Saterdag 27 Desember 2014

Rolkoek - Meringue met houding

Meringue en room rolkoek
Hier kort voor Kersfees 2014 plaas my kuber vriendin Nina Timm mos hierdie amper obsene rolkoek op haar blog. Ek het die fotos so sit en kyk en in my gedagtes hoor ek al hoe kraak die eierwit tussen my tande en gly op 'n roomgladde vulsel in my keel af ... net so streep versiersuiker in my snor is al wat veraai dat hier darem nou 'n onheilige ding gebeur het.

Maar nouja ... die foon lui en ek word terug gepluk na die wrede werklikheid toe ... 'n werklikheid waar daar nie tyd is vir dagdroom nie. Ergerlik tik ek op die LIKE knoppie en antwoord die foon.

Die dag spoed voort en laatnag sit ek met 'n koppie warm koffie en my gedagtes dwaal terug na die rolkoek toe. Ek soek die ding op Faceboek en tik terstonds ...

"Ek gaan hom maak."

Ek lees die resep so 3 maal stadig deur en elke keer begin ek meer wonder of dit nou nie so bietjie windgat was om sommer in die publiek uit te skreeu dat ek die ding gaan maak nie. Eerste probleem vir my is dat ek nog nooit in my lewe meringue gemaak het nie.

Tweede ding is dat ek gladnie daarin belangstel om met 'n meringue op te eindig soos wat die meeste winkels verkoop nie ... die goed is sanderig en droog ... amper soos 'n klont versiersuiker.

Derde ding is dat ek gladnie sal weet of myne reg is of 'n totale flop is nie. Ek het geen verwysingsraamwerk nie.

Maar nouja ek is nie 'n ou wat sommer skrik vir 'n resep nie en ek vertrou Nina se resepte.

Dis so skuins na 22h00 en dis doodstil in my huis. Almal slaap en dis net ek en my gedagtes. Ek pak die bestandele uit en begin met die maak van die meringue. Die eierwit klits reg soos wat ek al op TV gesien het en ek gooi die strooisuiker in ... nou raak die storie maar weer loperig maar ek gaan maar aan ... ek is nou in en kannie omdraai nie.


Laaste roer ek die mielieblom in en toe gooi ek die slapperige wit mengsel uit in my pan. Ek maak seker dat die beslag mooi egalig versprei is en vir 'n oomblik wonder ek ... die degie lyk maar dunnerig.

In die pan
Oond toe. Uit ondervinding het ek al geleer dat my oond effe hitsig is en ek maak hom 10 grade kouer en sny die tyd met 3 minute.  So ek bak 170C vir 17 minute. Na so rukkie sien ek dat die eierwit erg begin stulp en ek voel meer gerus oor die dikte.

Klaar gebak
Omdat die onbekende waters vir my is, staan ek by die oond en hou die gedoente dop ... die wiskunde sê vir my dat ek verseker nie die meringue moet "overcook" nie want dan gaan hy verseker nie rol nie.

Net toe die rante begin verkleur gaan die alarm af en ek sit die oond af en maak die deur oop. Wat ek sien lyk nie te sleg nie en los die deur so effens oop en begin die skottelgoed was. Ek kan nou niks verder doen nie want nou moet die meringue afkoel in die oond en dit gaan 'n tydjie vat.

Skottelgoed is skoon en koffie is gemaak. Nou bekyk ek die meringue mooi van naderby en breek so stukkie op die rand af. Dis lekker krakerig en die volgende is vir my duidelik. Om die ding te rol gaan nie maklik wees nie.

Ek sit in my kantoor en lees weer die resep. Nina stel voor dat jy die meringue moet omkeer en die vulsel op die gladde kan smeer voor jy begin rol. Dis mos maar die normale metode met rolkoek ... na ek die eindresultaat in die pan gesien het, maak dit egter nie vir my sin nie. Die bokant is baie ongelyk met berge en dale en ek voel dit gaan die eindresultaat erg knopperig laat lyk. Logika vertel my dat daardie meringue erg gaan breek en krummel met die oprol en ek besluit ek sal maar die situasie heroorweeg in die daglig.

Maak hom los van die papier af.
Middel van die oggend en ek staan en kyk na die meringue. Ek sien nou dat die suiker so effe gekarameliseer het en ek grinnik ... gaan so lekker taaigeidjie in die koek sit. My "mind" is opgemaak, ek gaan hom nie omkeer nie. Ek sien ook duidelik dat hy verseker nie sommer net gaan toegee en rol nie.




Met 'n lang slaplem mes maak ek seker die meringue is ordentlik los van die bakpapier af. In die losmaak proses sien ek dat hy reeds begin verkrummel so hier en daar en ek besef dat die rollery 'n uitdaging gaan wees.

Aarbei smeer
Hier wyk ek toe nou af van die resep. Ek klits die room styf maar ek smeer eers sulke blertsies aarbei smeer op die meringue. Ek het baie smere maar het besluit op die aarbei want dit pas by die raspberrries wat ek het ... frambose vir die wat mooi Afrikaans wil praat.

Room en bessies
Volgende smeer ek die room oor en dan strooi ek die bessies.

Nou vir 'n ding ... my eerste poging om die rol te maak voorspel niks goed nie, die meringue is te styf en lig sommer so groot stuk op. Ek herstel en dink so bietjie. Gelukkig is ek nie bang om my hande te gebruik nie en ek druk my vingerpunte deur die room en en breek die meringue, Ek lig die papier en die eerste knak werk. Nou het ek die idee en ek breek weer so streep oor die meringue. Nou rol ek hom mooi ... dis nou verseker nie 'n elegante proses nie maar die resultaat is reg.

Opgerol
En daar lê hy ... mooi opgerol ek skuif hom oor op die bord. Nou strooi ek die versiersuiker en pak die bessies op vir die vertoon. Nog versiersuiker en hy is klaar.

Nou laat ek opsom ... die koek is baie lekker ... ryk en romerig. Jy moet verseker jou kop hou in die proses en ek sal volgende keer twee ekstra eierwitte gebruik. Maak jou reg vir die oprol slag en moenie verwag hy gaan rol soos 'n gewone rolkoek nie. Dis my opinie dat jy maar moet vergeet om 'n mooi einde te kry. Doen dit so goed soos jy kan en eet hom.

O ja ... hy kannie oorstaan nie ... as jy die vulsel op het en opgerol het dan moet hy tafel toe.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Hier is Nina se Resep ... Festive Roulade ... probeer hom gerus.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.