Donderdag 12 Mei 2016

Beskuit - Kondensmelk en Anys

Mooi baksel beskuit
Beskuit bak is iets wat ek baie geniet ... dis iets wat vrede in my siel indra. Nouja as ek so voel oor karringmelk beskuit, dan moet jy weet gewone boerbeskuit is terapie in die vergrotende trap.

Laas Vrydag oggend staan ek op en die mismoedigheid is op my ... ek verlang na mense wat ek nie eers geken het nie. Ek staar deur die venster in die tuin in terwyl ek wag dat die ketel kook en die eerste tekens van die komende winter is duidelik. Die bome begin hulle blare verloor en in die veld is die gras reeds droog en verdor. My tuin lyk ook maar gehawend, die liewe Heer het ons hierdie jaar oorgeslaan as dit by die reën kom maar tog was Sy genade groot op ander plekke. Die grasperk is wel uitgedor en vaal maar een of twee ander verhoudings is weer aan die blom nadat ek gedink het hulle gaan kompos word.

Voeg die spons by die meel
Die ketel fluit en ek word teruggeruk na die werklikheid toe. Met die stomende koppie koffie in my hand en beskuit in die ander, stap ek na my kantoor toe.

Die dag het begin.

Die deegbol
Ek gaan deur my take asof ek in 'n trans is en by tien uur is alles afgehandel en ek staar weer deur my venster, die keer my kantoor venster. My binneste maal en kolk en swart wolke dryf kort kort deur my brein. Heel duidelik is die swartgalligheid besig om my te bemeester ... ek grom binnesmonds en verwonder my aan mense se onverskillige hantering van verhoudings. Met 'n byna roekelose skouerbeweging swaai ek my stoel om en kies koers kombuis toe.

Mooi uitgerys
Ek blaai deur my resepte en my oog vang 'n boerbeskuit resep ... ek grou so bietjie dieper en kom op 'n Kondensmelk beskuit resep af. My oë dwaal vinnig oor die bladsy en ek lees die prosesse raak ... dis hy ... dink ek ... hier is genoeg dinge om my besig te hou.

As ek aan hierdie beskuit dink dan dink ek aan my ouma ... haar kombuis blommetjies tapyt en geel Aga stoof. Ek sien haar erde skottels en haar sterk arms wat die deeg knie. Die kombuistafel wat kreun onder aanslag en swart gebrande beskuitpanne wat blink van die vet. Ek ruik die geur van anys en my mond water vir die uitlek van die kondensmelk blikkie ... alles gedagtes wat op hierdie mistroostige Vrydag deur my kop maal.

En toe knip ek my oë en haal die mengbakke uit die kas uit ... "Ek beter 'n ander plan met die bakke maak ... dit is nie lekker om so laag te buk om die goed by te kom nie." dink ek terwyl daai ou lastige stekie deur my heup flits ... 'n skerp herinnering aan 'n onverskillige jeug.

 Presies en stelselmatig begin ek die verskillende bestandele afmeet en uitpak op my werksblad. Hierdie is die begin van die terapie, nou moet ek fokus want 'n klein glipsie hier kan ure later skewebek vir jou grinnik.

Reg vir die oond
Die eerste proses is die maak van die spons en ek onthou die erde skotteltjie wat my ouma hiervoor gebruik het ... hy het al so hier en daar so swart vlekkie gehad waar die die harde werklikheid met hom kennis gemaak het ... ek gebruik 'n mooi blink staal skotteltjie.

Terwyl ek wag vir die spons om te groei klits ek solank die meel, sout, anys en semels lekker los met 'n draadklitser. Ek sit die Kenwood op sy plek en gooi die meel in die mengbak ... en ek wag.

'n Koffietjie en 'n Camel en toe stap ek 'n draai deur my tuin. Tussen die droogte foltering deur is daar ook orals tekens van dapper volharding en blommetjies wys dat die natuur nie sal gaan lê en opgee nie. Ek sien hoe die bye woel en werskaf in die grenadella boskasie en hulle stuifmeel belaaide pootjies wys dat hulle weet die swaar tye kom.

Klaar gebak
Terug in die kombuis en ek sien die spons het goed gegroei en lyk mooi. Ek krap die paperysel in die megbak in by die meel en begin meng. Stadig maar seker kom die hele spul bymekaar en spoedig is dit 'n glansende en wriemelende bol deeg. Ek keer die deeg uit op my werksbank en rond die knieproses af met die hand. Daar is iets magies en sensieus aan so mooi bol deeg ... baie vêr verwyderd van die droeë hopie meel.

Ek het ook een pan krakelinge gemaak
Ek smeer die rysskottel met olyfolie en plaas die bol deeg daarin. Nou moet die bol goed rys. Net terloops, die olyfolie help baie om jou beskuit te beskerm teen swamme.

Een uur en 40 minute later is die deeg mooi uitgerys en ek smeer my panne. Nou begin die eentonige proses van balletjies maak ... ek weeg myne af ... dit help baie vir 'n egalige bak.

Ek laat die deeg in die panne weer rys tot tenminste dubbel die volume en toe gaan dit oond toe. Die reuk van anys vul my kombuis soos die oond sy werk doen en veertig minute later keer ek die bekuit brode uit op my draadrakke. Ek bak my beskuite met opset donkerder as wat die puriste dit soek want my familie hou nie van bleeksiele nie.

Versigtg breek ek die brode op en pak die stukke in die oondpanne waarin ek dit gaan droog. Nou is die werk verby en die tyd moet nou uitloop. Ek droog so teen 70C vir 5 ure.

Kort nou net koffie
Dis kort voor middernag dat ek die beskuite alles in een oondbak in pak en terug in die oond sit. Ek skakel hom af en maak die deur toe. Nou gaan ek slaap want moreoggend het hulle almal mooi afgekoel en is reg om blikke toe te gaan.

En so kom die mistroostige Vrydag tot 'n einde met 'n hoop mooi beskuite en my gemoed baie kalm ... al wt dit nou kon beter maak is as ek so bekuit saam met 'n stomende koppie koffie vir my ouma kon gee.

Ok en dis my storie ... hier kom die resep.

Vir hierdie resep gaan jy eers 'n spons moet maak.

Hier is die bestandele wat jy nodig gaan kry.

Man Kos Kondensmelk en Anys Beskuit.

1 x 397 g blikkie kondensmelk

125 g botter of margarien, in blokkies gesny. As jy die beskuit redelik lank wil bêre, gebruik liewers margarien want botter kan galsterig raak.

180 ml suiker - gebruik bruinsuiker as jy meer karamel smaak in die beskuit wil hê.
2 eiers

250 ml koue water
250 ml kookwater

1 en 1/2 pakkies kitsgis - Ek gebruik 2 pakkies van die 7gr gis vir broodmasjiene.

1,25 kg koekmeel - ek gebruik ongebleikte "stoneground" meel. As jy so bietjie gesonder wil voel kan jy die meel halveer en die helfte bruinbroodmeel gebruik - nie Nutty Wheat nie.

10 ml sout - dit is twee teelepels ... jy kan gerus 3 gebruik.
15 ml anyssaad (Opsioneel)
1 Koppie semels (Opsioneel)

Vir die Spons:
Meng die kondensmelk, kookwater, botter of margarien en suiker saam tot die botter gesmelt en die suiker opgelos is.

Klits die eiers en meng dit met die koue water. Voeg dit by die kondensmelkmengsel en sprinkel die gis oor. Roer liggies deur.

Sprinkel 250 g van die meel oor en meng deeglik.

Bedek die bak losweg en laat staan op ’n warm plek vir ongeveer 1 uur tot die mengsel vol borreltjies bo-op is. Jy het nou so meel paperysel vol borreltjies. Moenie oorhaastig wees nie, hoe meer die spons rys hoe beter gaan jou beskuit rys.

Intussen, gooi die anys, semels (as jy dit gaan gebruik) en die sout in die res van die meel. Klits dit goed deur met 'n "whisk". Dis 'n belangrike stap die om die meel los en lig en vol lug te kry. Dit maak die finale meng net makliker.

Die deeg:
Sodra jy tevrede is met jou spons, voeg dit nou by die meel en begin meng. Spoedig sal die deeg begin vorm. Ek doen die werk in my Kenwood en knie die deeg vir 7 tot 8 minute. Die deeg moet baie elasties wees.

Smeer 'n groot genoeg bak met olie en plaas die deegbal in die bak. Bedek met plastiek en steek een klein gaaitjie in. Laat nou weer rys to ten minste dubbel die grootte.

Verhit jou oond nou to 180C. Smeer 3-4 middelslag-broodpanne met botter of olie.

Die Beskuit:
Knie die deeg af. Knyp nou gholfbal-grootte bolletjies deeg af (ek weeg die balletjies - so tussen 40 en 44gram) en pak dit styf teen mekaar in die panne. As jy jou hande met varkvet, botter of margerine smeer, werk dit goed en dit laat die beskuite ook makliker uitmekaar breek as dit gaar is) Bedek die panne weer losweg en laat rys die deeg vir sowat 15-20 minute. Dit moet tenminste dubbel uitrys.

Sit in die oond, draai dadelik die temperatuur af tot 160 °C en bak die beskuit tot goudbruin en deurgaar. Wees versigtig, die kondensmelk laat die beskuit maklik te donker verkleur, so moenie jou oond te warm stel nie.

Keer uit die panne uit, laat effens afkoel, en breek dan die beskuite versigtig los van mekaar af.

Pak op bakplate en droog uit teen 70 °C of in die lou-oond.

Laat afkoel tot by kamertemperatuur en bêre in lugdigte houers.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.