Saterdag 22 Februarie 2014

Bosvark - Colyn kook Bosvark nek

Bosvark nek
In die eerste aflewering van my Bosvark Verhaal het ek julle so oorsig gegee van die Bosvark en ons het die ribbetjies gebraai en geniet. Wel nou is ek by die nek, ek gaan die varkie van 'n kant af opeet.

'n Vrugtelose gesoek op die internet na advies oor hoe om 'n varknek te ontbeen het my so vir 'n wyle laat rondtrap. Maar nouja, hoe moeilik kan dit wees ?

Bosvark nek halfpad ontbeen
Ek bekyk die nek van alle kante af, dis 'n mooi stukkie vleis die. Net so strokie vet reg oor die nekwerwels en verder skoon vleis. So ek besluit om maar aan die onderkant waar die werwels sigbaar is, te begin en dan op en oor die nek te gaan en anderkant af. Dit behoort vir my 'n mooi beenlose stuk vleis te gee.

Bosvark nekbene
Lekker skerp mes en so bietjie geduld. Ek trek die lem nog so paar keer oor die slypstaal en toe pak ek die nek. Met die wegtrek voel dit asof ek net sukkel maar ek hou maar aan, bly so naby aan die been as wat ek kan. Nadat ek oor die ronding is en teen die bopunte van die nekwerwels opeindig vat ek so blaaskansie. Ek bekyk die storie nou mooi en baie krities.

Wat ek sien maak my gelukkig, die proses lyk op die regte spoor en ek sak terug in die taak in. Halfpad en dinge begin nou sin maak ... ek kan duidelik sien waarheen ek opad is en die ontbeende deel is lekker dik in my hand. Vir 'n oomblik oorweeg ek dit om die eerste helfte af te sny ... gelukkig beteul ek myself en sny nou weer afwaarts, terug na die nekwerwels toe.

Bosvark nekbene in die pot vir die sous
En daar lê hy ... pragtige stuk vleis en die nekwerwels eenkant met so bietjie vleis aan die bene. Dit pla my gladnie want ek weet wat ek met die bene gaan doen en daai stukkies vleis gaan baie lekker wees in die beplande sousie.

Ek gooi die bene in 'n ysterpot saam met so bietjie olie en speserye en laat hulle maar stadig begin braai. Daar is natuurlik nie veel vet nie so jy moet maar kyk dat jy nou nie die bene gaan staan en verbrand nie.

Ontbeende Bosvark nek
Terug by die vleis. Soos 'n  wafferse blokman maak ek die nek nou aan die kant en gooi al die klein stukkies wat ek afsny ook in die benepot. Dit het my so 30 minute gevat tot hier. Ja ek weet dis bietjie stadig maar nouja, ek is nie 'n blokman nie en het die taak met wiskunde aangepak want ek het geen onderving hiervan nie. Die volgende een sal verseker net die helfte van die tyd vat.

Bosvark nek reg vir die pan
Hierdie is vir my baie bevredigend, ek het 'n plan gehad en dit het mooi uitgewerk. Getrou aan my beginsel dat ek werklik die vleid geur wil ervaar vir wat dit is gaan ek nie oorboord gaan met die speserye nie.

Ek vryf Texan Dry Rub oor die nek, sprinkel bruinsuiker oor en dan so bietjie suurlemoen en Woestersous. Laastens so bietjie olyfolie ... die vleis het werklik baie min vet en soek so bietjie hulp.

Bosvark nek met speserye
Nou terug yskas toe terwyl die bene goed aangaan in die pot.

Bosvark nekbene lekker sag gekook
Ek het al die kante nou lekker gebraai en toe gooi ek genoeg water in om die bene te bedek. So twee teelepels van Ina Paarman se Hoender Stock Poeier, twee buisies van die hoender pasta en 'n hele opgekerfde ui. Nou moet hulle maar kennis met mekaar maak op 'n lae hitte. Dis middel van die dag en ek gaan die nek vir aandete maak ... so ek het baie tyd.

Ongeveer twee en half uur later en die bene is deurgekook. Die vleisies val sommer af as ek dit met a vurk krap. Soos 'n wafferse argeoloog krap ek elke stukkie van die heerlikheid af van die werwels af.

Bosvark nek vleisies afgeskraap van die bene af vir sous
Chaka staan by die agterdeur en met elke krap kan ek die verwyt in sy oë sien maar ek verhard my hart ... sorry my honne, die is die baas se lekkerte. Met kwylende bek gaan sit hy op sy hurke toe ek die vurke neersit en ek glimlag ... hy is darem baie slinks met sy lyftaal.

Ek vat die grootste stuk werwels en gee dit vir hom. Baie versigtig vat hy die bene uit my hand uit en stap weg ... hy en ek het lank gelede 'n deal gemaak ... ek sal hom bederf maar as hy gryp of hap dan is dit nie lekker vir hom nie ... hy weeg oor die 80 kilogram en het my al 'n keer of wat lelik seergemaak in sy oordadigheid.

Hy sak op sy pens neer en weereens verwonder ek my aan die krag van daardie kake ... hy rol die been mooi reg in sy bek en toe hoor jy net bene kraak en breek ... een byt en die werwels spat in stukke.

Die ander been gaan na die Black Russian Terrier toe en sy self het geen moeite om die bene te breek nie. Vlenters, my Jack Russel kry die laaste werwel voor die kop en hyself laat sy kakebene goed werk.

Nouja nou is die honde ook tevrede en ek gaan terug kospotte toe. Ek gooi al die fyn vleisies in die sous en sit die stoof af. Dis nou nog vroeg en die pot kan nou maar partytjie hou tot ek weer die vuur kom aansteek. Baie tyd vir almal om deeglik kennis te maak met mekaar. Ek kan duidelik ruik en sien dat hier kom 'n sous van statuur. En dis wat mens nodig het saam met so stuk vleis ... 'n lekker lang sous.

Bosvark nek word bruingebraai in die pan
Toe die son begin sak toe is ek by die stoof. Sit vuur onder die sous en sit my ou staatmaker pan op die vuur. Ek laat hom gewoonlik so 10 minute by medium hitte staan sodat hy ordentlik deur warm word.

Ek gooi van dieselfde braai speserye in die olie in die pan en toe braai ek die nek aan al sy kante.

Die nek lyk goed en ek sit hom in a oondpan op 'n draadrak. Gooi water onder in die pan met a paar stukke uie en wortel. Maak hom dig toe met blinkpapier en sit hom in die 170 C oond vir 30 minute. Terwyl die vleis in die oond is rond ek die sous af en maak kapokaartapples wat ek met gemenged kruie en swartpeper geur.

Heerlike sagte en sappige Bosvark nek
Na dertig minute haal ek die vleis uit, maak dit oop en laat dit rus vir so 20 minute voor ek dit sny.

Die nekvleis is sag en sappig en baie geurig.

Bosvark nek op die bord
Ek sal die Bosvark Nek soveel keer as wat ek kan voorberei. Die vleis is lekker en die lae vet inhoud maak dit ook baie gesond om te eet. Ek het die sous met gekerfde sampieone versterk en ook 'n lekker blerts van my chilli pynappel konfyt saam met dit bedien. Die sous was geurig en lekker dik.

Ek het twee fotos van die maaltyd ... die eerste een is nou 'n meer verfynde opdiening en die tweede een is hoe my bord gelyk het.

Ek hoop julle het dit geniet en eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Daar gaan nog 'n paar oor die Bosvark wees want ek het nog die Rugstring, Saaltjie, Blaaie en Boude.

Lees die eerste Bosvark storie hier ...

Lekker Bosvark nek en dik sous
 Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.