Woensdag 19 Februarie 2014

Stampkoring - Colyn kook koring met 'n nuwe baadjie

As mens so na die Kook Programme op TV kyk dan sien jy lekker goed en jy hoor vreemde name vir geregte. Een van die goed waarmee ons gekonfronteer word is Risotto ... allerhande fancy beskrywings en moets en moenies. Die eerste maal toe ek sien hoe hulle dit doen toe dink ek ... hmmm lyk mos vir my baie na koshuis mieliegrys. So papperige storie.

Nouja, ek besluit toe ek gaan dit probeer en sleep af na die koswinkel toe. In die rysrak is pakkies op pakkies en die een belowe harder as die ander een om net die beste te wees. Ek koop die een wat aanbeveel word vir risotto en nog so paar dingetjies om by te gooi.

Sononder is ek voor die stoof, resep op die tafel en rys in 'n koppie. Eers die olietjies in die pan, toe bietjie gekapte uie. Braai tot dit deursigtig en gooi die rys in die olie. Braai effens om die "nutty" smaak te kry en toe bedek ek dit met hoender "stock" ... dis hierdie "stock" storie wat my kop aan die loop gesit het. Ek is nie 'n man wat van rys hou nie en verkies koring of "barley" ... die twee lyk vir my maar baie na dieselfde ding maar ek is verseker deur die slimmes dat daar wel 'n verskil is ... nou ja wie is ek om te stry.

Ek wil nou nie lank op die rys ding sit nie want dis nie waaroor dit gaan nie. Na omtrent 40 minute toe dien ek op en Poppie loer die trapsel so skeef skeef aan ... lekker papperige rys met uie, mushrooms, groen pepers en gebraaide spek blokkies.

Ek moet erken, dit was vir my nogal lekker. Vir die volgende paar dae loop ek met die risotto ding in my kop. Een laatnag sit ek en kyk na die Nigella meisie se program en so wrintiewaar sy maak "Barley Risotto". Nouja dis al wat ek nodig gehad. Sononder die volgende dag toe is dit ek en die pan en die koring. 40 minute later toe skep ek maar op ... nogal lekker vir my maar Poppie is gladnie beindruk nie ... die koring was nie sag genoeg na haar smaak nie. Gelukkig het ek nie 'n brose selfbeeld nie en begin dink ... nou gaan ek vêr terug ... my ma se kombuis. Sy het die koring lank gekook ... baie langer as rys.

Wel Maandagaand toe besluit ek dis nou die tyd om dit weer te doen. Hierdie keer is ek egter honderd persent gefokus en my wiskunde brein is in beheer.

Ek gooi een koppie koring in 'n pot. Genoeg koue water om so twee vingers bokant die koring te sit ... die goed het sap nodig om sag te raak en ek sorg dat daar genoeg is. Nou gooi ek twee hoog opgehoopte teelepels van Ina Paarman se "Chicken Stock" poeier in die water en spuit ook so een buisie van Ina se "Stock concentrate" in die pot in. Gee dit 'n lekker roer en maak die deksel toe. Nou dis hierdie aksie wat dit nou streng gesproke nie meer 'n risotto maak nie. Maar nouja ons sal maar sien. So 25 minute later maak ek die pot oop en ek hou van wat ek sien. Die water is nou gelyk met die koring se oppervlakte en die koring lyk al klaar lekker plomp. Ek proe en dis duidelik op die regte pad vir my.

Nou braai ek gekapte uie in so bietjie olie en kry 'n lekker kleurtjie op dit. Soos gewoonlik gooi ek bietjie speserye in die uie se olie voor ek die uie insit. Ek het Robertsons Chicken Spice en Spice for Rice in die olie gegooi.

Ek kap ook 'n groen rissie in klein blokkies. Toe die uie reg is gooi ek dit in die koring en ook die rissies. Roer nou versigtig want die laaste ding wat jy wil doen is om koring pap te maak.

Nou los ek die deksel af want die koring moet nou begin droog raak. Niks 'n geroerdery nou nie, ek maak net so gat in die middel van die koring elke dan en wan om te sien hoeveel sous is daar nog. Teen hierdie tyd begin die aanvanklike waterige mengsel meer na a sousie te lyk en ek gooi  'n eetlepel regte botter en so kwart koppie room by. Roer dit vinnig maar versigtig deur en los die pot weer uit.

5 minute later en alles lyk reg in die koring pot. Ek proe weer en glimlag ... goeie plan gewees om geen sout in te gooi nie ... die Ina Paarman goetjies het meer as genoeg sout.

Ek het hoender borsie vingers gemaak om saam te eet en dis hoekom ek die hoender mengsel van Ina Paarman gebruik het. As jy bees sou gaar maak dan sou ek bees mengsels in die koring gebruik het. Jy kan natuurlik ook sampioene, rissies, knoffel, spriet uie ensovoorts by sit na smaak. Ek vertel jou maar net wat die basiese koring proses is.






Vir my was dit baie lekker en dis hoe ek voortaan my geliefde koring gaan gaarmaak. Dit vat so bietjie toewyding en meer aandag maar op die einde is dit deur en deur die moeite werd.

Soos met alles is dit nie my doel om volledige resepte te gee nie want ek gee maar net bietjie my ondervinding met kos wat ons almal op een of ander manier gaarmaak.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.