Saterdag 19 Mei 2018

Eetplek - Bistro Bistro in Nelspruit

Dit is tog vreemd hoe mens elke dag by 'n plek verbystap en dink, ek moet eendag tog hier gaan inloer en dan stap jy net verder aan. So kom en gaan die dae verby en die voorneme is altyd daar maar jy gaan nie oor tot die instap nie.

Bistro Bistro
Bistro Bistro by Steiltes SPAR Sentrum is so plekkie vir my. Dis nou al 'n geruime tyd dat ek die plek sien en altyd dink dat ek tog daar moet gaan eet ... maar dis waar dit gebly het.

Gister, Vrydag, sit ek in my kantoor en my vrou vra my ... "Waar gaan ons eet vanaand?"

Vir so paar oomblikke wonder ek en toe sê ek ... "Kom ons gaan probeer Bistro Bistro."

Sterk skemer kom ons by die plek aan en word by die deur verwelkom.

Lisinda wys ons tafel aan en ek en my gaste kom tot rus. Vier volwassenes en een kind. Niemand van ons het al hier geëet nie en ek sien nogal uit na die aand.

Die diens is flink en spoedig het elkeen ietsie om te drink en ons begin die spyskaart deurkyk.

Feestelik

Ek kyk vir my vrou ... "Poppie, dit gaan my 'n tydjie besig hou om deur die spyskaart te eet."


Gesellig
Sy grinnik net ... "Kyk maar eers of jy van die kos hou." ... sy ken my te goed.

Twee van ons kies die Hoenderlewer Pate en ek besluit op die Steak Tartare ... ek is baie lief vir rou vleis, ek het dit geleer eet in die Kuwait. Maar ek het my rieme al soveel keer styfgeloop hier dat ek dit nie meer maklik bestel nie. Vanaand voel ek egter waaghalsig en bestel die dis.
Hoender Lewer Pate
Ons bestel 'n Kiddies Pizza vir die dogtertjie en gesels lekker tot die disse opdaag. Dit lyk baie smaaklik en toe word dit stil om die tafel.

Die twee dames met die Lewer Pate is duidelik hoog in hulle noppies en ek smul aan die Steak Tartare.

Wat 'n heerlike en smaakvolle dis. Die geur en smaak is perfek vir my en ek gaan my nou verstout en sê dat dit die beste Steak Tartare is wat ek al ooit geëet het.
Steak Tartare
Vir die hoofgereg bestel ons Beer Battered Hake, een met slaai en een met chips.

Een pasta, prawns en squid.

Ek bestel die Special of the Day ...

Wildsvleis Pastei met Chips en groen slaai.

Pasta
Weereens is die disse pragtig opgedien en dit lyk smaaklik.

Die Wildsvleis pastei is heerlik, die kors is vlokkerig en bros en die vleis is sag en sappig.

Daar is 'n heerlike ryk sous apart en ek het dit mildelik oor die pastei gegiet.

Vis en slaai
Die chips is lekker bros, soos ek daarvan hou en die groen slaai is 'n goeie mengsel. Dit is iets wat ek deesdae baie geniet saam met my maaltye, so gemengde groen slaai. Die sousie waarmee die blare gebaai is, was lekker, nie oormatig gegeur nie en ek kon die blare se verskillende smake goed proe.

Die algemene gevoel oor die vis was dat dit lekker is maar effe olierig.

Wildsvleis Pastei
Die pasta dis was heerlik maar die porsie was groot vir die dame en sy het die res saamgeneem huistoe om later te eet.

Bistro Bistro sal my vir seker weer sien en die keer sal ek iets ligter bestel sodat ek by die nagereg ook kan uitkom.

Komplimente aan die chef en die bestuur. Dit was 'n heerlike aand en ek is gelukkig huistoe.

Bistro Bistro is in die Steiltes SPAR Kompleks en ek het die geskryf na aanleiding van my besoek daar op Vrydag 18 Mei 2018.

Die pryse is billik en ek voel dat dit vir my goeie waarde gegee het.


Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.