Sondag 14 Januarie 2018

Wors - Nooit te oud om te leer nie

Ek het al 'n paar ManKos stories geskryf oor die braai van so paar snitte vleis ... vandag gaan ek oor wors praat. Boerewors is so eie aan Suid Afrikaners soos Olyfolie aan Italianers en bier aan Duitsers ... feitlik elkeen van ons weet presies wat Boerewors is. Meer belangrik, omtrent elkeen weet volgens hom, presies hoe mens wors moet gaar maak.

Lekker gebraaide wors
Die mees algemene idee is dat mens wors nie op te warm hitte moet sit nie want dan bars die vel. So tradisioneel word die wors altyd laaste op die vuur gesit waneer die kole al aan die afgaan is. Nou hier op die vuur is dan ook die plek waar die Braaimeesters hulle passies regtig uithaal en jy sien dinge wat jou of met afgryse vul of met verbystering na die manewales laat staan en kyk. Hierdie fiasco duur enigeiets van 15 minute tot 45 minute ... onthou daai vuur is aan die vrek en wors word basies gekook. Dan is daar nog die meesters wat die wors vol gate steek kwansuis om te keer dat die derm bars en jy staar met groot oƫ na die strale sappigheid wat op die reeds vrekkende vuur val.

Die resultate is altyd min of meer dieselfde ... 'n wurgdroog stukkie derm met vleis binne in, of so vaal gekookte derm met vleis in.

Maak die wors goed droog
Ek moet erken dat ek myself ook skuldig gemaak het aan baie van die bogenoemde praktyke.

So paar dae gelede kom ek op 'n video af wat deur Frans Blaauw van Namibiƫ gemaak is. In hierdie video draai hy elke idee wat ek oor wors gehad het, behoorlik op sy kop. Die video is op my ManKos Facebook bladsy.

Frans maak die volgende stellings ...

1. Worsvel bars nie van die hitte nie maar van die sous wat in die wors gesit word. So chakalaka en sosatie wors sal geneig wees om te bars want die speserye en sous verswak die vel.

2. Swak derms is ook die rede dat die vel sal bars op die vuur.

3. As die wors self nat is kan die vel ook bars op die vuur.

Frans laat sy wors eers winddroog raak voor hy dit in die rooster toeknip.

Lekker warm vuur
Laastens sit hy die wors direk in die kole neer, so warm as moontlik. So twee tot 3 minute op 'n kant en dan af.

Ek sit so rukkie en dink oor wat ek in die video gesien het en stap kombuis toe. Ek haal 'n pakkie wors uit die vrieskas en sit dit op "Defrost" in die mikrogolf oond. Terwyl die proses aan die loop is gaan haal ek my toeknip roostertjie en maak die ding skoon.

Die wors is nou reg en ek skeur die pakkie oop. Natuurlik is die wors nou baie nat en ek besef dat winddroog nie gaan werk in die somer in die Laeveld nie en ek maak die wors mooi droog met handoek papier.

7 minute op die vuur
Ek rol die wors netjies op in die rooster en knip toe. Nou laat staan ek die rooster sommer so in een van die opwasbakke terwyl ek wag dat my braaier warm word. Ek braai al sedert 1986 op gasbraaiers en dit is my gekose manier van braai ... houtvure is vir atmosfeer sover dit my aangaan.

So 10 minute later is die braaier goed warm, nou nie heeltemal so warm soos waneer ek steak braai nie maar baie warmer as wat ek ooit so droom om wors te braai.

Ek sit die rooster op die vuur neer en kyk op my horlosie. Weldrae kan ek sien en hoor dat daar aksie is en ek lig die rooster vinnig op, braaimerke begin wys en ek sit die die rooster weer plat neer. Drie minute later dop ek die rooster om en tot my tevredenheid sien ek die wors is klaar gebraai op die een kant. Ek doen die tweede kant en na 7 minute is die wors op die bord.

Mompelend draai ek die gas toe en stap kombuis toe.

Poppie kyk verbaas na my ... "Is daai wors gaar ?"

"Ons sal maar sien, ek het vanaand Stefaans Blaauw se metode probeer."

Sappige wors op die bord
Wel, ek is hoog in my noppies ... die wors is goed gebraai en nie een enkele bars in die vel nie. Na die eerste poging besef ek dat ek die braaier nog warmer kan maak en die braaityd met so 2 minute kan sny.

En so gebeur dit dan hierdie ou brak 'n nuwe toetjie leer.

Die volgende oggend maak ek worsrolletjies vir die naweek en die oorskiet wors braai ek in die pan op die stoof. Weereens vat ek Stefaans se paadjie en maak daai pan hel warm. Ek sit die stukkies wors in en die rook trek. So 2 minute en ek draai die wors om ... die vel is reeds goed gebraai en ek glimlag. Vier minute later skep ek die wors stukkies op 'n bord en sit die gas af. Heerlik gebraai en sappig met weinig sous of vet in die pan ... alles het in die wors gebly.

Nouja ... probeer die manier gerus en dalk vind jy uit dat jy jou hele lewe lank wors verkeerd gebraai het ... in my huis gaan daar verseker baie meer wors op die tafel beland.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.