Donderdag 20 Julie 2017

Menu - Padkos

Op die ManKos menu is daar 'n gereg, dis meer as 'n gereg ... dit is 'n plank met siel ... reg vir 'n vinnige aanvulling in 'n besige dag. Dit is nie eintlik 'n voorgereg nie maar 'n lekker klomp goedjies om jou deur 'n besige dag te help ... dis hoekom ek dit PADKOS noem want dis wat dit is.

ManKos se Padkos
Die dis bring herinneringe terug van langpad reise saam met my ouers. Dit was 'n tyd waar reise nog deeglik beplan moes word want paaie was nog nie snelweë nie en karre was nog vol nukke.

Ek onthou hoe my ma so aan my pa se skouer sou vat en sê ...

"Dawie jy moet nou vir ons 'n stopplek kry, die kinders raak honger."

Agter in die kar het ons opgewonde begin help uitkyk vir 'n stopplek en dan op die Hoëveld horison verskyn die teken ... 'n groot ou bloekomboom wat langs die pad staan, eensaam in die grasvlakte en ons weet ... onder daardie boom sal die sement tafeltjie en bankies wees waar ons gaan stop.

Terwyl my pa om die kar loop, die bande bekyk en dan die enjinkap oopmaak om die water en olie na te gaan breek my 'n paar takkies met blare af en stof die sement tafeltjie af. Sy haal die mandjie uit die kar uit en sit hom op een van die bankies neer. Eerste kom die rooi en wit blokkies doekie uit en hy word oor die tafeltjie gesprei. Dis reg, my ma het altyd 'n tafeldoek oor 'n tafel gesprei .... selfs oor die sement tafeltjie langs die pad.

Dan kom die eetgoedjies uit, hardgekookte eiers, frikkadelle, boerewors stukkies en die toebroodjies. Die toebroodjies was lekker dik gesmeer met botter, konfyt en kaas ... ja kaas was 'n luukse maar so reis was mos spesiaal en ma het uitgehaal en gewys.

En so sit ons om daardie tafeltjie, hou hande terwyl my pa die Seën vra en ook vir Liewe Jesus vra om ons te bewaar op die pad ... en dan eet ons die padkos ... verbygaande motoriste blaas toeter en waai ... dit was 'n tyd toe mense nog mensliewend was. Die Thermos fles word oopgemaak en ons kry elkeen so halwe bekertjie koffie ... regte blikbekers want in daardie dae was daar nie goed soos weggooi glasies nie. En dan as ons klaar was, dan het pa die watersak gebring en ma het 'n vatlappie uitgehaal ... natgemaak en die kinders se hande en monde skoongemaak terwyl pa die mandjie pak. En so val ons weer in die pad ... los niks agter nie behalwe ons spore.

Nouja ... dis wat op hierdie ManKos spyskaart te vinde is onder Padkos. Jy is dalk op reis tussen twee afsprake, of op pad terug van 'n kliënt af ... of dalkies moet jy iemand gaan besoek maar dit gaan 'n lang afspraak wees en jy weet jy gaan middagete mis.

Kom sit aan en ons gee vir jou PADKOS ... 'n Paar repies heerlike biefstuk, twee snytjies lekker vars Brood met botter, tuisgemaakte konfyt en geurige kaas. Ons gebruik botter en ons is nie suinig nie. Ja dis twee oop Broodjies want Toebroodjies is iets anders op die ManKos Spyskaart. Jy gaan ook 'n lekker gekookte eier kry wat gerol is in sout en peper mengsel ... daardie lekker bietjie brand net om jou smaak organe wakker te skud voor jy in die heerlikheid insak. En aan die kant ... stomende koffie.

As jy nou nie 'n rooivleis eter is nie kan ons vir jou 'n hoenderboudjie gee of 'n frikkadel ... dis mos ook goed wat in so padkos mandjie ingaan.

Eet sommer met die hand maar as jy fiemies het sal jy op die tafel sien daar is messe en vurke. Eet die broodjies een een of sit die vleis bo-op die kaas en vou hulle toe en maak jou eie toebroodjie. Maar pasop ... dit gaan 'n stewige toebroodjie wees want ManKos is nie fyn en pikant nie. En as jy klaar is sal jy vind ons gee vir jou 'n klam lappie om jou hande mee af te vee ... ons gee eintlik twee, een vir die afvee voor jy begin eet en een vir na die tyd.

En dis ManKos se PADKOS ... dalk ongewoon maar nie regtig volksvreemd nie. Eet dit eenmaal en moenie verbaas wees as jou kar sommer vanself die stilhou plekkie gereeld kom opsoek nie.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 10 Julie 2017

Lewer - Bees is lekker

Baie mense trek hulle neuse op vir afval oor die algemeen en lewer word skeef aangekyk. Ek kan dit verstaan maar ek kan dit nie regtig klein kry nie. Lewer is baie lekker vir my maar daar is darem so bietjie kuns in die voorbereiding. Die grootste fout wat die meeste kokke maak is om die lewer dood te kook ... wel dan eindig jy op met 'n taai, rubberige droeë ding wat jy moet af wurg.

Lewer en soet uie
Ons leef in 'n tyd waar meeste van ons maar die sente moet omdraai en vleis het duur geword. Lewer is oor die algemeen baie bekostigbaar en goeie waarde vir geld.

Onthou ... op die jagveld word die lewer soms sommer net so rou ingesluk en jy hoef dus nie regtig die stuk vleis te kook of braai dat hy soos 'n skoensool uitdraai nie. Wat jy soek is ligpienk sonder vry bloed.

Lewer en veral bees lewer is baie goeie waarde vir geld. Ek koop my bees lewer deesdae by PnP en hulle sny dit in lekker hanteerbare skywe. Ek sny die skyf so bietjie kleiner, omtrent so groot soos my hand want ek het nie so groot pan wat die hele skyf kan hanteer nie.

Ek vra om verskoning vir die gebrek aan fotos, ek het nie regtig gedink ek gaan die resep ooit publiseer nie.

Om lekker lewer op die bord te sit is eintlik verspot maklik mits jy weet hoe om dit te doen.

Eerstens week ek die lewer in melk vir so 30 minute en dit laat die lewer ook min of meer by kamertemperatuur kom. Ek gebruik 'n vierkantige glasbak sodat die stukke mooi plat lë. Moenie die lewer in te klein stukke sny nie want dan gaan jy dit baie maklik te gaar maak.

Volgende gebruik ek 'n plat bak en gooi koemeel daar in. Ek gooi ook braai speserye en kruie soos Robertson's se Mixed Herbs in die meel en meng dit goed. Moenie snoep wees met die meel nie want dan gaan jy sukkel met die bedekking van die lewer. Ek bêre die oorskot meel in 'n bottel in my yskas vir volgende keer.

Kry nou 'n lekker braaipan op die stoof en laat hom warm word. Ek gebruik gietyster panne ... as jy 'n pan met 'n dun bodem gebruik moet jy wakker staan. Jy soek medium hoë hitte, Ek gebruik 'n mengsel van varkvet en klapper olie om in te braai maar jy kan dit gebruik waarmee jy gemaklik voel. Ek sal nie botter gebruik nie want dit brand te maklik. Jy wil 'n goeie lagie olie, so om en by vuurhoutjie dikte in die pan hê ... tipiese vlakbraai.

Ek gaan aanvaar dat jou lewer so om en by 10 tot 15mm dik gesny is ... so min of meer vinger dikte.

Net melk en meel
Lig die lewer uit die melk en plof dit in die meel. Draai so keer of wat om dat die snykante mooi bedek is met meel ... die natuurlike kante sal nie sommer meel vat nie maar dis nie belangrik nie.

Ek sit die stukke op 'n droeë bord om pan toe te vat. Bedek net genoeg stukke vir die pan, jy wil nie dat die stukke lê met die meel aan nie want dan gaan dit nat word en afval as jy dit in die olie sit.

Die olie behoort nou lekker warm te wees ... strooi jou gunsteling braaispeserye in die warm olie ... ek gebruik deesdae Robertson's se Chicken Spice. Jy sal sien die speserye begin skuim ... dis wat jy soek.

Let daarop dat ek gladnie eier gebruik nie ... net die melk en meel.

Wees geduldig dit is die moeite werd
Plaas die stukke versigting in die pan en maak seker jy hoef nie dit rond te skuif nie. Dis baie belangrik dat hy net so doodstil bly lê to die korsie gevorm is. As jy dit te vroeg rondskuif gaan jy die korsies breek en verloor want die lewer stel baie vog vry terwyl dit braai en dit wil die kors afdruk. Nou strooi ek my braaispeserye oor die roukant so in die pan ... en let daarop dat ek geen sout opsit nie. By die omdraai slag gaan die speserye deel vorm van die korsie.

Moenie rondloop nie ... staan by die pan en hou die lewer dop ... dis maar net so 5 of 6 minute. Sodra jy sien die kors het gevorm en dat daar bloederigheid of skuim bo-op die lewer vorm, gebruik 'n spatel en keer die lewer versigtig om ... ek gebruik 'n klein eierspaantjie. Druk die spaan versigtig onder die lewer in en maak seker jy kry die korsie mooi los van die pan voordat jy dit oplig.

Nou op die tweede kant gaan hy so knertsie stadiger braai want die pan is effe koeler maar meer belangrik, die braai het vog opgedruk in die lewer in en dit gaan nou op die warm pan beland. Weereens wees geduldig ... laat die kors vorm en dan is dit moontlik dat daar so effense bloederigheid tussen die reeds gebraaide kors kan deurkom.

Die lewer is nou baie naby aan reg ... flip hom weer om, net vir 30 sekondes en plaas dan in 'n bak met handoekpapier. Laat die gaar lewer net so rus in die bak vir tenminste 5 minute voor jy dit opdien. As jy die lewer sny behoort dit nou so mooi ligpienk te wees met die lekker korsies.

Tradisioneel word lewer bedien met gebraaide uie wat effe soet gemaak is. Ek hou daarvan om suurlemoenstroop in die uie sous in te werk.

Soos met alles, gaan jy beter word hoe meer jy dit doen. Volg my riglyne en jy is op die regte pad na heerlike sagte sappige bees lewer. Gelukkig is dit goedkoop sodat jy kan oefen. Vermy "overcooking" want dis die soort ding wat mense afsit van lewer.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 22 Junie 2017

Koek - Errieda se Hummingbird Koek

So paar dae terug roep 'n vriend my op WhatsApp en hy is baie huilerig. Hy het die moed bymekaar geskraap en die Hummingbird Koek gebak. Groot was sy terleurstelling ... die koek het kluitjierig uitgekom en was gladnie lekker nie. Ek is dadelik nuuskierig want dis nou een koek wat ek al lankal wou gebak het.

Errieda se Hummingbird Koek
Ek vra hom watter resep het hy gebruik en hy gee my die skakel na die resep toe. Ek sien dadelik dis een van Errieda du Toit se resepte en frons. Haar resepte is gewoonlik baie goed en deeglik getoets. Ek het nog nooit 'n flop gehad met enige van haar geregte wat ek gemaak het nie. Met die eerste oogopslag sien ek dadelik 'n paar dinge raak wat jou baie maklik sal laat struikel met die resep.

Laat ek eers verduidelik ... vir my val koeke in twee hoof afdelings ... SPONSKOEKE en VRUGTEKOEKE ... ek weet dis oorvereenvoudig maar dis hoe dit vir my werk. Koeke se sukses word grotendeels bepaal deur hoe jy die beslag meng en dan hoe jy bak, in 'n vlak pan vir 'n rolkoek, in muffin panne vir cupcakes of in groot panne vir 'n gewone koek. Sponskoeke kan al die dinge doen maar vrugtekoeke is werklik nie geskik vir rolkoeke nie tensy jy regtig dapper is en weet wat jy doen.

Eerste ding wat ek opmerk van die Hummingbird koek is dat dit 'n groot beslag is. Tweedens is daar 'n klomp nat vrugte in ... piesangs en pynappel snippers. Hierdie twee goed gaan die beslag swaar en baie nat maak en natuurlik gaan dit die baktyd baie affekteer.

Ek gesels bietjie met my vriend en vind uit wat hy gedoen het en hoe hy die metodes uitgevoer het. Dis vir my gou duidelik dat hy heel waarskynlik die koek nie deurgebak het nie. Ek weet dis 'n ding met vrugtekoeke ... die beslag is swaar en daar is gewoonlik baie suiker in ... as jou oond te warm is gaan die koek buite brand voor hy in die middel gaar is ... die swaar beslag gelei die hitte stadiger na die middel toe en die buite rante begin brand voor die middel regtig warm raak. Errieda se resep stel voor dat jy drie 23cm panne gebruik ... dit het die voordeel dat die beslag nie te dik in die panne lê nie en vinniger bak want die hitte kom goed deur van bo en van onder af. Ek probeer om die beslag so om en by 3cm maksimum diep in die panne te gooi.

Ondervinding het my geleer dat jy maar gerus die temperatuur van jou oond met 10C kan verminder vir vrugtekoeke. Ek bak ook baie selde 'n ronde koek en seker 80% van my koeke bak ek in vierkantige panne wat so 20cm x 20cm groot is. Vierkantige koek is makliker om te verpak en sny ook makliker in porsies in ... maar dis maar net my persoonlike opinie.

Ek laai die resep op my tablet en kies koers kombuis toe. My vrou is nuuskierig toe ek so vroeg oggend begin panne en meel en dinge uitpak. Ek vertel haar die storie en sy lag ...

"En jy dink jy kan dit reg kry ..."

Ek gee haar so skewe kyk ... "Poppie, mense donner koeke gewoonlik op omdat hulle nie fokus as hulle moet bak nie. Koekbak is 'n wetenskap ding en jy beter fokus of jy gaan faal. Jy kannie sommer dinge uitlos of bygooi vir luck nie en jy moet reg meet en weeg."

Mooi uitgemeet en reg gepak
Uit honderde navrae het ek al geleer dat die meeste mense lui raak as hulle 'n koek moet bak wat baie bestandele het en nie konsentreer nie. Ek het 'n goue reël as dit by koek kom ... ek meet en weeg al my bestandele af en pak dit in groepies bymekaar soos die metode voorskryf. Sodoende mis ek nie 'n bestandeel nie en ek sit ook nie iets eerste in wat eintlik laaste moes ingaan nie. Dit klink dalk bietjie omslagtig maar probeer dit gerus volgende keer as jy 'n koek bak.

Soos gewoonlik is ek nie 'n ou wat sommer resepte in my stories gee nie want dit gaan meer oor die metodes as oor die resep ... hier is die skakel na Errieda se Hummingbird Koek. Kliek op die skakel en kry die hele resep daar.

Maak seker jou oond is aan en gaan reg wees as jy klaar gemeng het ... dis baie belangrik dat jy die beslag so vinnig as moontlik in die oond kry nadat die nat en droeë bestandele bymekaar gebring is. Dink maar aan die proses as jy Enos in die glas water ingooi ... dis maar ook wat gebeur in jou beslag ... net baie stadiger.

Klits die eiers en suiker totdat jy gladnie meer suikerkorrels in die beslag kan voel nie ... vat so 8 minute in my Kenwood met die whisk aan. Gooi nou die olie stadig by terwyl die masjen steeds goed op spoed is. Hierdie is 'n belangrike stap in enige koekbak proses. As jy hier lui is en kortpad vat gaan jy sekerlik nie 'n lekker koek kry nie want daai suikerkorrels gaan jou beslag beneuk in die oond.

Errieda noem in die kommentare dat sy 'n opgehoopte koppie pynappel snippers gebruik en dan bietjie van die sap ekstra in gooi. Dis goeie raad want die beslag was effens stram ... nou die grootte van die eiers wat jy gebruik gaan ook hier 'n rol speel. Nadat ek die meel ingevoeg het was dit duidelik dat die beslag moontlik baie stram gaan wees en ek meng die pynappel en piesangs in met 'n groot metaallepel. Dis nou die tyd om die beslag te beoordeel en te besluit of jy nog so bietjie vog nodig het. Ek het so 4 eetlepels sap bygegooi om die beslag lekker glad te kry.

Mooi gebak
Die volgende stap was die verdeling tussen twee panne, korrek ... ek het net twee vierkantige panne gebruik. Ek is nogal vol draadwerk as dit by hierdie stap kom en ek weeg die panne soos ek die beslag in skep. Ek soek hulle byna dieselfde gewig ... dis baie belangrik om dit so te doen want anders bak die twee koeke nie eweredig nie. Ek weet gesoute bakkers eyeball sommer die verdeling so maar ek doen dit nie ... ek weeg en maak seker.

Nou vir die oond ... my oond is gestel op 180C FAN ASSISTED en ek bak op die middelste rak. Na 10 Minute draai ek die oond af na 160C toe. Op 20 Minute toets ek met die toetspen en die pen kom nog nat uit in die middel. Nog 7 minute en toe is die pen skoon. Die koek begin nou ook effens wegtrek van die panne se rante af.

Na 30 minute keer ek die koeke uit en hulle voel perfek.

Heerlik ... vir seker 'n wenner.
Die koek is heerlik ... klam en geurig ... ek het 'n half teelepel MIXED SPICE ingegooi ipv die Naeltjies en Neutmuskaat wat die resep aandui en ek het die pecans met okkerneute vervang. Ek het so half koppie ekstra neute ingegooi.

Volgende keer as ek hom maak ... en ek sal hom vir seker weer maak ... sal ek 'n Roomkaas en Karamel versiering maak ... pynappel en karamel is mos groot maatjies.

Ek het die fotos met my vriend gedeel en hy het onderneem om weer die koek aan te pak. Vir my was dit 'n lekker projek want ek wou nog altyd graag die Hummingbird koek gebak het. Dit het ook weereens net beaam dat Errieda se resepte werk reg ... mits jy fokus.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Donderdag 15 Junie 2017

Sourdough - You and your oven

When baking bread, especially sourdough, the most important goal is to get a good crust.
Lovely crust
I have tried a lot of the methods, DO, Stone, Stone with Dome, Roasting pan with ice, Roasting pan with water, Roasting pan with Lava Rocks, Loaf pans, perforated pans ... you name it.
 

Some may know yet many wont ... I run an Afrikaans Language FB Page and Blog ... Colyn Kook Man Kos ... loosely translated as Colyn cooks Man Food or Dude Food if you like.
My mission is to encourage men to cook and as such I try and find the easy routes because as a rule men don't want complicated, especially if you are not a natural cooking guy.
After many failures and violent bouts of swearing I have settled on a simple way of getting a decent loaf.


The DO thing is not easy because many do not own a proper DO and then the ever confusing question, DO Hot or DO Cold ... I have done both and the difference is negligible for a home baker.
The roasting pan for the steam is a problem in domestic ovens because it shields the underside of the bread from the bottom element ... if you bake full thermofan then this is not an issue. I prefer to bake FAN ASSISTED.

Small loaf pans for water

The stones requires a long warming up cycle and not everyone has a stone.

On simple sheet pans

So I have settled for two small loaf pans, one on each side of the oven on the shelf set in the lowest setting. Then another wire rack in the middle. Filled the loaf pans with lava rocks.
I shape and form my loaves and bake on a metal sheet pan, the thinner the better. This metal heats up almost immediately on placing it in the oven because it is so thin.


I put 500ml of water divided between the two loaf pans and then spray the inside of the oven till the loaf is wet.


This gives me enough steam to last for around 15 minutes and by that time the loaf is steaming itself if it is a high Hydraditon dough.


I get acceptable results every time and I bake like this almost every day.


My oven is a Defy and there are two steam vents next to the handle, top and bottom ... in the image you can see the steam escaping through the bottom vent after 20 minutes with a 70% hydration loaf.
Hope this helps somebody ... it is cheap and uses what most have in their kitchens. This is how I teach men to bake their own Daily Bread.


Good crust, good oven spring and nice blisters
I bake on 220C Fan assisted and after 20 minutes I tune the oven down to 200C for another 10 minutes. Then I measure the internal temperature of the loaf to decide if it needs more baking. You want to see 195F and plus. Most bakers that hit a snag is caught by "under baking" ... for me the only sure way is to measure the internal temperature.


Here are my other Sourdough Stories ... LINK

Enjoy your baking till I write another story.

Hier is my Facebook Page... Man Kos ... like it if you want.

Sondag 04 Junie 2017

Eetplek - Sophies Bistro Nelspruit

Ek is 'n moeilike mens as dit kom by eetplekke. Ek het baie jare terug opgehou om stories oor eetplekke te skryf want dit is vir my moeilik om goed op te tower.

Sophie's Bistro by Halls
Vir my gaan dit oor lekker kos ... nie noodwendig die duurste op die spyskaart nie, inteendeel, ek verkies hamburgers, gebraaide hoender of vis en skyfies as ek gaan uiteet. Ek sal nie sommer steak bestel nie want ek weet vooraf al dat ek omgekrap gaan raak ... ek is 'n goeie kok en as dit by steak kom dan verouder ek my snitte self en sodoende is die steak altyd uit die boonste rakke. Ondervinding het my geleer om terwille van almal om my, liewer nie steak te bestel nie.

Nelspruit het 'n wye verskeidenheid eetplekke en ek weet sekerlik nie van almal nie. Ek het my geliefde plekkie vir hoender in die middedorp, my burger plekkie by iLanga maar ek het nie 'n plek vir vis en skyfies nie ... die een by Riverside het toegemaak en dit was dit vir my.

Heerlike atmosfeer
Laat in Februarie 2017 hoor ek van Sophies Bistro by Halls en die daaropvolgende Vrydagaand pak ek vir Poppie in die kar en daar gaan ons. My vorige twee Vrydagaande was 'n "wash out" ... eers loop ek my rieme styf met Skaap Chops en na ek daaroor gekla het gaan ek terug na dieselfde plek toe en bestel 'n hamburger ... denkende dat dit nie maklik is om van a hamburger 'n flop te maak nie ... wel ... nodeloos om te sê ... die ouens is spesialiste en foeter toe ook die hamburger op ... so ek en daai plekkie is klaar met mekaar.

Hoenderlewers
Terug by Sophies ... die son sak net agter die berge weg toe ek by Halls se parkeerplek indraai en ek vat so oomblik of twee om myself mooi bymekaar te kry ... met wilskrag spoel ek my brein uit sodat ek met 'n oop kop die plek kan ervaar. Poppie het my juis ernstig vermaan voor ons in die kar geklim het ...

Vis en skyfies
"Moet nou nie weer jou speelgoed rondgooi as die kos nie reg is vir jou nie." Ek mompel net so deur my tande.

In die skemerlig lyk alles warm en vriendelik en ons gaan sit by a tafeltjie op die stoep ... ek sal nege uit tien keer vir 'n buite sitplek gaan as ek die keuse het. Dis 'n heerlike laat someraand in die Laeveld en buite is die enigste plek om te sit.

Prawns
Aan die dienspersoneel se aksies kan mens sien die mense is nog nuut op die plaas en ek glimlag ... ek hou daarvan om te sien hoe mense in 'n tuig kan insak en dan met mening begin trek.


Ons lees die spyskaart deur en ek sien baie goed wat my aandag trek maar vanaand is dit net een ding vir my ... Vis en Skyfies. Poppie kies dieselfde en ek bestel ook die Hoenderlewer voorgereg vir ons twee om te deel.
Burger

Ek bestel 'n Coke en Poppie vat koffie. En so begin ons aand. Soos die borde van die omringende gaste by ons verbyaan word ek stelselmatig kalmer ... die kos lyk heerlik.


En toe arriveer on Hoenderlewers. Ek is mal oor die mooi bordjies. Ons vat hande en toe begin die feesmaal. Die lewers is heerlik sag en die sousie het net genoeg byt om jou aandag behoorlik te trek. Ek is nou so kalm soos 'n daggawalm en kannie wag vir die vis en skyfies nie.

Die kelner plaas die bord voor Poppie neer, sy het Vis en Slaai gevat ... dit lyk heerlik ... myne het baie minder blare by maar die goudgebraaide chips roep my op die naam en sonder seremonie is dit sommer met die vingers in die bord in.

Vark Chop
Die chips is presies soos ek daarvan hou en die vis is heerlik sappig met 'n baie ligte deegkorsie ... alles is perfek en ek is in die sewende hemel want nou weet ek dat ek weer 'n Vis en Chips plekkie opgespoor het.

Sophie's het nou nie eintlik 'n flambojante nagereg spyskaart nie en dit maak ook nie regtig vir my saak nie ... ek is nie 'n groot nagereg eter nie.
Hoender

Aan die einde van die aand kom die rekening en ek frons ... jissim die mense pryse is billik ... inteendeel dis meer as billik. By die uitgang ontmoet ek die eienaar en sy vrou en ons kliek omtrent dadelik ... Dries en Elize is pragtige mense, oop, eerlik en baie ernstig oor Sophie's. Ons gesels land aan sand en toe ek by die deur uitstap toe weet ek ... dis MY PLEKKIE die.

Steak
Nouja, dis nou drie maande later en ons eet bykans elke Vrydagaand by Sophie's ... heeltemal teen my natuur in met eetplekke het ek die spyskaart deurgewerk ... uit beginsel het ek weggebly van die Steak disse af en vermy ook geregte wat duidelik aandui dat daar knoffel in is. So hier en daar was daar ietsie wat nie in my smaak geval het nie en ek het dit met Elize bespreek. Sy is altyd gewillig om klein aanpassings te maak en ek kan met 'n skoon gewete Sophie's Bistro met 4 Sterretjies beloon ... hoekom nie 5 nie ... wel niemand kry 5 sterre by my nie.

Sophie's se Prawn geregte is heerlik, hulle burgers, bief en hoender is van die beste wat ek al geëet het.

As jy in Nelspruit is en jy wil lekker eet, baie billike pryse ervaar en met 'n glimlag by die deur uitstap ... wel dan is Sophie's Bistro die plekkie vir jou.

ManKos gee Sophie's Bistro 4 Sterre.


Eet lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Saterdag 13 Mei 2017

Sop - 'n ManKos Sopstorie

Sop ... so klein woordjie maar met so groot betekenis. Ek het in die maer jare groot geword en sop was 'n baie belangrike deel van ons dieet. My ma het altyd geraap en skraap en die wonderlikste potte sop aanmekaar geslaan. Sop met hart en sop met siel. Geen twee potte het dieselfde gesmaak nie want sy het sop gemaak met wat daar was en dit was dit. Maar ... en dis 'n groot maar ... die basiese maak van die sop het altyd dieselfde paadjie gevolg, die bestandele het gewissel soos daar dinge beskikbaar was.

So begin ek my sop
Vandag gaan ek julle die storie vertel van hoe ek sop maak en as jy die storie mooi volg sal jy nooit weer soek vir 'n sop resep nie. Ek glo sop resepte is daar vir skrywers om hulle boeke vol te kry en gapings toe te maak. Sop maak is soos skottelgoed was ... volg die paadjie, en die goed kom skoon anderkant uit.





Vir my begin elke pot sop met die volgende goeters ...
1. Varkvet
2. Olie
3. Gekapte uie
4. Growwe swart peper
5. Ina Paarman se Sop of Sous Poeiers. Die boepens botteltjies. Ek gebruik gladnie pakkies soppoeiers nie want ek trust die inhoud gladnie. Ina Paarman se goed is ordentlik en jy weet wat jy kry.

Dit is die basiese goed ... ek weet varkvet is deesdae skaars so jy kan dit vervang met een of ander olie van jou keuse. Sonneblom, Grondboontjie, Canola of Olyf ... net waarvan jy hou of wat jy in die huis het. Moet net nie botter nou gebruik nie want botter brand baie maklik aan.

Ek gaan mates gee vir genoeg sop vir twee mense.

Vat nou jou tyd en besluit mooi oor wat jy gaan insit. Ek maak maar die groentelaai in die yskas en die rakkies skoon ... alles wat by hulle pronktyd verby is, is reg vir die sop. Jy kan omtrent alles gebruik, tamaties, wortels, boontjies, ertjies, uie, sampioene, beet ... alles is bruikbaar maar beteuel jouself en kies so twee of drie komponente wat mooi saamwerk. Wortels, uie, boontjies ... dit werk goed. Aartappels, uie, blomkool of kool ... Beet en uie, Uie en sampioene. Die kombinasies is legio maar moenie ALLES in die pot moer nie ... dit werk gewoonlik nie lekker uit nie.

Kies jou twee of drie bestandele en kerf dit op ... ek het sulke staalbakkies waarin ek my goed voorberei, dit help om die porsies mooi te beheer en help ook om seker te maak ek balanseer darem die elemente wat ek gaan gebruik ... een kop kool en een tamatie klink so 50:50 maar dis nie regtig waar nie.

As jy uie in jou sop will laat sprankel dan moet jy twee bakkies uie maak ... een wat fyn in blokkies is vir die basis en een wat grofgekap is vir die sop.

Bacon, russians, cheesegrillers, kaiings, ham, hoender, maalvleis ... alles lekker vleiserigheid maar weereens, nie alles deurmekaar nie.

Vir my storie het ek 'n Russian opgekerf. Een gaar groenmielie se pitte afgestroop en dan my uie.

Begin deur so opgehoopte eetlepel varkvet in 'n lekker swaarboom pot te smelt. Ek gebruik net ysterpotte ... die rede is dat jy die vet kwaai warm gaan maak en vir die eerste gedeelte van die sop maak storie hou ek die hitte baie hoog. Dun potjies gaan aanbrand.

Sit die spices in die warm olie in
Sodra die varkvet gesmelt het gooi ek so een of twee eetlepels olie ook in. As jy nie varkvet gebruik nie vervang dit met so twee tot drie eetlepels olie van jou keuse. Nou gooi ek so teelepel gemaalde swartpeper in die olie. Hier moet jy nou besluit waar jy wil heengaan met die sop ... as jy dit spicey wil maak moet jy nou jou spesery insit ... ek sit 'n lekker masala in of gebruik Robertsons se Chicken Spice of Steak en Chops Spice. Die verskillende braaispeserye wat beskikbaar is, werk ook reg. Die keuse is joune ... onthou net om darem so min of meer in lyn te bly met wat gewoonlik mooi saamwerk. Wildwarm speserye is nie goed as jy mushroom en kaas sop wil maak nie maar dit werk lekker met vleis en groente.

Vleis en mielies in
Die smaakprofiel is jou keuse en met oefen sal jy gou uitvind wat werk.
 
Nou vir die koekmeel



Sodra die speserye begin skuim in die olie moet jy die uie ingooi en goed deurmekaar roer. Moenie die pot alleen los nie en roer gereeld. As jy 'n mengsel ingedagte het wat 'n ligkleurige sop moet wees dan moet jy nie die uie laat braai nie ... laat dit net sag en deursigtig word. Vir 'n stewige vleiserige sop braai ek my uie effens.

Die meel is nou gaar
Sodra die uie reg lyk gooi ek my Russians en die mielies in en braai dit so bietjie saam om dit kleur te gee en om daar so smakie by te sit.

Al die vleise wat jy wil gebruik, behalwe hoender of vis kan so uitgebraai word saam met die uie. Hoender en vis droog te maklik uit so dit word opgekap in stukkies en baie na aan die einde ingesit.

Terug by my Russians en mielies ... sodra dit mooi gebraai het kom die volgende stap.

Twee opgehoopte eetlepels koekmeel word nou oor die mengsel gestrooi en dan goed ingeroer. As jy 'n dunner sop wil hê kan jy so bietjie minder meel insit. Roerbraai nou die meel mengsel goed, vir tenminste so minuut tot minuut en 'n half. Die plaat is nogsteeds woes warm en spoedig begin die meel aan die pot bodem vasklou.

Nou kom die stock in en borrel kwaai
Ek roer twee teelepels van Ina Paarman se Chicken Stock in 500ml koue water in ... ja koue water.

Pas die dikte aan met melk
Jou pot lyk nou asof die bodem gaan begin aanbrand ... nou gooi ek die stock mengsel vinnig in daai pot in. Die heel eerste wat jy gaan sien is dat dat dit geweldig gaan borrel en stoom ... skraap nou vinnig elke stukke wat aan die bodem en kante vasklou los met 'n staal lepel. Jy soek elke krummeltjie van die pot los ... dis die smaak daardie.

Laat hom nou stadig prut.
Bly nou daardie mengsel roer en jy sal gou sien dit begin dik word. Dit kan heel moontlik te dik raak maar moenie nou oor dit kwel nie ... daar is maniere om die dikte te beheer en te bestuur. As jy gewone groente soos kool, blomool, aartappels, wortels, beet, uie, pruie, patats en tamate gaan gebruik dan is dit nou die tyd om dit in die pot te gooi. Sekere goed kook langer as ander so sit dit in serie in om die kooktyd in totaal te beheer.

Tot op die stadium het ek nog gladnie aan SOUT geraak nie. Ek proe ook nou nog gladnie want kanse is goed dat dit maar oninterresant gaan proe. Kry jou groentes gaar.

Nou sit ek Worcestershire sous in, so eetlepel, en soja sous ... roer goed en proe ... nou met jy die smaak afrond. Soms is so skoot suurlemoensap goed en a lepel of wat suiker. Laastens sit jy sout by ... as jy kaas gaan insit, wag eers met die sout.

Voorgereg of hoofmaal ... jou keuse
Nou moet jy die dikte aanpas ... ek gebruik, water, melk en room ... soms in kombinasie en soms alleen. Sterk vleiserige groentesop gooi ek water by ... ligte groentes, hoender of vis gebruik ek melk.

Draai nou die plaat na laag toe en laat pruit die pot sop vir so 15 minute met die deksel toe. Skakel die plaat af en laat die pot net so toe staan en rus vir so 10 minute.
 
Enige sop kry net so bietjie styl met 'n lekker skoot room in net voor jy opdien. Dis ook die tyd om jou gerasperde kaas in te roer.

Ek glo jy sal nou met nuwe oë na sopmaak kyk. Volg net die paadjie en dink waarheen jy wil gaan.

Die variasies is eindeloos. Soms sit ek al my groente in 'n oondpan en smeer met olie en speserye en kruie en bak in die oond ... dan gaan dit in die sop sous in. Soms maak ek die blomkool of groente gaar in my stomer in die mikrogolf oond. Blits die helfte en hou die helfte heel. As jy oorskiet rys of stampkoring het kan jy so lepel of wat op die einde in die dop in roer.

Dink net eers mooi oor wat jy wil behaal en volg die pad ... onthou net dat dit nie regtig werk om net wild en wakker goed in die pot te gooi nie.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Sondag 23 April 2017

Hoender - Lekker ManKos Vlerkies

Hoendervlerkies ... dis iets wat die meeste van ons baie geniet en hulle kom in so wye variasie dat dit omtrent 'n boek vol kan maak. Die waarheid is egter dat die oorgrote meerderheid net eenvoudig redelike smaaklose en eentonige stukkies hoender op 'n beentjie is.

Hoendervlerkies en brood
Die meeste eetplekke bied dit aan en die gaarmaak metode wissel van vaal gekookte goedjies met 'n bakkie sous van een of ander suspisieuse oorsprong tot die absolute perverse diepgebraaide soort. Laasgenoemde is meesal onooglike goedjies met so blinkerige vel en die smaak van ou olie.

En dan soms, en dis baie raar in Suid Afrika, dan kry jy die heerlike sappige vlerkies met 'n taai sousie wat in verskillende grade van hitsigheid kom. Dis dan waneer jy besef hoekom die goedjies so gewild is in Amerika en met reg kan aanspraak maak op die benaming Buffalo Wings.

Ek persoonlik bestel die goedjies nie sommer nie want dit maak my moerig as so eenvoudige dis so brutaal opgeneuk kan word n dan verwag die plek nog dat jy 'n fooitjie moet los. Ure later verwyt die olierige en bykans muwwe smaak jou nog en jy sweer ... NOOIT WEER ... maar net tot volgende keer as jy aansit en moet kies wat jy vir 'n voorgereg wil hê ... dan bestel jy maar weer en hoop vir die beste.

Soos ek al menige maal geskryf het, my missie is om mans te kry om ook te kook en ek vertel van die kos wat mans van hou. Maar die waarheid is, baie vrouens hou ook van die ManKos. So, as jy 'n vrou is en jy hou van die dis en jy weet jou man hou ook daarvan ... trek hom nader dat hy lees en dan hits jy hom aan of beloof allerhande dinge as hy dit vir jou sal maak.

Die wat my ken weet al by die tyd dat ek nie eintlik resepte doen nie, ek vertel jou die basiese dinge en jy doen dit met wat jy het of wat jy van hou. die belangrikste ding is die tegniek.

Vandag gaan ek julle vertel hoe om heerlike hoendervlerkies te maak en as jy dit eers gedoen het, dan gaan jy nie weer maklik tevrede wees met ander plekke se aanbieding nie. Die voordeel is dat jy nou instaat gaan wees om jou eie "wings" te maak en dit te maak net waneer jy wil.

Bestandele:
1. 'n Pakkie Vlerke
2. Barbeque Spices van jou keuse
3. Bruinsuiker
4. Tamatiesous
5. Sweet Chili Sous - Ek gebruik Wellington
6. Soya Sous - as jy het
7. Worcestershire sous
8. Gemaalde swart peper.
9. Chili Flakes
10. Robertson's Chicken Spice
11. Olie of Varkvet
12. Uie

Die hele proses gaan oor verhoudings en jy moet maar die hoeveelheid aanpas om by die grootte van jou vlerk porsie te pas. Ek het vir twee mense gemaak en een pakkie vlerkie van so om en by 500gr gebruik.

Metode:
Begin deur die vlerkies op te sny. Hier is dit jou keuse ... ek sny die eerste snit by die elmboog om die boarm af te kry. Afhangende van jou verskaffer gaan jy of net die voorarm met die twee beentjies oor hou of die puntjie kan ook nog aan wees. Ek sny daai handjie ook af en gee dit vir my honde. Die dingetjie is net a stukkie vel met fyn beentjies in en eintlik meer van 'n oorlas as wat dit eetbaar is. Jy kan dit bêre en gebruik as jy hoendersop maak.

Braai die uie uit
Nou het jy twee stukkies uit die een vlerkie. Sit dit in 'n mengbak en bestrooi ordentlik met jou gekose braai speserye, moenie skaam wees nie. Volgende stap vir my is om dit in die mikrogolfoond te stoom vir 6 minute, roer dit rond en stoom weer vir 6 minute. As jy nie 'n mikrogolfoond wil gebruik nie moet jy dit nou kook in water tot die vleis gaar is. Jy wil nie met rouerige hoender sit as jy dit in die sous in sit nie ... dis gevaarlik en verder kan die rou sap wat uitloop jou sous verongeluk en die raklewe dramaties verkort.

Terwyl die die vleis gaar word, pot of mikrogolf ... begin jou sous. Ek verkies die mikrogolf metode en ek weet baie mense frons oor dit. Ek doen dit met alle hoender wat ek wil braai ook. Op die vuur gaan ek net fokus op smaak en kleur en hoef nie bekommerd te wees oor ROU HOENDER nie.

Lekker soet en suur en taai
Kap die uie in blokkies en sit so 4 eetlepels olie of vet in 'n lekker swaar pot op die stoof. Maak die plaat maar lekker warm. Gooi gemaalde peper, chiliflakes en van die braai speserye in die vet. Sodra die speserye begin reageer met die vet sit jy die uie by en braai die spulletjie nou lekker. Jy soek die uie sag met so hier en daar so bietjie verbruining.

As die uie reg is dan gooi jy 'n halwe koppie van elk van die volgende in die pot ...
Tamatiesous, Chilisous, bruinsuiker
Roer goed en laat goed prut totdat die suiker opgelos is.
Nou 2 eetlepels Worcestershire sous en een eetlepel soja sous.
Roer goed en laat woes prut.

Lyk nog nie na veel nie
Nou het jy die basis van jou sous reg, draai die plaat stadiger en proe ... wat jy nou wil regkry is die sout, soet en suur.
Proe ... die kanse is dat dit nou oorweldigend soet gaan wees en dis ook nou die tyd om die chili faltor op te draai as jy wil. Doen dit heel eerste. Sodra jy tevrede is dat die brand reg is dan gaan jy oor en toets vir die suur ... voeg bietjie suurlemoensap of bruinasyn by, roer en proe. Jy wil byvoeg tot jy die SOET en die SUUR kan proe. Dit kos so bietjie fokus maar jy sal dit gou baasraak as jy fokus en oefen.

Sodra jy gelukkig is dat die SOET en SUUR lekker balanseer dan moet jy sout insit ... nou die is ' kritiese punt ... dis waar meeste kokers die ding kan verongeluk ... moenie te vinnig te veel sout insit nie. Ek skep gewoonlik so eetlepel vol in 'n piering en krap dit in drie plassies ... dan sit ek bietjie sout op die eerste plassie en proe ... as dit reg proe dan het jy nou 'n idee van hoeveel sout jy wil bysit ... toets een plassie met baie sout en neem jou besluit. Die sout gaan die smaakprofiel baie verbreed en jy gaan nou 'n megseel van smake kry wat nie voorheen daar was nie. Nou kan jy weereens 'n besluit neem oor die brand faktor en kan dt met Paprika of rissie peper opjaag as jy wil. En as jy 'n blikbek het, gooi piri-piri sous in ... bv. Tabasco.

Jou sous is nou reg.

Heerlike vlerkies.
Dreineer jou vlerkies en gooi in die pot en roer goed. Maak die plaat maar lekker warm en bly roer totdat jy sien die sous klou mooi aan die vlerkies. Sit af die plaat en moenie die deksel op die pot sit nie. Laat staan vir 20 minute terwyl jy dit elke 5 minute mooi versigtig deurroer. Jy wil nie vlerkies opbreek nie.

Daar is dit nou, nou het jy 'n pot met lekker vlerkies. Die rustyd is nodig vir die smaak ontwikkeling maar dit maak dit ook moontlik om die vlerkies lekker met die hand te eet en ordentlik te kan proe.

Al wat oorby is om te begin eet ... as jy nie jou vingers aflek nie is daar fout en daar moet sulke taai blertse langs jou mond sit. Vir my is dit koningskos saam met net vars brood.

Lekker eet.

PS ... Wees baie versigtig vir aanbrand ... daar is baie suiker in die sous en dit brand maklik en kan dan bitter word.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.