Donderdag 27 Julie 2017

Koek - Mari-Louise se ouma se Lemoenkoek

Ek is nou vir seker nie 'n koekemaker van faam nie maar ek hou daarvan om te bak. So kom dit dan dat Poppie my nader trek Sondagaand en vra of ek nie 'n koek sal bak vir hulle teetyd nie.
My kop dwaal so deur my resepte en ek is lus vir iets nuuts. Ek trek die jongste boek van Mari-Louise van die rak af en begin deur dit blaai.

Ouma se Lemoenkoek
Daar is 'n magdom van uitdagings en ek sukkel om te besluit ... en toe vang my oog die resep op bladsy 123. Ouma se beroemde Lemoenkoek.

Ek kies koers kombuis toe en begin maar by die begin ... ek meet elke bestandeel af sodat ek nie per ongeluk iets vergeet nie. Dis iets wat ek myself aangeleer het en wyk bykans nooit van die paadjie af nie. Ek het nie bruismeel nie en maak sommer vinnig my eie, 1 teelepel bakpoeier en 'n half teelepel koeksoda vir elke koppie meel.

Toe vat ek die METODE deel ... ek groepeer altyd die bestandele in die volgorde wat die resep vra.

Groot was my verbasing toe ek lees dat mens alles, en ek bedoel alles, in die mengbak gooi en dan meng. Die instruksie laat my diep frons ... dis 100% teen dit wat ek tot dusver van koekbak geleer het.

Gewoonlik verroom mens mos maar die vet en suiker of die eiers en suiker en dan kom die droë bestandele. Nie hierdie resep nie ... nee jy gooi alles in die meng bak en dan meng jy dat dit bars.

Ek staan en kyk hoe die mengspaan die botter en eiers en suiker en meel begin bymekaar maak en ek draai die spoed op toe alles gebind is. Die boek sê klop 6 tot 8 minute. En so maak ek ... mettertyd sien ek die mengsel word al gladder en die kleur word ook ligter. Ek laat die Kenwood maar begaan en bein die panne reg kry. Die boek beveel twee 18cm ronde panne aan maar ek hou nie van ronde panne nie en het twee vierkantige panne gebruik.

Op 8 minute is die beslag mooi glad en ek verdeel die beslag tussen die twee panne. Maak maar baie seker jy doen dit met 'n skaal want as jy nie die beslag gelykop verdeel nie gaan jy probleme kry met die bak. Ek sien baie bakkers "eyeball" sommer die verdeling maar ek het ook al gesien hoe die bakkers kan galop as die twee koeke nie dieselfde uit kom nie ... so, ek weeg maar.

Ek stel my oond byvoorbaat 20C koeler as wat die resep aanbeveel want uit ondervinding weet ek dat my oond maar hitsig is en die soort beslag hou nie van 'n haastige oond nie.

Terwyl ek die beslag versigtig verdeel en baie sag versprei om die panne egalig te bedek glimlag ek, die was nou 'n wildvreemde metode vir my maar die beslag lyk fantasties. In my kop begin ek al aan variasies dink waar die beslag baie lekker sal werk ... dis hoe ek is ... my kop werk oortyd terwyl ek so bak en brou.

Op 10 minute begin daar duidelik 'n rand om die koek vorm en Poppie merk op dat die duik in die middel darem erg lyk. Ek verduidelik vir haar dis hoe daardie beslag in die oond nou reageer en verduidelik dat die buitenste rant reeds begin bak het en dat dit die rou beslag in die middel omsingel.

Binne die volgende 5 minute begin die middel op hitte kom en begin reageer. Op 17 minute is die twee koeke mooi uitgerys en perfek plat oor die middel heen. (As jou oond te warm is sal die middel aanhou uitrys en selfs begin kraak) Hierdie is 'n kritiese tyd in die bakproses en maak nie saak hoe groot jou nood is nie, moenie daai oonddeur oopmaak nie, nie eens op 'n skrefie nie. Die verandering in temperatuur sal die koek laat platval en hy sal nie weer opstaan nie. So, suig maar aan 'n pippermintjie en bly weg van daai oond deur af.

Op 25 minute gaan my alarm af en ek maak die oond deur oop, eers net op 'n skrefie, voel hoe die stoom en hitte uitstroom en dan bietjie wyer dat ek die toetspen kan insteek. Hy kom skoon uit en ek glimlag.

Ek haal die koeke uit die oond en sit hulle sommer op die stoofplate neer om te rus. Dis nou belangrik om die koeke kans te gee om te kalmeer. Ja kalmeer ... daardie pan is nou vol van 'n klomp baie angstige molekules, hulle was geklits en toe in 'n vuurwarm oond gedruk ... baie dinge het verander. As mens Brood bak en jy haal die Brood uit die oond uit ... en jy sit jou oor naby die Brood dan kan jy hoor hoor hoe kraak en kreun daardie Brood ... Broodbakkers sê die Brood sing ... wel 'n koek sing nie sommer nie want hy het nie 'n kors nie en die oond is nie so warm nie ... maar glo my, daai koek sal wil sing.

Laat staan so vir 10 minute en keer dan uit op 'n draadrak om heeltemal af te koel.

Die volgende stap was die botterversiersel wat tussen die twee lae kom. Weer moet ek bieg ... Mari-Louise se resep is baie goed ... dit sal voortaan my standaard wees.

Heerlik
So twee ure later sit ek die botterversiersel laag op en toe moet ek die glanslaag bo-oor doen ... weereens iets wat my al male sonder tal gepootjie het. En weer is Mari-Louis in die kol. Die glanslaag werk soos 'n bom. Laastens strooi ek bietjie lemoenskil fraaings oor die koek en sit so paar skyfies van soet lemoenkonfyt op. So paar druppels van my suurlemoenstroop en toe is ek klaar.

Die koek is heerlik en die mense by Poppie se werk was gaande oor die koek. Almal soek die resep en ek sê ... kry die boek ... "Koeke ter viering van die Liefde en die Lewe" en op bladsy 123 is die resep.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.