Sondag 01 Januarie 2017

Snaxie - Crunchies is ManKos

Meeste van ons wat in die sestiger jare grootgeword het, het opgegroei met so paar ikoniese koekies. Koekies wat 'n glimlag na jou gesig toe bring en wat jou mond laat water. Koekies wat gebore is in 'n tyd toe mense oor die algemeen arm was en sekere bestandele bitter skaars was. Maar ons ma's en oumas was vindingryke mense en het altyd met iets lekker opgedaag.

ManKos Hawermout Krakers
Vir my is die koekies wat ek die beste kan onthou, Hertzoggies, Rice Krispy koekies, Koffiekoekies en dan was daar die hawermout krakers gewees .... ons noem dit sommer Crunchies. Daar is iets byna magies aan die koekies ... die smaak van die gekarameliseerde suiker en botter, die klapper en hawermout wat gerooster is en bowenal ... daardie kenmerkende neuterige kraak as jy die goedjies kou. Laatnag in die koshuis dan het die koekies my huistoe laat verlang, op 'n koue wintersaand het dit my na my ma laat verlang en tot vandag is die crunchies een van my groot gunstelinge.

Staan maar stil en hou mense dop in 'n padstal of tuisgebak plek, die ouer mense sal altyd by die rak ronkrap waar die Hawermout Crunchies is. Dis ook gewoonlik die koekies wat die vinnigste uitverkoop by die oggendmarkte en kerk bazaars.

Die internet wemel van resepte en fotos van die koekies en elke keer as so resep op Facebook opduik dan is daar tonne reaksies.

Dis belangrik om te AUTOLYSE
Om die koekies te maak is regtig nie moeilik nie maar baie mense struikel oor die bak proses. Die grootste klagte is gewoonlik dat die koekies nie krakerig genoeg is nie. Nou weet ek ook dat sommige mense hou daarvan as die koekies sag is maar die werklike toets van so Crunchie is tog maar in sy kraak.

Soos julle almal weet, is ek nie een wat sommer resepte deel nie maar meer fokus op die maak van ander mense se resepte. Met die Crunchies gaan ek egter maar my resep deel want die storie is eintlik net 'n storie omdat dit gaan oor die maak van die koekies.

Druk die deeg mooi plat en styf
In die afgelope jaar het ek twee keer van die koekies gebak ... een keer met Annelien Pienaar se resep en een keer met Wessel van Koekedoor faam, se resep. Albei was lekker maar nie een van die twee het vir my gesmaak soos my ma s'n nie.

Kersfees is mos ook koekie tyd en so twee dae terug besluit ek om weer Crunchies te maak nadat daar weer 'n foto en resep van die koekies op een van die Kosgroepe opgeduik het. Nou soos julle sekerlik weet, ek is 'n ernstige broodbakker en dis my een groot passie, suurdeeg brood. Brood bak leer jou dink oor die bestandele, die prosesse en bowenal maak dit jou baie attent op hoe jy jou oond inspan.

Laat effens afkoel voor jy sny
Ek sit met die drie resepte oop op my rekenaar en ek sit almal op 'n spreitabel (spreadsheet) ... ek was nou op 'n missie en gebruik al my kennis en ervaring in die analise van die resepte. Ek begin om my eie resep te bou uit die inligting in die drie resepte en ek grou diep in my brein rond vir die dinge wat sin maak.

So uur later het ek wat ek beskou as 'n goeie begin vir 'n lekker resep en dra die inligting oor na my tablet toe. Nou is dit ek en die kombuis. Ek weeg en meet al die bestandele afsonderlik af en maak seker ek doen dit akkuraat want met koekies kan 'n paar gram hiernatoe of daarnatoe sommer 'n groot verskil aan jou resultaat maak.

Hier is die resep:

Mankos Hawermout Krakers
Oond temperatuur is 180C en jy het 'n pan van so 20cm by 30cm nodig.

Glasbak of Pot:
235gr Bak Margerine (Botter werk ook maar kan galsterig raak na 'n tydjie)
1 1/2 Eetlepels goue stroop. (Moenie heuning gebruik nie want die stroop bak beter)
1 1/4 Koppie Bruinsuiker (Jy kan wit gebruik maar bruin bring die karamel smaak in jou koekie in)

Mengbak:
2 1/2 Koppies Oats (Die is belangrik want dit gaan bepaal of jou koekie olierig is of nie)
1 Koppie Koekmeel
1 Koppie Klapper (Die stel olie vry as dit bak en help met die kraak in die koekie)
1 Teelepel Bakpoeier (As jy bruismeel gebruik het los die uit)
1 Teelepel Koeksoda
1/2 teelepel sout (Sout verbreed die smaakprofiel)
1 Koppie gemengde vrugtekoek vrugte (Ek koop myne by Bakers Bin)
1 Koppie gekapte neute (Gebruik wat jy van hou en jy kan maar meng ook)

METODE:

1. Gebruik jou hande en meng die meel en hawermout ordentlik met al die ander bestandele in die mengbak. Maak seker die vrugte stukkies is almal mooi los en bedek met die meel. Jy wil nie klonte in die mengsel hê nie. Werk met jou vingers soos waneer jy botter in meel moet inwerk.

2. As jy gekies het om 'n pot te gebruik dan is dit nou die tyd om die pot op die stoof te sit en die mengsel stadig te verhit. Sodra die margarine mooi gesmelt is en die suiker begin oplos, maak die plaat warmer. Pasop vir brand, jy wil dit verhit totdat die mengsel begin skuim. Sodra dit skuim moet jy die pot van die hitte afhaal.

Ek het myne in die mikrogolf oond gedoen ... 1,000 watt oond ... 1 minuut en roer. Nog 'n minuut en roer en daarna elke 30 sekondes geroer totdat dit begn skuim het.

Gooi nou die gesmelte botter en suiker in die mengbak en begin meng. Ek het 'n staal lepel gebruik. Meng mooi en werk maar die klonte uit. Nou is dit belangrik om jou eie diskresie te gebruik. As jy goed gemeng het en jy sien dat daar sulke plassies botter vorm dan moet jy maar so bietjie hawermout bygooi. Jy wil nie die plassies botter/olie sien vorm nie.

Nou vir 'n proses wat broodbak my geleer het ... maak jou mengbak toe vir so 30 minute ... die proses staan bekend as autolyse in brood bak ... wat nou gebeur is dat die hawermout en meel suig die vog in om hulleself te hidreer. Jy kan elke 5 minute die mengsel deurroer met die metaal lepel. Na elke roer sal jy sien dat die botter onder in die bak begin al hoe minder raak ... dis wat jy soek.

Sit bakpapier in jou oondpan en laat dit so bietjie opstaan oor die rant. Skep nou die mengsel in die pan in. Ek skep eetlepel vol hopies om die mengsel te vresprei. Vat nou die agterkant van die staal lepel en begin die mengsel platdruk in die pan. Gebruik geduld en doen dit mooi. Hoe stywer en meer eweredig jy die deeg versprei en saampers, hoe beter gaan die koekies bak.

OOND:

Sit die pan op die middelste rak and laat bak vir 10 minute teen 180C ... die is slegs 'n aanduiding want oonde verskil. Jou grootste vyand is aanbrand en dit gebeur binne minute omdat daar baie suiker en stroop in die mengsel is.

Na 10 minute draai die oond af na 160C vir nog 10 minute. Nou sal die koekies gaar wees en jy kan die pan nou uithaal. Dis nou hier waar jy 'n besluit moet neem ... as jy dit baie krakerig wil hê moet jy nou die oond afsit en die deur op 'n skrefie ooplos en die pan in die oond los vir nog so 10 minute. Hou maar jou oog op dit want jy kan vind dat die goed te donker word in 'n japtrap.

Sodra jy die pan uit die oond uit haal moet jy versigtig wees want die koekies gaan nog baie sag wees. So hanteer dit maar versigtig en moenie die pan hard neersit nie. Wag so 5 minute en trek die hele mengsel op die papier uit die pan uit op snyplank ... ek sleep dit uit op die graniet van my werksblad. Laat dit nog staan vir so 5 minute en sny dan in blokkies.

Hoe meer dit afkoel hoe brosser en harder gaan dit word. Los dit nou uit om heeltemal af te koel.

Hierdie resep het twee eienskappe ... jy sal vind dat daar nie veel vetterigheid aan die koekies gevoel word nie want die metode laat toe dat die hawermout baie van die vet absorbeer. Om die mengsel deur 'n AUTOLYSE fase te laat gaan is iets baie bakkers verseker sal laat frons.

Tweedens het dit 'n heerlike kraak.

Ek strooi Muscavado suiker oor die hele mengsel voordat ek dit in die oond sit ... dit smelt en gee 'n lekker karamel smaak aan die koekie.

Nouja ... daar is dit ... heerlike ManKos Hawermout krakers.

Lees maar my storie mooi deur en jy sal dit maklik regkry.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.