Vrydag 20 Mei 2016

Tert - Man Kos Sitrus Tert

Roomkaas terte is iets wat ek baie geniet maar ek het ook al rillers teëgekom. Een van die grootste pyne van meeste yskasterte is die kors. Die maklikste manier is om eenvoudig net Tennis beskuitjies in die bak te pak en die vulsel oor te giet en daar gaan hy. Vinnig maar regtig verbeeldingloos. Hierdie koekie basis is vir my net so terleurstellend soos om te sien hoe fyn uitgevatte dame die Suidooster trotseer ... sy lyk pragtig en dan gee die wind daai romp so wulpse pluk en daar verstar jou blik ... daai vaal katoen onderbroek was verseker nie wat jy verwag het nie ... wel, dis seker nou nie vir almal so nie, maar vir my is dit baie terleurstellend. So voel ek oor 'n Tennis Biscuit kors.

ManKos Sitrus Tert
Dit nou daar gelaat, oor die jare het ek al vele beskuitjie krummel korse gemaak en die een wil meer terleurstellend wees as die ander een. Een van die grootste probleme vir my is dat die goed vetterig raak en na 'n dag of twee dan is dit 'n papperige, olierige vel wat daar in die yskas rondhang.

Soet Lemoen
Na ek die Lemoen Tert van Marie-Louise gesien het op Koekedoor het ek gaan sit en beplan. Natuurlik moes ek eerstens die Lemoenkonfyt in die hande kry en het besluit om maar my eie konfyt te kook.

Lekker Kors
Volgende was die kors ... ek was nie bekommerd oor die vulsel nie want daar vertrou ek my instinkte. Na baie resepte en videos kom ek tot die slotsom dat 'n goeie beskuitjie krummelkors haalbaar is mits jy bereid is om te fokus en mooi te dink terwyl dit maak.

Die kors wat ek hierdie keer gemaak het, het baie goed gewerk. Ek het gemmerkoekies gebruik vir smaak en tekstuur en Mariebeskuitjies vir die volume en bindkrag. Die kors was lekker stewig, smaakvol en gladnie olierig nie. Die tert is oor 'n periode van 6 dae opgeëet en het goed gebly tot die laaste happie. Na baie vloek en swets dink ek dat ek nou die perfekte koekiekrummelkors gekry het. Nou gaan daai Suidooster vir jou ietsie wys wat jou hart vinniger gaan laat klop.



Hier is my wenke:

1. Roomkaas by kamer temperatuur.
2. Maak die beskuitjie krummels baie mooi fyn.
3. Moenie die botter inmeng met 'n masjien nie.

Hierdie tert is geinspireer deur Mari-Louise en Koekedoor. Van die elemente is gebaseer op a tert wat Nina Timm gepubliseer het - “Lemon Tart”
Vir die kors:
120gr Gemmerkoekies
110gr Marie beskuitjies.
60gr Botter – gesmelt. Moenie getempteer wees en meer botter insit nie. Dit laat jou kors baie maklik vetterig smaak en binne a dag of twee word dit 'n nare pap vetterige vel.
Verwerk die koekies in voedselverwerker tot baie fyn krummels.
Keer uit in bakkie en werk die botter deur met 'n staal lepel. Moenie die voedselverwerker gebruik hiervoor nie want dit kan jou kors baie maklik in vetterige kluitjie verander.
Druk die krummels nou mooi styf in jou 23cm tert pan en sit in die vrieskas terwyl jy die vulsel maak.

Tert Vulsel:
200ml kookwater
1x blikkie kondensmelk
30 tot 60ml ssurlemoensap (3 tot 4 Eetlepels)
230gr Roomkaas by kamer temperatuur.
1x pakkie lemoen of suurlemoen jellie poeier.
60ml Lemoen stroop. Hierdie is bloot vir smaak en jy kan dit vervang met Lemoen Bloeisel heuning. Ek het die stroop gebruik wat ek gemaak het vir my Soet Lemoen Konfyt.

Ek het 'n handmenger gebruik.
Maak die Jelliepoeier aan met die kookwater en laat afkoel.
Sit die roomkaas in jou mengbak en gooi die kondensmelk, suurlemoensap en Lemoenstroop oor die roomkaas.
Meng die bestandele nou baie goed saam tot lekker glad. Gooi die jellie mengsel by en meng vinnig.
Giet die mengsel nou oor jou tertkors en plaas in die yskas. Hy behoort binne 30 minute gestol te wees.
Versier nou met Lemoen stukke, “zest” en lemoenstroop.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.