Sondag 14 Julie 2019

Hoender - Pootjies met smaak

Kyk, as daar nou 'n ding in die koswêreld is wat die lelik in baie mense kan uitbring, dan is dit afval. Gaan nog verder en onderskei afval in die verskillende soorte afval en sommige mense raak beserk.

Hoenderpote en pap
Hierdie bykans emosionele uitbarstings het my nog altyd gefasineer en amuseer ... hoe kan mense so aanmatigend, voorskriftelik, verontwaardig en beledigend raak oor kos?

My kinderdae was fantasties maar my ouers was brandarm tot omtrent so om en by my tiende verjaarsdag. Daar was menige dae wat my ma moes raap en skraap om ons gesin kos te gee. Daar was nie wye keuses nie en jy moes eet wat op die tafel was. My ma was 'n streng vrou en van kleintyd af het sy my geleer om alle kos met respek te behandel ... "Kos is uit die hand van die Here." het sy met groot deernis gesê en die les is in my brein ingebrand. Tot vandag toe kan ek nie my neus vir kos optrek nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, daar is kos wat ek gladnie van hou nie en daar is kos wat ek gladnie eet nie ... maar ... en dis 'n groot MAAR ... ek probeer alles ten minste een keer voor ek my voorkeur of afkeur maak.

Ek is van mening dat mense wat so uitvaar teen afval, baie bevooregd groot geword het.

Kop, pens, pote, sterte, harte, maag, lewer en niere is die mees bekende afval. Harsings en murg is ook in die afval lysie.

Vandag se storie gaan egter oor pote, en meer spesifiek, hoenderpote. Vir baie van ons mense is dit 'n bekende ding maar vir baie is dit ook grillerig. Maak nou nie saak of dit jou gril nie maar jy kannie regtig uitspraak lewer as jy dit nog nooit geëet het nie. So indien jy avontuurlustig is, gaan soek vir jou 'n pakkie pootjies by jou geliefde Vleiswinkel.

Ek vertel vandag van die pootjies wat ek by Food Lovers Market gekoop het. Die pote is mooi skoon en kan reguit pot toe gaan. Kyk maar rond, iewers sal jy mooi skoon pote kry. Na die eerste kook haal ek die naels af. Dis onsmaaklik en lyk ook nie mooi op die bord nie.

Nou hier gaan ons ... ek kook die pote vir 15 minute in my stoompot met Ina Paarman se Chickenstock en kerrie poeier. Moenie te lank kook nie want dan gaan die pote uitmekaar val. As jy nie 'n stoompot het nie kan jy dit kook vir so uur lank in 'n pot. Na die kokery gaan ek die vloeistof gebruik om my sous te maak.

Nou breek ek die naels af en laat dit so bietjie afkoel in 'n plat bak. Volgende braai ek die pote in varkvet in 'n baie warm pan. Net so 1 minuut aan elke kant, jy wil dit net so bietjie kleur gee. Jy kan dit ook nou op die braaier kleur gee as jy wil.

Nou maak ek 'n lekker dik kerrie en uie sous in die pan waarin ek dit gebraai het. Maak dit maar so sterk soos jy daarvan hou. Onthou die sous gaan die meeste van die geur en smaak dra want die pote self is maar gelatien en vel.

Voor opdiening pak ek die pote in die sous en laat dit so paar minute prut.

Vir my is lekker mieliepap die regte bykos en ek gebruik Plaasjapie se growwe meel.

Dis 'n goedkoop produk die en jy kan dus lekker eksperimenteer. Probeer dit gerus, wie weet ... dit word dalk 'n familie gunsteling.

Vir R34.00 plus twee koppies mieliemeel het vier mense lekker gesmul.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.