Abeega Roadhouse |
Ek en Poppie het 'n tradisie om Vrydagaande iewers te gaan eet. Ek eet selde enige Steak geregte want ek verouder en braai my eie Steak en is gewoond aan topgehalte. Ek het jare terug die besluit geneem om dit te vermy terwille van die vreugde van die aand en Poppie se senuwees. Alhoewel ek myself as 'n redelike man beskou, kan ek wild die moer in raak as 'n stuk vleis opgedonner word. So ek vermy dit liewers. So tradisioneel eet ek 'n burger of vis en chips.
Oor die jare het ek gesien hoe kruip die rekening vir Vrydagaande se etery stadig maar seker op en het al by plekke die R800.00 merk oorgesteek. Vir my is dit banaal om so duur te betaal vir twee borde kos.
Heerlike Vis |
Nou tradisioneel weier ek om 'n eetplek te beskryf alvorens ek nie drie maal daar geëet het nie. Ek doen dit want uit ondervinding weet ek dinge kan skeefloop in 'n kombuis. So ek maak seker van my feite voor ek skryf.
So daag ek en Poppie dan by Abeega op. Die plek is besig en ons kry 'n tafeltjie op die stoep, om die hoek van die toonbank af. Ek is nie meer lus vir in die kar sit en eet nie, het seker te oud geword.
Halwe Hoender en Chips |
Ek bestel Vis en Chips en Poppie gaan vir die Halwe Hoender wat op Special is. Ek soek 'n Coke en sy vat koffie. Lekker vir my is dat ek kan in vrede 'n twakkie klap daar op die stoep. Die blou rokie draal deur die lug van 'n windstil Laeveld skemeraand. Karre spaander deur die besige kruising, mense draf oor die pad en Taxis lawaai en stop net waar hulle wil. So klein venstertjie in my Suid Afrika in. Ek drink die atmosfeer in en tik op die tafel op die maat van Heartbreak Hotel.
Lekker Chips |
Einde van die aand kom die rekening en ek glimlag breed. Skraps oor die R200.00 fooitjie ingesluit.
In die kar knip ek die veiligheidsgordel vas en kyk vir Poppie ...
"Jis, dit was nou lekker vir my ... hier sal ek weer kom eet." Sy knik net haar kop.
Hamburger en Chips |
Gisteraand maak ons weer so en Poppie bestel die T-Bone Special en ek vat 'n Burger. Nouja, weereens heerlike kos, die Burger is egter te groot vir my en ek los die helfte van die bun. Poppie se steak is soos wat mens kan verwag van 'n Roadhouse Special. Gladnie 'n helse stuk bees nie maar eerder in die lyn van Shizanyama. Maar dis lekker sag en goed gaar gemaak.
T-Bone en Chips |
#ManKos beveel Abeega Roadhouse met 'n oop gemoed aan. As jy in Nelspruit woon en lus is vir 'n lekker ete wat nie die bank gaan breek nie, gaan probeer die plek gerus.
Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.
Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.