Sondag 17 Januarie 2016

Mieliepap - Man Kos Paptert

Kyk as daar nou een ding is wat my die horries gee dan is dit die papterte wat niks anders 'n slopperige paperysel van pap en 'n wye verskeidenheid groentes is nie. Geen tekstuur of vorm nie net 'n paperysel.

Man Kos Paptert
Deel van my eksperimente met die 100% Braaipap meel moes net eenvoudig op 'n paptert uitloop ... en so was dit dan.

Sondagoggend en ons begin praat oor middagete. Dis mos tradisioneel 'n groot etery maar ek het die laaste twee jaar ernstig daarop gefokus om die tradisie van 17 disse op die tafel te verbreek. Dis tydrowend en meer belangrik, dis 'n grootskaalse vermossing van kos. My standpunt is dat mens nie nodig het om meer as drie elemente op 'n bord te sit nie. Sodoende kan jy werklik fokus op smaak en geur in plaas van om jou self mal te maak met 'n onpraktiese verskeidenheid. Op die einde is alles daar maar baie min is van uitstaande smaak en niemand kan dit regtig geniet nie want een lepel van alles laat jou bord lyk asof jy die buurt probeer voed.

Terug by die eintlike storie ... my oog val op die papot van gisteraand en ek lig die deksel ... ek krap die koue pap versigtig los met my tweetand vurk en my kop werk ... ek is nie lus om weer net pap by te maak nie ... ek moet iets anders doen.

Bestandele
En so word die paptert gebore.

Jy gaan benodig ...

2 koppies stywe pap of Putu.
2 Eiers
Melk of room
1 koppie gekapte uie
Meng mooi
1 koppie gekerfde wortels (Sirkels of plat skyfies)

Onthou, alles gaan oor geur, smaak en tekstuur as dit by goeie kos kom. Eerste die uie. Braai dit uit in so bietjie olie of botter ... ek gebruik varkvet. Tydens die braaiproses moet jy die uie lekker geur met peper en braaispeserye. Ek gooi ook rooipeper by. Sodra die uie lekker sag is, skep uit in 'n koppie.

Braai van die uie
Terwyl die uie braai, gooi die wortels in 'n potjie met water en botter en 'n knippie sout. Dit moet vinnig kook, jy wil dit net sag kry. Gooi so eetlepel suiker ook in die water en a stewige klompie witpeper. Sodra die wortels sag is, net sag nie pap nie, skep uit in a koppie ... moenie al die sous in die pot sambring nie, jy soek net die wortels.

Kook van die wortels
Jy is nou besig om die uie en wortels elkeen afsoderlik goed te geur. Dit is als deel van die proses om op die einde a lekker geurige dis te kry. Sorg vir elke element en die eindresultaat sal nie sommer verkeerd wees nie. As jy alles as 'n geheel sien gaan jy maklik opeindig met 'n verwarring van smaak en geur.
Reg vir die oond


Breek nou die eiers in maatbekertjie en klits goed. Gooi melk of room by om 200ml te maak. Ek gebruik a teekoppie, dis 200ml.

Finale produk
Meng nou alles behalwe die wortels mooi in 'n mengbak. Ek gebruik my hande sodat ek kan voel dis nie klonterig nie. Sodra dit glad is gooi die wortels by en meng dit versigtig in, jy wil nie wortels verbrysel nie. Hier kan jy gerus meer smaak byvoeg soos chilli flakes.

Nou het jy 'n mooi mengsel van drie basiese elemente en 'n interresante geur konkoksie. Smeer 180 x 180 oondbak mooi en skep jou mengsel daarin. Nou is hy reg vir die oond.

Jy sien seker ek sit geen tamaties in nie en ek doen dit omdat ek nie met 'n papperysel wil opeindig nie. Jy kan sampioen stukkies en greenpepper bysit as jy wil. Gedroogde cranberries en gekapte gedroogte vye of appelkoos is ook 'n goeie opsie.

Nou in 'n 180 C grade oond vir vir tussen 20 en 30 minute. Jy wil hom bak tot daar so mooi ligbruin korsie gevorm het. Haal uit en laat rus vir so 20 minute voor jy opdien.

Die is genoeg vir 4 tot 6 mense. Die tert sny in mooi skywe en jy kan dit baie maklik as bykos by 'n formele ete bedien. Jy kan 'n pikante sousie ook maak.

Vervang al die sout elemente met soetgoed soos kersies, rosyntjies en bietjie neute. Gooi so eetlepel bruinsuiker by en die word 'n nagereg wat lekker is saam met vla en roomys.

Nou daar is hy ... Man Kos se Paptert.


Nog Pap Stories:

Mieliepap - Man Kos en GWK se Braaipap
Mieliepap - Iets wat ons almal ken
Mieliepap - Rof en Grof met Semels
Pap - Plaatkoekies met Houding 
Pap - Krummelpap kan Stylvol wees 
Mieliepap - Laatnag Snaxie 

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.