Maandag 12 Februarie 2018

Bees - Beesstert bly darem lekker

Daar is baie mense wat sommer dadelik aan die ril gaan as jy net die woord afval noem en daar is ook baie mense wat gladnie beesstert koop nie ... maar ek het ook al gesien hoe dieselfde mense gretiglik skep as daar 'n beesstert potjie iewers gemaak word.

So tydjie terug het Foodlovers Market 'n spesiale aanbod op Beesstert - 69.00 / kg. Na twee mislukte besoeke kry ek toe op die laaste dag darem 'n kans.

Ek sien op die pak dat die vleis kom van Argentiniƫ af ... en terwyl ek die pakkie se etiket lees verdwyn omtrent 70% van die pakkies uit die yskas in trollies in. Een man langs my laai twee trollies vol.

Ons is baie lief vir beesstert maar genade die goed het darem duur geword en ek pak met mening in my mandjie in.

Tradisonele Beesstert
Tuis gekom en ek meng my tradisionele "afspoel" water in 'n mengbak. Poppie staan my en aankyk terwyl ek elke pakkie mooi afvee met 'n vadoek wat ek in die bakkie water nat maak. Water, bietjie Jik en so blerts suurlemoensap. Ek gee nie om oor wat sy dink nie maar dis hoe my ma my geleer het en ek is nogal gatvas oor kieme in my kos.

Twee stapeltjies van vier en een weeskind. Ek pak die agt pakkies in die vrieskas en glimlag ... vir die afsienbare toekoms hoef ek nie weer te knor oor duur beesstert nie.

Die weeskind gaan yskas toe ... dit gaan Sondag se ete word.

Sondag so by die middel van die dag is dit tyd vir ek en die beesstert. Ek trek 'n lekker ysterpan nader en maak vuur onder hom. Mense berei beesstert op basies twee maniere voor ... Vaal Stert waar die stert in 'n pot gegooi word en saam allerhande dinge gekook word tot hy sag is of ... jy braai die stert stukke in 'n lekker warm pan of pot dat dit sulke mooi bruin korsies maak. Vandag doen ek die braai eers en kook later ding.

Ek braai so paar stukke op 'n slag tot mooi goudbrun en toe plaas ek dit in my stoompot. Grof gekapte uie en wortels en drie medium aartappels so met skil en al. Ek kook altyd die aartappels so in die stoompot as ek 'n bredie gaan maak want daai stoomgekookte aartappel help om die sous te verdik want dit val uitmekaar in die finale stadium. Twee hooggehoopte lepels van Ina Paarman se Vegetable Stock poeier en grofgemaalde peper. Nou gooi ek so twee koppies water in.

Dan laat ek tegnologie maar sy ding doen, ek gebruik 'n AEG Elektriese stoompot ... daai goed wat op die stoof moet staan vervul my met angs en vrees. As jy nie 'n drukkoker het nie kan jy die aanvanklike proses in 'n oondbak doen met 'n deksel en dit vir 3 ure op 140C laat bak.

Natuurlik kan jy die hele proses ook in 'n potjie op die vuur doen.

50 minute later slaan die pot oor na "WARMING" toe en ek laat dit maar staan. Dis skrams na 14h00 en nog te vroeg vir aandete.

Teen 16h00 begin ek met die afronding ... ek bou 'n lekker basis vir 'n goeie sous in 'n ysterpot ... braai uie in varkvet, voeg gemaalde peper en "roasted masala" by en toe koekmeel om 'n lekker pasta te vorm. Ek gooi die aftreksel af  uit die stoompot en gooi dit oor die sousbasis. Roer verwoed met 'n sterk metaallepel en maak seker ek skraap elke stukkie aanpaksel van die pot bodem af los. Weldra kalmeer die woeste kokery en ek sien hoe die sous verdik. Ek pak nou alles uit die stoompot uit in die sous in behalwe die aartappels en wortels ... hulle is goed gaar en ek hou dit eenkant in 'n bakkie ... dit sal later teruggaan in die pot in net om op te warm.

Biscuits and Gravy
Tot dusver het ek nog aan niks geproe nie want die kanse is goed dat dit maar goor gaan proe want niks is nog gebalanseer nie. Nou is die tyd vir jou om bietjie meer smaak in die pot te gooi en jy kan enige bottel sousies, stropies en poeiertjies by gooi om jou smaak te pas.

Ek laat die pot op 'n baie lae vlam prut en roer elke 15 minute met die metaallepel. Soos die tyd aanstap begin daai bredie nou houding kry. Na 45 minute is dit tyd om nou die finale afronding van die smake te doen.

Eerste wil ek die suur smaak regkry en gooi a goeie blerts suurlemoensap in die pot ... jy kan asyn ook gebruik. Proe ... as jy die suur goed kan proe is dit Soet se beurt.

Nou die soet kan jy doen met suiker of heuning of konfyt ... sit bietjies vir bietjies by totdat jy net die soet kan begin proe maar die suur moet ook daar wees. Moenie nou sout insit nie, dit gaan jy heel op die einde doen.

Dik beesstert sop
Ek gooi nou gekerfde groenboontjies in die pot en sit ook die wortelstukke in. Laastens sny ek die aartappel in wedges en plaas in die bredie. Roer versigtig want jy wil nie die groentes teveel opbreek nie.

Laat prut nou vir nog 15 minute en dan toets jy vir sout ... kry dit reg en as die sous bietjie dunnerig is kan jy dit nou verdik met met mielieblom, Maizina.

En dit is dit vir die beesstert. Ek maak nie stysel by nie maar dis jou keuse. Ek bedien die bredie in diep borde saam met vars Brood om daai sous op te slurp.

Aartappel Skywe
In my huis het ek en Poppie van die groter stukke geskep Sondag aand en die res is yskas toe.

Maandag aand het ek skons gebak en ons het die oorskiet op die Amerikaanse Biscuits en Gravy manier voorgesit.

Die oorskiet is weer yskas toe, nou was al die groter stukke weg en die bak het slegs lekker sous met beesstert flenters in gehad.

Dinsdagaand het ek aartappel skywe gemaak ... die Amerikaners noem dit Potatoe Planks. In die oond gebak in varkvet, jy kan olie gebruik, totdat dit sulke "oversized crispy chips" was. Ons het dit geƫet saam met die laaste sous wat nou maar net 'n dik sop was.

En so trek daai R109.00 se pakkie beessstert ons deur 3 maaltye.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.