Sondag 31 Desember 2017

Brood - BoerekosTwist Brood bak kompetisie

Brood ... vir my is dit 'n byna heilige ding. 'n Mens moet eintlik nooit Brood met 'n klein lettertjie spel nie want Brood is waarskynlik die grootste bydraende faktor dat ons as mens sovêr kon ontwikkel. Vir baie jare was dit die stapelvoedsel van die mens en selfs vandag nog is dit bykans ondenkbaar om jouself 'n lewe voor te stel sonder Brood.

Heerlike vars Brood
Min dinge ruk 'n mense se hartsnare soos die geur van varsgebakte Brood en menige van ons het wonderlike herrinneringe van die vars Brood uit 'n ouma se oond ... stomend warm en 'n kors wat kriek en kraak soos die Brood afkoel. Broodbakkers sê dat die Brood sing. En dan daardie magiese oomblik as die broodmes deur die kraakvars kors saag en die krummels en skerwe spat so weg van die broodplank af.

Jy staan en kyk, met 'n mond wat water, hoe die sagte sny op die plank neer sak. Jy sluk vinnig want die kwyl loop nou vrylik. Met vinnige bewegings skraap ouma die ryk geel plaasbotter van die blok af en die waterspatsels vorm druppeltjies teen die mes se lem. Met 'n elegante swaaitjie plak sy daardie botter krul op die warm sny Brood en jy sien hoe die botter sag word en so goudgeel vet randjie om die botter vorm en in die brood in smelt.

Brood met geur en smaak
Hierdie is die gedagtes wat by my opkom as ek aan Brood dink. Dis ook hierdie gedagtes wat my in die Lente van 2016 gemotiveer het om die ou tradisionele suurdeeg Brood proses te bemeester. Winkelbrood het oor die jare so verfynd geraak dat dit bykans geen smaak het nie. Annelien het my baie bemoedig en aangepor om deur te druk met die proses en soos die maande verby gegaan het het my vaardigheid verbeter. Sedert middel September 2016 koop ons gladnie meer Brood vir die huis nie en as ek op reis is en winkelbrood moet eet dan is ek net meer vasberade om dit so min as moontlik te eet.

Dons sagte Toebroodjie
So kom dit dan dat ek die advertensie sien vir die Boerekos Twist Brood bak kompetisie en ek sit en wonder. Ek is nie erg oor kompetisies nie maar dit prikkel my nuuskierigheid en ek lees meer. Wat my dadelik opval is die feit dat die aanbevole resep kitsgis gebruik ... vir my is dit effens negatief want ek het nou al gewoond geraak dat Brood lekker sterk geur en smaak kan hê. Ek haal Annelien Pienaar se Boerekos met 'n Twist boek uit my boekrak uit en spoor die resep op. Uit ondervinding weet ek dat Annelien se brood resepte goed is en dat mens dit kan volg sonder enige spanning. Die kompetisie noem dat jy die resep kan "Twist" en ek sit en wonder. Siende dat dit 'n effe verrykte deeg is, is daar moontlikhede ... maar vir my, en dis baie persoonlik, is die meeste "Twists" op brood wat ek sien, so vêr van Brood af dat dit einlik koek is ... dit is vir my nie 'n opsie nie.

Heerlike French Toast
Net daar besluit ek dat my "Twist" moet die Brood die "Hero" hou van die verhaal, geen tierlantyntjies, bolletjies, balletjies, stafies of plaatjies nie ... nee, doodgewone tradisionele Brood maar met 'n bevonkte smaak.

Omdat Brood die Held van my skepping moet bly is dit ook vir my belangrik dat die Brood baie veelsydig moet wees ... met ander woorde die Brood moet vele baadjies kan aantrek en steeds die ster van die ete bly, alhoewel dalk net 'n ondersteunende ster.

Kraakvars korsie en sag binne Roosterbrood
My eerste uitdaging is om die kenmerkende geurige smaak van suurdeeg Brood in die kitsgis brood te kry. Terselfdertyd moet ek die tekstuur bewaar en my brein werk oortyd. Ek maak my yskas oop en kyk na die bestandele wat ek gereeld in my beskuit en Brood gebruik.

Ek lees die resep weer en besluit om die melk met dubbelroom, vol vet Griekse Yoghurt te vervang. SPAR het 'n nuwe variasie met Aalwyn in en dit is wat ek vat. My heuning is rou Fynbos Heuning en ek gebruik Himalayan Pienk Sout.

My volgende variasie is op die meel en ek meng 25% Millstone Volgraan met 75% GWK Ongebleikte Koekmeel. My doel is om 'n tipe Plaasbrood te bak en ek soek bietjie sterker gluten strukture in die brood want ek verwag hy gaan hoog rys.

Met my metode, volg ek min of meer die suurdeeg paadjie en 3 ure later kom die Brood uit die oond uit. Na my beskeie mening het die brood baie goed uitgekom en ek is hoog in my noppies met die kors kleure. Toe ek die Brood uit die pan lig en op die rakkie sit, sing hy mooi en ek glimlag van oor tot oor. Ai hoe bitter graag sou ek nou so snytjie hiervan met my ouma wou deel.

Al wat nou oorbly is om geduldig te wag dat die Brood afkoel, dis belangrik want die Brood bak nog steeds vir 'n tydjie na jy hom uit die oond haal en as jy te gou sny kan jy die brood se tekstuur bederf.

Vars Brood en botter
Met groot verwagting plaas ek die Brood op my snyplank, die Brood is lekker pofferig en die korsie voel krakerig ... baie versigtig kry ek my merkie reg en trek die lang mes oor die kors. Vir 'n oomblik veg die korsie terug maar die skerp tandjies wen die stryd en die blink lem sak in die brood in ... met elke haal vlek die Brood verder oop en met genoegdoening sien ek hoe die sny op die broodplank val ... heerlik lig, sag en die geur is wonderlik. My ouma sou waarlik trots gewees het op hierdie kleinseun van haar.

Ek sny nog twee snye en toe haal ek die botter uit en 'n botteltjie van my tuisgemaakte appelkooskonfyt ...

Byna gewetenloos skraap die bottermes deur die bakkie en die lem skil 'n ordentlike reep botter af ... in my geestesoog sien ek hoe Poppie ril en ek lag hardop ...

"Die Brood soek botter, ordentlike botter en botter in oormaat."

Mooi kors
Met mening plak ek die botter op die Brood neer en met groot genoegdoening sien ek hoe die kinkels uitsak van die hitte ... die geel botter suig neer op die snoesige Brood en onwetend knik ek my kop.

Die appelkooskonfyt klou halstarig aan die lepeltjie, amper asof dit vrees vir wat voorlê maar die halstarrigheid is weerloos teen my vingerpunt. Versigtig versprei ek die oranje konfyt oor die sny Brood, versigtig om nie die sagte boter weg te skraap nie.

Ek lig die Brood op en ruik versigtig, nee, aandagtig is 'n beter woord ... die geure is wonderlik. My mond water behoorlik maar ek moet myself nou eers beteuel want daar moet fotos geneem word. Amper geiriteerd doen ek die foto ding en dan kan ek ontspan ... ek lig die snytjie op en 'n heerlike geurmengsel vul my brein ... ja, my brein ... die eerste hap ... die korsie bied weerstand maar ek verskuif my voortande en ... HEMELS ... natuurlik is die appelkoos eerste op die tong en dan verdof dit ... die botter smeer my verhemelte en ek stop om te kou ... nou wil ek net proe ... en dan proe ek dit ... die wonderlike kakafonie van koringmeel en die byna pikante yoghurt nasmaak.

Oor die volgende dag beproef ek die Brood as ...

Roosterbrood en dit is heerlik. Kraakvars korsie en lekker sagte binnekant.
French Toast en die sagte brood slurp die eier op. Heerlike sagte geurige Broodjie.
Toebroodjie wat sag en is en maklik eet, ek het grondboontjie botter en appelkooskonfyt opgesit.

Metgesel by Hoenderlewers
Ek het ook die Broodjie as metgesel gebruik vir romerige hoenderlewertjies met 'n peper sous. Die Brood het sy ondersteunende rol skitterend gespeel en elke druppel van die sousies opgeslurp.

Laastens het ek die Broodjie ingespan by ontbyt. Die roosterbrood het weereens die sagte eiers mooi ondersteun en die hele maaltyd afgerond.

Afronding by ontbyt
Vir my is die doelwit bereik. Die is 'n veelsydige Brood en is vinnig om te bak ... so om en by 3 ure van begin tot hy uit die oond kom. Ek het die uitdaging geniet..

Wow ... die is 'n heerlike Brood en in my gedagte 'n wenwaardige Brood.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Maandag 18 Desember 2017

Boek - Renette se Rooitamatie Storie

Die wat my ken sal weet hoe groot Renette se rol was in die omskakeling van Colyn Moerby Kok na Colyn kook ManKos. Soos ek al verskeie male geskryf het, sy het my in 'n paar gesprekke laat besef dat die "moerby" ding gladnie werk nie ... nie as jy geloofwaardige kos wil opdis nie. Ek moes 'n groot kopskuif maak en ek het dit gedoen met toewyding want Renette se passie is net heeltemal te aansteeklik om jou lou te laat ... nee, niks van lou nie ... borrel kook is al hittegraad wat vir jou oorbly as jy eers in haar byna magiese kookpassie verstrengel raak.

Rooitamatie Storie
Die dag toe sy my vertel van haar droom om 'n boek te skryf het ek net stilweg geluister en gewonder ... ek en sy het ons kinderdae op die Steenkoolvelde beleef en het derhalwe nogal 'n goeie begrip van die uitdagings van ons kinderdae. Armoede, skraps kos en rowwe bure is iets wat ons albei verstaan, net 'n "property" kind sal die verstaan.

Dankie Renette
Die raakste opsomming wat ek kan maak oor my en Renette se wortelwêreld is dat ons albei die onstuimige "hippy" tyd beleef het en vir konseratiewe Afrikaner kinders was dit 'n wilde belewenis ... verskil tussen my en haar is dat sy het die "Flowerchild" roete gevat en ek het die "Hell's Angels" pad gekies. En nou jare later is ons albei groot en die letsels van die keuses is duidelik. Sy is die warm menslike mens met 'n sagte woord en breë glimlag vir almal en alles wat lewe, onuitputlike vooraad van liefde en mededeelsaamheid, iemand wat bykans almal naby hulle soek ... sonder om uit te brei, ek is nie so nie.

So dit was met groot afwagting wat ek haar avontuur na haar boek toe dopgehou het en ek was diep getref toe sy my vra of ek die proefkopie wou lees. Wel vir die eerste keer in 'n baie lang tyd het ek 'n boek van voor tot agter deurgelees. In my jongdae was ek 'n fanatiese leser maar die afgelope 10 jaar of so lees ek selde 'n boek. Ek lees baie ander goed maar min boeke.

Op bladsy 4 sit hy
Renette het my op 'n reis geneem wat 'n paar trane laat drup het en hoendervleis op my voorarms was aan die orde van die dag. Deur haar reis vertel sy van die kos wat haar paadjie gekruis het en wat indrukke op haar gemaak het, heelwat van die disse kan ek onthou en toe ek by haar ma se Frikkadelle kom toe moes ek hard keer dat die emosies my nie omstamp nie. Daardie frikkadelle het my onthousnare geroer, Dit was stapelvoedsel in my grootword huis. My ma is dood en ek het nooit daardie resep by haar gekry nie.

Ek stop my lesery net daar en stap kombuis toe.

Beesfrikkadelle uit my kinderdae
Getrou tot op die letter maak ek die frikkadelle soos sy dit beskryf. Ek maak ook 'n lekker diep, lang sous en kapokaartappels. Skemeraand skep ek vir my en Poppie op en my oë dwaal oor die bord ... my gedagtes gaan baie vêr terug en ek vat die eerste happie. En die nostalgie spoel oor my, dis die towerkrag van Onthoukos, Trooskos ... dit voed jou siel baie meer as jou ligaam. Dit was asof my ma en Renette se ma resepte gedeel het ... ek dink dis maar hoe dinge daardie jare gewerk het, goeie resepte is oor heinings gedeel en spoedig het die resep soos 'n virus deur die gemeenskap versprei ... daar was mos nie Cooking Shows en WhatsApp nie ... stukkies papier, agterop sigaret boksies en op afgeskeerde boks deksels.

Ek kan nou nog 'n lang stuk skryf van hoe die frikkadelle geproe het maar dis nie die doel van die storie nie. Baie lekker is genoeg. Ek gaan net eenvoudig volstaan by dit ... weereens het Renette my gewys dat ek haar resepte kan vertrou.

Eenvoudig maar smaakvol
As jy so saam met haar deur haar lewenspaadjies stap dan sal jy soms glimlag en soms gaan jy ril, die vreugdes is in oorvloed maar so ook die hartseer. Wat my die meeste beiindruk het is hoe sy bykans van elke uitdaging 'n geleentheid gemaak het hoe gefokus sy voortgesloeg het, Die vrou verdien al die respek wat ek vir haar het.

As jy nou nie van stories hou nie, skip dit dan maar en fokus op die resepte. Sy het soveel wonderlike geregte in haar boek dat jy vir 'n baie lang tyd geen ander boek nodig gaan hê nie want jy gaan maande lank heerlik eet en baie leer.

Ons word oorweldig deur die Kookboek aanbiedings en ek het heelwat boeke op my rak wat ek gekoop het en nooit eers gelees het nie. Die Rooitamatie Storie is egter een van daardie boeke wat sekerlik gaan opeindig met vetkolle en soustrepe oral oor ... hierdie is 'n boek wat jou siel sal voed maar vir seker ook jou ligaam as jy van lekker kos hou.

En dan kom ek op die einde en lees ...

"Fluit fluit en nog lank nie uit nie." en ek glimlag, die rooiskoentjies het laat waai die laaste paar jaar.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.





Saterdag 16 Desember 2017

Mieliepap - Slappap is heerlik

Ek het al heelwat stories oor mieliepap geskryf en ek het al die soorte pap makery beskryf. Vandag wil ek egter weer vertel van 'n groot lekkerte vir my ... so bederfie wat ek sommer enige tyd maak as ek mistroostig voel.

Heerlike Slappap
Daar is min dinge wat my so salig laat voel soos 'n bakkie romerige slappap. Dit laat my vêr terugdink, laat my verlang na my kinderdae, koue wintersoggende op die Hoëveld, trietsige aande in Zululand en veral eensame aande in my buitekamertjie in Muckleneuk. Maar dit laat my ook terugdink aan nagte langs die viswater ... bibberende koue terwyl ek geduldig wag vir die karp om te byt en dan die yskoue nagte in 'n tentjie in Dullstroom langs die forelwater.

O hemel ja, en moenie die koshuispap vergeet nie, aaklige goed wat omtrent soos gom geproe het en wat geen hoeveeleid suiker beter kon laat smaak nie ... die goed wil ek gladnie onthou nie.

Slappap was menige maal in my lewe die enigste kos vir die dag. As dit die dag bietjie beter gegaan het kon ek darem 'n stukkie boerewors verfrummel en oor die pap strooi en dan ... as dit goed gegaan het was daar bietjie fyn biltong. By my ouma op die plaas was dit kaiings wat oor die pap gestrooi is. Ai dit was lekker tye.

Vandag se dae word ons gebombardeer met allerhande opgesmukte en opgetertde geregte en vertel van die hemelse smake ... ons word ook vertel van polenta en daar word gemaak of dit nou so grênd is ... ek skud maar net my kop.

Ek gaan nou vir julle 'n reseppie gee vir 'n heerlike porsie slappap en as jy meer wil maak moet jy maar net alles vermeerder per porsie.

ManKos Slappap:

60ml Mieliemeel (4 eetlepels) ... ek verkies lekker growwe braaipap meel.
250ml water (1 Koppie)
125ml melk (1/2 Koppie)
1 eetlepel botter (Opsioneel)
Sout na smaak.

Meng die water, melk, meel en sout goed met a whisk. En sit op die stoof. Ek het so klein potjie wat omtrent 500ml kan hanteer.
Moenie getempteer word om meer meel in te gooi nie, in die begin gaan dit hopeloos te min lyk.
Sodra die potjie begin warm word roer die botter by.
Ek staan maar by die potjie want die proses neem net sowat 25 minute. Ek roer die pap gereeld met die whisk en maak seker ek skraap die bodem goed. Jy wil geen klonte in die mengsel kry nie.
Jy wil hê die mengsel moet borrelend kook. Na 10 minute kan jy die plaat afdraai na medium toe maar bly maar roer. Jy sal sien dat daar water teen die rant van die pot vorm en skuim bo-op die mengsel. Bly maar net whisk en werk alles heeltyd goed in. Mettertyd gaan die skuim weg en jy sal sien die mengsel word al dikker. Bly maar roer elke twee minute of so. Ek sit die dekseltjie op tussen die roerdery.
Na 25 minute behoort dit heerlik gaar te wees en lekker romerig. Sit die plaat af en laat staan net so vir so 10 minute.
Roer nou weer goed en keer die potjie uit in a lekker papbakkie.
Ek sit 'n klont botter in en strooi suiker. Dan so bietjie kaneel.
Jy kan stroop, heuning of molasses oorsit ... alles na jou smaak.
Dan kan jy nog biltong, kaiings, maalvleis oor sprinkel.

Vir my is die pap met botter, suiker en kaneel die beste laatnag snaxie.

Ek daag jou uit om dit te probeer, jy sal nie spyt wees nie.

Geniet dit heerlik warm saam met 'n glas melk.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 01 Desember 2017

Groente - Boontjies en wortels met mash

Ek en my vrou is alleen in die huis en dit raak soms nogal 'n uitdaging om groente op te dien. Groente is nie altyd so vinnig en maklik soos om iets te braai nie en 'n mens is geneigd om dit te vermy bloot omdat daar altyd oorskiet is. Oor die laaste paar jaar het ek baie metodes van voorberei en opdien ondersoek om sinvolle groente disse in ons dieet te hou.

Vir my is die maklikste en beste manier om oorskiet te vermy, die stoom van die porsies. Ek kan maklik die porsies bepaal en net genoeg gaarmaak maar die uitdaging is altyd om dit smaaklik te maak. Tradisioneel hou ons boere mense van lekker soet wortels en ons hou van boontjies wat gekook is met uie.

Na so paar pogings het ek 'n oplossing gevind wat goed werk vir ons twee. Hier is my porsie afmeting vir ons twee.

1x Aartappel ongeveer so groot soos my vuis.
2x Bakhande gekerfde boontjies.
2x Bakhande gekerfde wortels.

Ryk mash
Een bakhand is ongeveer een koppie. Die boontjies en wortels kan dalk bietjie baie klink maar die goedjies krimp nogal as julle gaarmaak.

Soos reeds genoem, stoom ek al my groente gaar en maak veral seker dat ek die boontjies nie pap maak nie. Jy kan dit natuurlik in water gaar kook.
Boontjies gooi jy in kokende water en kook vir so 12 minute.
Wortels gooi jy in koue water en sodra die water begin borrel dan kook jy dit ook vir 10 tot 12 minute.
Kook die aartappel lekker sag.

Wortels en boontjies
Die reël is dat jy alle groente bokant die grond groei, in kokende water gooi en dit wat onder die grond groei begin jy in koue water.

Onthou om darem sout in al die water te sit vir die groente wat jy kook.

Ek begin altyd eerste met die aartappel en as hy halfpad is dan begin ek die wortels en boontjies.

Sodra die aartappel gaar is trek ek die skilletjie af, jy kan dit aan los, en maak die aartappel baie fyn met 'n vurk. Roer 'n lekker klont botter in en gooi room by ... ja room ... jy wil mos iets lekker luuks op jou bord sit. Meng goed, jy soek die aartappel soos slap pap. Maak baie seker jou sout en peper is perfek in die aartappel. Dis belangrik want die aartappel gaan die dis aanmekaar plak.

Lekker mengsel
Dreineer jou wortels en druip so bietjie heuning oor dit. Meng mooi deur.

Volgende doen jy die boontjies en ek strooi bietjie wit peper oor die boontjies.

Roer nou die boontjies en wortels by die aartappel in ... moenie teveel roer nie, jy soek dit net redelik egalig gemeng.

Nou kan jy dit voorsit op die bord.

'n Paar variasies op dieselfde tema is om sweet chilli sous in die aartappel te sit of selfs tamatie sous.

Jy kan die boontjies vervang met ertjies of jy kan selfs die pakkies gevriesde gemengde groete gebruik.

Soms maak ek 'n lekker ryk en stewige sous en meng dan die sous by die mengsel.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 09 November 2017

Menu - Rumpsteak vir vier

Hierdie dis is saamgestel om 'n lekker kuier aandjie by die tafel te geniet. Geen gespook en spartel met die menu nie want die dis is alles bymekaar.

1.2kg Rumpsteak
Voorgereg, hoofgereg en nagereg. Jy bestel net Rumpsteak vir vier en ons bring die geregte tafel toe. Elke gereg sluit ook 4 glase wyn, rooi of wit of vier biere in ... so dis jou keuse, wyn of bier of gemeng.

Crostinni
Hierdie gereg is baie aards en geen fieterjasies nie. Dis 'n gereg wat jy bestel vir vier mense as jy nou betaamlik is ... maar een of twee groot vleisvreters kan hom kaf draf. So dit hang af van wie jy by jou tafel gaan onthaal ... as dit fyn besnaardes is dan is die reg vir 4 mense maar as dit nou net jy en jou groot maat is, wel dan gaan julle knuppeldik opstaan.

Jy gaan begin met die met die crostinni en 'n doopsousie. Net die regte ding om die geselskap aan die loop te kry en die smaakpapille op te wakker.

Krummelpap en sous
Dan kom die hoof maal ... regte krummelpap met 'n lekker ryk sous ... ons gaan vir jou 'n lepel gee vir die as jy wil lekker eet. Die plank met die rumpsteak is natuurlik die ster van die tafel. Om en by 1.2kg Rumpsteak ... vlamgebraai en in repies gesny. Daar sal vanselfsprekend meer gaar dele wees maar die lyf gaan nie sommer by medium-rare verby nie ... jy kan dit nie aan so edel stuk vleis doen nie. As jy van jou vleis goed gaar hou dan moet jy nie die rumpsteak bestel nie. Die dis is spesifiek gemik op die groot vleisvreters.

Vanilla Roomys, Suurlemoenkonfyt en koek
Elkeen help hom maar self met soveel repies as wat jy wil hê en dis 'n goeie plan om maar eerder versigtig te vat want die vleis is groot ... jy wil nie opeindig met a paar repe op jou bord en maag trommeldik en een van jou vriende sit nog hongerig en rondkyk nie.

Ons sluit af met 'n eenvoudige maar baie lekker nagereggie ... vanilla roomys met 'n wakker suurlemoen konfytjie by en 'n stukkie geurige sponskoek. Jy het 'n jeuse van koffie of muskadel om jou keel mee nat te maak.

So, vir 'n aandjie wat jou gaan laat ontspan en sommer tuis laat voel ... gaan vir die Rumpsteak vir vier.


Geniet hom ... hy is gemaak van net die beste. Hierdie is nou ManKos waarvan vrouens ook hou.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Woensdag 04 Oktober 2017

Sjokolade - Smelt dit sonder swetse

Die oomblik as ek in 'n resep lees dat daar sjokolade gesmelt moet word dan gaan ek klaar aan die swets. Ek het al so baie metodes probeer en soveel gadgets gekoop om die ding reg te kry dat ek wil naar word daarvan.

Gesmelte Sjokolade
Ek glo baie van ons het al met die beste voornemens begin en dan opgeeindig met 'n klomp klonte en vet in die bak.

Laasweek maak ek gesonde koekies vir die kleinkinders en daar is dit weer ... die koekie moet afgerond word met gemelte sjokolade strepies. Jissim my moermeter klim sommer dadelik in die rooi in.

Ek maak die koekies klaar en Poppie stap in die kombuis in. Sy kry my waar ek na die glasbak staar wat vol sjokolade skyfies is.

"En nou ... bid jy ?"

"Nou nie regtig nie maar ek dink ek moet." brom ek en steek 'n Camel aan die brand. Terwyl die blou rook so deur die lug draal werk my kop oortyd. Daar moet 'n makliker manier wees en ek is vasberade om dit te kry.

Dan onthou ek Mary Berry se woorde aan Paul Hollywood ... "Remember, chocolate melts in a child's hand."

Vadoek in die Mikrogolf
Die ding met die sjokolade is vir my die volgende ... as jy teveel hitte gee dan split en "seize" die spul en as jy bietjie room bysit word dit ganache en stol nie altyd weer hard nie. Jy moet ook pasop dat daar nie water in die bak beland nie want dan is die sjokolade ook in sy maai in.

Bakkie op die warm vadoek
Ek vat 'n klein vadoekie en maak dit nat onder die kraan. Vou dit dubbel en dan weer en sit hom in die mikrogolf oond. Een minuut op hoog en die stoom trek uit die vadoek uit. Ek sit die glasbak op die warm vadoek neer en maak die oonddeur toe. Na een minuut kyk ek ... en sien dat van die sjokolade begin blink lyk. Ek roer die spulletjie en sien dat daar reeds gesmelte strepies is. Ek haal die bak uit die oond en blits daai nat vadoek weer vir 30 sekondes.

Glasbak terug op die warm lap en maak die deur toe. Wag nog a minuut en toe roer ek die spulletjie weer. En daar voor my oë verander dit in die mooiste en gladste gesmelte sjokolade wat ek al ooit reggekry het.

Indien jou sjokolade stukke groot is mg jy dalk die laaste roetine nog so keer of wat moet herhaal.

Nouja ... en nou is die draak ook afgemaai. Probeer dit gerus. Onthou net ... ek maak net die vadoek warm, nie die sjokolade nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Vrydag 25 Augustus 2017

Vetkoek - Nostalgie met Kurwes

Kyk, as daar nou een gereg is wat menige Suid Afrikaner so vêr kyk in die oë kan laat kry, dan is dit sekerlik VETKOEK. Feitlik elkeen van ons het een of meer herrinnering aan een of ander vetkoek by een of ander geleentheid.

Suurdeeg Vetoek
As jong kind was ek intiem vertroud met die uitdagings van arm wees en my ma het gespook om altyd kos op die tafel te sit. Daar was baie min ruimte vir luukshede en lekkernye was hoofsaaklik dit wat sy kon optower in die kombuis. Dit was eers heelwat later in my lewe dat ons kennis gemaak het met winkelbrood en voor dit was dit eenvoudig 'n weeklikse roetine in ons huis, Brood bak. Die baksel moes 'n week hou want sy het net eenmaal per week brood gebak.

Brood bak met Suurdeeg is 'n proses en gebeur nie sommer vinnig en op die ingewing van die oomblik nie ... nee, die ryp maak van die suurdeeg laat hom deur niemand aanjaag nie en is meer stadig as vinnig.

Olive Pride Olie Mengsel
Vir my as kind was dit altyd 'n groot oomblik as ek sien sy het die drie brode klaar in die panne en daar lê nog 'n bol deeg in die erdeskottel. Met groot oë hou ek haar dop, eers as sy die drie broodpanne sorgvuldig in die rys kombersie toegevou het kon ek ontspan ... want dan was dit vir seker dat daardie bol deeg in die skottel nie 'n Brood gaan word nie ... NEE ... dit gaan VETKOEK word.

Dan by etenstyd, goudbruin stukkies gebraaide deeg, krakende korsies met sagte halftaai wit binnekante. Honderde gaatjies waarin die konfyt, stroop of maalvleis kon insink. Ja dis reg, altyd die drie goed, tuisgemaakte appelkooskonfyt of goue stroop of maalvleis ... vir my die ikoniese vulsels vir vetkoek. Maar ... en dit is 'n groot maar ... die goue stroop moet Lyle's Golden Syrup wees ... die groen blik met die leeu op.

Maalvleis, Appelkooskonfyt, Goue Stroop
Na die dankgebed word dit stil om daardie tafel, klein handjies tel die Vetkoeke op, ogies gaan toe en mondjies oop ... en dan, tandjies byt deur die krakende korsie en sink in die sagte binnegoed in. Dit neem so ligte trekkie om die hap af te skeur van die vetkoek af want suurdeeg brood is taai, nie bros nie. Dan bol die wangetjies. Vetjies en sousies hang by die mondhoeke uit ... maar daaran word geen aandag geskenk nie ... al wat nou tel is die kou en kou van die mondvol heerlikheid.

En so onthou ek vetkoek op die dae wat ek regtig nostalgies raak. Toe kom die laat sewentigs en vetkoek raak byna modieus, orals by garages en in straatkafees spring VETKOEK PALEISE op en die volk staan in toue. Ja ek het ook in die toue gestaan maar helaas ... die was nie meer regte vetkoek nie ... nee die was 'n moderne weergawe, iets wat tred moes hou met die versnellende pas van ons lewens. Weg is daardie gelerige krakende korsie ... weg is daai binnekant vol rysgate ... en in hulle plek kom 'n vetkoek wat in die meeste gevalle meer doughnut is as vetkoek. Die kors is sag en die binnekant is verfyn ... gladnie meer my ma en my ouma se vetkoeke nie.

Vetkoek en Maalvleis
As ek aan vetkoek dink dan onthou ek my ouma wat in haar donker kombuis voor die koolstoof staan en die vetkoeke bak in 'n groot swart pot met varkvet in. Ek onthou hoe sy die heeltyd die kinders maan om weg te bly van die stoof af en nie naby die pot te kom nie. Ek onthou hoe sy die bol deeg vat met haar hand en 'n vuis maak dat daar so stukkie deug uitbol langs haar duim. Ewe behendig knyp sy hom af ... trek en rek hom plat en dan glip hy in die vet in ... sy werk amper soos 'n masjien. Die deeg knetter in die warm vet en voor jou oë verander daardie eenvoudig stukkie deeg in 'n opgepofte geelbruin bondeltjie heerlikheid.

Vetkoek en Appelkooskonfyt
Ek onthou vir aia Marietjie ... daar langs die rondawel waar sy die vark kaiings uitbraai en hoe sy vir middagete vir haar en die ander werkers amagwinya gemaak het ... sommer so tussen die kaiings braaiery deur. Ek onthou hoe haar verimpelde gesig gestraal het as sy vir elkeen van ons seuntjies een in die hand stop ... sommer so met haar krom vinger oopgeskeur en vol kaiings geprop. Ek onthou ook duidelik my ouma se vermaning ....

"Sê dankie vir aia Marietjie." ... sag maar tog baie ferm.

Vetkoek en Goue Stroop
Goeie tye daardie ... lank voor al die rassisme nonsens wat vandag ons lewens versuur. Soms dink ek die politici wat die gemors so aanblaas is nooit in die land gebore nie maar het groot van iewers uit 'n "darkhole" uitgeval en hier beland.

Dit was hierdie nostalgiese terugflitse wat my vasberade gemaak het om die Suurdeeg Brood makery te bemeester en bo en behalwe die Brode was die vetkoeke hoog op my lysie van doelwitte.

So kom dit dan dat ek Dinsdagoggend die deeg begin meng en ek kyk vir Poppie toe sy in die kombuis instap ... oppad werk toe ...

Suurdeeg Vetkoek
"Poppie vanaand eet ons regte egte vetkoek ... onthou om vir ons Olive Pride olie op te tel in die dorp, ek hoor die goed is goed vir vetkoek maak."

Alhoewel ek 'n baie goeie voorraad varkvet het is dit darem sekerlik te geil vir ons hier op ons oudag. Goeie gesonde verstand neem die besluit om maar daardie tradisionele element liewers weg te pak en 'n meer aanvaarbare roete te volg. Buitendien dink ek dit gaan nogal 'n storie wees om die oliebraaier weer skoon te kry as ek hom vol varkvet gepak het. Ek gaan tog eendag 'n klein potjie varkvet warm maak en so enetjie of tweetjies of meer daarin braai, net om te sien hoe werk dit. Maar ek sal dit maar skelmpies moet doen want Poppie sal my blixem as sy dit uitvind.

Reg vir die olie
By skemeraand verdeel ek die deeg, een helfte vir Brood en een helfte vir vetkoek. Poppie kry die diepvet braaier reg en ek verdeel die deeg verder ... ek is nogal opgewonde ... eerste maal in my lewe dat ek regte egte Suurdeeg vetkoek gaan maak en ek weet nie so mooi wat om te verwag nie. My ma en my ouma het my nie die ding geleer nie en ek was maar altyd 'n toeskouer ... hulle was mos dood bang 'n kind beland onder die warm vet.

Ouma se Vetkoek
Die groen liggie kom aan en baie versigtig laat glip ek die eerste stukkie deeg in die warm olie in ... die deeg raak onsigbaar tussen al die miljoene borreltjies en dan verskyn hy op die oppervlak. Alreeds lekker boepens en ek dop hom versigtig om ... dis iets wat ek by my ma geleer het ... dop maar vinnig om want anders bak hy plat aan die eenkant en groot boepens aan die anderkant.

Poppie kom in die kombuis in en haar oë dwaal oor die bak met geelbruin vetkoeke ...

"Jis dit lyk net soos my ouma s'n."

Koning van Vetkoeke
En toe sit ons aan by die tafel ... botter, appelkoos konfyt, tuisgemaak natuurlik, Lyle's Goue Stroop en maalvleis. Ons vat hande en dan is dit eet tyd. Stilte om die tafel ... net twee mense wat duidelik nou op vêr paaie wandel ... en die hopie word vinnig kleiner.

Daardie vetkoek is presies soos ek die van my kinderdae onthou ... lekker krakende korsie, sagte binnekant vol dosyne rysgate ... dit is mos ManKos, ManKos wat vrouens ook like.

Ek weet daar is baie resepte vir vetkoek en sommiges gebruik bakpoeier, ander gebruik kitsgis en dan die hedendaagse staatmaker, SPAR deeg. Dit is almal goed en wel en ek bak self baie met SPAR deeg. Maar die Koning van Vetkoeke is die een wat met regte egte Suurdeeg gemaak word.

Maak nie saak watter soort deeg jy gebruik nie ... bak dit net ... Vetkoek is so volkseie soos biltong en bobotie. Maak 'n groot bak vol en nooi die bure en familie ... die samesyn is waaroor dit werklik gaan.

As jy jou vetkoek bak, moenie die olie te koud gebruik nie want dan gaan die vetkoek baie olierig uitkom. Moet ook nie te warm maak nie want dan gaan die binnekant nie mooi gaar word nie. So tussen 175C en 185C is 'n goeie temperatuur. As jy hol vetkoeke wil maak moet jy die deeg baie dun druk voor jy dit in die olie sit. As jy lekker poffers wil maak moet jy die vetkoeke verdeel en kans gee om so bietjie te rys voor jy bak.

As jy bak en jy sien die borreltjies om die deeg begin afneem dan is dit is 'n goeie aanduiding dat die vetkoek gaar is.

As jy regte Suurdeeg gebruik moet jy onthou dat dit nie bruin bak nie maar meer so geel kors vorm soos op my fotos.

Hierdie Skakel sal jou neem na al my stories oor Suurdeeg ... dit is in Engels gedoen.

SOURDOUGH STORIES ... Kliek


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Dinsdag 15 Augustus 2017

SPAR Deeg - Pizza in my Braaier

Vandag se storie is 'n ding wat al baie lank in my kop maal. Sien, die ding werk so, ek het in die 80's al besluit dat Gas Braaiers is die ding vir my ... die goed is vinnig, skoon en maklik om te gebruik. Poppie braai self maklik as sy nie die stoof wil bemors met spattende vet nie. Ons kan op die ingewing van die oomblik besluit om te braai en dan 15 minute later is die vleis op die roosters.

Pizza in Braaier
Die puriste vertel jou van die smaak van hout en wie weet wat nog maar vir my is dit meesal verbeelding. As jy hout laat uitbrand tot kole is daar niks van hout reuk meer in daai vuur nie. Net hitte.

'n Goeie gasbraaier wat goed ingeloop is het heeltemal genoeg aangebrande vet op wat aan die brand slaan sodra jy vet vleis opsit. Die vlamme gee dieselfde skroei effek as 'n houtvuur wat vlamme maak. Maar dit daar gelaat ... dis 'n argument wat nooit gewen kan word nie ... omtrent soos om te stry oor wat is die beste kamera, Canon of Nikon ... of wat is die beste bakkie, Toyota of Ford.

Reg vir die vuur
Ek het 'n baie goeie braaier en hy het ook 'n toeklap deksel wat 'n lekker oond vorm. Nou het ek al oor die jare opgemerk dat as ek die oond sou gebruik dan kom daardie temperatuur baie maklik by 350C by ... iets wat my elektriese oond nie kan doen nie ... en ek twyfel sterk of daar enige huishoudelike oonde is wat dit kan doen.

Op die Braaier
Vir 'n lang tyd oorweeg ek dit al om een of ander vorm van vuur gedrewe oond ding te kry om Brood in te bak en ek het na verskeie modelle gekyk ... pryse wissel van 'n aanvaarbare R3,500.00 tot 'n obsene R24,800.00 ... almal is hout aangedrewe of houtskool aangedrewe. Ek het 'n renons in vuurmaak en behalwe dat dit hoogs onbetroubaar en onstabiel is, is dit die alewige gemors daarna asook die onvermydelike ... "Ons het nie charcoal nie." storie.

8 minute later
So kom dit dat Poppie Vrydagaand by die huis aankom met 'n bol SPAR deeg. Toe ek ernstig begin Brood bak het, het ek met die SPAR deeg eksperimenteer om my oond bestuursvernuf te verfyn. Soek maar op die blog se indeks vir SPAR Deeg en jy sal verskeie stories kry wat ek geskryf het.

Ek weet nie eintlik hoekom het sy die deeg gekoop nie want ek bak al vir byna 'n jaar Suurdeeg Brood.

Perfek vir my
Ek staan die bol deeg so en bekyk en besluit ek gaan vir ons pizzas maak. Ek het 'n fancy pizza steen vir my oond en kry gewoonlik redelike aanvaarbare resultate ... dit vat egter omtrent 20 minute per pizza. Die oond loop dan op 230C.

Lekker kors
So ruk terug het ek dit oorweeg om gewone klei teëls op my oondrak te pak en daarop brood te bak. Dit het nooit gebeur nie en die teëls lê onder in my kas. Dit is rou teëls wat my seun vir my gekoop het en het geen glasuring op nie. Was nogal baie goedkoop ook vir die pakkie teëls.

Ek besluit om die teëls in te span vanaand in my braaier. Nou my braaier het twee stelle branders, links en regs ... en die branders kan afsonderlik beheer word. Ek het al baie eende in die oond gebak deur die oondpan op die linkerkant te plaas en slegs die regterkant se branders te gebruik ... so die eend kry geen vuur onder sy pan nie. Ek beluit om dieselfde beginsel met die pizza toe te pas. Teël op die regterkant laag gestel en groot vuur aan die linkerkant. Ek steek die braaier aan die brand, sit die teël op en maak die deksel toe. Hy moet nou warm word terwyl ek die pizza bou.

Net 'n wenk, as jy jou pzza basis maak ... doen dit maar met die hand en nie 'n koekroller nie. Jy wil die pizza spesifiek maak dat hy 'n prominente rant het. Dit verhoed dat jou vulsel die hele plek vol loop en alles besmeer. Vir die teël grootte wat ek gebruik het, is so 130gram deeg 'n goeie grootte.


Ontbyt Pizza
Nou my pizzas het ek 'n tuisgemaakte tamatie bredie/sous ding gebruik. Cheddar kaas, bietjie mozarella, fyn gekapte tamatie en dun skyfies cheesy russians. Kruie en speserye waarvan ek hou en dis dit. Nou pizzas is baie persoonlik en elke mens het sy eie smaak. Bou die ding soos jy van dit hou maar ... en dit is 'n GROOT MAAR ... weerhou jouself daarvan om die bolaag oordadig dik te maak. Dis waar die meeste pizzas faal ... gaan kyk maar na 'n tradisionele pizza en jy sal sien dat die basis baie dun is en die bolaag is feitlik net 'n enkel laag ... nie stapels goeters nie. Die stapels gaan keer dat jou kors lekker stewig bak en sodra jy die pizza sny en optel gaan die bolaag afgly van die deeg af. Maar dis steeds jou keuse.

Heerlik bros

Nou vuur toe. Die oond is lekker warm en ek slide die pizza af op die teël. Maak die deksel toe en begin my tydhouer. Op 2 minute maak ek die deksel oop en draai die pizza 90 grade. Weer 2 minute en draai weer 90 grade. Die eerste draai moes ek die teël draai maar by die tweede draai was die pizza kors reeds gevorm en het ek net die pizza gedraai op die teël. Nog 2 minute en nog 'n draai ... die pizza was nou reeds goudbruin en sommiges sal hom so wil hê. Ek het spesifiek gesoek na so bietjie brandkolle soos wat jy in 'n goeie pizza houtvuur oond kry. Nog 2 minute en ek haal hom uit. 8 minute in totaal.

Kyk maar vir jouself hoe dit lyk en besluit of jy van dit sal hou.

So hou ek van Pizza
Die pizza was perfek vir my ... lekker bruin kors, krakerig en net genoeg brandmerke om die smaak te bevorder. Ek is baie tevrede met die resultate en het so dan ook nou 'n nuwe aanwending gekry vir my braaier. Die mense met WEBER braaiers kan 'n doelgeboude steen koop vir die braaier maar met so bietjie kopkrap is ek seker die teël sal ook reg werk in die WEBER.

Sondagoggend het ek besluit om vir ons 'n ontbyt pizza te maak ... 3 soorte kaas met Pomelo konfyt as basis sous. Nadat dit gebak is het ek heuning oor gedruip. Heerlik.

Hierdie manier van pizza maak is perfek vir die manne om te maak ... dis mos baie manlik om so met deeg en warm vure te werk.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 13 Augustus 2017

BakDit - Mari-Louise se Jodetert

ManKos het so klein WhatsApp groepie wat mekaar ondersteun en uitdaag met Bak en Brou.
So rukkie terug begin twee van ons praat oor 'n Bak en Kook Bucketlist ... en so word die ManKos BakDit en ManKos KookDit lysies toe gebore.

Mari-Louise se Jodetert
Heel bo aan die BakDit lysie is toe die Jodetert.

Wel ek en Liana Barnard daag mekaar toe om die Tert te maak vir Vrouedag.

Liana het die tradisionele een gemaak en ek het Mari-Louise se Framboos een gemaak soos in die Koekedoor Bakboek.

BakDit is informeel en daar is nie baie reëls nie ... jy kies iets wat jy nog altyd oorweeg het maar nog nie die moed gehad het om regtig te doen nie. Dan as jy klaar is kom wys jy die fotos en vertel jou storie.

Colyn - Loslit Flerrie
Ek wou nie die tradisionele Jodetert bak nie, ek het iets besonders gesoek. Eers kam ek deur die moontlikhede op Google en toe op Youtube. Die Russe maak een wat hulle Medovik noem ... na ek so paar van die Medovik resepte deurgelees het en twee videos gekyk het, besluit ek om liewer terug te gaan na ons eie goed toe.

Liana - Statige Dame
Meeste bakkers wat my ken weet dat ek 'n groot aanhanger van Mari-Louise Guy is en ek hou van haar resepte. So eerste kyk ek in haar boek, Koeke ter viering van die Liefde en die LEWE. Op bladsy 85 kry ek die Russiese Tee Koek. Dis maar 'n Jodetert en die resep lyk lekker. Die ding wat my pla is die Rooibostee ... ek drink gladnie tee nie. Ek dink nie ek het meer as vyf koppies tee in my hele lewe gedrink nie. So ek soek verder.

Die Koekedoor boeke klink na 'n goeie begin punt. Errieda du Toit bewaar die Koekedoor uitdagings vir ons in 'n Kookboek. In Koekedoor I was die Jodetert 'n uitdaging en ek kan nog onthou hoe die deelnemers gespook het met die koek. Ek soek in die Resepregister en sien nie Jodetert nie ... toe gaan soek ek maar onder Koeke ... en daar kry ek hom. Die register wys my na bladsy 128. Hmmm ... nee op bladsy 128 is vir seker nie 'n Jodetert nie en ek begin blaai. En daar kry ek hom op bladsy 132. Duidelik 'n Drukkersduiweltjie.

Ek kyk vinnig oor die bestandele lysie en ek het alles in my spens. Boek onder die arm kies ek koers kombuis toe. Poppie kom maak vir haar tee en loer na die prentjie ...

"My ouma s'n het nie so gelyk nie."

"Dis moontlik omdat jou ouma nie vir Mari-Louise geken het nie."

Alhoewel ek nogal knap is met woorde, kan ek nie daai kyk wat ek gekry het, beskryf nie.

Ek bly maar liewer stil en begin my bestandele uitweeg en afmeet en pak die bakkies in 'n ry. Dis hoe ek bak ... weeg en meet alles af en plaas in bakkies. Dan gaan ek deur die METODE en pak dit wat saam gemeng word in groepies bymekaar.

Heel eerste ding wat my laat kopkrap ... die resep vra 22gr Suiker ... ek weeg dit af en sien dat die hopie skaars 'n eetlepel vol is. Alles in my sê dat dit sekerlik onmoontlik is en ek kyk weer mooi in die boek.

"22gr (1 k) Suiker" ... knorrend trek ek die maatkoppie nader, ek gaan altyd heel eerste vir die gewig as dit in 'n resep is en as dit nie daar is nie dan doen ek die omrekening van die volume en weeg dit dan af. 'n Skaal is baie meer akkuraat as knippies, knyppies, koppies, lepels en mespunte.

Ek maak die koppie mooi gelyk vol ... gooi dit in die bakkie ... 220gr ... ek trek my pen nader en maak die regstelling in die boek. Nog 'n drukkersduiweltjie.

Ek weeg die botter af en toe die drie eiers. Ek staan en kyk by die venster uit terwyl ek die eiers klits.

Terloops, ek het jare terug gevind dat dit beter werk vir my om die eiers met a steak mes te klits. Die lem kerf die stringe wat soms in eiers vorm lekker uitmekaar. Ek het dit begin doen nadat ek een oggend my skon baksel amper verongeluk het ... toe ek die kwas uittrek en die eerste skon se koppie verf met die eier, toe val daai slymbal tussen die hare uit en stroom so oor my skon se kop en vorm 'n plas in die pan. Dit was net een te veel vir my OCD natuur. Daarna het ek begin om die eiers te klits met 'n skerp messie .... hierdie is sommer 'n sydelingse opmerking en het nie eintlik iets met die Jodetert te doen nie.

Ag tog ... en dis nou by die groepering van die bestandele volgens die METODE dat nog 'n duiweltjie kop uitsteek.

Die bestandele lys dui aan ... "3 eiers, geklits" en dan in die metode ... "Voeg die eiers een vir een by ..."

Jissim ... dis verwarrend ... ek laat die menger maar loop en eyeball maar die geklitste eier wat ek so oor die bakkie se kant laat glip. Nog 'n drukkersduiweltjie.

Vir my was die maak van die beskuitjies die ernstigste hekkie om te oorkom. Ek het al soveel kleinkoekie baksels verkool dat ek nogal senuweeagtig was net by die blote gedagte aan 'n 20cm koekie.

Ek kon onthou tydens die TV Reeks het Mari-Louise baie klem gelê op die beskuitjie lae. Hulle moes ewegroot wees en hulle moes egalig en dieselfde gebak wees. Dit was die ding wat my senuweeagtig gemaak het.

Die deeg word mooi glad en ek dop dit om op my werksblad. Op hierdie stadium is ek erg gespanne, die groot enkel koekie spook met my. Ek het talle maniere gesien en talle metodes opgelees en op Koekedoor het van die mense die beskuitjie in die onderkant van die ringpanne gebak. 'n Paar het vasgesit en 'n paar het gebreek met die uithaal ... ek was gladnie lus vir dit nie. In die een Russiese video het ek gesien die man rol die deeg uit op 'n silicon sheet en dan druk hy die sirkels uit met sy ringpan. Hy trek die oorskot af en lig die silicon vel met die twee sirkels op, en plaas dit op a cookie sheet ... en dan in die oond in ... dis wat ek gedoen het. Dis maklik hanteerbaar en die koekies kannie vassit aan die silicon vel nie. Liana het haar sirkels op bakpapier uitgedruk en dan in die pan gesit.

Omtrent 'n uur later is al die beskuitjies gebak en ek glimlag ... ek dink hulle is mooi en ek is bly ek het iemand om die sukses mee te deel. Ek kyk nog eenmaal na die klomp sirkels wat op die rakkies lê en begin om die kombuis skoon te maak ... die vulsels is eenvoudige prosesse wat ek al baie gedoen het en die spanning is nou uit die resep uit vir my. Ek het die koue koekies in 'n lugdigte houer gebêre vir die volgende dag.

Colyn - Loslit Flerrie
Wel kyk maar op die fotos ... ek dink ek het dit nogal nie te sleg reggekry nie.

Die maak van die vulsels was sonder kwellings en ek het die koek aanmekaar gesit en toe in die yskas gebêre vir 24 uur. Die deel is eintlik noodsaaklik want dit laat die vulsels mooi stewing vassak en die beskuitjies word ook sag. Die sagtheid laat jy toe om mooi skywe te sny.

Liana - Statige Dame
Ek het my beskuitjies geverf met Muskadel voor dit aanmekaar gesit het ... ek het later besef ek was heeltemal te versigtig met die Muskadel.

Hier is die resultate. Albei van ons was nogal nuuskierig om te kon sien of ons so iets so kon doen.

Beide ek en Liana is bly ons het die ding aangepak en die tert sal weer gemaak word. Ek het klaar planne vir so paar kinkels.

Liana se tert is 'n Statige Dame by die Staatsteater en myne is 'n Loslit Flerrie by Oppikoppie. 😀😀

Dankie Liana ... dit was nou waarlik lekker.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.