Saterdag 25 Julie 2015

Bos en Berg - 'n Paar dae saam met Annelien Pienaar

Die afgelope twee jaar het ek baie tyd en moeite ingesit om my teoretiese en tegniese kennis rondom bak en kook te verbeter. Ek het letterlik honderde ure in die kombuis spandeer en baie resepte gemaak. Disse wat ek nie gedink het ek sal ooit regkry nie.

Dine van Zyl, Errieda du Toit en Nina Timm was almal groot inspirasie vir my.

Helena, Maggie, Dalene en Sonja by Lekker Resepte het my baie aangemoedig en het saam met my lekker gelag vir die flops wat ek soms gemaak het.

Ambelene het altyd vinnig met raad ingespring as ek onseker was oor 'n proses, Renette het my ondersteun as ek so bietjie wyer wou gaan.

Bos en Berg Kombuis
My broer Andrè en sy vrou Vera is altyd gewillig om my kos te eet en dan my vrou, ai tog, sy is die een wat elke dag my kos eet ... soms kan ek sien dis nou nie presies wat sy wou gehad het nie maar sy eet dit maar.

Hierdie is die mense wat direkte invloede op my kokery het en dis die mense wat my inspireer om my beste te gee.

Die kos wat my ma en my ouma gemaak het is baie na aan my hart en Boerekos laat my gewoonlik breed glimlag. So gebeur dit toe dat daar so paar maande gelede 'n nuweling in my lewe in kom ... Annelien Pienaar ... ek en sy het sommer so met die intrapslag net reg gekliek en soos die tyd verby gegaan het is ons 'n vriendskap gebou. Vir my as tegnoloog van beroep was haar tegniese kennis soos 'n kers vir 'n mot.

Meet ordentlik
Ek het meer en meer van haar resepte begin maak en was altyd tevrede met die uitslag want die vrou maak seker van haar feite voor sy publiseer.

Dit was seker onvermydelik dat ek en Annelien in die regte lewe met mekaar sou kontak maak. Na my onlangse "roadtrip" Kaap toe het ek besluit ... ek het nou nodig om tyd saam met 'n kundige te spandeer. Ek het 'n vlak bereik waar ek gemaklik was in my kombuis en het nie teruggedeins vir enige ding wat ek wou maak nie. Wat ek gekort het was om net te kan sien hoe die kundiges sekere prosesse fisies hanteer.

So gebeur dit dan dat Annelien haar dagboek skommel en my nooi om vier dae op Bos en Berg te spandeer. Sondag 19 Julie 2015 pak ek my goedjies in die kar en daar trek ek. In die kar maal duisende dinge deur my kop en soms bevraagteken ek my besluit om te gaan. Ek is verseker nie onhandig in 'n kombuis nie maar ek wonder of ek die pas sal kan volhou.


Ek en die spuitsak maak kennis
Sterk skemer en ek ry tussen die ruie bosse in en volg die aanwysings na die gastehuis toe. Annelien wag my in op die stoep en ek sien dadelik hoe netjies versorg sy is en sy glimlag breed. Ek is van nature 'n mens wat fyn ingestel is op mense se lyftaal en ek kom gou tot die slotsom dat die vrou verseker nie nonsens vat nie. Sy is selfversekerd en op die punt af. Alles tekens van 'n mens wat die pad gestap het en anderkant uitgekom het. Ons kliek ook goed en die kubervriendskap ontaard gemaklik in 'n "real world" vriendskap. Nou is ek meer gemaklik want dis sou nie lekker gewees het om vir vier dae saam met 'n persoon in 'n kombuis te wees as daar ongemaklikheid tussen ons was nie.

Maandag oggend sit ek op die stoep en drink koffie terwyl die son opkom ... die blou rook van my Camel haak vas aan die koue winterlug se tandjies en ek vat nog 'n sluk koffie. Ek sal jok as ek sou sê dat ek nie effens gespanne was nie ... ek was verseker. Natuurlik was daar ook 'n goeie dosis twyfel in die pot ... twyfel of ek die mas gaan opkom.

Nog spuitsak werk
En dan kom sy tussen die bome deur, kraakvars en spierwit baadjie en 'n krat vol goeters in haar hande.

Ek gaan nou nie veel meer oor die besonderhede skryf nie want dan ontaard hierdie in 'n kortverhaal.

Spoedig begin sy instruksies uitrammel en ek fokus en voer uit. Die dag begin met 'n piesangbrood en sy leer my die prosesse verstaan waneer suiker en botter vermeng word en waneer eiers en suiker vermeng word.

Sy leer my hoe om verskillende bestandele korrek te meet en ek sien eerstehands dat mens jou kop moet gebruik as dit by die vog volumes kom waneer jy deeg maak. Die resep is altyd net 'n leiding en nie noodwendig die finale woord nie want lugdruk en humiditeit speel 'n groot rol.


Ons bak 'n marmerkoek en maak meringues. Sy wys my hoe om a spuitsak te gebruik en ek leer van kulture in deeg. Ek sien hoe mens sjokolade smelt.

Deeg vorm werk
Dinsdag begin ek die dag deur skons te maak en dan bak ek 'n rolkoek en sy wys my hoe om polka dots in die koek in te bak. Ek maak Roti en toe maak ons terte. Melkterte en vleisrolletjies.

Nog deeg vorm werk
Woensdag is dit weer skons vir ontbyt en die keer sit ek waatlemoen konfyt en pekaneute in. Dan is dit brood. Knie en vorm en bak. Croissants en Cinomon Buns. Dis 'n lang dag en die sak meel waarmee ons begin het is besig om erge letsels te wys. Ek leer van glazing en maak versiersuiker. Roomkaas en botter versiering.

Die son sak op Bos en Berg en my gat sleep ... dit was drie wilde dae maar ek is lekker moeg, lekker want ek het baie geleer.

Donderdag oggend is my blus vir bak effens uit. Sy moet my nog net wys hoe om die roomkaas versiering op die piesangkoek te doen.

By 11h00 is ek op pad terug ... my kar is gelaai met al die goeters wat ek gebak het en daar is 'n paar sakke gadgets in ook. Vir my was dit 'n pryslose ondervinding en ek is dankbaar vir die tyd wat Annelien aan my af gestaan het. Ek hoop haar belegging lewer dividente.

Fokus en fokus
As jy ernstig is oor jou bakkery en jy wil meer weet as net hoeveel van elke ding jy moet gebruik, wel dan moet jy by Bos en Berg gaan kuier.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.