Saterdag 22 Julie 2017

Menu - Toeba - Steak en Chutney

ManKos gaan nie net oor die kos nie, nee, dit gaan ook oor die storie agter die kos ... die herinneringe wat deur jou kop flits as jy 'n spesifieke dis sien of ruik. Die Steak en Chutney Toeba vat my na 'n plekkie toe wat baie van ons ken ... altans ek glo so.

Steak en Chutney Toeba
Dis Braaidag by jou huis en vriende en familie trek saam vir die geleentheid. Dit gaan jolig en almal lag en drink en gesels ... maar daar in die agtergrond spartel jy en jou vrou om seker te maak dat almal ordentlik gaan eet. Jy hou 'n glimlag op jou gesig maar jou krop trek op 'n knop as jy sien hoe aspirant braaiers rond donner met die vleis op die rooster ... elkeen dink mos diep in sy binneste dat hy is die beste braaier op die kontinent en die metodes, souse en speserye is legio. Jy gee maar gelate toe want jy is 'n goeie gasheer. Jy sien hoe vroutjie jou oog probeer vang want diep binne in haar binneste weet sy dat jy nou deur hel gaan. So Braai geleentheid is nie eintlik die plek waar ware Braaimanskap gedemonstreer word nie. Daar is teveel stuurmanne en baie keer ook teveel drank betrokke. Ek hou maar my Braai vaardighede vir my gesin en 'n paar intieme vriende, by so Braaidag laat ek maar toe dat die meulstroom my meesleur en terwille van die vrede bly ek ook maar weg van die vuur af ... dit gaan mos meer oor die samesyn as die kos.

Die rook trek en die vet spat en die dop vloei en voor jou oë sien jy hoe mooi stukke vleis stadig maar seker na 'n gewisse einde van droeë vesels en verbrande vel en vet toe gaan. Jare se opvoeding deur 'n baie streng ma verhoed dat jy ongeskik raak, en beheersd vat trek jy maar stadig aan jou sigaret en kyk hoe die blou rook lui, lui, die skemerlig in trek.

Almal begin opskep en soek 'n plekkie om te sit ... jy vat ook maar wat daar is en krap so hopie rooi kole bymekaar. Sonder baie drama maak jy die bakkie oop wat jou vrou amper skelm in jou hand in druk. Jou oë dwaal oor die stuk steak wat blink van die olyfolie en dik gegooi is van die gemaalde swart peper. Die skare is diep in hulle borde in en merk nie eintlik op hoe die vlamme opspring as die steak die rooiwam rooster vang nie. Jy staan met jou rug na die vuur toe maar in jou gedagtes hou jy tyd ... dan net vir so paar oomblikke kyk jy wat jy doen en jy draai die steak om ... met genoegdoening sien jy die lekker swart skroeimerke. Sonder om aandag te trek draai jy die steak nog so keer of wat en dan terug in die bakkie. Jou vrou vat die bakkie, verskuil tussen 'n paar ander vuil bakke en borde en gaan kombuis toe. Sy lig die vleis uit die bakkie sit dit neer op 'n plankie. Druk 'n stuk foelie oor dit en plaas die plank iewers waar geen oog dit gaan opspoor nie.

Net die beste
Julle twee wuif vir die laaste vertrekkende motor en dan is dit kombuis toe. Die berg skottelgoed wag en terwyl jy was maak vroutjie die voorhuis en patio aan die kant.

'n Halfuur of so later sit sy die plankie op die tafel neer en jy glimlag .... nou gaan julle eet. Sonder woorde kyk sy hoe jy daai steak met sorg kerf en sy smeer die broodjies.

Wel op die ManKos Menu is daardie laatnag broodjie ... heerlike vars brood, lekker botter en kwaliteit blatjang. Die soutkristalle glinster orals ... en op die kant staan 'n stomende beker koffie.

Geniet hom ... hy is gemaak van net die beste. Hierdie is nou ManKos waarvan vrouens ook hou.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.