Maandag 09 Julie 2018

Potjiekos - Loggers Pub and Grill

Saterdagoggend 7 Julie 2018 skrik ek wakker ... jip, skrik is die regte woord. Dis 05h15 en nog nag. Vir my is dit 'n ongoddelike tyd om op te staan en ek kreun terwyl ek myself sit maak op die kant van die bed. Ons het baie voorbereiding gedoen vir die kompetisie in Sabie maar ek voel hondsleg. Dinsdag teen sononder het my neus begin brand en spoedig het ek geweet dat sulke tyd is ... grieptyd en die moerigheid begin prut in my. Tenspyte van medikasie en wat nog voel ek maar kakkerig vanoggend.

Tafel is gedek
Met 'n ernstige snuif kies ek koers badkamer toe. Vyftien minute later staan ek in die kombuis en staar deur die venster terwyl ek wag dat die ketel moet kook. Dis nog donker buite so ek weet nie hoe die weer lyk nie maar die termometer dui aan dat dit 'n skamele 7C in die tuin is. Nou vir die res van die land is dit warm maar vir ons Laevelders is dit koud.

Jedske en Wiehann en die Kaiingpot
Vanoggend het die koffie nie regtig 'n uitwerking op my nie en ek mompel aanhoudend terwyl ek vir die laaste keer deur my kontrolelysie gaan.

Net na 06h30 daag Wiehann en Jedske op en ons laai die bakkie. Dis nou darem al mooi lig en ek kan sien daar is dik wolke in die suidweste. Die twee jonges is baie opgewonde oor die dag se uitdaging en ek is maar stil en stemmig. In my kop maal die resepte en die tydsberekeninge en ek kyk in die pad sonder om regtig iets te sien.

Net na 07h30 draai ons in die parkeerterrein in by Loggers Pub en Grill ... daar staan alreeds so paar gazebos en ons soek vir ons 'n gepaste staanplekkie. Dis bewolk en koel maar gelukkig geen noemenswaardige wind nie.

Johan en Zaan en die Broodpot
Soos 'n goed geoliede masjien spring ons aan die werk en voor agtuur staan ons gazebo, is die braaiers opgestel en die tafels gedek.

Wiehann is in beheer van die kaiingpot en hy moet so spoedig as moontlik aan die gang kom. Sy pot doen ook die Varkvel Krakers en die Vetkoekies. Hy moet ook die Buffalo Bacon Bits afrond in die varkvet.

Johan is in beheer van broodbakkery en Zaan staan hom by. Hy gaan 'n besige dag met die broodpot hê en weinig kans kry om te ontspan.

Ek doen die hoofpot, Gemmer Varkpens en Jedske staan my by. Zaan en Jedske help ook met die tafel vir die beoordeelaars.

My spanmaats
Elke lid van die span het sy spesifieke take en verantwoordelikhede en almal weet presies wat van hom of haar verwag word. Ons het vrede gemaak met die feit dat die ManKos span nie sommer die prys vir die beste GEES sal wen nie want ons is heeltemal te besig om te kook ... en dis ook reg so vir ons almal ... vir ons gaan alles oor die finale opdiening. Dit moet net die beste wees ... niks minder nie.

Beoordeling
By die middel van die dag prut die potte mooi en die kaiingbak en broodmandjie begin vol raak. Ek voel steeds maar olik maar die dinge loop mooi. Natuurlik befoeter die snotterigheid my smaak vermoë en ek moet sterk staatmaak op my spanmaats om my te lei met die geur van ons disse.

En toe is dit sulke tyd ... 15h15 en die beoordeelaars stap in ons plekkie in. Ons tema vandag is DIE VARK in die Verhaal. Ek lees vir hulle ons Spyskaart Storie en toe staan ons terug en kyk ... reg om vrae te antwoord maar eenkant ... die mense moet tyd kry om te proe, dink en weer te proe. Die algemene opmerkings en die bree glimlagte laat my goed voel. #ManKos span het weereens 'n meesterstuk opgedien.

Teen skemeraand is dit die prysuitdeling en ek is trots om te sê dat die #ManKos Potjiekos Span het hulle goed van hulle taak gekwyt ... Die Wenners van die Loggers Pub en Grill 2018 Potjiekos Kompetisie.

Dankie aan die organiseerders, die beoordeelaars en 'n groot dankie aan my spanmaats ... welgedaan manne en meisies ... julle is tops.

Spesiale dank aan #ManKos se Borge ...

1. ESKORT Butchery Mbombela
2. Corporate Collect
3. Tripwired Clothing
4. ACS Security


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.