Maandag 15 Desember 2014

Hoender - Oorskiet lekkerte

Soos die mense wat my Facebook blad volg seker al opgemerk het, deesde is ek op 'n missie om eenvoudige kos te maak wat rittel en beef van die geur en smaak. Nog belangriker, ek probeer om so ekonomies as moontlik met kos te werk poog om niks te mors nie.

Net soos met braaivleis is dit ook amper altyd so dat as ons hoender maak dan is daar oorskiet. Nou in my huis maak ek seker meer as 90% van die kos wat op die tafel beland en dit beteken dat ek baie goed verstaan wat gaan deur vrouens se koppe as die son begin sak.

Saterdagaand gaan eet ons by my gunsteling braaihoender plek, Galitos in Nelspruit. Ek geniet die plek vreeslik en ek bestel gewoonlik so dat ek oorskiet huistoe kan vat.

Maandag is dit 'n wilde dag in my lewe en eers na 17h00 kry ek 'n blaaskans. Ek staan in die kombuis en kyk deur die venster ... die goue lig val in die tuin en die orgidieë pronk in die laatlig. Alles prentjie mooi maar dit maak geen indruk op die honger oë wat my aanstaar vanuit die TV Kamer nie.

Ek is nie lus vir kook nie en ek is nie lus vir sukkel nie ... ek is net honger en weet ons moet eet.

Hoender Flentervleis
My oë val op die oorskiet hoender in die yskas en ek begin dink. Ek het so uur voor dit darem kans gekry om die brood deeg in die panne te sit en ek sit dit nou in die oond. Dit gaan 40 minute wees dan is daar vars warm brood.

Ek sit maar solank ou Albert op die vuur want ek moet 'n warm pan hê, maak nie saak wat ek gaan maak nie. Ek kap 'n groot ui fyn, gooi olie en speserye in die pan en toe die uie. Ek begin 'n plan kry.

Die hoender word van die bene afgestroop en in stukkies gebreek ... om my kuber vriendin se woord te gebruik ... Flentervleis ... dankie Errieda ... ek gaan hierdie woord misbruik.

Uie in die pan
Die uie is nou reg en die hoender gaan pan toe. Ek skep so eetlepel varkvet by en die geur wat ontluik in die pan is liplek lekker. Nou glimlag ek terwyl ek die stukke roer. Kosmaak is vir my medikasie. Ek krap verder in die yskas en sien 'n pakkie sampioene ... dis daai wit goedjies ... nee man daai goed vat net plek, ek koop die bruines maar my vrou het gaan inkopies doen so ek bly maar stil en kap die sampieone op. Nie te fyn nie.

Uie is reg
Ek strooi speserye, Ina Paarman se Braaivleis mengsel ... jy moenie skaam wees nie want die wit sampioene is nou nie regtig bekend vir geur ne, dit het wel 'n smaak. Nou moet jy maar nog so eetlepel olie ingooi want die mengsel raak darem skielik droog soos die sampioene eers die vog opsuig voordat dit weer uitkom.

Een kyk na die pan en ek besef dat hierdie is mos nou amper "chicken ala king" ... wel, dan moet ons maar die helepad gaan.
Hoender flenters gaan in

Ek gooi 125gr ... halwe houer roomkaas in die pan en begin dit roer ... dis met groot genoegdoening wat ek sien hoe die kaas begin opsmelt en met die pansouse meng. Daai ligbruin sous raak al hoe meer en die klonte roomkaas al hoe minder, en dan is dit weg. Vir 'n oomblik oorweeg ek dit om nou 'n goeie skeut room in te gooi maar my gewete protesteer luidkeels ... hierdie ding raak nou geil !
Sampioene gaan in

Ek gooi so blerts melk in en roer ... nog so blerts en dan is die sous perfek.

Ek draai die vlam na amper niks en staan terug ... so warm gloed van genoegdoening spoel deur my en ek glimlag breed ... dis mos Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook sal like.

Roomkaas in.
Die oond alarm ruk my uit my droomwêreld uit en ek haal die brode uit ... perfek, goudbruin met so lekker taai kors.

Dis byna doodstil om die tafel ... my seun doen die gebed en vergeet sommer om dankie te sê vir die hande wat dit voorberei het ... maar ek vergewe hom want die kwyl het in elkgeval sy woorde laat strompel.

Oorskiet Hoender Flentervleis in 'n ryk romerige sampioen en uie sous met heerlike vars brood, plaasbotter en tuisgemaakte konfyt.
Eenvoudig maar geurig

Die Here het ons geseën vanaand en ek is dankbaar.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.





Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.