Maandag 27 Januarie 2014

Brood - Steakbroodjie ...




Vanoggend is ek in 'n snaakse bui ... die Engelse sou sê ek is "whimsical" ... nogal 'n snaakse woord die dink ek. 

My oë dwaal deur die venster en die druilerige landskap laat my verseker nie beter voel nie. Dis nou maar eenmaal so ... as ons Suid Afrikaners nie son sien nie, dan werk dinge nie vir ons nie. Orals drup daar water van die plante, blare, blomme, takke en klippe af. Die Laeveld is nat ... die eerste somer reën het gekom en hy is hier met 'n vasbyt wil soos winter bosluis ... hy gaan nie sommer los nie.

Gewoonlik vat ek 'n koffietjie en 'n lekker beskuit, beskuit wat ek self bak en wat propvol allerhande heerlikhede is. Dit moet my deursleep na midoggend toe.

Vanoggend is ek nie lus vir so iets nie ... my siel soek meer ... soek na substansie ... soek na MAN KOS !

Die van julle wat my ken, weet dat ek nogal passievol is oor Man Kos ... Nou vrae jy seker ... Wat is Man Kos ?

Kom ek vertel jou ... Man Kos is kos wat 'n man laat glimlag, kos wat sommer self opstaan en sê ... Eet my ! Nie baie tierlantyntjies nie en nie baie frilletjies nie. Kos wat jy met mening kan aanpak en na die tyd los dit so breë glimlag op jou gesig en miskien ... as dit nou goed gedoen was ... so blinkstrepie vet langs die mondhoeke af.

Nouja laat ons begin plan maak om die honger te stil ...

Eerste sit ek 'n stukkie rump in 'n lekker warm pan ... so spatseltjie olie net om te help tot die vleis se eie vetjie begin uitbraai. Ek verkies om my speserye, maar geen sout, op te sit en in te vryf voor ek die vleis braai. 






Ek vroetel nie eintlik rond met die vleis in die pan nie, laat hom lê en 'n lekker korsie braai. As jy teveel met die vleis peuter dan verloor jy jou speserye. Dan flip ek hom.





Intussen sny ek vir my twee snye brood ... nou hier kan jy baie doen en baie keuses maak. Vandag was hier net witbrood in my huis en ek vat dit ...

Kyk, die brood moet reg gedoen word ... ordentlik getoast word. 

As jy my regtig wil moerig sien dan moet jy vir my bleek, opgewarmde brood gee en dit toast noem. Ek toast my brood in 'n pan want ek wil net die een kant gebraai hê. Jy vra seker hoekom ... wel, as jy net die een kant toast dan het jy 'n heerlike krakerige kors buite en sagte lekker brood binne. Tekstuur is mos belangrik as mens eet !


Eers so paar botter klontjies op die brood en dan na die pan toe. Moenie teveel botter nou opsit nie want dan gaan jy 'n olierige eind resultaat kry wat nie baie gesond is nie en ook nie eintlik lekker is nie. Die grootste gevaar is dat jou brood gaan verbrand.



Nou moet jy 'n ogie op hom hou, pan moenie te warm wees nie anders gaan die brood brand, te koud en hy gaan nie mooi rooster nie ... maar jy sal gou leer hoe warm jy die pan moet maak.
Die eindresultaat. Perfek vir my.






Nou moet jy die broodjie smeer ... vir my is goeie botter die enigste ding. Margarine ... huh ... as ek plastiek wil eet dan trek ek die Jiffy boks nader en doen dit ... vir Man Kos moet dit egte regte botter wees. Hier is ek ook nie skaam nie, daar moet ordentlik botter op wees want die is a spesiale toebroodjie en 'n GROOT BEDERF.



Nouja, ek kan sommer hoor hoe party mense nou hulle asem insuig en ek kan dit verstaan. Onthou net, hierdie is Man Kos en hier kom nie veel op die toebroodjie nie. Die botter gaan die smaak partytjie vol maak.

Tyd om terug te gaan na die vleisie toe ... wel nou nie eintlik 'n vleisie nie ... polony is vleisie, ham is vleisie, hoender borsie is 'n vleisie ... hierdie is Man Kos en dis 'n STEAK !






 

Ek staan hom so bietjie op sy kant dat die vetjie lekker kan uitbraai. Ek maak die vleis so bietjie gaarder vir die die broodjie as wat ek gewoonlik eet want dan is die broodjie nie souserig en morsig nie maar as jy daarvan hou dat die lekkerte so teen jou ken afloop ... ruk hom af as hy nog gered kan word deur 'n goeie veearts.





Ok nou is die vleis reg en ons kan die broodjie begin bou.




Eerste was die botter en nou smeer ek Wellington se Soet Suur sous op die een kant en pak die vleis op die ander kant. Ek hou daarvan om die steak eers in skyfies te sny en dan sny ek die pak skyfies weer drie maal om op te eindig met blokkies. 

Ek kan nou al hoor hoe kerm sommiges maar daar is Wiskunde agter my metode. Dit laat jou toe om lekker te hap en nie te worry dat jy die hele vulsel gaan uitsleep met die eerste hap nie. Hierdie metode maak ook seker dat vroulief ook die Man Broodjie gaan like.
Laaste krummel ek so bietjie Fairview White Rock met cranberries oor ... net 'n lekker ekstra smakie. Klein bietjie growwe seesout en dis al ... jy wil nie die ding besmeer en bekletter met allerhande soppe, souse en gemaalde bossies nie ... hou dit suiwer ... suiwer Man Kos.
Nou is dit tyd om so bietjie terug te staan ... bewonder jou skepping, imagine die smaak ... laat die hongerpyne bietjie opwel. Dan as jy nie meer kan hou nie, dan maak jy hom toe.

En daar is hy. 

As jy die instruksies gevolg het gaan jy nou 'n smaak orgasme ondervind soos nooit tevore nie ... en o ja ... hierdie is Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Lekket eet en geniet elke happie, kou elke happie dertig keer en tap elke geurtjie en smakie uit elke mondvol.

Tot wederom.



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.