Maandag 10 Julie 2017

Lewer - Bees is lekker

Baie mense trek hulle neuse op vir afval oor die algemeen en lewer word skeef aangekyk. Ek kan dit verstaan maar ek kan dit nie regtig klein kry nie. Lewer is baie lekker vir my maar daar is darem so bietjie kuns in die voorbereiding. Die grootste fout wat die meeste kokke maak is om die lewer dood te kook ... wel dan eindig jy op met 'n taai, rubberige droeë ding wat jy moet af wurg.

Lewer en soet uie
Ons leef in 'n tyd waar meeste van ons maar die sente moet omdraai en vleis het duur geword. Lewer is oor die algemeen baie bekostigbaar en goeie waarde vir geld.

Onthou ... op die jagveld word die lewer soms sommer net so rou ingesluk en jy hoef dus nie regtig die stuk vleis te kook of braai dat hy soos 'n skoensool uitdraai nie. Wat jy soek is ligpienk sonder vry bloed.

Lewer en veral bees lewer is baie goeie waarde vir geld. Ek koop my bees lewer deesdae by PnP en hulle sny dit in lekker hanteerbare skywe. Ek sny die skyf so bietjie kleiner, omtrent so groot soos my hand want ek het nie so groot pan wat die hele skyf kan hanteer nie.

Ek vra om verskoning vir die gebrek aan fotos, ek het nie regtig gedink ek gaan die resep ooit publiseer nie.

Om lekker lewer op die bord te sit is eintlik verspot maklik mits jy weet hoe om dit te doen.

Eerstens week ek die lewer in melk vir so 30 minute en dit laat die lewer ook min of meer by kamertemperatuur kom. Ek gebruik 'n vierkantige glasbak sodat die stukke mooi plat lë. Moenie die lewer in te klein stukke sny nie want dan gaan jy dit baie maklik te gaar maak.

Volgende gebruik ek 'n plat bak en gooi koemeel daar in. Ek gooi ook braai speserye en kruie soos Robertson's se Mixed Herbs in die meel en meng dit goed. Moenie snoep wees met die meel nie want dan gaan jy sukkel met die bedekking van die lewer. Ek bêre die oorskot meel in 'n bottel in my yskas vir volgende keer.

Kry nou 'n lekker braaipan op die stoof en laat hom warm word. Ek gebruik gietyster panne ... as jy 'n pan met 'n dun bodem gebruik moet jy wakker staan. Jy soek medium hoë hitte, Ek gebruik 'n mengsel van varkvet en klapper olie om in te braai maar jy kan dit gebruik waarmee jy gemaklik voel. Ek sal nie botter gebruik nie want dit brand te maklik. Jy wil 'n goeie lagie olie, so om en by vuurhoutjie dikte in die pan hê ... tipiese vlakbraai.

Ek gaan aanvaar dat jou lewer so om en by 10 tot 15mm dik gesny is ... so min of meer vinger dikte.

Net melk en meel
Lig die lewer uit die melk en plof dit in die meel. Draai so keer of wat om dat die snykante mooi bedek is met meel ... die natuurlike kante sal nie sommer meel vat nie maar dis nie belangrik nie.

Ek sit die stukke op 'n droeë bord om pan toe te vat. Bedek net genoeg stukke vir die pan, jy wil nie dat die stukke lê met die meel aan nie want dan gaan dit nat word en afval as jy dit in die olie sit.

Die olie behoort nou lekker warm te wees ... strooi jou gunsteling braaispeserye in die warm olie ... ek gebruik deesdae Robertson's se Chicken Spice. Jy sal sien die speserye begin skuim ... dis wat jy soek.

Let daarop dat ek gladnie eier gebruik nie ... net die melk en meel.

Wees geduldig dit is die moeite werd
Plaas die stukke versigting in die pan en maak seker jy hoef nie dit rond te skuif nie. Dis baie belangrik dat hy net so doodstil bly lê to die korsie gevorm is. As jy dit te vroeg rondskuif gaan jy die korsies breek en verloor want die lewer stel baie vog vry terwyl dit braai en dit wil die kors afdruk. Nou strooi ek my braaispeserye oor die roukant so in die pan ... en let daarop dat ek geen sout opsit nie. By die omdraai slag gaan die speserye deel vorm van die korsie.

Moenie rondloop nie ... staan by die pan en hou die lewer dop ... dis maar net so 5 of 6 minute. Sodra jy sien die kors het gevorm en dat daar bloederigheid of skuim bo-op die lewer vorm, gebruik 'n spatel en keer die lewer versigtig om ... ek gebruik 'n klein eierspaantjie. Druk die spaan versigtig onder die lewer in en maak seker jy kry die korsie mooi los van die pan voordat jy dit oplig.

Nou op die tweede kant gaan hy so knertsie stadiger braai want die pan is effe koeler maar meer belangrik, die braai het vog opgedruk in die lewer in en dit gaan nou op die warm pan beland. Weereens wees geduldig ... laat die kors vorm en dan is dit moontlik dat daar so effense bloederigheid tussen die reeds gebraaide kors kan deurkom.

Die lewer is nou baie naby aan reg ... flip hom weer om, net vir 30 sekondes en plaas dan in 'n bak met handoekpapier. Laat die gaar lewer net so rus in die bak vir tenminste 5 minute voor jy dit opdien. As jy die lewer sny behoort dit nou so mooi ligpienk te wees met die lekker korsies.

Tradisioneel word lewer bedien met gebraaide uie wat effe soet gemaak is. Ek hou daarvan om suurlemoenstroop in die uie sous in te werk.

Soos met alles, gaan jy beter word hoe meer jy dit doen. Volg my riglyne en jy is op die regte pad na heerlike sagte sappige bees lewer. Gelukkig is dit goedkoop sodat jy kan oefen. Vermy "overcooking" want dis die soort ding wat mense afsit van lewer.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.