Maandag 16 Februarie 2015

Snaxie - Man Kos Twisters

Soos ek manne ken is hulle altyd lus vir ietsie om aan te knibbel of te kou. Die pikante klein vingerhappies is gewoonlik gewild maar dit is so fraai en fyn dat die manne sommer hande vol moet vat en dit laak die ouens soos vrate lyk.

Man Kos Twisters
Hierdie twisters van my is nie iets nuut nie en daar is honderde voorbeelde op die internet. Enigste verskil is ek het so bietjie ingeklim en mooi gedink voor ek die goed gemaak het. Myne het so bietjie lyf en die manne kan een op 'n slag vat sonder om verfynd te voel.



Min bestandele
Begin met twee rolle blaardeeg (Skilferkors of Puff Pastry)

Strooi meel op jou werkbank en rol een versigtig oop. Ek dop hom dan om sodat die plastiek bo is. Rol hom nou liggies met die koekroller. Dis meer om die krakies wat kan vorm plat te kry.

Sit jou vulsel op
Dop die vel nou weer om sodat die plastiek onder is. Ek doen dit want netnou gaan jy die deeg nogal sterk uitrol en die plastiek gaan help om te keer dat dit vasplak.

Strooi nou lekker sterk cheddar kaas oor die vel. Moenie swig voor die versoeking om dit te dik te strooi nie. As jy dit te dik maak gaan jy sukkel.

Maak die pakkie toe en rol
Sprinkel nou jou keuse van braaispeserye oor die kaas. Ek strooi ook so bietjie chili flakes oor en rooi peper.

Pak nou een lagie Lays tjips oor die kaas.

Rol die tweede vel ook nou oop en rol liggies. Moenie die plastiek aftrek nie. LĂȘ nou die tweede vel bo-oor die eerste een sodat alles toe is onder die deeg kombersie.

Sny jou repies
Nou moet jy redelik sterk rol om die twee velle deeg met mekaar te laat kennis maak. Dit is hoekom jy nie die vulsel te dik te pak nie want anders gaan die twee velle nooit iewers kontak maak nie en dan gaan jy sukkel.

Sprinkel nou weer so bietjie speserye en fyngemaakte chips oor die deeg en rol weer liggies.

Nou sny ek die hele pakkie oor sy lengte middeldeur. 'n Pizza cutter werk nogal goed maar jy kan 'n lekker lang skerp mes ook gebruik. Pasop net dat jy nie die ding uitmekaar trek as jy die mes oplig nie.

Nou kom jy by die groot besluit ... gaan jy dit klein en fyn doen of gaan jy Man Kos maak. Ek sny my stroke so om en by 15mm wyd. Sny almal klaar voor jy begin om die repies op te tel.

Vat jou platpanne en spuit met koekie sproei. Lig nou die strokies versigtig op en draai twee draaie. Pak op die koekie panne. Verf almal mooi egalig met geklopte eier en sit die panne in jou vrieskas.

Sit in vrieskas vir so 20 minute
Sit nou jou oond op 200C ... dit vat myne so 20 minute om warm te word. Dis genoeg tyd om die deeg in die yskas ferm te kry.

Heerlik en met lyf vir die manne
Dis belangrik dat die oond goed warm is want daardie hitte is nodig om die deeg te laat pof. Na sowat 15 minute draai ek die oond af na 170C toe vir nog 20 minute. Hierdie tye is aanduidings, hou die goed dop dat dit nie brand nie.

Nouja sowat 30 minute later het jy lekker Man Kos Snaxies.

Speel met die vulsel ... jy kan poeier biltong tussenin sit.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.