Saterdag 04 Augustus 2018

Eetplek - Turn and Tender Nelspruit

Seker so twee jaar terug het ek die eerste keer by Turn and Tender gaan eet en dit was vir my gladnie 'n goeie ervaring nie. Ek het die skaapchops, 80gr bestel en ai tog, dit was dun doodgebraai en droog.

Turn and Tender - Crossings Nelspruit
Ek het die bestuur op Facebook gekontak en hy het my verseker dit was 'n glipsie. So kom dit toe dat ek so twee weke later weer daar aansit.

Hierdie keer bestel ek ek 'n Burger. Hulle menu vertel groot stories oor die burger en my gevoel is dat dit nie baie moeilik is om 'n goeie burger te maak nie. Ai tog ... weereens 'n terleurstelling. Die patty was suur en het al die tekens getoon van 'n patty wat te lank in die yskas rond gehang het. Sonder enige kommentaar is ek daar weg en besluit dat ek klaar is met die plek.

Biltong Carpaccio
So maand gelede besluit ek dat ons maar weer die Turn en Tender moet besoek. My gedagte is dat as die plek so lank oop bly moet daar iets in hulle kos steek.

Biltong en Chedder Focaccia
Die betrokke aand breek ek een van my goue reëls en bestel Steak. Ek beskou myself as 'n baie goeie Steak braaier en ek verouder my eie vleis vir enige iets van 30 to 120 dae. So my vrou weet goed dat ek basies geen eetplek vertrou met steak nie en om almal se aand te beskerm bestel ek dit nie by eetplekke nie.

Die steak kom by die tafel aan en onmiddelik merk ek dat daar bykans geen vet aan die vleis is nie. Alhoewel ek die Rump stert stuk bestel het en vir seker nie die "maer" opsie gevra het nie. Ek wil knor maar een kyk na Poppie en ek besluit om nie haar aand te bederf nie. Die steak was wel geurig en sag en redelik goed gaar, effens gaarder as wat ek verkies maar heeltemal aanvaarbaar.
Piri Piri Calamari

Toe ons in die kar klim reken ek ... Ok, ek het nou weer besef ek moenie steak by eetplekke bestel nie.

Heimlik besluit ek toe ek moet daardie menu deursoek ... iewers is daar sekerlik geregte wat maak dat mense na die plek toe bly terugkom.

Steak en Calamari Combo
So vir die volgende vier weke eet ons elke Vrydagaand daar en ek soek en soek. Poppie steek vas op die calamari en ek moet sê dit lyk smaaklik en die kere wat ek by haar geproe het was ek gladnie terleurgesteld nie. Maar nouja, die wat my ken weet ek skryf net oor die disse wat ek self geëet het.

Na die steak terleurstelling eet ek hulle Hoender Schnitzel en dit was heerlik. Goed gebraai en nie droog nie.

Crry Prawns
Die volgende week bestel ek drie voorgeregte ... Biltong Carpaccio, Kaas en biltong Focaccia en Calamri in Piri Piri. Dit was 'n heerlik maal, effens te veel vir my maar heerlik.

Gisteraand besluit ek toe om bietjie terug te sny en vat weer die Biltong Carpaccio en Kerrie Prawns. Weereens 'n heerlike ete vir my. Die prawns was "overcooked" maar die die Kerrie Sous het beslis baie smaak en geur. Vir my was die sous egter bietjie te souterig.

Poppie het hulle Steak en Calamari Combo geneem en dit het baie lekker gelyk. Sy eet haar vleis Medium Well en vir my was die tekstuur lekker sag maar te gaar. Dis egter 'n persoonlike smaak ding en die restaurant het nie veel daarmee te doen nie. Wat sy natuurlik baie waardeer is die "maer" opsie.

By die tafel langsaan het die man die Murgbene bestel en ek het om uitgevra oor dit. Dit het baie lekker gelyk en hy was baie in sy noppies met die smaak.

Daar was vir my so effense krapperige oomblik toe een van die bestuur my in die parkeer area uitvra oor my foto nemery van die eetplek. Die hele gesprek is nie belangrik nie maar ek het my nogal vervies, ek neem al vir jare STREET FOTOS en ek het maar net gewonder waar kom die besware vandaan. Maar nouja ... ek gaan maar my gang met kamera in die strate en steur my feitlik nooit aan die soort optredes nie. Ek wou meer atmosfeer fotos vir die storie geneem het maar het maar net weggeloop. Nie my verlies nie.

Ten slotte ... die atmosfeer is goed en die algemene geluide in die eetplek laat jou gemaklik voel en dis duidelik die gaste geniet hulle kos. Turn en Tender sal my sekerlik meer gereeld daar sien en ek is nuuskierig om hulle spyskaart verder te ondersoek.

Pryse is heel billik en ek is veral beindruk met die geur gehalte in die kos. Die diens is flink sonder dat die die kelners jou steur. Eendag sal ek maa rmy Grootseun Onderbroek aantrek en een van hulle vlagskip Steaks aanvat ... maar daar sal heelwat water in die see moet loop voor ek so waaghalsig raak. :)

Turn and Tender is in die Crossings Kompleks.

Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.