Woensdag 21 Oktober 2015

Hoender - Crown National Spices braai dit lekker

Man Kos was van die begin af my platform waar ek mense wil vertel hoe om lekker kos te maak sonder 'n groot gesukkel. Die wat my al lank volg sal weet ek is nie groot op die plasing van resepte nie ... nee, ek vertel liewer die storie rondom ander mense se resepte. Daar is ook egter tye waneer ek my eie konkoksies maak ... dan gee ek respete.

Lekker gebraaide hoender
Ek is die laaste tyd sterk gefokus op die maak van bekostigbare etes want meeste van ons is maar erg onder druk met die styging in pryse en die waardevermindering van ons inkomste. Tenspyte van al die goed moet ons eet.

Daar is mos so grappie wat rondloop waar die man reken as hy groente wil eet dan vat hy 'n stukkie hoender ... alhoewel ek nogal sterk met die man kan identifiseer is die realiteit dat rooivleis hel duur geword het ... veral die prima gewilde snitte. So, uiteraard moet ons na hoender kyk as ons elke dag vleis wil eet.

So tydjie gelede kom my jongste hier by my huis aan met so groen materiaal sakkie ...

"Pa, Roland van Crown stuur die ... kyk of pa van dit kan gebruik."

Reg vir die vuur
Nou kyk ... een van die goot stappe wat ek moes neem so twee jaar terug, was om die etiket van "Moerby Kok" af te skud en ek het al daaroor geskryf. Een van die goed wat ek gedoen het was om onmiddelik van alle voorafgemengde bottels sous en speserye ontslae te raak en te leer hoe om van die basiese speserye en kruie by die verwagte uiteinde uit te kom. Soms was dit moeilik maar baie gou het ek besef dat dit eintlik eenvoudig is om die resultate te kry wat jy soek as jy net so bietjie fokus. Ek het nou 'n plekkie in my kooklewe bereik waar ek gemaklik is met die basiese speserye en daarom is ek meer ontvanklik vir voorafgemengde bottels goed.

Net soos ons daarvan hou
Ek sit en kyk die inhoud van die sak deur en sien mengsels wat nogal interresant lyk. So besluit ek toe om die Crown National Six Gun BBQ Mengsel vir 'n toetslopie te vat. Vir die volgende week of so het ek net dit gebruik en 'n ek het dit uitsluitlik op hoender gebruik.

Ek het al voorheen genoem dat ek al my hoender wat ek braai eers in die mikrogolf  oond in 'n "steamer" gaar maak ... so 10 minute in myne ... dis a 1,000 watt oond. Menige puris frons vir dit maar nouja, as die son sak en die mense moet eet is daar nie tyd vir 'n lang gesukkel op die braai nie. Onthou net, rou hoender is verseker nie aanvaarbaar nie en kan dodelik wees. So die mikrogolf maak die hoender basies gaar ... dan is die vuur daar om kleur en geur in te sit.

Geurig en ekonomies
Ek is uit 'n familie wat nie regtig van vaal kos hou nie en daar moet op alle vleis so paar blertse ernstige verkoling wees ... soos Greg Wallace eendag op Masterchef genoem het ...  "I see you have caramalised this meat enthusiastically."

Nouja ... voor ek die hoender in die stomer sit besprinkel ek dit goed met die Six Gun Spices ... en ek bedoel goed ... op 4 boudjies en 4 dye sommer a bakhand van die poeier.
Hoenderstukke

Na dit uit die mikrogolf uitkom ... pak dit in 'n plat glasbak en nou weer a bakhand speserye ... bietjie tamatiesous en twee teelepels suiker. Laaste blerts ek so bietjie tobasco oor. Nou maak ek dit toe met plastiek en laat die stukke maar goed kennis maak met die speserye en sousies. Hierdie deel is so 15 minute se werk en dan laat ek dit vir tenminste 'n uur rus.
Bak vol boudjies

In die uur kan jy die bykosse maak wat jy wil voorsit. Uit die fotos sal jy kan sien ek is nogal gedissiplineerd en hou by niks meer as drie goed op die bord.

Tot hier is die proses by uitstek geskik vir hoender stukke, ek het selfs "baby chickens" heel so gedoen.

Nou is alles feitlik gereed en ek steek my gasbraaier aan ... ja ek braai op gas, al sedert 1987 ... dit maak net meer sin vir my ... die ding is altyd reg vir gebruik en die hitte is goed beheerbaar. Met hoender is dit veral belangrik om a goed gereguleerde vuur te hĂȘ. Bonus van my metode is dat die vuur nie so groot rol speel nie want jy gaan nie langer as so 10 tot 12minute daar wees nie.

Met die hoender stukke verkies ek om dit in toeknip rooster te sit ... dit maak dit net makliker om die hoender om te draai op tyd. Ek staan ook nie en bedruip die stukke terwyl dit braai nie. Die gesousery bemors net die gereedskap en maak dat die vuur simpel raak. Verder is dit maklik om die hoender smaak heeltemal te oordonder met die souse.

Soos jy kan sien op die fotos is die hoender lekker geurig en aantreklik en dit was in totaal minder as 30 minute, uitgesluit die rustyd na die mikrogolf.

Baba hoendertjies
Nou so paar wenke ...

1. Moenie jou hoender te lank in die mikrogolf sit nie want dan is daar 'n groot kans dat dit droog gaan wees.
2. Moenie suinig wees met die spesery nie ... gooi dik en goed en vryf maar so bietjie in.
3. Werk versigtig met die hoender as dit uit die mikrogolf kom want die vel kan baie maklik skeur en afkom.
Man Kos
4. Moenie die hoender op die vuur sit en dan ander dinge gaan doen nie. Staan daar en hou dit dop. As die vuur bietjie hitsig is, draai net vinniger en meer gereeld om.

Van Man Kos se kant af is hierdie braaispesery mengsel van Crown National verseker 'n goeie mengsel vir die hoender en ek sal dit gereeld, miskien uitsluitlik gebruik. Dis baie meer ekonomies as die klein botteltjies wat ons koop.

Jy kan die speserye van Crown by die meeste slagters, SPAR en ESKORT se winkels kry. Dan kan jy dit ook by die plaaslike Crown Cash en Carry winkels kry. Dis die moeite werd om so bietjie sweet in te sit om by die speserye uit te kom en as jy dit direk by Crown koop gaan jy geld spaar.

Hierdie mag na 'n promosie lyk, en miskien is dit, maar die feit bly staan dis baie lekker, bekostigbaar en dit sit so bietjie, nee, sommer baie lekkerte in doodgewone hoender.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.