Maandag 09 Februarie 2015

Bees - Lekker dik ribbes

Vandag se storie gaan oor 'n snit van die bees wat nie eintlik baie algemeen gebruik word nie. Die ribbes van die bees beland gewoonlik in a pot as 'n stowegereg of sommer stew of dit word gebruik in 'n rol en dan word die gestroopte ribbes as chuck of iets dergliks verkoop. Normaalweg gesien as goedkoop en minderwaardig.

Mooi porsie dik rib
Deesdae is dit darem ook so dat met die invloed van ons ander landsgenote word die dun skywe lekker bros gebraai en is nog altyd vir my lekker so. As kind het ons die dun skywe sommer so in 'n skopgraaf of ou ploegskaar gebraai dat die vet borrel en die vleis kraak. Die gedagtes laat my verlang na die goeie ou nat en mistige dae op Wakkerstroom. Daar agter in my pa se werkswinkel het hy die graaf vol vleis gebraai en dan het ons so met ons hande geëet en elke kort kort 'n stuk varsbrood deur die vet gesleep ... dit was in dae toe ons nog nie regtig geweet of omgegee het vir kolesterol en al die nuwe siektes wat men dan nou kwansuis van Man Kos kan kry nie.

So rukkie terug sien ek hoe Ruben Riffel dikrib gaarmaak vir sy feesmaal met sy familie en ek dog by myself ... ek moet bietjie by my vleiswinkel hoor van die ding. In Kuweit het ek die eerste keer kennis gemaak met dik beesrib en dit was lekker.

Onthou net een ding ... moenie dink jy gaan sagte vleis kry soos met fillet nie ...nee, die ribbes is harde vleis met a growwe grein maar o genade ... geur soos min.

My pa het mos altyd gesê ... "The closer to the bone, the sweeter the meat."  Dit was nou nie noodwendig met verwysing na beesrib as sulks nie ... eintlik niks met beeste te doen nie maar laat ons dit liewers daar laat.

Heerlik sag en sappig
Na 'n lekker gesprek met my vleisman, Wimpie, is ek daar weg ... die belofte was dat ek die ribbes oor drie dae kan kom haal.

Nouja ... Vrydag middag staan ek met die pakkies ribbes in my hande en ek besluit terstonds dat een sommer nou oond toe moet gaan. Met groot waardering kyk ek na die stuk rib in die pan, Wimpie het regtig mooi geluister en mooi snitte gemaak. Elk pakkie het 'n oorvloed van marinade sous in so ek dop die pakkie net in die pan uit met al die sous, plaas die rib so dat die bene boontoe wys en in die oond in. Nou hier kom die ding. Dis in 'n oop pan en die oond is op 110C. Jy kan nou wortels, uie en seldery in die pan sit om meer geur te gee. Jy kan selfs dit toemaak met foelie om dit goed te laat stoom. Maar ek doen dit nie ... ek wil dit soos braaivleis gaar laat word. Oop en sonder ander geure en smake ... ek soek die vleis se smaak en geur.

Vier ure later is die sulke tyd. Die ribbes lyk lekker en al die vet het uitgebak. Nou moet ek bieg, die sou seker lekker gewees het met die hele tradisionele oorrompeling met rys, aartappels, pampoen en boontjies maar ek het dit nie gedoen nie ... ek wil die rib eet ... nie die goed wat die bees eet om die ribbes te maak nie.

Dis mos Man Kos
Ek het 'n lekker brood gebak met so kraakvars korsie. Dit saam met vars plaasbotter en dis al.

Die geur en smaak was baie lekker ... amper aards. Die brood was daar om die sousies op te vee.

As jy lus voel vir iets anders ... gaan vra gerus vir Wimpie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.