Maandag 05 Januarie 2015

Pap - Plaatkoekie met houding

Ek het al by verskeie geleenthede vertel hoe lekker mieliepap vir my is. Regte Man Kos. Nouja vandag doen ek dit weer. Die afgelope feestyd het my weereens laat besef dat ons soms onwetend darem erg met kos mors. Dis iets wat diep teen my grein ingaan ... seker maar 'n brandarm jeug wat dit vir my so moeilik maak. Dis egter soms onvermydelik dat daar oorskiet sal wees en ek gaan probeer om die oorskiet bruikbaar te maak.

Koue pap en eier
Mieliepap is een van die goed wat omtrent altyd in oormaat gemaak word en dan later sit jy met die pot vol koue pap. Die normale ding is dat dit gaan vir die honde, hoenders of varke as dit goed gaan maar so baie keer word die pot net eenvoudig vol water gemaak en laat staan ... en dan later word dit in die drein afgegooi.

Klaar gemeng
In my huis word die koue pap met 'n staallepel uit die pot gekrap sonder om die brandsel te breek. Die koue pap word dan met 'n groot tweetandvurk verkrummel en in 'n lugdigte houer in die yskas gesit. Dis 'n baie lekker ding om souse mee te verdik. Dis ook 'n lekker ontbyt happie ... koue pap in 'n bakkie, so twee eetlepels melk ... roer goed en 60 sekondes in die mikrogolfoond. Ek roer dan botter by met suiker en fyn biltong en daar het ek 'n koningsmaal.

In die pan
Vandag gaan ons plaatkoekies maak met houding.

Jy benodig twee koppies koue pap wat jy verkrummel. Twee eiers, fyngekapte uie wat jy vinnig in die pan sagmaak. Speserye van jou keuse ... ek gebruik growwe peper, chili flakes en sout.

Lekker sous
Klits die eiers, meng die uie by en gooi alles oor die koue pap. Nou meng dit goed deur. Jy soek 'n stywe beslag wat jy kan vorm.

Ek weeg nou balle af wat so om en by 100gr weeg.

Ek gebruik 'n klein pannetjie en druk die bal mooi plat. Nou braai ek die plaatkoekie tot hy mooi goudbruin is.

Goue lekkerte

Volgende maak ek 'n lekker sampioen sous en bedien die koekies op met so lekker dik sous oor.

Daar het jy dit ... die oorskiet pap in 'n nuwe baadjie.

As jy growe meel soos Jan Pap se Braaipap gebruik het dan het jy 'n heerlike tekstuur.

Ek gooi soms ook pitmielies in die mengsel.

Jy kan sprietuie bysit vir ekstra geur.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.