Saterdag 08 Februarie 2020

Eetplek - Abeega Nelspruit

Abeega Roadhouse
Laat ek eers so bietjie agtergrond gee. Die wat my ken weet dat ek nogal handig is agter die kospotte en daar is min dinge wat ek nie self kan kook, bak of braai nie.

Ek en Poppie het 'n tradisie om Vrydagaande iewers te gaan eet. Ek eet selde enige Steak geregte want ek verouder en braai my eie Steak en is gewoond aan topgehalte. Ek het jare terug die besluit geneem om dit te vermy terwille van die vreugde van die aand en Poppie se senuwees. Alhoewel ek myself as 'n redelike man beskou, kan ek wild die moer in raak as 'n stuk vleis opgedonner  word. So ek vermy dit liewers. So tradisioneel eet ek 'n burger of vis en chips.

Oor die jare het ek gesien hoe kruip die rekening vir Vrydagaande se etery stadig maar seker op en het al by plekke die R800.00 merk oorgesteek. Vir my is dit banaal om so duur te betaal vir twee borde kos.

Heerlike Vis
So tydjie gelede merk ek die nuwe Roadhouse by die Food Lovers Sentrum oorkant Tiger Wheel en Tyre. Maande het gekom en gegaan en elke keer as ek daar verby ry dan dink ek dat ek die plek moet gaan besoek. Na nog 'n R600.00 skok by iLanga besluit ek dat ek nou klaar is met die geldmorsery.

Nou tradisioneel weier ek om 'n eetplek te beskryf alvorens ek nie drie maal daar geëet het nie. Ek doen dit want uit ondervinding weet ek dinge kan skeefloop in 'n kombuis. So ek maak seker van my feite voor ek skryf.

So daag ek en Poppie dan by Abeega op. Die plek is besig en ons kry 'n tafeltjie op die stoep, om die hoek van die toonbank af. Ek is nie meer lus vir in die kar sit en eet nie, het seker te oud geword.

Halwe Hoender en Chips
Die atmosfeer is elektries vir my. Laat my terugdink and my aande in Pretoria in die 70's. Polsende musiek en die gelag van mense ... Doll's House, Vlieënde Piering, Moses en Ray's. Sopperige burgers en chips gebaai in Tamatiesous. Sout bestrooide Russians en Chips met Mayonnaise ... alles pure genot vir 'n jong rakker vol planne.

Ek bestel Vis en Chips en Poppie gaan vir die Halwe Hoender wat op Special is. Ek soek 'n Coke en sy vat koffie. Lekker vir my is dat ek kan in vrede 'n twakkie klap daar op die stoep. Die blou rokie draal deur die lug van 'n windstil Laeveld skemeraand. Karre spaander deur die besige kruising, mense draf oor die pad en Taxis lawaai en stop net waar hulle wil. So klein venstertjie in my Suid Afrika in. Ek drink die atmosfeer in en tik op die tafel op die maat van Heartbreak Hotel.

Lekker Chips
Die kos daag op en ek glimlag breed. Beslis nie wat ek verwag het nie. Poppie se hoender lyk heerlik en geurig en my vis is perfek gebak. Wat my mond laat water is die bordjie chips. Ek het vir super crispy gevra en dis wat ek sien. Poppie vat my hand en ons dank die Here vir die kos ... en toe word dit stil om die tafel. Die kos is heerlik, geurig en smaaklik. Alles wat ek verwag het, eintlik meer.
Einde van die aand kom die rekening en ek glimlag breed. Skraps oor die R200.00 fooitjie ingesluit.

In die kar knip ek die veiligheidsgordel vas en kyk vir Poppie ...

"Jis, dit was nou lekker vir my ... hier sal ek weer kom eet." Sy knik net haar kop.

Hamburger en Chips
Een week later en dis weer sulke tyd. Die keer eet ons albei Vis en Chips en weereens so om die R200.00. Op die aand vang die Loadshedding ons. Gelukkig net na die kos op die tafel geplaas word. Die eienaars verseker my dat alhoewel dit ongerieflik is, hanteer hulle die Eskom Fiasko sonder probleme. Al wat in die stof byt is die Pizzas want die oond trek teveel krag vir hulle krag opwekker.

Gisteraand maak ons weer so en Poppie bestel die T-Bone Special en ek vat 'n Burger. Nouja, weereens heerlike kos, die Burger is egter te groot vir my en ek los die helfte van die bun. Poppie se steak is soos wat mens kan verwag van 'n Roadhouse Special. Gladnie 'n helse stuk bees nie maar eerder in die lyn van Shizanyama. Maar dis lekker sag en goed gaar gemaak.

T-Bone en Chips
Nou laat ek opsom. Die musiek kan soms erg hard wees en dis al wat ek gaan sê oor dit. Die atmosfeer is klassieke 70's Roadhouse en die pryse is meer as billik. Ek sal vir seker nog baie daar gaan eet want ek is gemaklik met die pryse en dit wat ons geëet het is was van goeie gehalte.

#ManKos beveel Abeega Roadhouse met 'n oop gemoed aan. As jy in Nelspruit woon en lus is vir 'n lekker ete wat nie die bank gaan breek nie, gaan probeer die plek gerus.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.