Vrydag 24 Augustus 2018

Vetkoek - Vark lekkerte

Vandag is dit koel en klam in die Laeveld. Daardie tipe koue wat jou kort kort laat mik vir iets om aan te peusel. Augustus is mos ook Vetkoek maand en Amagwinya feeste is volop.

Wel hierdie jaar het ek besluit om ietsie anders te doen. Ek het vetkoek en vark Prego gemaak.

Vetkoek en Prego Steak
Nou voor ek verder gaan ... feitlik almal wat Prego ken, weet dat die goed gewoonlik stinkend van die knoffel is en dit is presies wat my enige dis wat die woord Prego in het, laat vermy soos die pes. Sit daar by dat dit van die minder goeie snitte gemaak word en jy sit met taai en seningrige stukkie vleis wat hop van die knoffel en meer van 'n troosprys is as iets van waarde.

So tydjie gelede het ek 'n verhouding aangeknoop met die plaaslike ESKORT slaghuis in Nelspruit. Hy het aangebied om die #ManKos Potjiekos span te borg. Dit was natuurlik 'n goeie ooreenkoms want ons Potjiekos spyskaart is 100% gebou op vark.

Voeg hier by die feit dat ek 'n groot liefde vir varkvleis het en jy kry nogal interesante disse uit die vark se lyf uit.

Terug by vandag. Ek staan in die kombuis en wonder oor wat ek in my vetkoek wil insit. My oë dwaal deur die yskas en toe onthou ek, Andrè het vir my 'n pakkie van ESKORT se Prego Steaks gegee om te probeer.

ESKORT Prego Steak
Op die oog af is dit duidelik dat die vereiste chillis is aanwesig en dit lyk na 'n goed gegeurde olie in die pakkie. Ek het nou al geleer dat vark nie regtig van baie hoë hitte hou nie en ek smelt so teelepel vark vet in my pan. Toe ek die pakkie oopsny ruik ek dadelik dat daar knoffel in die storie is en ek frons, maar nouja dis die tradisie en ek gaan maar kyk hoe rof is dit regtig.

Daar is vyf mooi stukkies steak in die pakkie en ek hou van dit wat ek sien. Ek braai dit vir so 90 sekondes op die een kant en draai om. Goed gebraai met die regte hoeveelheid korsie wat gevorm het. Nog negentig sekonds en albei kante is mooi gebraai maar ek vermoed dat dit nog rou gaan wees. Halfgaar vark is nie regtig iets wat jy moet eet nie.

Ek haal die steaks uit die pan uit ... daar is nou 'n goeie laag gebraaide sous en chillies besig om vas te brand. Ek gooi so kwart koppie water in die warm pan in en dit begn dadelik borrel. Met 'n lepel skraap ek die pan bodem mooi skoon en pak die steaks terug in die sous in. So een minuut aan elke kant en ek sny die dikste een met 'n mes. Die kleur is reg en ek haal dit uit en laat rus terwyl ek my vetkoek voorberei.

Ek bak my vetkoeke vir die soort ding altyd sodat dit heeltemal hol is. Baie plek vir vulsel met 'n heerlik korsie.

Bietjie botter ... of baie ... skeppie appelkoos konfyt, tuisgemaak, breek die steak in stukkes en pak 'n mooi lagie in die holte. Volgende, dun skyfies tamatie en 'n klompie slaai blare.

En daar is hy ... heerlik ... baie lekkerder as wat ek verwag het en die knoffel is vir my, 'n man wat sensitief is vir koffel, gladnie 'n probleem nie.

Ek kan die pakkie  #ESKORT Prego Steak aanbeveel. Dis goeie waarde vir geld en anders as met baie Prego pakkies, is hierdie vleis heerlik sag en sappig.

Lekker Vetkoek dag vir julle.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.