Woensdag 27 Mei 2020

Groente - Spinasie in 'n nuwe baadjie

Haal die stingels uit.
Spinasie ... dis 'n woord wat lelike gedagtes in my laat opkom. As 'n deurtrapte koshuisbrak ken ek spinasie as daardie vaal, waterige gekookte trapsel met uie en aartappels by. Gekook vir ure en skrikwekkend in kleur, geur en aangesig.

Ek is doodseker die meeste van ons het soortgelyke herrinneringe aan spinasie.

Kerf die stingels vir die sous
So tyd gelede het ek vir my 'n Aquaponic stelsel opgerig en Spinasie was een van die gewasse wat ek ingesit het. Teen die tyd dat die Spinasie gereed was vir oes het ek begin uitdeel en verkoop maar het self nie aan die goed geraak nie.

Toe kom die China Virus en ek kyk met nuwe oë na my kokery en etery. Skielik was dit baie belangrik om te eet vir my imuunstelsel en dit het nou meer gegaan oor gesond as oor lekker.

Rou blare in die bord
Laatmiddag staan ek in die kombuis en bekyk die bossie spinasie wat ek gepluk het. Onder geen omstandighede gaan ek dit moertoe kook nie.

Eerste "ontbeen" ek die blare en kry die harde stingels een kant. Toe kerf ek dit op en gebruik dit saam met die gekapte uie in die basis vir my sous. Ek rol die blare op en kerf dit soos fettuccine pasta, sulke linte.

Die finale dis
Ek het oorskiet Steak in die yskas en sny dit in klein blokkies. My sous maak ek lekker soet suur en roer die vleis blokkies by.

Nou sit ek 'n handvol spinasie blare in die diepbord. Volgende skep ek van die sous oor die blare en toe die Vleis en ek het ook groenmielies gestoom.

Die warm sous het die blare lekker laat verwelk en dit was heerlik. Probeer dit gerus as jy weer lekker vars spinasie in die hande kan kry. Ek sal nie maklik ooit weer spinasie in 'n pot gooi en kook nie.

Ek dink ons is soms skrikkerig om iets nuuts te probeer met 'n ding wat ons al vir jare ken en eet.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.