Bosvark nek |
'n Vrugtelose gesoek op die internet na advies oor hoe om 'n varknek te ontbeen het my so vir 'n wyle laat rondtrap. Maar nouja, hoe moeilik kan dit wees ?
Bosvark nek halfpad ontbeen |
Bosvark nekbene |
Wat ek sien maak my gelukkig, die proses lyk op die regte spoor en ek sak terug in die taak in. Halfpad en dinge begin nou sin maak ... ek kan duidelik sien waarheen ek opad is en die ontbeende deel is lekker dik in my hand. Vir 'n oomblik oorweeg ek dit om die eerste helfte af te sny ... gelukkig beteul ek myself en sny nou weer afwaarts, terug na die nekwerwels toe.
Bosvark nekbene in die pot vir die sous |
Ek gooi die bene in 'n ysterpot saam met so bietjie olie en speserye en laat hulle maar stadig begin braai. Daar is natuurlik nie veel vet nie so jy moet maar kyk dat jy nou nie die bene gaan staan en verbrand nie.
Ontbeende Bosvark nek |
Bosvark nek reg vir die pan |
Ek vryf Texan Dry Rub oor die nek, sprinkel bruinsuiker oor en dan so bietjie suurlemoen en Woestersous. Laastens so bietjie olyfolie ... die vleis het werklik baie min vet en soek so bietjie hulp.
Bosvark nek met speserye |
Bosvark nekbene lekker sag gekook |
Ongeveer twee en half uur later en die bene is deurgekook. Die vleisies val sommer af as ek dit met a vurk krap. Soos 'n wafferse argeoloog krap ek elke stukkie van die heerlikheid af van die werwels af.
Bosvark nek vleisies afgeskraap van die bene af vir sous |
Ek vat die grootste stuk werwels en gee dit vir hom. Baie versigtig vat hy die bene uit my hand uit en stap weg ... hy en ek het lank gelede 'n deal gemaak ... ek sal hom bederf maar as hy gryp of hap dan is dit nie lekker vir hom nie ... hy weeg oor die 80 kilogram en het my al 'n keer of wat lelik seergemaak in sy oordadigheid.
Hy sak op sy pens neer en weereens verwonder ek my aan die krag van daardie kake ... hy rol die been mooi reg in sy bek en toe hoor jy net bene kraak en breek ... een byt en die werwels spat in stukke.
Die ander been gaan na die Black Russian Terrier toe en sy self het geen moeite om die bene te breek nie. Vlenters, my Jack Russel kry die laaste werwel voor die kop en hyself laat sy kakebene goed werk.
Nouja nou is die honde ook tevrede en ek gaan terug kospotte toe. Ek gooi al die fyn vleisies in die sous en sit die stoof af. Dis nou nog vroeg en die pot kan nou maar partytjie hou tot ek weer die vuur kom aansteek. Baie tyd vir almal om deeglik kennis te maak met mekaar. Ek kan duidelik ruik en sien dat hier kom 'n sous van statuur. En dis wat mens nodig het saam met so stuk vleis ... 'n lekker lang sous.
Bosvark nek word bruingebraai in die pan |
Ek gooi van dieselfde braai speserye in die olie in die pan en toe braai ek die nek aan al sy kante.
Die nek lyk goed en ek sit hom in a oondpan op 'n draadrak. Gooi water onder in die pan met a paar stukke uie en wortel. Maak hom dig toe met blinkpapier en sit hom in die 170 C oond vir 30 minute. Terwyl die vleis in die oond is rond ek die sous af en maak kapokaartapples wat ek met gemenged kruie en swartpeper geur.
Heerlike sagte en sappige Bosvark nek |
Die nekvleis is sag en sappig en baie geurig.
Bosvark nek op die bord |
Ek het twee fotos van die maaltyd ... die eerste een is nou 'n meer verfynde opdiening en die tweede een is hoe my bord gelyk het.
Ek hoop julle het dit geniet en eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.
Daar gaan nog 'n paar oor die Bosvark wees want ek het nog die Rugstring, Saaltjie, Blaaie en Boude.
Lees die eerste Bosvark storie hier ...
Lekker Bosvark nek en dik sous |
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.
Hier is my Facebook blad.
Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.
Lees ook gerus my Briekmerke Blog.