Maandag 16 Mei 2016

Koekedoor - Terte inspireer my

Nouja, Koekedoor is nou mooi aan die gang en van die oudstryders het in die stof gebyt. Ek het nogal gedink die drie gaan die pyp nie rook nie. Die pas is net eenvoudig te moordadig vir die meer senior koekmakers ... niks te doen met hulle vaardigheid nie ... net doodgewone hoë druk en stamina.

Sitrus Yskastert
Die wat my ken weet ek is nie 'n tierlantyntjie koker nie, nee, ek doen die basiese dinge en ek doen dit so goed en met soveel smaak as moontlik. Wat ook waar is, is dat ek altyd in Koekedoor soek na iets wat ek kan aanpak.

Donderdagaand pak hulle hulle toe goed aan wat ek verstaan en kan maak. Mari-Louise se twee terte vang my verbeelding vas en veral die Lemoentert. Daai pragtige lemoen skywe roep my soos 'n hans lam.

Saterdag middag besluit ek om die  ding aan te pak en begin met die lemoene. Ek wil soet lemoenkonfyt maak en het nog altyd teruggedeins vir die proses. Nou het ek nie 'n keuse nie, ek soek daai tert en om hom te kry moet ek lemoenkonfyt hê.

Laat Saterdagnag is die konfyt gebottel en 'n lekker bottel ekstra stroop is in die yskas.

Sondag pak ek die tert aan ... ek gaan hom nie bak nie maar as 'n yskastert doen. Ek gebruik een van Nina Timm se yskasterte as riglyn en bou die een. Lekker goeie koppie vol van die lemoenstroop in die beslag en daar gaan ek.

Laataand sit ek weer en kyk Koekedoor en besef ek moet nou daai dun lemoenskyfies maak wat op die tert gebruik word ... my konfyt gaan bietjie lomp lyk dink ek. So spook ek agter die pan vir omtrent 'n uur en toe gaan slaap ek.

Vanoggend vroeg vat ek 'n blaaskansie en rond die tert af. Goeiste maar hy is lekker.

Vir my lyk hy mooi, onthou ek is nie fyngebak man nie ... ek braai groot stukke vleis en bak menere van brode.

Dankie Koekedoor ... julle inspireer my.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.