar word. Moenie die deksel teveel oplig nie want elke keer as jy dit doen onsnap daar vog in die vorm van stoom.

Ek roer my pap elke 15 minute mooi deur en wees versigtig om nou nie die kors te versteur wat begin vorm nie. Na 60 minute is pap wat met twee koppies meel gemaak is gaar. As jy baie growwe meel gebruik het kan jy gerus nog aangaan tot op 90 minute.

Hierdie metode is die enigste metode wat vir jou werklik krummelpap kan lewer.

Deur so bietjie vindingryk te wees en te fokus op wat jy doen kan jy van die onpretensieuse mieliepap, 'n heerlike ete maak wat voedsaam is en steeds geurig. Dit is bekostigbaar en dit is gesond.

Ek hoop die storie laat jou met nuwe oë na mieliepap kyk.

Nog Pap Stories:

Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 04 Desember 2015

Konfyt - Waatlemoen of Maketaan

Daar is baie min dinge wat lekkerder is as waatlemoen konfyt stukke en vars brood. Soos met baie van die outydse lekkernye is die konfyt ook besig om skaars te word en dit wat jy in die winkels koop is 'n flou verskoning. Man Kos gaan jou vertel hoe om dit te maak uit gewone waatlemoen uit.

Waatlemoen konfyt
Tensy jy 'n kontak het in die padstal bedryf of vriende of familie wat 'n vlytige boervrou ken, is jy gedoem want jy sal nooit die ware sensasie van maketaan ervaar nie.

'n Groot probleem vir die meeste van die mense wat graag die lekkerny self wil maak is die feit dat maketaan nie orals beskikbaar is nie. As kind het ons dit geken as "kafferwaatlemoen" ... maar deesdae is dit maketaan.

Die mense wat my ken weet dat ek 'n vlytige konfyt maker is en ek sal enige ding gebruik en konfyt maak. Ek is ook nie regtig a konfyt puris nie en vat kortpaadjies waar ek dit sinvol kan doen. Die eerste ding van konfyt maak is dat jy moet ontslae raak van die water wat in die vrugte is. Dit geld vir alle konfyt.

Tweedens moet jy 'n stroop maak wat die preservering kan help maar ook baie gaan bydrae tot die finale produk se smaak. Met goed soos tamaties, appelkose en perskes word die stroop omskep in 'n moes wat alles bydrae om 'n lekker eindproduk te kry.  Met die vrugte gooi jy die vrugte en suiker in 'n pot en begin kook. Die vrugte verskaf die water.

Waatlemoen word geskil
Maar maketaan is net soos groenvye ... die stroop is eenvoudig net wat dit is, 'n stroop. So die gewone toetse wat op konfyt gedoen word om te bepaal of die proses klaar is gaan nie eintlik werk nie want die stroop is baie loperig en net suiker en water. Dit gaan nie werklik set nie. Dis belangrik dat jy dit mooi verstaan as jy lus is om die lekkerny self te maak.

Ek het heelwat resepte vir maketaan konfyt maar vir die laaste poging het ek die riglyne van Annelien Pienaar van Boerekos met 'n Twist, gevolg. Haar resep is hier ... Maketaan Stukke.

Die eerste ding waar ek afwyk is dat ek gewone waatlemoen skille gebruik het. Hier by my is maketaan geweldig skaars maar almal van ons het toegang tot waatlemoen en gooi gewoonlik die skille weg.

Sny in ringe
Eerste het ek die heel waatlemoen bygekom met my Shogun Peeler. Kyk mooi na die fotos en jy sal verstaan wat ek doen. Die is die maklikste manier vir my en ook die vinnigste. Volgende het die waatlemoen in ronde skywe gesny want dit maak dit baie makliker om die vrug deel mooi uit te sny. Jy wil nie veel van die pienk vlees aan jou skil hou nie.

Deur in skywe te sny kan jy ook vinnig beheer kry oor die grootte van jou stukke skil.

Volgende sny ek die skilring in blokkies en dan is dit klaar. Dis baie belangrik dat jy besef dat hoe groter jy die blokke maak, hoe langer gaan jy kook en glo my, dis 'n lang proses.

Week blokies in Koeksoda water
Nou spoel ek die stukke skil baie goed af in water en dan bedek ek dit met water in a plastiek bak. Moenie a metaal skottel gebruik nie want jy moet dit so 12 ure week in koeksoda en die mengsel laat jou metaalbak verkleur en kan jou skil na blik laat proe. Meeste resepte sê jy moet in kalkwater week maar dis iets wat min van ons het so ek het koeksoda gebruik. Dit werk net so goed. So 3 eetlepels in die water.

Na 12 ure spoel ek die stukke goed skoon in koue water. Ek gaan ook nou die stukke deur en sny enige pienk vlees af. ... giet die water af en weeg. Jy soek so 1.5kg se skille ... myne was net onder 1.7kg en dis ok. Ek sal nie kleiner volumes sommer maak nie want die proses is lank en om so min te maak gaan net 'n mors van tyd wees. Gee liewer weg as jy nie so baie wil hê nie.

Die basiese stroop is 500gr Suiker en 750ml water. Maak die eerste sarsie aan in die pot waarin jy die aanvanklike stukke gaan kook.

500gr Suiker
750ml water

Kook eers sag in stoompot
Nou hier vat ek die eerste kortpad ... ek gooi al die stukke in my AEG Stoompot en gooi so 5 koppies water by. Klink baie maar moenie bekommerd wees nie. Die skille trek geen water nie, inteendeel dit stel water vry. So teoreties kan jy minder water ingooi maar ek vat nie kanse nie. As die skille brand kan jy dit maar wegsmyt.

Ek gooi nou ook so teelepel kaneel en 'n halwe teelepel Mixed Spice en 'n teelepel gemmer poeier in die stoompot.

1.5 kg skille (Min of meer)
1 teelepel Kaneel
1 teelepel Gemmer poeier
1/2 teelepel Mixed spice.

Kook nou in suikerstroop
Nou kook ek die skille vir 40 minute op High Pressure. Aan die einde hiervan moet jy die water alles wegsmyt. Dit gaan ook nie baie lekker ruik nie ... baie naby aan bossies reuk. Moenie jou nou aan dit steur nie. Onthou jy werk hier met 'n skil wat mens nie onder normale omstandighede eet nie. As jy nie 'n stoompot gebruik nie moet jy die skille in die water kook totdat jy vuurhoutjie deur die stuk kan steek. Dit kan twee of drie ure vat. Let wel, op die stadium het ek nog geen suiker in my water nie. Dis anders as wat die meeste boeke sê maar ek doen dit so want daai aanvanklike kokery haal die bossie smaak uit die skil en ek wil dit nie eet nie.

My stukke was so om en by 20mm by 10mm ... as jy die groot tradisionele blokke wil maak moet jy die stukke met 'n vurk prik voordat jy dit in die koeksoda week. Jy sal dalk ook 'n tweede sessie in die stoompot benodig want die binneste dele gaan nog hard wees. Alles die is goed wat deur die grootte van jou blokkies bepaal gaan word.

Voeg Muskadel by as jy wil
Nou kry ek die suikerstroop aan die kook in die pot en gooi dan die stukke skille daar in. Dis belangrik dat die goed vinnig kook, so jy moet 'n oog op dit hou. Die stroop behoort genoeg te wees dat die stukke vrylik kan swem en kook. As die stroop te min is, maak nog a "batch" aan en vul die stroop aan. Jou pot gaan bepaal of jy meer stroop moet insit. As dit 'n groot plat pot is gaan jy meer stroop nodig kry as 'n kleiner diep pot.

Baie belangrik ... dis skoon suiker stroop met geen gemmer in nie ... net skoon suikerstroop.

Ek het twee batches stroop in my pot gehad en dit het gekook dat dit bars. Ek het gereeld geroer met a houtlepel. Vir die eerste uur het ek die deksel op die pot gehou. Die bossies reuk is nou omtrent heeltemal weg.

Toe haal ek die deksel af en roer elke 5 minute. Die stukke het nou deursigtig geword en het reg begin lyk. Nog 30 minute se kook en toe sit ek die plaat af en maak die deksel toe. So het ek dit nou oornag gelos. Die is baie belangrik want nou begin daai skille die stroop insuig. Jy wil dit so goed as moontlik laat gebeur. Jy kan nou ook enige skuim wat gevorm het afskep. Daar behoort nie veel te wees as jy die proses gevolg het nie. As jy die suikerstroop kokery te gou begin het, gaan jy heelwat skuim kry.

Die volgende dag toets ek die stukke en die stroop is goed ingetrek en die konfyt is lekker maar dit kort nou smaak bevestiging.

In die bottels met genoeg stroop
Eerste kap ek vars gemer in baie klein blokkies. Ek sny eers repe, dan stokkies en dan kap ek die stokkies fyn. So tussen een en een en half eetlepel vol. Hou dit eenkant. Maak nou die finale batch stroop aan en sit solank die plaat aan onder jou pot konfyt ook. Dis baie belangrik dat jy nie koue stroop by die warm konfyt gooi nie. Albei moet kokend wees. Volgende gooi ek die gemmer in die konfytpot en dan die kokende stroop. Natuurlik moet jy versigtig wees want die goed kan jou lelik brand as jy nie fokus nie.

Nou moet jy by daai pot staan en gereeld roer. As jy nou agterlosig is gaan jy die suiker laat karamel vorm en dan kan jy dit maar wegsmyt. Dit moet die heeltyd lig en deursigtig bly. Spoedig gaan jy sien dat die borrels begin groter blasies vorm. Fyn skuim beteken die stroop het nognie verdik nie. Herdie laaste deel is nie langer as 30 minute nie. Sodra die borrels groterige blase vorm op die oppervlak sit jy die plaat af.

Jy kan toets deur a bord in die diepvries te sit vir so 10 minute en dan met a teelepel so blertsie in die bord te skep. Draai dit om te versprei en stoot jou vinger deur die blerts. As jy 'n paadjie kan vorm dan is dit reg.

Hier kom my finale kinkel. Nadat die plaat afgesit is en die borrels bedaar het gooi ek 150ml Muskadel in en roer dit mooi deur.

Heerlik op brood
Laat staan nou vir so 30 minute en skep in bottels. Jy gaan heelwaarskynlik stroop oorhou ... dis reg so. As jy te min het moet jy maar nog 'n batch aanmaak. Vir my was 3 batches genoeg. Met ander woorde totaal 1.5kg suiker en 2.25 liter water.

Hierdie is nie werklik konfyt nie maar eerder konserf, net soos groenvye ... die stroop word ook gewoonlik nie geëet nie en is net daar om die vrugte vogtig te hou en te bewaar.

Hierdie lekkerny is op sy beste saam met lekker vars brood en botter.

Ek kap dit fyn en roer in my muffins of skons in as ek dit bak. Dis ook lekker in roomys.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 08 November 2015

Wors - Lekker en Ekonomies

Baie mense wil weet hoekom lyk dit so maklik as ek kos maak en hoe kry ek dit reg om so goedkoop kos te maak. Wel daar is nie werklik 'n geheim in dit nie. Vir my is dit belangrik om net so rukkie te sit en mooi te dink oor wat wil jy regtig bereik met die dis wat jy maak.

Ek is op 'n missie om lekker kos te maak wat nie 'n groot klomp geld kos nie en wat voedsaam en smaaklik is. Ek probeer ook om die proses so maklik as moontlik te maak. 'n Groot probleem is om aanhoudend lekker kos vir net twee mense te maak sonder om te mors met bestandele.

Man Kos Wors Bredie
Vir my is 'n goeie sous altyd 'n goeie basis om 'n lekker maar ekonomiese dis te maak. Die internet is vol resepte oor wors bredies en ek is seker baie van julle het dit al gemaak of wil dit graag maak. Vandag gaan ek die storie vertel oor hoe ek myne maak.

Let wel, ek gebruik swart ysterpotte en is nie bang vir hitte onder my potte nie.

As jy wors gaarmaak is dit gewoonlik goed genoeg as jy begroot vir so 200 to 250gr rou wors per persoon. Vir my en my vrou koop ek gewoonlik pakkies wors van so tussen 400 en 500 gram.

Voor jy begin braai ... kry die volgende reg:
 (Die is vir twee persone)

1. 1 Blikkie Pitmielies, nie sweetcorn in room nie. (Gooi die vloeistof af)
2. 1 Blikkie tamaties in sous.
3. 4x Eiers
4. 2x Eetlepels botter (Ek gebruik varkvet)
5. 2x Eetlepels olie (Ek gebruik Canola)
6. 1x Ui grof gekap
7. 400 - 500gram boerewors.
8. 2x Eetlepels room - Opsioneel
9. 2x Eetlepels Koekmeel (Opgehoop - jy kan dalk ekstra nodig kry)

Geurmiddels soos ...
Braai speserye (Ek gebruik Robersons se Shizanyama mengsel)
Gemaalde swart peper
Chiliflakes
Worcestershire sous
Tamatiesous
1x Koppie koue water
1x Opgehoopte teelepel souspoeier (Ek gebruik Ina Paarman se Bruin Uie Poeier)

Sit die pot op die stoof, ja jy het reg gelees .... gebruik 'n pot, nie 'n pan nie ... en die plaat is nie warm nie. Gooi so een eetlepel water in die pot en sit die plaat op sy warmste. Ek gebruik gas.

Nou moet jy nie gaan staan en wegloop en ander dinge gaan doen nie. Hou jou oog op daai pot want dinge begin vinnig gebeur. Eerste gaan jy merk die water beging borrel en stoom en spoedig gaan die wors begin braai. Draai die wors gereeld om sodat dit egalig gaar word van buite af. Dis belangrik dat die wors begin braai in die pot sodat die vet begin uitbraai en dat die pot sulke stukkies begin bruinbraai. So moenie sommer die hitte afdraai nie tensy die wors begin brand, dit verskil van stoof tot stoof en dit verskil ook van pot tot pot. Ek gebruik die medium grootte brander van my stoof. Hoe warmer jy die wors braai hoe meer geur gaan jy kry.

Jy wil nie die wors doodbraai nie ... net genoeg sodat daar darem lekker braaiskille op die wors is en dat daar so eetlepel of wat se vet en sous uitgebraai het.

Nou moet jy vinnig speel ... haal die wors uit die pot uit en laat rus op 'n bord. Dis nou wat die wors heeltemal gaar gaan word.

Gooi die olie en botter in die pot in en roer goed, krap soveel as moontlik van die aanbrandsel los en gooi so knippie swartpeper en van die braaispesery in die olie. Gooi die uie in. Roer stadig en laat die uie braai totdat dit deurskynend begin raak.

Gooi nou die meel in en roer goed dat 'n pasta vorm in jou pot, jy kan nou die plaat afdraai na medium toe terwyl jy die pasta bly roer. Dit moet so twee minute geroer word om die meel ietwat gaar te kry. As jou vet en olie teveel is dat jy nie a pasta kry nie, gooi nog so bietjie meel by.

Draai die plaat op na hoog toe en wag so paar sekondes tot jy sien die hitte is nou erg. Gooi nou die koue water in en roer goed terwyl dit opborrel en stoom. Krap alles los van die pot se bodem af. Gooi die soouspoer in en roer sodat daar niks klonte is nie. Draai nou die plaat af na medium. Hier het jy nou die basis van 'n goeie sous wat sekerlik nog gladnie lekker gaan proe nie maar moenie worry nie ... dit gaan ons nog fix.

Gooi nou die blikkie tamaties met sous en al in en roer. Gooi die chili flakes, so blertsie Worcestershire sous en 'n blerts tamatiesous en een teelepel suiker in. Sit die deksel op en laat prut vir so 5 minute ... pasop vir aanbrand.

Terwyl die sous prut, sny die wors op in happie grootte stukkies. Doen dit in die bord sodat jy al die sap wat uitloop kan behou.

Gooi nou die pitmielies in die pot saam met enige sap wat uit die wors gekom het. Roer goed en breek maar die tamaties op. As die sous te dik is kan jy water of bier of cyder byvoeg om dit bietjie los te kry.

Sodra dit begin prut is dit tyd om te proe. Jy wil nou toets vir soet, suur en sout. Proe mooi, eerste wil jy proe of jy die soet kan proe. Sit bietjie suiker by as jy nie die soet kan proe nie ... jy moet fokus en konsentreer.

Sodra jy die soet proe ... soek nou die suur ... as jy dit nie kan proe nie, gooi a teelepel suurlemoen of asyn in. Proe tot jy die suur kan onderskei ... dis nou moeiliker want jy het ook die soet daar. Moenie worry nie, jy sal weldra leer hoe om te onderskei en te balanseer.

Laaste proe jy vir sout ... nou die een, is in die begin nie maklik nie ... ek skep 'n eetlepel sous, strooi so biejie sout oor en proe of dit verskil maak of nie ... so bepaal ek min of meer hoeveel sout ek moet ingooi.

Roer nou weer goed en roer die room in as jy wil, sit plaat op medium laag en breek die vier eiers versigtig in die sous in, elkeen in sy hoekie.

Sit die deksel op en laat prut stadig vir so 5 to 7 minute. Geen geroerdery nou meer nie.

Ek dien die dis op in 'n bakkie ... pak die wors stukkies onder in die bakkie en dan skep ek die sous/bredie bo-oor. Gebruik 'n lekker groot lepel sodat jou eerste skep die eier mooi vat. Twee eiers vir elke bakkie en dan nog so paar skeppies souserigheid. Laastens sit ek 'n skeppie roomkaas bo-op.

Hierdie is 'n basiese resep en jy kan geur soos jy daarvan hou. Jy kan sampioene byvoeg, soousboontjies, fyngekapte bacon ... net waarvoor jy lus is. Die hoofsaak is om a dik souserige bredie te maak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 30 Oktober 2015

Kombuis - Stel jou Kenwood in

Diep winter van 2015 gaan kuier ek by Annelien Pienaar aan die hange van die Magaliesberge. Kuier is miskien nie die regte woord nie ... sy het ingestem om my op 'n "crash course" te vat in haar kombuis.

Aangesien dit 4 dae van bak en brou sou wees het ek besluit om my Kenwood Chef saam te vat want ek was nie seker of ek vir vier dae aanmekaar sou kon knie en klits nie. Dit was 'n wyse besluit, ons het elke dag vier goed gemaak en so 6 kg meel weggebak in die vier dae.

Kenwood Chef
Ek gebruik my Kenwood nou al so 18 maande en is nogal vertroud met die masjien. Die eerste oggend toe ons wegspring staan Annelien die masjien so en bekyk terwyl hy werk en ek sien sy frons ... ek is egter te besig om regtig aandag daaraan te gee en gaan aan. Na middagete kom sy daar aan met 'n paar "spanners" in haar hand.

"Ek hoop nie jy gee om nie maar die masjien van jou moet so bietjie "getune" word."

Die meeste van julle wat met Kenwoods werk het seker opgelet dat aan die punt van die verskillende spane wat jy kan gebruik is daar 'n as wat in die masjien in druk en so metaal skerm wat die kop van die masjien beskerm teen spattery van mengsels. Wel bokant die metaal deksel sit daar 'n moer. Ek het altyd gedink dat dit maar net eenvoudig 'n sluitmoer is vir die dekseltjie. Jy benodig a 19mm ring spanner.

Sluitmoer
In a japtrap het sy die moer los van die deeghaak en toe sien ek hoe sy die assie draai.

"Die haak van jou is te hoog bokant die bodem van die mengbak ... ek gaan hom nou bietjie laat afsak sodat die haak die deeg beter van die bak se bodem af optel."

Gebruik so moersleutel
Kyk, ek is 'n handige man en ook 'n groot chauvinis maar Annelien se hande vat raak en vat vas en ek kon dadelik sien die vrou weet wat sy doen.

So twee of drie toetsies en toe maak sy die moer vas.

Die res van die middag het daai Kenwood brood geknie dat dit bars en ek kon duidelik sien dat die masjien somer spanne beter vaar met die deeg.

Later die aand toe dit stil word daar op die plaas toe staan ek in die kombuis en verstel die ander drie spane ook.

En so leer hierdie ou ballie toe wraggies meer as net koek en brood bak by Annelien.

Ek stel voor jy kyk mooi na jou masjien en maak seker die spane is op die optimale hoogte. Ek het 'n vadoek in die mengbak gesit en die verstelling gemaak totdat die vadoek net net uit kan trek.

Miskien moes ek die ding se boek beter gelees het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 29 Oktober 2015

Beskuit - Man Kos Krakers

Beskuit, dis iets wat na aan omtrent elke Afrikaner se hart lê. Karringmelk beskuit in besonder is iets waaroor daar baie gepraat word en baie resepte voor bestaan. Maar karringmelk beskuit is ook baie verwarrend, veral die woord karringmelk.

Gewone beskuit en Krakers
NB ... As jy van plan is om die beskuit te maak dan sal ek jou sterk aanraai om die hele storie mooi deur te lees voor jy begin.

Regte karringmelk kry mens as jy botter maak. Dis gewoonlik nogal aan die soetsuur kant. Dit wat ons in die winkels koop is maar 'n vaal verskoning vir karringmelk. O ja en daar is ook die mense wat reken as jy suurlemoen by gewone melk gooi, dan maak jy sommer jou eie karringmelk. Niks is verder van die waarheid af as dit nie. Wat jy daar maak is suurmelk of dikmelk. Karringmelk is baie laag in bottervet want jy haal die meeste van dit uit in die bottermaak proses.

Maar dit nou daar gelaat ... ons ken beskuit hoofsaaklik in drie formate.

1. Boerbeskuit met al sy variante soos mosbolletjies, anysbeskuit en krakelinge. Al die beskuit het een ding in gemeen ... dit word met suurdeeg in een of ander vorm gemaak en dit word baie goed geknie. Dit gaan deur twee rys fases en die beskuit se tekstuur is draderig ... dis van die rys en die gluten stringe. Die hoof bestandele is meel, water, sout en suurdeeg. Druiwemos en anys is gewilde byvoegings. Die beskuite self word styf in panne gepak en dis diep panne wat die beskuit forseer om na bo uit te rys.

2. Karringmelkbeskuit en sy variasies. Hier word nie gis gebruik nie en die meel word met botter ingevryf soos waneer jy skons maak. Dis bakpoeier wat die rys agent is. Die nat element is gewoonlik karringmelk, dikmelk of yoghurt. Die beskuit word baie min geknie, inteendeel jy moenie dit baie knie nie want dan kan dit klinkers word. Jy moet ook baie seker maak jy gebruik goeie botter of bak margerien ... as jy smeer margerien gebruik gaan jou beskuit hard wees en nie bros nie. Hierdie les het ek op die harde manier geleer.

3. Gesondheidsbeskuit in sy duisende variasies. Die basis van die beskuit is normaalweg maar karringmelkbeskuit basis maar daar word allerhande sade, bessies en koring of hawermout elemente ingevoeg. Muesli mengsels is ook gewild. Heuning, stroop, bruinsuiker, molasses en dies meer vir soetigheid. Die nat element kan enigeiets wees soos yoghurt, dikmelk, karringmelk, room, kondensmelk of vrugte stroop.

Nou gaan ek bietjie vertel van my beskuit proses en ek gaan vertel hoe ek dinge doen. Dis verseker nie die "Holy grail" van beskuit maak nie maar dit werk vir my en ek het my ondervinding opgedoen deur dosyne baksels. My resep wat ek vandag hier gaan gee is spesifiek ontwikkel vir die Man Kos Krakers maar kan vir groter beskuit ook gebruik word, jy kan bolletjies maak of jy kan dit in blokkies sny.

Dit is wat gaan benodig: (Ek gaan nou nie taalsuiwer probeer wees nie.)

1kg Selfraising Flour
200ml suiker ... wit of bruin, jou keuse.
250gr Botter of bak margerien. Botter kan galsterig raak as jy die beskuit lank wil bêre.
3 koppies hawermout
2 eiers
5ml sout
10ml bakpoeier
1 koppie Safari Dried Fruit Cake Mix
2 eetlepels olie ... jy kan olyfolie gebruik.
1 blikkie kondensmelk ... dis so 380gr maar wissel van maak tot maak.
1kg Appelkoos gegeurde yoghurt. Jy kan enige geur gebruik.
4 eetlepels fyn appelkoos konfyt. Weereens, enige fyn konfyt, jou keuse. Jy kan selfs heuning of stroop gebruik.

Nou vir die metode.

Moenie te styf pak nie
Sit jou oond op 200C en laat hom warm word terwyl jy die goed gaan meng.

Die belangrikste is om al die benodighede uit te pak op jou tafel. Maak seker alles is daar en bymekaar voor jy begin om enigeiets te doen of te meng. Jy het hoofsaaklik drie houers nodig.

Kry 'n lekker groot bak waarin jy die meel gooi. Skep nou die sout en bakpoeier in die meel in en whisk dit.
Mooi baksel
Volgende rasper jy jou botter in die meel in. Jy kan dit ook in blokkies sny en ingooi.
Gebruik nou jou vingers en vryf die botter en meel inmekaar in totdat dit goed opgebreek en versprei is. Die slimmes reken dit moet soos krummels lyk ... wel ek kyk maar so met die oog en as dit lekker geel is sonder groot klonte, dan is ek tevrede.

Nou vir die droog
Gooi nou die vrugte en hawermout in die meel in en meng deur met jou vingers. Wees kalm en mediteer terwyl jy so met die meel werk. Dis nogal opvallend hoe jou siel tot rus kom as jy so met die meel vroetel.

Net reg vir die kies
Sit nou a mengbak, medium grote op jou skaal en ZERO die ding. Gooi die blikkie kondensmelk uit in die houer in. Die skaal sal nou vertel hoeveel dit is. Volgende skep jy die fyn appelkoos konfyt in. Nou vir die yoghurt ... jy soek die totale massa in die mengbak moet 600gr wees. Skep yoghurt in tot by 600 gram.

Breek nou die eiers in die mengsel en gooi die olie en suiker ook hier in. Nou moet jy die mengsel ordentlik meng. ek gebruik 'n whisk maar jy kan 'n handmenger ook gebruik.

Lekker Krakers
Gooi nou die natmengsel by jou meel en meng rustig en kalm. Moenie rof of haastig raak nie. Jy wil al die meel mooi klam kry sonder om die gluten angstig te maak in die proses. Spoedig sal jy 'n lekker hanteerbare mengel in die bak hê wat nie aan jou hande vasklou nie. Ek werk net met een hand in hierdie fase.

Kry nou jou panne reg ... ek het een groot plat pan van so 260x380mm en een van 200x200mm gebruik.

Spuit die panne mooi met koekie sproei en nou is jy reg vir die tandetrek deel van die proses. Ek weeg die deeg af in brokkies van so tussen 22 en 25gr, rol ligies in balletjie en pak in die pan. Jy wil nie die goed te styf pak nie. As ek gewone beskuit bak dan maak ek die balletjies 45gr.

 Nou oond toe ... draai die oond op 190C en laat die beskuit bak vir 15 tot 20 minute, ek kyk waneer daar 'n mooi ligbruin korsie begin vorm.

Draai nou die oond af na 170C en laat bak vir nog 20 minute. Die is beskuit en nie koek nie, so dis beter as dit so bietjie "overbake".

Haal uit die oond en laat koel af vir so 5 minute. Dop die beskuit uit op 'n vadoek en breek vesigtig uitmekaar.

Nou moet jy dit laat uitdroog. Ek pak myne in plat oondpanne maar baie mense pak dit op draadrakkies. Maak soos dit jou pas. My beskuit doog teen 70C vir so om en by 5 ure.

Die doel van hierdie Krakertjies is om 'n lekker snaxie te maak. Ek is moeg daarvoor dat my huismense die beskuit se koppe afbreek en verslind ... die krakers is my antwoord vir die soort wangedrag. Die manier waarop ek bak verseker lekker korsies. Die aanvanklike hoë hitte laat die botter vinnig smelt en bak die korsies mooi bruin.

Ek meng bruinsuker met kaneel soos vir pannekoek en strooi dit oor die balletjies voor ek begin bak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 21 Oktober 2015

Hoender - Crown National Spices braai dit lekker

Man Kos was van die begin af my platform waar ek mense wil vertel hoe om lekker kos te maak sonder 'n groot gesukkel. Die wat my al lank volg sal weet ek is nie groot op die plasing van resepte nie ... nee, ek vertel liewer die storie rondom ander mense se resepte. Daar is ook egter tye waneer ek my eie konkoksies maak ... dan gee ek respete.

Lekker gebraaide hoender
Ek is die laaste tyd sterk gefokus op die maak van bekostigbare etes want meeste van ons is maar erg onder druk met die styging in pryse en die waardevermindering van ons inkomste. Tenspyte van al die goed moet ons eet.

Daar is mos so grappie wat rondloop waar die man reken as hy groente wil eet dan vat hy 'n stukkie hoender ... alhoewel ek nogal sterk met die man kan identifiseer is die realiteit dat rooivleis hel duur geword het ... veral die prima gewilde snitte. So, uiteraard moet ons na hoender kyk as ons elke dag vleis wil eet.

So tydjie gelede kom my jongste hier by my huis aan met so groen materiaal sakkie ...

"Pa, Roland van Crown stuur die ... kyk of pa van dit kan gebruik."

Reg vir die vuur
Nou kyk ... een van die goot stappe wat ek moes neem so twee jaar terug, was om die etiket van "Moerby Kok" af te skud en ek het al daaroor geskryf. Een van die goed wat ek gedoen het was om onmiddelik van alle voorafgemengde bottels sous en speserye ontslae te raak en te leer hoe om van die basiese speserye en kruie by die verwagte uiteinde uit te kom. Soms was dit moeilik maar baie gou het ek besef dat dit eintlik eenvoudig is om die resultate te kry wat jy soek as jy net so bietjie fokus. Ek het nou 'n plekkie in my kooklewe bereik waar ek gemaklik is met die basiese speserye en daarom is ek meer ontvanklik vir voorafgemengde bottels goed.

Net soos ons daarvan hou
Ek sit en kyk die inhoud van die sak deur en sien mengsels wat nogal interresant lyk. So besluit ek toe om die Crown National Six Gun BBQ Mengsel vir 'n toetslopie te vat. Vir die volgende week of so het ek net dit gebruik en 'n ek het dit uitsluitlik op hoender gebruik.

Ek het al voorheen genoem dat ek al my hoender wat ek braai eers in die mikrogolf  oond in 'n "steamer" gaar maak ... so 10 minute in myne ... dis a 1,000 watt oond. Menige puris frons vir dit maar nouja, as die son sak en die mense moet eet is daar nie tyd vir 'n lang gesukkel op die braai nie. Onthou net, rou hoender is verseker nie aanvaarbaar nie en kan dodelik wees. So die mikrogolf maak die hoender basies gaar ... dan is die vuur daar om kleur en geur in te sit.

Geurig en ekonomies
Ek is uit 'n familie wat nie regtig van vaal kos hou nie en daar moet op alle vleis so paar blertse ernstige verkoling wees ... soos Greg Wallace eendag op Masterchef genoem het ...  "I see you have caramalised this meat enthusiastically."

Nouja ... voor ek die hoender in die stomer sit besprinkel ek dit goed met die Six Gun Spices ... en ek bedoel goed ... op 4 boudjies en 4 dye sommer a bakhand van die poeier.
Hoenderstukke

Na dit uit die mikrogolf uitkom ... pak dit in 'n plat glasbak en nou weer a bakhand speserye ... bietjie tamatiesous en twee teelepels suiker. Laaste blerts ek so bietjie tobasco oor. Nou maak ek dit toe met plastiek en laat die stukke maar goed kennis maak met die speserye en sousies. Hierdie deel is so 15 minute se werk en dan laat ek dit vir tenminste 'n uur rus.
Bak vol boudjies

In die uur kan jy die bykosse maak wat jy wil voorsit. Uit die fotos sal jy kan sien ek is nogal gedissiplineerd en hou by niks meer as drie goed op die bord.

Tot hier is die proses by uitstek geskik vir hoender stukke, ek het selfs "baby chickens" heel so gedoen.

Nou is alles feitlik gereed en ek steek my gasbraaier aan ... ja ek braai op gas, al sedert 1987 ... dit maak net meer sin vir my ... die ding is altyd reg vir gebruik en die hitte is goed beheerbaar. Met hoender is dit veral belangrik om a goed gereguleerde vuur te hê. Bonus van my metode is dat die vuur nie so groot rol speel nie want jy gaan nie langer as so 10 tot 12minute daar wees nie.

Met die hoender stukke verkies ek om dit in toeknip rooster te sit ... dit maak dit net makliker om die hoender om te draai op tyd. Ek staan ook nie en bedruip die stukke terwyl dit braai nie. Die gesousery bemors net die gereedskap en maak dat die vuur simpel raak. Verder is dit maklik om die hoender smaak heeltemal te oordonder met die souse.

Soos jy kan sien op die fotos is die hoender lekker geurig en aantreklik en dit was in totaal minder as 30 minute, uitgesluit die rustyd na die mikrogolf.

Baba hoendertjies
Nou so paar wenke ...

1. Moenie jou hoender te lank in die mikrogolf sit nie want dan is daar 'n groot kans dat dit droog gaan wees.
2. Moenie suinig wees met die spesery nie ... gooi dik en goed en vryf maar so bietjie in.
3. Werk versigtig met die hoender as dit uit die mikrogolf kom want die vel kan baie maklik skeur en afkom.
Man Kos
4. Moenie die hoender op die vuur sit en dan ander dinge gaan doen nie. Staan daar en hou dit dop. As die vuur bietjie hitsig is, draai net vinniger en meer gereeld om.

Van Man Kos se kant af is hierdie braaispesery mengsel van Crown National verseker 'n goeie mengsel vir die hoender en ek sal dit gereeld, miskien uitsluitlik gebruik. Dis baie meer ekonomies as die klein botteltjies wat ons koop.

Jy kan die speserye van Crown by die meeste slagters, SPAR en ESKORT se winkels kry. Dan kan jy dit ook by die plaaslike Crown Cash en Carry winkels kry. Dis die moeite werd om so bietjie sweet in te sit om by die speserye uit te kom en as jy dit direk by Crown koop gaan jy geld spaar.

Hierdie mag na 'n promosie lyk, en miskien is dit, maar die feit bly staan dis baie lekker, bekostigbaar en dit sit so bietjie, nee, sommer baie lekkerte in doodgewone hoender.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.