Saterdag 30 April 2016

Koekedoor - Dinge begin kalmeer

Koekedoor Beoordeelaars
Hierdie is nou nie iets oor kos maak nie maar Man Kos hou van lekker TV en kosprogramme is baie aantreklik vir my. Koekedoor is mos Afrikaans en ek hou daarvan.

Tot op hede het ek myself weerhou om enige iets te sê oor Koekedoor. Ek het wel hier daar 'n paar opmerkings gelees en ek het ook 'n paar kwetsende brokkies gesien.

Miskien is dit die biker in my wat my goed geleer het dat jy nie jou bêk rek na die eerste draai in 'n bergpas nie ... nee jy bly stil en fokus want jy weet nie hoe lyk die volgende een nie.

Nou het ek episode 3 klaar gekyk en ek voel gemaklik om my ervaring te deel.

Mens kan duidelik sien dat die deelnemers en die beoordeelaars nou in die swing van die ding ingekom het en almal is meer gemaklik ... sommiges senuweeagtig gemaklik maar gemaklik. Die oordadige gegiggel is weg en die mense fokus ... niks soos 'n slagtery om die gekekkel hok te slaan nie

Ek het nog te min van die deelnemers gesien om regtig 'n gunsteling of twee uit te sonder maar wat wel duidelik is, is dat die ou girls nie die pyp gaan rook nie ... ek dink die fisiese eise van die kompetisie is te erg vir hulle.

Lyk my of die haan onder die henne sy man staan en sy teenwoordigheid goed laat voel. Die ou se hart is in die bakkery en ek kon vanaand sien sy siel gaan in daai Kenwood in ... keer op keer.
Dis seker nodig om waaghalsig te wees in die kompetisie maar as ek gewone wiskunde in die prentjie bring dan is daar geen formule waar dit na 'n goeie plan lyk om 'n roomyskoek te maak nie. 'n Hele paar se skeppinge het voor hulle oë weggesmelt. Die wat hulle roomys in bakkies aangebied het, het goed gedink.

Nou so bietjie oor die program ... hierdie tipe programme se werklike waarde vir die kykers lê in die geleentheid om te kan leer en dis waar ek dink die Engelse se koek storie ons Koekedoor bietjie in die stof laat byt ... met die vorige reeks het ek eenkeer daaroor geskryf en ek gaan dit nou weer doen ... deel julle beoordeelaars se kennis meer met ons. Ja dis sekerlik kykpret om te sien hoe spartel die deelnemers maar sekerlik kan julle so paar minute afknyp dat die beoordeelaars hulle menings met ons deel en ons vertel hoekom goed skeef loop ... daar was vanaand wel a goeie skeet van dit met die perskekoek maar julle is maar suinig.

Nouja ... ek sien uit na volgende week.

Ek wil darem graag dit net noem ... Mari-Louis het vanaand pragtig gelyk. Vir my was haar grimering baie mooi, amper bedeesd maar met so pikante wulpsheid wat in sprankel ontaard het sodra sy begin lag ... man, dit was vir my so opvallend.
Dankie Errieda ... dis lekker om na die program te kyk en te wonder of ek ooit so iets sal kan maak ... vir nou bly ek maar by die brood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.