Maandag 23 Julie 2018

Skons - Ouma se skons

Die van julle wat my ken weet sekerlik dat ek baie lief is vir skons. Oor die algemeen is ek redelik verdraagsaam met mense se gebakte goeters en sal nie sommer my bek rek nie ... wel, tensy dit regtig 'n patetiese flop is. Maar ... en dis 'n groot MAAR ... as dit by skons kom is ek vol draadwerk.

ManKos se Ouma se Skons
Die oorgrote meerderheid van die hedendaagse aanbiedinge is meer 'n "biscuit" as 'n skon en ek kan dit nie regtig verdra nie. Skons is in wese so eenvoudige ding om te bak maar so min mense doen die moeite om dit ordentlik te doen.

My ouma Hester se skons is die meetsnoer wat ek toepas en enige poging wat nie by haar standaard kan uitkom nie, is in my oë 'n flop.

Vir bykans 4 jaar het ek gesoek, gebak, geproe en dan maar weer gaan soek vir die geheim van haar skons. My ouma is dood en my ma is dood en ek kannie vra wat die geheim was nie. My familie kan onthou maar niemand weet nie. So is dit dat ek begin dink het dat die skons van Ouma Hester vir ewig verlore is vir my.

En toe so paar weke terug kom ek op 'n resep af ... sommer met die eerste oogopslag het die ding vir my reg gelyk. Laatnag en ek is in die kombuis. Meet en weeg, vryf en meng en bak. 40 minute later lê hulle op die draadrak ... lyk goed ... mooi gerys, mooi tekstuur en heerlike reuk.

Mooi tekstuur
Die eerste toets ... kan jy hom oopbreek dat hy perfek middeldeur breek sonder om 'n mes te gebruik ... wel, ek vat enetjie mooi vas en breek die kop af ... met genoegdoening sien ek hoe hy perfek uitmekaar skeur ... ja skeur. niks van 'n brekery nie. Wel dis een hekkie deur.

Volgende staar ek na die tekstuur ... lyk goed, gladnie koekerig of krummelrig nie. Dis die tweede toets.

Nou mond toe ... dit moenie droog wees nie ... en die een is reg.

Ek kou tydsaam en probeer elke dingetjie raak proe. Die een is goed, die beste van almal wat ek al gedoen het. Met genoegdoening vat ek nog 'n hap en kou terwyl ek vir my koffie maak. Die finale toets is natuurlik nog aan die kom want dis waar feitlik alles wat as skons aangebied word die kol heeltemal mis vir my. Daardie simpel bliksmaak wat die goed in jou mond agterlaat ... en ons almal blameer maar die bakpoeier vir dit ... en ek glo werklik dis dit.

Geen bliksmaak nie ... en ek glimlag breed terwyl ek nog een pleister met botter en so blerts Marmite.

Die een is goed maar hy is nie my ouma se skons nie en ek sak agter my rekenaar in. Hier het ek nou 'n ordentlike basis en dit gaan nou geduld en baie toets vat om by ouma se skons uit te kom. Vir die volgende drie weke werk ek aan die resep en vandag het ek die sesde variasie gebak. Nommer vyf was gister gedoen en hy was baie naby ... vanoggend het ek die finale verstelling gemaak en gebak ... en voorwaar ... ek staan in my ouma se kombuis en sien en proe weer haar skons. Presies soos haar skons, seker nie, maar so naby as wat ek daar aan kan kom.

Ai hoe wens ek dat ek vanoggend vir my ma een of twee kon gee saam met 'n koppie tee.

Nouja ... ek gaan nou die resep met julle deel en anders as gewoonlik gaan ek geen alternatiewe aanbied nie ... maak presies soos die resep of los dit uit.

Varkvet in die meel
BESTANDELE:
275g Koekmeel ... ek gebruik Millstone se koekmeel.
1 tsp Koeksoda ... en moenie Bakpoeier gebruik nie.
1 tsp Kremetart
1 tsp Strooi suiker
½ tsp Sout
60g Varkvet ... ek koop myne by ESKORT se winkel.
150gr Dubbelroom Yogurt.
Reg vir die drukker
1 Groot eier
+Eggwash.
METODE
1. Oond op 220°C en smeer 'n bakplaat. Ek gebruik sommer die sproei.
2. Klits die meel, sout, koeksoda, strooisuiker en kremetart goed met 'n whisk. Gebruik 'n groot mengbak.
3. Sit die varkvet in die meel. Ek druk dit so plat as moontlik bo-op die meel voordat ek dit met my vingerpunte begin opbreek in die meel.
Mooi Baksel
4. Klits die eier en yogurt saam en gooi in by die meel mengsel. Nou gebruik ek 'n kombuismes om die meel en yogurt saam te laat meng. Doen dit die heeltyd met sny bewegings. Jy moenie die mengery met jou hande doen nie want dan gaan jy die meelmengsel oorwerk en brood begin maak. Hou aan met die sny bewegings todat alles mooi gemeng is. Druk die deeg nou liggies bymekaar om 'n bal te vorm.
Heerlik met konfyt en room
5. Strooi jou werksblad liggies met meel en druk die deeg ligges plat met jou hande in 'n ovaal van omtrent 25mm dik (so om en by vingerdikte) As jy a 60mm drukker gebruik behoort jy so 6 mooies uit te kry. Maak die oorskiet bymekaar en druk saggies weer in 'n plat sirkel ... onthou, ek noem die weeskinders, hulle gaan nie meer soos die eerstes wees nie. Na die drukkery druk ek die oorskiet sommer in so langwerpige vryhand vorm. Die is belangrik want elke keer as jy die deeg bymekaar maak word die skon minder skon en meer "biscuit".
6. Pak hulle redelik naby aan mekaar op die bakplaat. Ek verf myne met geklitsde eier. Wees versigtig dat jy slegs die koppe verf. As die eier langs die skon afloop gaan hy nie mooi uitrys nie want die eier word vinnig hard en hou die skon vas. Ek hou daarvan om een of ander braaispesey mengel oor te strooi.
Bak nou vir 12 minute in die 220C oond met die rak in die middel.
Haal uit en plaas op a draad rakkie dat dit effe afkoel voor jy wegval.

Daar is hy ... maak dit en kom vertel my wat jy dink.

PS ... As jy meer wil maak, verdubbel maar die resep.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.