Dinsdag 26 Augustus 2014

Botter - Maak jou eie

Vars brood en plaasbotter
As daar nou een ding is wat menige boerseun breed laat glimlag is dit die gedagte aan vars brood met plaasbotter. Plaasbotter is deesdae iets waaroor die meeste van ons net kan droom terwyl ons die gekoopte maasa geproduseerde botter skepties aankyk.

Click here for this story in English

My ma het 'n geliefde gesegde gehad ...

"Waste not, want not !"

In die kort gesegde is 'n groot waarheid weggesteek wat deel geword het van my algemene bestaan. Ek is nie iemand wat sommer iets weggooi nie en as ek a leƫ botteltjie of bakkie sien dan was ek dit mooi uit en pak dit weg wat eendag gaan ek so houertjie nodig kry en dan gaan daar een gekoop moet word.

Vinnig en maklik
Nou by die botter ... ek is dood seker dat meeste van ons al gesien het hoe ons botteltjie vars room sy vervaldatum verbysteek en dan met ergenis dink ... "En wat nou !"

Natuurlik kan jy die suurroom gebruik op aartappels en ander plekke mar die feit bly, die room het suur geword.

Miskien weet baie van julle dit, miskien nie. Daar is 'n baie goeie gebruik vir die suurroom, maak BOTTER !

Dis reg ... maak jou eie botter ... dit vat so 15 minute van jou tyd en so bietjie skottelgoed op die einde maar jy sit met heerlike botter.

Die bonus is dat jy dit kan geur na jou smaak.

Eerste stap ...  gooi die suurroom in jou voedselverwerker. Jy kan natuurlik vars room ook gebruik maar die suur room maak net lekkerder botter.

5 minute
Klits nou op die hoogste spoed tot jy die botter sien vorm. Vat so 5 minute.
Gooi nou so drie eetlepels yswater in en klits weer vir 30 sekondes.
Lekker botter
Gooi die karringmelk nou af ... ja dis reg ... karringmelk.

Gooi weer so drie eetlepels yswater in en klits weer 30 sekondes.
Gooi nou die water ook af ... hou die vog, dis lekker in plaatkoekies.

Skep die Botter in a metaalbakkie en pers dit met a lepel se agterkant. Gooi die vog ook af.

Druk die laaste watertjies uit.
Nou gooi ek so bietjie growwe sout in en werk dit deur. Gooi enige water wat nog uitkom ook af.

Dis die stadium waar jy nou enige geurmiddels kan ingooi, knoffel, peper, rissies.

Skep in 'n klein bakkie en sit in die yskas. Heerlike vars botter uit 'n 500ml botteltjie room wat suur geword het.

Ek kry so 170 gram botter uit 500ml room.

Al wat oorbly is om 'n lekker stukkie varsbrood nader te trek en te glimlag.

Daar is baie maniere om die water uit te pers en mense gebruik kaasdoek, hout perse ensovoorts.

Ek doen dit sommer op my manier en dis vinnig en maklik vir my.

'n Mooi balletjie vars botter.
Jy hoef nooit weer te frons as die room suur geword het nie ... glimlag en trek jou voedselverwerker nader. Pasop net dat jy nie die botter te kwaai klits op die einde nie.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Faceboek Bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.









Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.