Donderdag 17 September 2015

Hoender - Maklike braai

As jy die woorde hoender en braai saam gebruik dan is daar dadelik sommer 'n klomp stories wat reg moet wees. Ek is baie lief vir hoender stukke op die vuur en het so bietjie gefokus en een van my geliefde Man Kos resepte gebruik en die fotos geneem. Hierdie is my tuisgemaakte Flame Grilled Chicken en ek weet presies wie het wat met die hoender gedoen.

Hoender stukkies in die rooster
Ek glo dat almal op hierdie stadium baie seker is oor een ding, en dis dat rou hoender defnitief nie aanvaarbaar is nie. Menige koker is al huistoe gestuur by kompetisies oor rou hoender.

As jy hoender wil braai dan het jy 'n goeie vuur nodig wat dit lank en stadig kan doen want anders is die hoender verkool voor hy gaar is. Ek het nie die tyd vir dit nie en het 'n kortpad uitgewerk.

Nou die goed wat jy nodig gaan hê om hierdie Man Kos Hoender te maak is 'n mikrogolf oond, een of ander tipe van stomer en 'n braaier. Ek gebruik al sedert 1982 hoofsaaklik gas braaiers want ek is lief vir braai maar my werk maak dit hoogs onprakties om vuur te maak en te wag vir die kole. Ek maak vuur as ek op vakansie is.

Soos gewoonlik is hierdie nie 'n formele resep nie maar gaan dit meer oor die metode.

Amper gaar
Mens kry mos sulke pakkies met vier boudjies en vier dytjies in ... dis die hoender wat ek hier gebruik het.

Eerstens vryf ek speserye in al die stukkies in, as jy onseker is oor wat om te gebruik is Robertsons se Chicken Spice 'n goeie begin. Ek gebruik enige gemengde braai speserye maar die ding is dit ... moenie skaam wees met die speserye nie. Gebruik waarvan jy hou.

Pak nou die hoender stukkies in jou stomer en dan mikrogolf oond toe vir 8 tot10 minute. Ek is seker sommiges frons nou vir die mikrogolf storie maar die praktiese deel is dat nou weet jy jou hoender is verseker mooi gaar. Kyk, dit is verseker bleek en vaal en lyk nie baie aantreklik nie maar dit is gaar. As jy nie 'n stomer het nie kan jy die stukkie in 'n Ziplock sak sit, gooi so drie eetlepels water by en seel die sak. sit die sak op 'n gepaste bord wat die mikrogolwe kan hanteer en steek so paar gaatjies in die bokant en sit dit in die mikrogolf oond.

Lekker Flame Grilled
In 'n mengbak, gooi nou tamatiesous, sweet chili sous, Worcestershire sous, en bruinsuiker bymekaar. Meng dit goed met 'n draadklitser. Ek gooi ook Tobasco en Chili Sous in die mengsel ... hy gaan vir jou hel warm proe in die bak maar dis lekker as jy klaar gebraai het want daar is nie teveel van die sous op die eindproduk nie.

Nou gooi ek weer speserye op die gaar hoender en sit dit in 'n glasbakkie ... gooi die sous mengsel oor en maak seker elke stuk is goed gesmeer. Ek laat dit so lê vir omtrent 30 minute ... genoeg tyd om die res van die kos gou aanmekaar te slaan.

Hoender sonder baie moeite
Nou braaier toe. Vuur kan maar taamlik warm wees, onthou die hoender is gaar, jy wil dit nou net daardie lekker Flame Grill afronding gee. Pasop net, die marinade brand maklik want daar is baie suiker in, so draai maar vinnig en gereeld. Ek verkies dit deesdae om die stukke in 'n toeknyp rooster te plaas. Dit laat my toe om die hoender vinnig en sonder moeite te draai.

Afhangende van die hitte van jou vuur en jou smaak, behoort die braaiery so tussen 10 en 12 minute te neem. Ek hou van die bietjie verkoolde stukkies.

Jy kan die stukkies gereeld maar smeer met die marinade sousie as jy wil.

En daar is dit ... jou eie Flame Grilled hoender stukke sommer in 'n japtrap by die huis.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.