Maandag 16 Mei 2016

Brood - Mieliebrood met houding

Mieliebrood is iets wat vir my baie lekker is, maar dis selde dat ek self dit kry dat dit lekker is. Die outydse een wat met baie gerasperde vars groenmielies gemaak word is die koning van mielie brood maar waar kry mens deesdae vars groenmielies.

Vars Mieliebrood
Daar is baie resepte wat die rondte doen en elkeen het sy eie ietsie wat hom besonders maak. Ek het al soveel keer mismoedige broodjies gemaak dat ek opgehou het om dit te maak.

Vrydag is ek in die dorp en een van die smouse op die straat kant offer groenmieles. My "common sense" het my gewaarsku dat Meimaand darem bietjie laat in die jaar is maar die ewige optimus in my het my maar laat koop.

Wel soos te wagte, die mielies is feitlik smaakloos. Wat nou ... mieliebrood dink ek en pak die mielies in die yskas vir later se gebruik.

Toe delf ek deur my resepte en sit en skommel die klomp so bietjie deurmekaar. Eerstens het mens meel nodig en ook 'n bindmiddel met iets wat die brood sal laat rys. Die is eintlik in sy wese maar net 'n "oversized" skon dink ek en begin notas maak.

Bestandele:

*** 1 Koppie = 250ml

1x Koppie Mieliemeel - die soort waarmee jy pap maak.
(Ek het GWK se Braaipap gebruik. - 50:50 Geel meel en Bitter Grof)
1x Koppie Koekmeel
(Ek het Eureka ongebleikte meel gebruik.)
3t Bakpoeier - 15ml
1/2 t Sout
1/2 t Suiker
3 Eiers
30 gr Varkvet - Jy kan meer insit, dis nie belangrik nie. Ek het 2 E lepels geskep. Botter of Margerine sal ook werk.
1x Koppie melk ... verkieslik volroom.
1x Blikkie heelpit mielies - 410gr
(Ek het die klomp groenmielies gaar gemaak en van die stronk afgesny. Ek het die resep verdubbel en het blik mielies bygesit om die gewig te maak. Moenie teveel "stress" oor die hoeveelheid nie, hoe meer mielies, hoe meer vreugde.)


Moenie die panne te vol maak nie
Metode:

Maak jou oond warm ... 180C.

1. Gooi die meel, bakpoeier, sout en suiker in jou mengbak en klits dit goed met a "whisk". Hoe meer jy dit klits hoe meer lug sit jy in die meelmengsel.

Mooi gerys en mooi kleur
2. Dreineer jou blikkie mielies en gooi in 'n mengbakkie. Smelt die vet of botter en roer dit in die mielies in. Nou moet jy maar avontuurlustig wees en die mielies bietjie opkikker met jou geliefde speserye. Ek het Cyan Pepper, Paprika, Robertsons Steak en Chops en Robertsons Spice for rice gegooi en goed gemeng. Toe so paar draaie growwe sout en gemeng. Nou moet jy maar proe ... jy wil die mielies regtig houding gee anders gaan jou broodjie maar vaal proe. Jy moet regtig nie bang wees om bietjie waaghalsig met die geurmiddels te wees nie. Mieliebrood kan baie maklik vaal en oninteressant proe ... dis maar die aard van mielies.
Mooi tekstuur

3. Klits die eiers goed en voeg die melk by. Klits weer en gooi die mengsel oor die mielies. Roer goed.

Baie lekker
Maak nou jou pan of panne reg, smeer goed. Hierdie mengsel kan ook in muffin panne gebak word. Ek het die halwe brood grootte panne gebruik ... dis genoeg deeg om in a gewone broodpan te bak. Moenie meer as so halfpad in die pan gooi nie sodat die brood kan rys sonder om uit die pan uit te klim.

4. Meng die nat mengsel weer mooi en gooi dit by die meel. Roer goed deur met a staal lepel. Die is slap deeg. Jy moet nou vinnig werk en die mengsel in die panne in kry en in die oond in. Jou rys agent is bakpoeier en dit werk maar soos Enos ... sodra dit vog kry begin dit reageer en as jy draai dan verloor jy van jou rys potensiaal.

In die oond in ... as jy a "fan assisted" oond het kan jy die temperatuur nou afdraai na 160C toe. Jy wil die broodjie stadig laat bak, amper soos 'n wortelkoek.

In my oond het ek op 40 minute getoets en toe nog 5 minute gegee.

Keer uit op a draadrak en laat behoorlik afkoel voor jy sny. Die brood is bros en kan maklik breek as jy nie versigtig sny nie.

Vir my is die 'n baie lekker mieliebrood.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.