Vrydag 20 Maart 2020

Groente - Oyster mushrooms verras my

My jarelange kokery het my blootgestel aan baie dinge wat ek nooit voorheen geëet het nie. Vandag is daar min goed wat ek nie regtig ken nie.

100gr Oyster Mushrooms
Vanoggend kontak my buurvrou, Marlene, my en vertel my dat haar eerste Oyster Mushrooms gereed is vir oes. Nou, ek het die goed al in die winkels gesien maar nog nooit gekoop nie. Sonder aarseling bestel ek vyf pakkies van 100gr.

Ons ontmoet by die teerpad en baie opgewonde vertel sy van die mushrooms en ook hoe hulle dit gisteraand gaar gemaak het. Ek is mal oor Marlene, sy het so borrellende bruisende geaardheid en sy gee my sommer energie deur net na haar te kyk en met haar te gesels.

In die pan met botter en speserye
Ek luister aandagtig na haar kook metode en my kop werk oortyd. Met 'n wuif, want ons mag mos nou nie meer aanmekaar raak nie, is ons uitmekaar. Ek het pas 'n baie harde sessie in die gym voltooi en moet iets eet. Ek besluit terstond dat ek die mushrooms dadelik in die pan gaan gooi.

Eers proe ek een net so rou, net om 'n idee te kry waarmee deel ek. Die tekstuur is onmiddelik opvallend en daar is sterk aardse smaak. Die mushrooms is ook nie so sag en bros soos die goedjies wat ons gewoonlik koop nie, nee, die goed moet jy kou. Ek hou van dit.

5 minute later.
Ek besluit om dit so aards as moontlik te hou. So, plaasbotter in a medium warm pannetjie, een pakkie lyk vir my soos een mooi porsie. Ek pak die mushrooms, bokant onder in die warm botter en laat dit doodstil met rus.

Spoedig begin dit duidelik braai en krimp so effe. Nou strooi ek net Robertson's se Chicken Spice oor. Ek wil nie die smaak van die mushrooms bederf of oorweldig met uie, knoffel en speserye nie. Hou dit basies en aards.

Ek draai die mushrooms om, speserye en rou kant is nou in die botter. Laat dit verkleur en roer dit dan so bietjie, af van die stoof af, minder as 5 minute. Wat my eerste opval is dat daar nie so baie vog uitkom soos met die ronde goedjies nie. Die mushrooms verloor ook nie so baie volume nie. Dis natuurlik hoem dit so lekker tekstuur hou.

Heerlik en smaaklik
Wow, wat 'n wonderlike mondgevoel, bykans soos dungesnyde beesvleis. Ek is mal oor dit, die kan maklik 'n vleis vervanger wees in 'n dis. Nou nie dat ek so onsinnigheid sal wil aanvang nie maar dis egter 'n feit.

Ek smeer 'n snytjie roosterbrood met lekker plaasbotter, sit so knartsie van my Hellfire en Brimstone Chili Tamatiekonfyt op en daar gaan die eerste hap. Wat 'n sensasie.

Nou sal Marlene maar moet wikkel want ek gaan baie van die pakkies gebruik.


Vandag kan ek met alle eerlikheid sê dat ek iets nuuts probeer het en dis fantasties. Natuurlik gaan ek meer met dit doen, Roomsouse met groenpeper, met soet risie konfyt, met kaas maar ek het so idee dat die basies resep elke keer die wenner gaan wees. Die is so vinnig en maklik dat jy dit kan maak as jy skielik in die aand die munchies kry, eerder dit as a sny koek of 'n koeksuster.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.