Dinsdag 15 Julie 2014

Biltong - under a parmesan blanket

Hierdie een is nou in Engels maar dis gedoen vir 'n spesiale geleentheid ... ek is nogsteeds Man Kos.

Few things are as traditional South African as Biltong. The Americans makes something similar and call it beef jerky but true South African Biltong has a taste and texture of its own.

Biltong is almost always the first thing expats talk about when food is mentioned and no Rugby game is complete without biltong.

In this day and age of high food awareness it is just natural that we will want to renew biltong and dress it in designer ware instead of the traditional khaki clothes.

With this in mind and some inspiration from a good foodie friend I embarked on a mission to dress biltong for a fancy party.

Biltong under Parmesan Blanket

You will need:
1.Some form of a base, cracker cookies or biscuit.
I simply used a sjerrie glass and cut little circles out of a slice of bread.
Lightly coated the discs with some olive oile and baked in the oven at 180C for 10 minutes.

2. Finely sliced medium wet biltong.
You could use thinly sliced Parma Ham.

3. Parmigiano Regianno crumbs
I buy these in tubs

4. Parmigiano Regianno ribbons
I sliced it with a vegetable peeler.

5. Conserved Green Figs.
This is another South African delicasy.

6. Chili paste
7. Pickeled Jalapeño slices
8. Pickled Onions

It is very important that you understand the tastes of the components and make sure your balance is correct.

Method:
Dressing the biscuits
1. Place a knife tip of chili sauce in the center of the bicuit.
2. Squash a pea sized piece of greenfig between your fingers and palce it over the chili paste.
3. Place slither of the pickled onion.
4. Place slither of the jalepeno.
5. Take some parmesan crumbs and scater it over the base and filling.
Parmesan Ribbons
6. Make a little bundle of the biltong, about a teaspoon, and press onto the base. Cover the filling.
7. Finally cover all of it with parmesan ribbons.

Oven on Grill and place the rack in the middle. Be careful the cheese melts quickly and will burn.

And there you have it, lovely biltong under a parmesan blanket.

Be careful not to overwhelm the biltong and cheese with the fig. The fig is there to balance the saltiness of the biltong and the cheese.

Have fun in the kitchen till I write another story.

Here is my Facebook page ... Man Kos ... Like it to bits if you want.

Sondag 13 Julie 2014

Sous - moenie bang wees nie

As jy, soos ek, 'n Masterchef verslaafde is dan sal jy baie hoor die judges praat oor die sousies. Hulle noem dinge soos, "depth", "flavour", "consistency" en nog so paar ander dinge ... maar die meeste keer praat hulle oor "depth".

In Boerekos word daar baie verwys na 'n LANG sous. Een van die eerste dinge wat ek gaan ondersoek het toe ek besluit het dat my MOERBY KOK dae is verby, was die ding oor souse. 'n Lekker sous kan 'n baie gemiddelde bord kos oplig na groot hoogtes toe.

Matt Preston van Masterchef sê baie ... "All I want now is piece of bread to mop up that wonderful sauce." ... en dan glimlag hy van oor tot oor.

Vandag gaan ek probeer om vir julle te wys hoe mens jou eie sous maak sonder om pakkies sop of lepels vol poeiers te gebruik. Ons gaan reg in die begin begin en ek gaan jou stap vir stap wys hoe maak ek 'n sous waaroor die Manne gaande raak en die vrouens lek hulle lippies af.

Wors in koue pan
Ek gaan begin met 'n baie eenvoudige ding, iets wat ons almal baie maak ... wors in 'n pan. Wees gewaarsku, hier is baie fotos.

Heel eerste gaan ek sommer ook wys hoe ek wors gaar maak op die stoof. Ek begin deur my getroue ou ysterpan nader te trek ... pak die wors mooi in die pan en gooi so 3/4 koppie koue water in. Let wel die pan is yskoud.
Water by en pan word warm

Nou sit ek die gas op sy hoogste en relax.

Sodra die water goed kook begin ek die wors draai, as dit buig dan gee ek dit meer hitte op die rugkant sodat dit reguit kan trek ... ek hou niks van krom worse nie. Sodra die water weggekook het draai ek die gas af na medium toe, ek wil nie die pan verbrand nie maar wil die wors braai.

Wors begin braai
Jy moet baie seker maak jy BRAND nie die pan nie want dan gaan jou sous bitter wees.

Twintig minute later is die wors lekker bruin gebraai en daar is lekker vet en aanbrandsels onder in die pan. Nou skep ek die wors uit in a bakkie in, Moenie die hitte afdraai op die pan nie.

Wors klaar gebraai
Nou kyk ek in die pan, kantel hom en skat hoeveel eetlepels vet is in die pan ... jy soek tenminste een eetlepel en 'n bietjie. As daar te min vet is, gooi 'n eetlepel botter by en laat dit smelt. Nou gooi jy twee opgehoopte eetlepels koekmeel in die pan. Gebruik 'n metaal lepel en roer goed, krap soveel van die brandsel los van die pan bodem af en meng met die meel wat nou so pasta begin vorm. Die chefs noem dit die maak van 'n "rue".

Wag vir die sous
Laat die pasta vir een minuut kook in daardie warm pan. DIs belangrik om te keer dat jy 'n meel smaak in jou sous het. Gooi nou een koppoie koue water in die pan. Dit behoort te borrel en stoom laat dit bars ... dis wat hulle noem "deglazing" ... werk daai pan met jou lepel en skraap elke brokkie lekkerte los van die pan bodem af.

Nou begin die sous
Die storie lyk maar redelik onooglik en smaak verseker gladnie goed nie. Sodra jy al die lekkerte los het van die pan bodem af, gooi nog 'n koppie koue water in ... nou gaan die storie eers sleg lyk maar moenie worry nie ... bly maar net roer, ek smeer die paste met die agterkant van die lepel teen die pan bodem om die klonte weg te kry. Soos die hitte opkom sal jy sien die sous begin lyf kry.

Omtrent so 4 minute later begin dit nou na 'n ordentlike sous lyk en dit moet moet regtig sterk borrel. Bly net roer met jou lepel, amper asof jy beslag meng ... daar kan nou ook skuim begin vorm maar hou net aan met roer ... die skuim word veroorsaak deur die vry water wat afkook.

Meel in
Op ongeveer 5 minute gaan jy skielik sien die sous kom bymekaar en lyk nou soos 'n regte sous. Dis nou die tyd wat jy die eerste keer proe. Hierdie is belangrik want jy moet nou uitvind wat is daar. Myne proe maar gaggas op hierdie stadium maar ek proe wat daar is, veral of daar genoeg sout is.
Pasta vorm

Lyk nie baie goed nie
Nou gooi ek een eetlepel elk van die volgende in ... tamatiesous, blatjang, Worcestershire sous .... roer goed deur en draai die plaat nou af na LOW toe ... die sous moet nou prut. Nou met jy weer proe ... en konsentreer op wat jy proe ... jy wil 'n balans hê van SOET, SUUR, SOUT ... jy is nou so 10 minute besig met die sous. Jy bly proe tot jy al daardie elemente kan onderskei ... dit vat so bietjie oefening ... later gaan jy dit sommer alles in een proe onderskei maar in die begin moet jy jou smaak masjien eers oefen en fyn tune.
Nou begin dit sous word

Belangrik ... as jy voel die SUUR uit die tamatiesous, chutney en Worcestershire sous is nie genoeg nie kan jy bietjie asyn, wyn of suurlemoen insit. Onthou net, suiwel en citrus hou nie van mekaar nie en kan jou sous laat skif ... so as jy room, kaas of botter wil bysit, bly weg van die citrus af.

Nou is dit tyd om jou sout balans reg te kry en jy moet maar strooi, roer en dan proe, fokus nou op die sout ... onthou sout verbreed die smaakprofiel en al die ander goed gaan nou sterker begin uitkom soos jy die sout by sit.

Kook lekker vinnig
Laaste soek ons die SOET ... ek skep 'n teelepel sous ... strooi suiker oor en proe of dit verander ... dis hoe ek bepaal hoeveel suiker ek gaan ingooi ... deur op die teelepel te proe kry jy vinnig 'n idee of jy in die regte rigting gaan. Strooi nou suiker oor die sous, jy kan heuning of konfyt ook gebruik maar pasop net want dit kan die ander balanse ook affekteer ... ek hou by wit of bruinsuiker op die stadium.

Nou behoort jy 'n sous te hê waar jy die SOET, SUUR en SOUT goed kan proe sonder dat die een die ander oorweldig.

Nou is die tyd wat jy kan besluit waarheen jy wil gaan ... as jy sampioene wil insit, doen dit nou ... ek het gemaalde swartpeper ingesit.
Sous is reg

Sampioene gaan heelwaarskylik veroorsaak dat jy so bietjie water moet bysit, gebruik kookwater nou. Jy sal ook die sout moet aanpas.

Jy kan ook besluit jy gaan die uie en tamatie pad vat, dan moet jy nou uie wat sag gekook is ingooi en geblikte tamaties ... onthou net as jy tamaties insit moet jy dalk weer die soet en sout bietjie aanpas. Geblikte tamaties se smaak balans is gewoonlik reg.
Al die lekkerte is uit

As jy kaas kant toe wil gaan kan  jy nou 'n koppie gerasperde kaas vat, in 'n bakkie so opgehoopte teelepel mielieblom (Maizina) oorgooi en goed meng dat die kaas 'n goeie lagie mielieblom kry en dan gooi jy dit in jou sous. Dit is belangrik om 'n lekker kaassous te maak.

Laat prut nog so 2 minute tot jy sien die sous se dikte is reg.
Tafel toe

Op die einde kan jy nou so een eetlepel botter inroer of twee eetlepels varsroom ... my wors het genoeg vet ingehad so ek het dit nie gedoen nie.

En 15 minute later het jy 'n sous wat enige judge gaan laat regop sit ... geen storie van "lack of depth" nie. Die is nou 'n lang sous so uit 'n boek uit.

Hier het jy nou jou eie sous van "scratch" af gemaak sonder pakkies en botteljies. Jy weet wat daar in is en jou gaste gaan almal vra hoe jy dit doen. Jou antwoord ... MET LIEFDE.

Eenvoudig maar lekker
So bietjie advies ... as jy 'n ete met hoender gaan maak ... doen presies dieselfde maar in plaas van die wors te braai, braai vlerkies in die pan en laat dit maar ordentlik uitmekaar val, haal net die beentjies uit voor jy jou meel ingooi. Jy sal moet botter bysit want die vlerkies gaan nie genoeg hoendervet afgee nie. Ek gebruik hoender hartjies vir die basis.

As jy beesvleis of steak doen ... kry sou paar repies brisket en begin die sous deur die brisket uit te braai.

Ek hoop regtig jy gaan nou meer moed hê om liewer jou eie sous te maak as om pakkies te gebruik.

Hierdie is een van die redes hoekom ek so sterk voorstander is van net drie elemente op 'n bord ... dit gee my die tyd om lekker sousies te maak.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Saterdag 12 Julie 2014

Vark - Bacon en kaas snaxie

Bacon en Kaas Snaxie
Die hele wêreld om ons is deesdae vol kosstories, prentjies en praatjies. Mens sien honderde lekker goedjies en dink ... Dit moet ek maak .... en dan karplaks kom 'n nuwe prentjie op.

So tyd terug sien ek die goedjies, ek weet nou nie eers meer mooi waar nie maar ek het a nota in my boekie gemaak en toe gister besluit ek dis een van die goed wat ek die naweek gaan maak.

Hier is hy ...

Man Kos se Bacon en Kaas Snaxie.

Rol die brood uit
Bestandele:
1 vars gesnyde wit brood. Die pre-pack brood werk perfek.
1 Pakkie swoerdlose varkspek ... Streaky Bacon sonder die velletjie.
1 Pakkie van die gesnyde kaas vir toebroodjies.

Draai toe met Bacon
Metode:
Sny die korsies af van die snytjie brood
Rol hom nou mooi plat met 'n koekroller. Net in een rigting en net so twee of drie rolle.
Die uitgerolde broodjie sal nou nie meer vierkantig wees nie.
Sit nou 'n snytjie kaas op die een punt ... kyk foto.
Rol hom nou mooi styf op.
Draai nou die bacon repies om die broodrolletjie. Ek het twee stukkies gebruik per rolletjie.

Ligbruin en kraakvars
Vat 'n bakplaat en smeer hom met olyfolie en pak die rolletjies op.
Oond op 180C vir 15 minute rakkie in die middel.
Dan draai ek die oond op na 210C vir 10 minute. Maar staan en hou dop. Oonde verskil. Jy wil dit net ligbruin laat word en nie brand nie.

Die rede vir die eerste deel is om die bacon vet goed te laat uitloog. Dan maak jy dit net krispie op die einde.

Pak op handoekpapier.

Maak 'n lekker sousie wat soetsuur en mosterd is. Ek het ook basil blare bygesit.

Jy kan die broodjie dun lagie lekker mosterd oorsmeer, jy kan repies jalapeno insit, jy kan gekerfde suur uitjies insit, jy kan maple stroop oor die bacon sit voor jy bak ... daar is so baie moontlikhede. Moet net nie die vulsel te dik maak nie want dan gaan dit uitloop. As jy nie die kaas snye het nie ... rasper maar en sit mooi op, weereens nie te dik nie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Luister na Nina Timm op RSG vir meer kos stories.

Donderdag 10 Julie 2014

Pap - krummelpap kan stylvol wees

Pap, ja as 'n boerseun van pap praat dan praat hy van mieliepap en dis seker so eg Man Kos as wat iets kan wees ... ek praat nou van die manne van die Vrystaat, Natal, Hoëveld en Wes Transvaal ... dis mielie wêreld en pap is groot in die streke.

Ek is self 'n man wat op pap groot geword het en tot vandag nog is dit vir my asof die dag nie reg begin het as ek nie 'n lekker bak pap kan insluk nie.

Maar vanaand wil ek oor 'n spesifieke tipe pap skryf en nie oor pap in die algemeen nie. Soos ek al baie gesê het, my passie vir Boerekos loop diep deur my are en deesdae dink ek dit begin ook in my murg intrek. Ek is lief vir kos maak en ek lees en kyk na soveel kokke se werk as wat ek kan in pas.

Nou sit ek so en dink terwyl ek weer na 'n kookprogram op TV kyk en die ouens doen fancy dinge met polenta. Polenta ... vir my is dit maar net slap pap in een of ander vorm. Daar word couscous gebruik in slaaie ... ja ek weet dis 'n vorm van pasta, gemaak van durham wheat maar die tekstuur is maar baie na aan fyn krummel mieliepap.

Ek staan op en loop na my kombuis toe ... ek sal dit maak met mieliemeel, growwe braaipap meel. Ek het myself nog altyd gereken as 'n goeie papmaker en menige mense het al gefrons as ek my maat bekers uithaal om pap te maak ... maar ek lag maar net en gaan aan ... voordeel van maatbekers gebruik is dat jy elke keer presies dieselfde resultaat kry.

Mieliepap kom in drie basiese vorms voor ...

1. Stywe Pap - Gewoonlik maak mens dit vir 'n braai of as bykos as jy bredies of wors en sous maak. Ook baie lekker vir ontbyt. Die tekstuur is redelik kompak, amper soos mash potatoes. Dit kan egter heelwat verskil van kok tot kok.

2. Slap Pap - Die is gewoonlik vir ontbyt. Ek maak dit ook baie maal vir 'n laatnag snaxie.

3. Krummel Pap - Hier is daar baie variasies en weereens verskil dit van kok tot kok. Vir my kom krummelpap in variasies voor van waar die krummels omtrent so groot soos ertjie pitte is en af tot fyner as rys. Ek ken die ertjie grote tekstuur as Putu en die fyner as Krummelpap. Maar daar is baie wye beskrywings en benamings vir dit. Dis nie belangrik nie en sover dit my Man Kos aangaan is dit soos ek beskryf het.

Krummel pap ... elegant en smaaklik
Vanaand het ek 'n lekker kerrie skaapbredie in die pot en dis nou tyd om die stysel te maak. Eerste gedagte was koring en toe rys ... en toe sien ek die ding op TV en besluit net daar en dan dat goeie Boere Kerrie Skaap verdien 'n goeie Boere stysel.

Nou moet jy maar mooi lees en net so maak as jy dieselfde resultaat wil kry. Vir baie gaan my resep na waansin klink en dit gaan jou dalk erg laat frons ... maar glo my ... ek maak dit so en die fotos vertel die storie.

As mens pap maak dan moet jy tussen 80 en 160ml meel gebruik per persoon om jou porsies te bestuur. Dis nou goeie porsies maar groot manne kan maklik 240ml meel inskep. So die resep wat ek vannaand gaan beskryf sal vir jou genoeg pap gee vir 4 tot 6 mense.

Wat belangrik is om te onthou is dat ek gaan van koppies praat en dan bedoel ek 'n normale koppie van so ongeveer 240ml. As jy minder wil maak gebruik dan 'n kleiner koppie of bekertjie of glasie maar hou die verhoudings reg.

Die regte vurk
Jy het 'n goeie sterk tweetand vurk nodig.

Waarskuwing ... baie mense gaan die metode lees en sommer dadelik besluit dat dit teveel moeite is. Maar nouja dit is nie 'n maklike kits proses nie en die proses is spesifiek daarop gerig om hierdie Boerekos element van ons in die "fine dining" omgewing in te bring en glo my ... hy kan sy man staan.


Man Kos Krummel Pap
Bestandele:
1/2 Koppie water
1/2 Koppie melk (Jy kan die melk los en net water gebruik)
1 Eetlepel botter (Margarien as jy wil)
4 Koppies growwe braaipap meel - Ek gebruik Jan Pap Braaipap meel. Ek het nie die resep met fyn meel gedoen nie so ek weet nie of fyn meel gaan werk nie.
Sout na smaak.

Metode:
Meet jou meel uit in 'n houer, ek skep dit sommer in die pap pot se deksel.
Dis belangrik dat jy die meel afmeet voor jy begin.
Gooi die water, melk en botter in jou pap pot. Ek gebruik 'n gietyster pot op my gasstoof. Gooi 'n half teelepel sout ook in.

Reg vir die eerste roer
Jou plaat moet nou baie warm wees want jy wil die vloeistof vinnig laat kook.
Sodra die mengsel goed kook roer dit vinnig om die botter en sout te versprei.
Gooi nou die meel vinnig op 'n hoop in die pot in en maak die deksel dig toe.
Ja maak toe en moenie roer nie. Daardie hoop meel sal nou omring word deur die water.

Draai die gas nou af na medium toe.
Dis belangrik dat jy nou nie daardie deksel oplig nie. Die pot moet nou stoom opbou.
Laat staan die pot nou vir 5 minute.

Dis wat jy soek
Nou kom die werk ... haal die deksel af en dop hom om, jy wil die vog teen die deksel behou.

Nou begin jy daardie meel roer met die tweetand vurk. Dit vat so bietjie elmboog ghries. Aanvanklik gaan jy dink daar is hopeloos te min water. Moenie worry nie ... bly meng en roer en spoedig gaan jy sien dat dit sulke fyn krummels vorm en droë meel is weg. Sodra jy dit sien sit die deksel terug, mooi dig en los op die medium hitte vir so 15 minute.

Maak die pot weer oop en skud enige water van die deksel af terug in die pot in. Nou moet jy dit weer goed roer met die tweetand vurk en maak seker jy krap die bodem van die pot goed want daar mag nou al 'n harde korsie begin vorm het. Roer goed en werk vir 'n fyn egalige tekstuur.

Ja ek weet dis bietjie effort maar ons einddoel is om mieliepap op 'n bord neer te sit wat kan meeding in enige fancy omgewing.

Toets nou net vir SOUT ... onthou die meel is nog rou ... sprinkel ekstra sout oor as dit te vars is en roer in.

Maak die deksel dig toe, draai die plaat af na "low" toe. Hierdie pot moet nou vir 45 minute op die hitte bly. Na die eerste 15 minute verby is maak jy die pot weer oop, behou die vog teen die deksel en skud dit in die pap in. Roer weer baie goed maar nou moet jy die bodem nie skraap nie want die kors moet begin vorm.

Maak toe en los nou vir 30 minute.

Moenie die pot oopmaak nie want jy verloor stoom en dis wat die tekstuur veroorsaak en die pap gaar maak.

Heerlike fyn krummel pap
Op die einde maak jy die pot oop en gee weer 'n goeie roer met daai tweetand vurk. Nou is jou Krummel Pap reg. Fyn tekstuur en heerlik. Nou kan jy dit bord toe vat, jou keuse hoe ... 'n lekker hopie op die bord met 'n sousie of jy kan dit in a vormpie druk en opdien ... net soos jy wil.

Die beste deel van die pap ... jy maak 'n lekker vla met so knertsie rum of brandewyn in, skep van die pap in tot jy 'n stywerige mengesel het. Skep in bakkies en druip appelkoos en gemmer sousie oor dit en siedaar ... 'n sexy krummelpap en vla nagereg.

Hierdie pap kan nou ook in slaaie gebruik word in plaas van couscous.

Gebruik jou verbeelding met die pap en jy kan verrassende dinge in die poedingbakkies doen ... en dit alles van eenvoudige mieliemeel af.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom stukkend as jy wil.

Sondag 29 Junie 2014

Steak - T-Been is darem lekker

Vandag gaan ek skryf oor T-Been ... daar is baie manne wat mal is daaroor maar vrouens skram weg want die goed is te groot. Verder is dit so dat as jy die stuk vleis kleiner wil kry dan word hy dunner gesny en dan eindig jy met 'n stuk leer op jou bord.

T-Been in die pan
Ek dink daar is eintlik meer romantiek agter mans se T-Been etery ... dis mos erg "Grotman" om so stuk vleis met been en al op die bord te kry ... aards en primitief ... alles dinge wat rooibloed mans se harte warm laat klop.

Nouja ... ek het my oerdrange baie jare terug al hokgeslaan as dit by die snit kom. Braaivleis vure en T-Bene is maak byna net so min sin as stilletto skoene, sykouse en die bosveld grasvlaktes.

Laat ek meer verduidelik want ek is seker daar is nou 'n paar diepkeep fronse voor 'n klomp rekenaarskerms ... party probeer die stillettos imagine maar ek dink die meeste frons oor die "lekker" T-Been op die laaste braaivleis vuur.

Braai die beenkant goed
T-Been is verseker nie sagste vleis aan 'n beeskarkas nie en dis net daai stukkie fillet aan die eenkant as jy gelukkig en hy is nog daar. Die res is redelik hard en kan maklik baie droog wees. Kokke en braaiers het allerhande slenters met souse en bedruiping om die eienskappe te verberg maar op die einde as alles weggeskraap word is dit maar weer net die stuk vleis.

In die oondpan in
Hierdie renons van my in T-Bene het my nog altyd gepla want ek het gedurig gevoel ek verraai my herkoms deur so antagonisties te wees teenoor hierdie snit. So elke keer as ek daar by my geliefde vleiswinkel inloop dan sien ek die T-Bene in al hulle verskillende verpakkings, staan en kyk vir so rukkie en dan loop ek liewer weg.

So kom dit dan dat ek op laat herfs middag weer by die slaghuis inloop en daar in die vertoonkas lê 'n versameling van die Grotman snitte ... vir 'n wyle talm ek en toe neem ek die besluit ... ek gaan hierdie stuk vleis tem vanaand. Dis net ek en my poppie en vat 'n stuk wat so skrams onder die een kilogram weeg.

Nou moet hy goed rus
Ok, verseker gaan die ding na 'n vuur toe nie want ek weet dis selde of ooit 'n sukses. My kop maal en ek flip deur al die dinge wat ek van vleis kan onthou. Toe besluit ek ...

Pragtig pienk en sappig
Eerste braai ek al die kante in 'n vuurwarm pan ... die rook trek uit die pan uit ... geen speserye of sout nie. Laaste staan hy op die been in die pan en ek laat hom maar goed les opsê want ek wil hê die hitte moet mooi optrek in die been in.

'n Goeie porsie
Nou op 'n oonpannetjie met rooster ... gooi hom lekker met speserye en 'n koppie water onder in die pan. Dis maar net om te keer dat die sousie en vet te erg aanbrand. Twee lourierblare in die pan en toe oond toe ... 180C vir so 15 minute. Toe uit en ek laat hom rus vir 20 minute. Die is baie belangrik want dit gee die vleis kans om te ontspan na die hitte aanslag en dit laat die kookproses ook natuurlik tot stilstand kom.

Toe die tyd om is to begin ek die vleis te sny ... kyk mooi op die foto hoe ek dit gedoen het. Die T-Been is mooi medium gaar en feitlik geen sous loop uit soos ek sny nie.

My vrou was in haar noppies met die resultaat want nou kon sy die vleis regtig geniet en die helfte is nie weggebrand nie. Die hele snit is mooi gaar en niks word gemors nie. Ons het albei geëet en daar was oor vir so lekker Man Kos toebroodjie vir die volgende dag.

Nouja ... ek het die T-Been getem en vandag is dit 'n snit wat ek gereeld gebruik maar verseker nie op 'n oop vuur nie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Saterdag 28 Junie 2014

Yskastert - Peppermint Crisp Kaaskoek

So paar weke terug was nageregte op Kokkedoor aan die orde van die dag en die Peppermint Yskastert was onder die uitgesoektes.

Man Kos Peppermint Crisp Tert
Nou ek het mos reeds gesê dat niks van 'n gebakte kaaskoek hou nie. Gisteraand staan ek voor my kas en kyk na wat ek het ... ek was lus vir iets lekker maar ek soek dit ook nie te soet nie. Toe begin my kop werk, ek beter iets aanmekaar sit wat nie ure vat nie en wat ook nie 'n lang lys bestandele het nie. Meer belangrik, hy moet verseker stol.

Na so bietjie rondkrap en baie dink besluit ek ... Man Kos Pepermint Crisp Tert ... dis wat ek gaan maak.

Nou vir my is dit regtig belangrik dat as ek roomkaas gebruik moet dit regtig roomglad ingemeng word. Ek trek die Kenwood nader en sit die groot bal whisk in ... sommiges gaan nou frons maar dis ok, ek hou van wat die stuk gereedskap kan doen.

Man Kos Peppermint Crisp Kaaskoek

1 Pakkie 250gr Roomkaas by kamer temperatuur. Nie so belangrik as jy die Kenwood gebruik nie want hy sal dit sag kry.
1 Blikkie Caramel Treat (Moenie die blikkie weggooi nie)
1 Blikkie Double Cream Greek Yoghurt
1 Pakkie Tennis Beskuitjies (Jy kan enige krummelkors maak - ek was lui)
1 Pakkie Moirs Heritage Range Peppermint Crisp Tart Flavour of Vanilla Flavour
1 Blok Peppermint Crisp (Sit in vrieskas want dan breek dit makliker op)

My glasbak het 9 koekies gevat, 3 in 'n ry.

Instant Pudding
Eerste gooi ek die roomkaas en Caramel Treat in die mengbak en laat die Kenwood loop op Spoed 1 vir so 5 minute. Nou stop ek die masjien en krap die mengsel mooi los van die kante af en uit die whisk uit en roer dit in die mengbak met a groot lepel. Terug in die masjien op Spoed 1 vir nog 3 minute. Nou is die roomkaas en caramel lekker glad en sag.

Pak solank jou kors in die bak.

Peppermint Crisp tert in die bak
Volgende gooi ek die Caramel blikkie vol met die Yogurt en gooi dit by die roomkaas mengsel. Weer laat ek die masjien loop vir 5 minute op die stadige spoed en stop. Krap weer die mengsel goed op 'n hoop met my lepel en laat die masjien weer loop vir 3 minute.

Nou het ek 'n lekker gladde mengsel van roomkaas, caramel en yogurt.

Nou gooi ek die pakkie Moirs Instant Pudding by en whisk op medium spoed net vir 2 minute.

Skep dit op die kors en maak mooi gelyk.

Nou verbrokkel ek die Peppermint Crisp en strooi bo-op die tert. Ek gebruik die agterkant van 'n lepel om dit so bietjie in die vulsel in te druk want die vulsel stol baie vinnig.

In die yskas vir sowat een uur en dan kan jy wegval. Die tert is lekker en die yogurt keer dat dit te soet is.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.

Vrydag 27 Junie 2014

Sop - Alet se butternut sop

Ek is baie lief vir lekker sop en my ma se Klipsop was die lekkerste vir my. Lekker ryk en warm saam met vars brood. As jy die sop so op die brood skep dan smelt die botter so af ... jissim dit is lekker.

Roasted Butternut Sop
Gister sien ek 'n skakel op my Facebook bladsy na Alet van Kokkedoor 2014 se "Roasted Butternut" sop en my mond water sommer. Ek moes dit eenvoudig maak.

Sy doen dit in a video vir Pick & Pay en dis nie so maklik om die resep volledig te kry nie, so ek het die video so paar maal gekyk met pen en papier byderhand en baie replays. Op die einde het ek dit min of meer alles gekry wat nodig is.

Onthou, ek doen nie eintlik resepte nie so vat die een soos hy kom. Ek gaan die taal maar lekker mix sodat almal verstaan waarvan ek praat.

Alet se Roasted Butternut Sop.

Nota - Dis nie presies soos sy dit gedoen het nie maar hier is my weergawe wat ek gemaak het.

500 gr Butternut in blokkies gesny.
2 medium Uie in kwarte en dan weer in blokke gesny.
1 Appel in blokke gesny - haal die pitte uit.
1 Lemoen - Rasper die skil af en druk die sap uit.
Vars Koriander - 1 bossie.

2 Teelepels Curry poeier - Ek het Raja Mild en Spicy gebruik
1 Teelepel Cumen
3. Eetlepels Bruismeel - ek het koekmeel en een teelepel bakpoeier gebruik.
Knertsie Nutmeg
Paar takkies Tiemie - Ek het Lemon Thyme uit my tuin gebruik.

1 Chicken Stock Cube - Ek het een sakkie van Ina Paarman se Chicken stock konsentraat gebruik.
250ml water
375ml Melk

Oond op 220C.

Sprei die pampoen, appel en uie uit op a oondpan. Sprinkel sout en peper oor. Spat ook nat met olie. Ek het Druiwepit olie gebruik. Pak so paar takkies van dieTiemie ook op.

Bak nou in die oond vir 30 minute. Op hierdie stadium sal van die uie en pampoen sulke swart punte kry, dis perfek want mens soek daardie geroosterde smaak. Haal uit die uit.

Meng al jou speserye en meel nou en strooi dit oor die pampoen op die oondpan. Ek het dit sommer met 'n lepel goed gemeng en laat rus.

In 'n groot genoeg kastrol, gooi water, melk, lemoenskil, lemoensap en maak dit warm. Gooi nou die groente stukke en meel mengsel in die melk in. Krap maar die pan goed skoon met die lepel en kry alles in die pot.

Laat nou prut vir so 15 minute.

Haal van die stoof af en met "stick blender" kap die groente lekker fyn.

Nou is die tyd om te toets vir jou smaak. My eerste proe het my laat dink dat iets is dalk bitter en toe onthou ek ... sit sout in as iets bitter proe.

Ek het so handvol koriander blare ingegooi en ook versap. Nou het dit goed geproe maar daar het so ietsie kort gekom ... ek het a eetlepel Worcestershire sous ingegooi. Nog 'n blits en toe is dit reg. Ek het weer op die stoof gesit met die gas op sy laagste en nog 10 minute laat prut.

Laaste het ek die plaat afgesit en so 3 eetlepels room bygeroer.

Ek het van gister se brood  baie dun geny en op 'n bakplaat gepak, bietjie olyfolie oor gespat, chili flakes, Robertson's Gemengde Kruie en Texan Braai Rub. 180C oond vir 20 minute. Die broodjies was kraaklekker en spicy.

Wat 'n heerlike sop en ek was aangenaam verras om die appel ook te kon proe. Hierdie is wenresep vir my.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... Like hom stukkend as jy wil.