Donderdag 30 April 2015

Lekkernye - Nina se Florentines

Dis my mening dat menige man diep onder sy vel 'n belustiging vir 'n soetigheidjie het, party meer as ander. Ek hou van soetgoed maar in baie klein porsies.

Nina se Florentines
So kom dit dan dat Nina Timm so dag of wat terug op die skerm verskyn met 'n dingetjie wat sy 'n Florentine noem ... ek het nog nooit van dit gehoor nie en ek lees haar storie aandagtig deur.

Wat waar is, is dat hierdie koekie omtrent net bestaan uit dinge wat vir my lekker is ... soos Kellog's Corn Flakes ... ai man die goed is soos drugs vir my en ek koop dit byna nooit nie want as dit in die huis is moet dit in my keel af. Enige tyd van die dag of nag, 'n goeie handvol in 'n bakkie, yskoue volroom melk oor en twee lepels suiker. En dan word dit vinnig gehap want ek is mal oor die kraak van die vlokkies ... pap Cornflakes is soos 'n koue garage pastei ... gaggas op sy beste.

Nog iets is gevlokte Amandels ... iets wat ek sommer so handvol oor 'n bakkie Griekse Yoghurt strooi, met heuning bedruip en dan sit en smul.

Rooi glanskersies ... ag nee man ... ek eet die goedjies soos popcorn.

In die pan
Rosyntjies ... iets uit my kinderdae ... die dae toe dit al beter met my ouers gegaan het hulle sulke groepe gevorm het wat droeë vrugte van die Kaap af bestel het. As die bokse dan daar aanland was dit 'n groot saamtrek en gekuier terwyl die inhoud sorgvuldig tussen elke aandeelhouer verdeel word. Onthou die was in die tye toe daar nog 'n brief geskryf is, en 'n posorder in die brief toegevou is vir die produkte, en dan was dit die lang wag vir die stasie om te bel en te sê die pakkie het aangekom.

Heerlik
Goeie tye daai ... so is daar ook wyn gekoop uit die Kaap uit.

En dan ... kondensmelk ... dis iets wat vir menige mense 'n baie spesiale betekenis het. Dis 'n lekkerte wat omtrent elke kind se verbeelding aangryp en al gelei het tot menige lang sessies in die toilet na so oomblik van onbesonnenheid. Ek myself was een van die ... teveel kondensmelk met custard poeier en Jersey room ... en ja ... die gevolg was angswekkend.

Nouja, meng al die goed saam en kroon dit met donker sjokolade en dis 'n stukkie lekkerte wat my tot in my tone laat ril.

Ok hier is die Nina se Resep ... volg die skakel om haar hele storie te lees.

Nina se Florentines

Makes 24
Ingredients
5 x 250 ml Kellogg’s Cornflakes
150 g Safari flaked almonds
250 g Moirs Glaze Cherries
250 g Safari Seedless Raisins
250 g dark chocolate chips
1 x 397 g tin condensed Milk
Method
Preheat oven to 180 C. Place all cornflakes, nuts, cherries and raisins in a big bowl and add the condensed milk. Stir through and make sure that everything has a light coating of condensed milk.  To make the Florentines is a bit messy, but here is my easy way. Spray two baking sheets with Spray ‘n Cook and get hold of a cookie cutter or food stacking ring( 7 cm in diameter) as well as a small glass with a bottom that fits in the ring or cookie cutter. Oil the cookie cutter or stacking ring on the inside as well as the bottom of the glass. Place the stacking ring on the baking sheet and spoon a big spoonful of the mixture in the ring and flatten with the oiled bottom of the glass, pushing it through the ring onto the baking sheet. Repeat until you have used up all of the mixture. Bake for 10-15 minutes or until cookies have turned a light caramel color. Remove from the baking sheet and cool on a wire rack. Melt the chocolate in a bowl over boiling water and spread on the bottoms of the Florentines.  When completely cooled down, pack in a beautiful tin and tie a bow around it……

Ek het haar resep mooi gevolg en presies gemaak soos sy sê.

Eerste het al die droeë goed bymekaar gegooi in 'n lekker groot bak en dit goed gemeng. Volgende het ek die kersie versnipper en met versiersuiker besprinkel en rondgerol, dit help dat mens nie so klont kersies in jou mengsel kry nie.

Laaste het ek die kondensmelk ingegooi en baie goed gemeng met 'n staal lepel.

Toe kom die koekie makery. Ek weet nie hoe jy dit gaan doen sonder a opdien ringetjie nie.

En toe is dit oond toe ... soos ek al geleer het, my oond is aan die hitsige kant en op 12 minute het ek die oond afgesit en die koekies vir 5 minute in die oond gelos. Ek glo dis belangrik sodat die kondensmelk ordentlik kan taai word.

Die geur van gebakte neute en die Corn Flakes het deur my kombuis gedwarrel en ek staan met a groot smile op my bakkies terwyl ek die koekies versigtig oorplaas na die drad rakkies toe. Werk maar mooi ... hulle kan nou nog maklik uitmekaar breek.

Twee ure later en dis ek en die sjokolade. Hierdie keer het ek natuurlike impulse beteul en die glasbak in 10 sekonde sarsies in die mikrogolf oond gesit. Na so paar sessies toe sit ek met lekker gesmelte bruin bodybuilders in die bak.

Die goedjies is verruklik en ek glo mans sal dol wees daaroor want daar is oorgenoeg crunch.


Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.


Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.




Bees - Ma se tjop

 Man Kos is mos vleis en brood ... en dis hoe dit by my huis werk. Male sonder tal sien ek op Facebook hoe mense vra ...
Suiwer Bees

"Hoe kry ek my steak sag ?"

Net een antwoord vir dit ... Koop die regte steak by die regte plek.

So is dit dan dat ek by my geliefde vleiswinkel inloop en daar word ek begroet deur 'n groot glimlag.

Waarde vir geld
"Oom ... vandag het ek net die ding vir oom. Dis dry aged grassfed bees ... die beste in die geweste en ons het die naweek juis die Masechop op SPECIAL !"

Wimpie straal en hy hou trots 'n helse stuk bees in die lug sodat ek beter kan sien.

Nou kyk ek het al baie van die dry aged ding gehoor en baie gewonder. Nou reken hy nog ook dat die bees net gras gevreet het sy hele lewe lank. Die vleis lyk baie goed en ek hou van die kleur van die vet. Ek moet dit eenvoudig probeer.

Nouja en so is dat dan dat ek hier in my kombuis staan met die moerse chops op die tafel. Poppie is baie skepties, sy is nie eintlik 'n groot vleisvreter nie en o ja ... die ding moet dood gebraai word. Met die soort steak gaan dit verseker nie werk nie en ek sê maar liewer niks ... al wat ek weet is dat vir so hoë gehalte stuk bees is daar net een manier ... Medium Rare.

Net die minimum speserye
Nou hierdie bees moet met respek behandel word ... niks van souse en smere en onderdompelings nie ... ligte lagie olyfolie en dan 'n ordenlike laag growwe swart peper en Roberson's se nuwe Spicey Shisanyama mengsel. Dit was mos betyds vir Nasionale Braaidag ontwikkel.

Warm vuur
Verseker ook nie 'n gekuier in die bak na die spices op is nie ... net so 10 minute en dan op die vuur, 'n baie warm vuur. Om hierdie pragstuk vleis gaar te maak vereis fokus, niks van 'n dronkgat kuiery om 'n drom kole nie ... nee jy moet gefokus wees en die vleis met baie respek en toewyding hanteer.

Dis 'n dik stuk vleis en dis 'n warm vuur ... maar as daar een ding is waarvoor hierdie boerseun nie skrik nie, dan is dit vleis en vuur.

Vir 18 minute word die stukke bees deur die vlamme begelei en vertroos. Alles word met presisie gedoen en sonder 'n gesels ... hier moet respek wees en dit vereis toewyding.

Nou moet hy rus
Af van die vuur af en in 'n groot bak. Die tafel is reeds gereed en my vrou en jongste staar grootoog na die bak met vleis. Ek kan sien hulle kwyl al maar ek stel die alarm.

"Agt Minute se rus ..." is al wat ek sê terwyl ek wegstap na my kantoor toe. Ek gaan 'n twakkie vat en myself in die regte geestestoestand kry vir die fees.

 Die klokkie lui en toe begin die finale voorbereiding ... ek sit een tjop op my gunsteling plank en haal die groot mes uit sy blok. Daardie stuk Duitse staal glip langs die been af soos 'n warm naald in 'n blok botter in. Geen slagtery, net 'n netjiese bestuur van die lang lem. Die vleis is murgsag en sappig en my bek water. Die been word eenkant toe geskuif en sonder enige inspanning verdeel daai lang mes die stuk vleis in mondpas skyfies.

Man Kos
Die mooi deel van die goeie rus is dat die plank nie vol sap is nie ... so bietjie sousies wat langs die some glinster. Hierdie is nou Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook sal like.

Eerste hap wat ek vat is sonder enige sout ... ek moet eenvoudig eers proe hoe pure suiwer grasgevoerde bees ... hemels ... enige tyd so sag soos fillet maar net tien maal meer smaak. Die volgende repie tik ek so teen die hopie growwe sout op die plank en dis 'n smaak ervaring wat ek nie maklik kan beskryf sonder om simpel te raak en allerhande sinnelose frases en brabbel taal te gebruik nie.

Ek het darem 'n lepel vol aartappelslaai ook gevat.

Weereens is dit bewys ... 'n goeie steak op jou bord begin by 'n goeie vleiswinkel wat goeie steaks verkoop.

As jy in Nelspruit is dan gaan soek jy vir Wimpie op by El Madre Slaghuis en sê virhom jy soek van daai bees wat hy aan oom Colyn verkoop het.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.


Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Vrydag 27 Maart 2015

Skaapnek - Ou gunsteling vat 'n nuwe paadjie

Skaapnek ... dis iets wat meesal opduik as een of ander bredie. Wat 'n onreg !

Heerlike oondgebakte skaapnek
Soos menige ander Afrikaners is ek baie lief vir skaapvleis en Karoo skaap is mos onoorwinbaar as dit dit by geur en smaak kom. Dink maar hoe mens sommer begin kwyl as die tjoppies op die vuur land en kole steek sulke wulpse tongetjies uit om tog ook 'n stukkie beet te kry.

Die geur van oondgebakte ribbetjies of murgsagte boudjie op die Sondag tafel ... neewat jong, skaap is groot in ons boerekultuur.

Ek het ongelukkig op die Hoëveld groot geword en vir my was skaapnek altyd maar een of ander bredie en so gegooi met die souse en dinge dat dit op die einde maar net lekker sagte vetterige vleis was met die natuurlike geur en smaak skoon weg.

En toe in 2006 gaan ek en vriend op 'n motorfiets toer na die Swartland toe. Ons het die pad van Nelspruit af gevat en besluit om die N12 te gebruik ...

So land ons in Victoria Wes ... moeg na 'n lang dag in die saal en honger. Die dame by ons gastehuis beveel die Veldmerino Klub aan vir aandete en ons stort en trek gemaklik aan. Toe ons voor die eetplek stop kyk ons twee vir mekaar, die plek lyk nou nie baie waffers van buite af nie maar soos ons in die hoofstraat opgery gekom het was dit ook duidelik dat daar nie veel ander opsies is nie. Ons klim af en stap in.

Binnekant is ook maar regtig baie Spartaans en daar sit 'n paar manne by die kroeg. Ons kry vir ons 'n tafel en spoedig daag 'n jong meisie op ... sy is baie vriendelik en gee vir ons elkeen 'n spyskaart. Soos my gewoonte is met vreemde eetplekke vra ek ...

"Wat sou jy aanbeveel vir twee honger manne ?"

Sonder om te huiwer wys na 'n swartbord teen die muur ...

"Ons skaapnekke is die beste in die geweste."

Nouja, en so word ek toe voorgestel aan die hemelse lekkerte ... 'n heel nek wat in die oond gebak is.

Sedert daardie aand in 2006 het ek al verskeie kere my kuiertjies in die Kaap opsetlik so beplan dat ek Victoria Wes kan raakry en dan is dit net een ding vir my ... Veldmerino Klub se skaapnek. Op my laaste besoek daar in 2012 is die plek besonder stil die aand en ek vat 'n kans en vra die kelnerin bietjie uit oor hoe hulle die nekke maak. Sy borrel van opgewondenheid en sonder om te skroom verduidelik sy my in detail oor presies hoe haar ma die goed maak vir die restaurant.

Later die aand sit ek op die gastehuis se stoep en drink koffie. Die maan sit redelik laag en die laat Augustus luggie het sulke skerp randjies. My vrou kom uit die kamer uit en staan my so en beloer ... 'n groot vraagteken op haar gesig.

"Dink jy dat jy 'n skaapnek so sal kan maak ... die was darem baie lekker gewees." Net terloops, sy kom uit die Bosveld uit en ken ook net skaapnek in skywe gesny.

"Wel ek weet nie of ek dit presies so sal regkry nie maar ek gaan verseker probeer."

Bykans twee jaar later staan ek in my geliefde vleiswinkel en staar na die snitte in die vertoonkas en daar in 'n bakkie sien ek die nekke. Nouja ... daardie verhaal het ek hier geskryf ... Skaapnek ... gaan lees dit gerus as jy wil.

Skaapnek is beter as lamsnek.
So het dit dan gekom dat Skaapnek 'n nuwe betekenis in ons huis gekry het en vele gaste het al in ongeloof by die tafel aangesit en die lekkerte verorber.

Die afgelope week sit my kuber vriendin, Errieda du Toit toe mos nou weer die skaapnek reg voor my neer op Facebook. Haar praatjie lok nogal baie belangstelling uit en spoedig kletter die sleutelborde. Baie stories en baie metodes en elkeen reken sy of haar metode is die beste.

Maak reg vir die oond prut
Toevallig laat weet my vleiswinkel ook dat hulle skaapnek op spesiale aanbieding het en ek bel vir Poppie ...

"Kry bietjie vir my vier skaapnekke by Wimpie ... hulle het 'n spesiale aanbod op dit die week."

Die afgelope twee jaar het ek baie gefokus op my kokery en honderde ure se kookprogramme gekyk en baie boeke gelees. Ek volg 'n klompie bloggers en probeer om elke week iets aan te pak wat ek nog nooit gedoen het nie. Ek het baie geleer en vandag besluit ek om die skaapnek anders gaar te maak.

Dis wat ek in die prut proses gebruik
Oor die laaste 18 maande het ek tot die besef gekom dat ons meeste van die tyd ons vleis hopeloos te warm gaarmaak en sodoende byna al die heerlike vleissappe uit dryf en gewoonlik opeindig met 'n droeë stuk vleis. By Heston Blumenthal het ek geleer dat jy hoender teen 80C in die oond gaarmaak, so, as dit vir hoender werk moet dit mos vir die skaapnek ook werk. Ek voel egter 80C gaan bietjie laag wees vir die skaapnek en besluit om dit op 110C te doen.

Eerstens kerf ek uie, seldery en wordels op en plaas dit in die pot saam met die skaapnekke. Ek gebruik 'n gietysterpot.

Reg vir 'n lang rustige prut in die oond
Volgende gooi ek koriander en gemengde spesery van Robertson's oor die vleis. Ek hou van die gemengde speserye want dit bevat naeltjies. Volgende strooi ek Roberson's se roosmaryn en hulle gemenge kruie oor die vleis. Na my mening gaan die kombinasie die kenmerkende en gesogte Karoo bossiesmaak in die skaap versterk. Nou gooi ek melk in tot so twee derdes van die vleis bedek is en vul dit aan met water om die nekke te bedek.

PS ... my nekke was gevries. So as jy nie gevriesde vleis gebruik nie kan jy een uur van die kooktyd afsny.

Ek maak die pot se deksel toe en sit hom in die oond. Na 3 ure toets ek die vleis met 'n pen en sien dat die sappe nog bloederig is. Die interne temperatuur staan nou so net onder die 70C en ek sit die pot terug in die oond.

Vyf ure later
Na 5 ure toets ek weer. Die interne temperatuur is nou 95C en ek kan sien die vleis begin los raak op die been. Dis nou genoeg. Ek haal die nekke uit die pot uit en plaas dit in a oonpan met a roostertjie in. Ek bestrooi die nat nekke nou baie ruim met Robertson's se Chicken Spice en hulle Steak en Chops Spice, Ek vryf die speserye liggies met my vingers mooi op die nekke en maak seker alles is goed behandel. Nou los ek die nekke so op die roostertjie dat hulle afkoel en droog word.

Moenie daai pot se inhoud weggooi nie ... dis 'n manjifieke basis vir 'n heerlike sous of selfs sop.

Kort voor sononder is ek terug by die nekke ... hulle is nou mooi droog en daar is so bietjie vetjies en voggies in die oondpan. Ek gooi so twee koppies water in die pan en een koppie Lemoen Oros. Die hoofrede is maar om te keer dat die oondpan nie aanbrand nie maar die lemoen gee 'n heerlike geur af wat die vleis verseker ook liggies in die sitrus geur baai.

Nou word hy voorberei vir die finale bak
Ek bak die nekke nou vir 30 minute teen 180C. Nou het jy 'n lekker bros korsie. Sommige mense bak dit langer ... ek dink dis onnodig en dit gaan net al daai wonderlike vog wat jy so beskerm het nou uit die nek uit dryf.

Jy sal ook oplet dat ek nog geen sout opgesit het nie. Dis met 'n doel. Ek glo sterk daaraan dat sout die vog uit vleis uittrek en derhalwe vermy ek dit as ek vleis bak ... die spesery mengsels wat ek gebruik is uiteraard alreeds souterig. By opdien tyd sit ek growwe sout op die tafel en elkeen kan dit dan aanwend na keuse en smaak. Ek gooi ook nie peper op die nekke nie. Vir my is die smaak van die nekke nogal broos en alhoewel ek mal is oor growwe swartpeper is dit my opinie dat die pepersmaak te sterk is vir die nek.

Heerlik
Pieter Veldsman het vanoggend in 'n gesprek gepraat van smaak nuanses en dit het my laat glimlag ... want ek weet presies wat hy bedoel. Dis hoekom ek so lief is vir growwe sout ... elke happie het sy eie smaak en so dan en wan byt jy daai soutkorrel raak en skielik is dit asof die smaak van die spesieke happie sommer blom. Ja Pieter, jy slaan die spyker op sy kop ... die nuanses maak die etery soos 'n simfonie ... vol variasie en nie 'n eentonige geteem nie.

Nou laat rus ek die nekke vir tenminste 10 minute en dan bedien ek dit op die tafel op 'n houtbord. 'n Lekker skerp messie word gebruik om die vleis van die been los te sny en elke persoon slag maar vir hom a porsie na wense.

Dis al wat oorbly
Op die einde lê die kaal bene daar en steeds is daar kort kort 'n vinger of twee wat vroetel om nog so stukkie uit te grou.

So dien ek dit op
Ek bedien vars brood en groen vye konfyt saam en vir die wat bietjie meer substansie soek maak ek stampmielies en bone ... die pot se inhoud word omtower in 'n allemintige sous wat oor die mielies en of die brood gedruip word ... in oorvloed.

Nouja daar is seker so paar fronse oor my keuse van speserye en kruie. Ek gebruik dit baie selektief want in hierdie dis is dit vir my van groot belang dat die primêre smaak van die skaap nie te erg versteur word nie. Die speserye en kruie wat ek in die prut proses gebruik word gekies spesifiek om die bossie smaak te bewaar en te versterk. Dan die keuse van "Chicken Spice" is spesifiek gekies omdat dit juis vir hoender ontwikkel is en dus baie sagkens werk. Die "Steak en Chops" speserye gee 'n lekker braai geur aan die korsie sonder om die vleis te oorrompel. Die melksure in die prut mengsel verseker dat bykans al die taai vesels versag word.

Vir my maak die brood, botter en groen vye hierdie verseker Man Kos.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.


Saterdag 21 Maart 2015

Brood - Koekedoor se Brioche

Dit was vir my lekker om weer te kan sit en kyk hoe die deelnemers spook met die stowe, panne en bestandele. Koekedoor het aangebreek en die meelstof hang in die lug. Tien befaamde bakkers is reg om te pronk maar die drie beoordeelaars het planne ... groot planne.

Koekedoor Brioche
Sommer met die eerste rondte kom Tiaan en druk 'n stok in die speke. Hy gooi die bakkers met 'n ou gunsteling onder brood bakkers ... Brioche ... maar hy is nie van plan om hulle met 'n lepel te voer nie ... nee jong ... hulle is mos pronk bakkers en hy vang hulle met so paar klein kinkeltjies uit.

Bestandele
Eerstens wys hy hulle nie hoe die broodjie moet lyk nie ... nee hy gee hulle daai vreemde pannetjie en sê ... hier moet jou degies in.

Nog 'n skelmskoot ... hy vertel hulle hoeveel anys hulle moet afmeet en dan verduidelik hy gladnie hoe en wanneer om dit te gebruik nie ... sê net, strooi die orige anys bo-oor jou broodjie. Eenkant fluister hy saggies aan die ander beoordeelaars oor die ekepades wat hulle gadeslaan ...
 "Vertrou jou instinkte."

Deeg is reg en moet nou rys
Hy is ook nie baie omskrywend as dit by die rys prosesse kom nie en hy is ook maar vaag oor die suiker klontjies.

Hy sê wel dat die klontjies moet grof gestamp word ... duidelik het so paar van die bakkers dit nie so gelees nie en verpoeier die klontjies summier.

Dit het ook die beoordeelaars se oë laat rek ... die vraag kom onwillekeurig op ... Hoekom suikerklontjies voorskryf en dan verwag jy moet dit verpoeier ... so paar het skynbaar gladnie die vraag aan hulleself gevra nie.




Klaar gerys
Maar nouja ... genoeg oor Koekedoor ... ek is 'n man wat glo jy moenie kommentaar lewer as jy nie self daai paar skoene al aangehad het nie.

Suiker krummels ingevoeg en nou rus die deeg
So breek Vrydag middag aan en ek besluit dat ek die ding gaan aanpak. Natuurlik het ek twee voordele wat die Koekedore nie gehad het nie ... ek is nie gebonde aan tyd nie en ek het darem gesien hoe die broodjie eintlik moet ly. O ja en ek het darem Tiaan se kommentaar en opmerkings gehoor ... so dis duidelik dat ek 'n voordeel het. Nie te min ... ek het dit nog nooit gemaak nie en ek het net die resep soos Errieda dit vir my uitgewys het.

Tiaan se Brioche ... dis waar die resep is ... kliek op sy naam.

Ek het die volgende veranderings gemaak ... ek het die versuikerde nartjieskil met versuikerde gemmer vervang. Ek het my deeg met my Kenwood geknie. Uit baie videos wat ek al gekyk het oor Brioche het ek geweet dat jy die deeg ordentlik moet knie.

Balletjies in die pan
Ek kon ook nêrens in Nelspruit so pannetjie opspoor nie en het toe maar 'n klein diep koekpan gebruik.


Nouja duur ondervinding het my al geleer dat mens die resep so paar keer moet deurlees voor jy begin en tweedens is dit baie belangrik dat jy al jou bestandele klaar afweeg en afmeet VOOR jy begin.

Net vir die rekord ... dis 32C hier in die Laeveld en sekerlik baie min of meer dieselfde as in daardie Koekedoor stoor. Ek gaan nie die lugversorging aansit nie want die deeg moet goed rys.

Klaar gerys en met eier gesmeer
Ek het die resep mooi gevolg en alles gedoen soos beskryf. My instink en natuurlik die insae op die televisie program het my oortuig dat die resep goed is ... jis ek kan moerig raak as resepte nie reg is nie.

Ek het my eerste mengsel aanmekaar geslaan en vir ongeveer 12 minute in totaal geknie met die deeghaak in my Kenwood.

Die deeg het 40 minute gerys om te verdubbel.

Toe het ek dit platgemaak en die suiker krummels oorgestrooi. Ek het die suiker ingerol en toe die deeg hanteer soos blaardeeg en 4x gevou en gerol.

Nou het ek die deeg weer so 15 minute laat rus.

Klaar gebak
Hierna het ek die bal deeg geweeg en verdeel in 8 porsies soos die resep aandui. Elke balletjie was ongeveer 130gram. Ek meet dit op 'n skaal af.

Ek het die balletjies gemaak en in my pan gepak soos aangedui.

Weereens het ek dit laat rys ... dit was nou koeler in die kombuis en dit het 40 minute geneem om min of meer te verdubbel in die pan. Dis baie belangrik om te onthou dat die deeg verder gaan rys in die oond ... so moenie die balletjies te hoog laat rys in die pan nie. Dis 'n fout wat van die Koekedore gemaak het. As jy die balletjies gaan toelaat om oor die pan se rand te rys gaan dit oor die rand kruip in die oond want dit het nie genoeg struktuur om hulleself te ondersteun nie.

Ek het die brood gebak vir 15 minute en toe het ek foelie oor die brood gesit omdat die kop teveel sal verbruin as gevolg van die suiker en eier. Ek het die oond afgedraai na 170C en nog 25 minute laat bak.

Mooi tekstuur en baie lekker
Nadat ek die brood uit die oond gehaal het het ek dit so 10 minute laat afkoel voordat ek hom uit die pan uitgedop het. Onthou, dis 'n ryk deeg en jy moet jou pan baie goed smeer anders kan hy vas brand.

Nou was die tyd vir die oomblik van waarheid. Ek breek die brood oop en wat ek sien laat my glimlag ... gladnie sleg vir 'n eerste poging nie. As ek dit weer doen sal ek die tweede bakfase opskuif na 40 minute toe. Dit behoort die tekstuur nog ligter te maak.

Dis 'n baie lekker broodjie die. Nou nie 100% brioche nie maar nogtans baie lekker. Ek dink die versuikerde gemmer het baie goed gewerk saam met die anys.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 02 Maart 2015

Snaxie - Jellie rolletjies

Jellie rolletjies
Hierdie is nou verseker nie regte Man Kos nie maar dis iets wat die manne maklik vir die kinders kan maak.



Dis maklik en vinnig maar dit lyk sommer lekker en is pret.


Jy benodig ...

Min bestandele
1x Pakkie Jellie
1/2 koppie water
9 groot Marshmellows
200mm x 200mm glasbak.









Dis belangrik dat die bak die regte grootte is want anders is die lagies te dik of te dun.

Spuit die glasbak liggies met jou koekie sproei en vee die bak dan mooi uit met kombuispapier. Jy soek 'n baie dun lagie sproei in die bak.

Jellie is opgelos
Eerste stap ... gooi die jellie en 'n 1/2 koppie water in a mengbak en klits goed.

Sit nou in die mikrogolf oond vir 60 sekondes en klits weer. Maak seker al die jellie is goed opgelos.





Voeg marshmellows by jellie
Snipper nou die 9 groot marshmellows op. Jy kan die kleintjies gebruik as jy dit kan kry. Jy soek 1 koppie marshmellows.

Gooi dit by die jellie en roer.







Marshmellows is opgelos
Sit die bak nou vir 30 sekondes in die mikrogolf oond. Die marshmellow behoort nou gepof te wees. Roer goed sodat alles mooi kan oplos. As jou marshmellows nie heeltemal oplos nie, sit vir nog 10 sekondes in die mikrogolf.






Reg vir die yskas
Gooi die mengsel nou in jou gesmeerde glasbak en sit in die yskas. Die twee bestandele sal skei tydens die stol proses. So uur of wat. Moenie te haastig wees nie.








Sny los en begin rol
Haal die gestolde bak uit die yskas en sny die kante versigtig los met a skerp messie.

Maak een kant versigtig los en en begin die rolletjie.

Onthou om versigtig te wees, die marshmellow klou dadelik vas as dit aanmekaar raak.




Reg om gesny te word
Rol nou mooi styf op en haal die rol versigtig uit die bak uit en plaas op jou snyplank.
Ek het myne met dental floss gesny. Jy kan garing of vislyn gebruik. Ek trek die toutjie onder die rol in, en sny so 20mm dik skywe. Met die lyn onder die rol, bring die twee punte op en gaan oorkruis. Trek nou styf. Die lus sal deur die rolletjie sny.





Jellie en marshmallow rolletjie
En daar het jy dit ... pragtige, prettige jellie en marshmallow rolletjies.

Jy kan die rolletjies in jou koekstruif gebruik vir bietjie styl.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.






Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... Like hom as jy wil.

Maandag 16 Februarie 2015

Snaxie - Man Kos Twisters

Soos ek manne ken is hulle altyd lus vir ietsie om aan te knibbel of te kou. Die pikante klein vingerhappies is gewoonlik gewild maar dit is so fraai en fyn dat die manne sommer hande vol moet vat en dit laak die ouens soos vrate lyk.

Man Kos Twisters
Hierdie twisters van my is nie iets nuut nie en daar is honderde voorbeelde op die internet. Enigste verskil is ek het so bietjie ingeklim en mooi gedink voor ek die goed gemaak het. Myne het so bietjie lyf en die manne kan een op 'n slag vat sonder om verfynd te voel.



Min bestandele
Begin met twee rolle blaardeeg (Skilferkors of Puff Pastry)

Strooi meel op jou werkbank en rol een versigtig oop. Ek dop hom dan om sodat die plastiek bo is. Rol hom nou liggies met die koekroller. Dis meer om die krakies wat kan vorm plat te kry.

Sit jou vulsel op
Dop die vel nou weer om sodat die plastiek onder is. Ek doen dit want netnou gaan jy die deeg nogal sterk uitrol en die plastiek gaan help om te keer dat dit vasplak.

Strooi nou lekker sterk cheddar kaas oor die vel. Moenie swig voor die versoeking om dit te dik te strooi nie. As jy dit te dik maak gaan jy sukkel.

Maak die pakkie toe en rol
Sprinkel nou jou keuse van braaispeserye oor die kaas. Ek strooi ook so bietjie chili flakes oor en rooi peper.

Pak nou een lagie Lays tjips oor die kaas.

Rol die tweede vel ook nou oop en rol liggies. Moenie die plastiek aftrek nie. Lê nou die tweede vel bo-oor die eerste een sodat alles toe is onder die deeg kombersie.

Sny jou repies
Nou moet jy redelik sterk rol om die twee velle deeg met mekaar te laat kennis maak. Dit is hoekom jy nie die vulsel te dik te pak nie want anders gaan die twee velle nooit iewers kontak maak nie en dan gaan jy sukkel.

Sprinkel nou weer so bietjie speserye en fyngemaakte chips oor die deeg en rol weer liggies.

Nou sny ek die hele pakkie oor sy lengte middeldeur. 'n Pizza cutter werk nogal goed maar jy kan 'n lekker lang skerp mes ook gebruik. Pasop net dat jy nie die ding uitmekaar trek as jy die mes oplig nie.

Nou kom jy by die groot besluit ... gaan jy dit klein en fyn doen of gaan jy Man Kos maak. Ek sny my stroke so om en by 15mm wyd. Sny almal klaar voor jy begin om die repies op te tel.

Vat jou platpanne en spuit met koekie sproei. Lig nou die strokies versigtig op en draai twee draaie. Pak op die koekie panne. Verf almal mooi egalig met geklopte eier en sit die panne in jou vrieskas.

Sit in vrieskas vir so 20 minute
Sit nou jou oond op 200C ... dit vat myne so 20 minute om warm te word. Dis genoeg tyd om die deeg in die yskas ferm te kry.

Heerlik en met lyf vir die manne
Dis belangrik dat die oond goed warm is want daardie hitte is nodig om die deeg te laat pof. Na sowat 15 minute draai ek die oond af na 170C toe vir nog 20 minute. Hierdie tye is aanduidings, hou die goed dop dat dit nie brand nie.

Nouja sowat 30 minute later het jy lekker Man Kos Snaxies.

Speel met die vulsel ... jy kan poeier biltong tussenin sit.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.

Maandag 09 Februarie 2015

Bees - Lekker dik ribbes

Vandag se storie gaan oor 'n snit van die bees wat nie eintlik baie algemeen gebruik word nie. Die ribbes van die bees beland gewoonlik in a pot as 'n stowegereg of sommer stew of dit word gebruik in 'n rol en dan word die gestroopte ribbes as chuck of iets dergliks verkoop. Normaalweg gesien as goedkoop en minderwaardig.

Mooi porsie dik rib
Deesdae is dit darem ook so dat met die invloed van ons ander landsgenote word die dun skywe lekker bros gebraai en is nog altyd vir my lekker so. As kind het ons die dun skywe sommer so in 'n skopgraaf of ou ploegskaar gebraai dat die vet borrel en die vleis kraak. Die gedagtes laat my verlang na die goeie ou nat en mistige dae op Wakkerstroom. Daar agter in my pa se werkswinkel het hy die graaf vol vleis gebraai en dan het ons so met ons hande geëet en elke kort kort 'n stuk varsbrood deur die vet gesleep ... dit was in dae toe ons nog nie regtig geweet of omgegee het vir kolesterol en al die nuwe siektes wat men dan nou kwansuis van Man Kos kan kry nie.

So rukkie terug sien ek hoe Ruben Riffel dikrib gaarmaak vir sy feesmaal met sy familie en ek dog by myself ... ek moet bietjie by my vleiswinkel hoor van die ding. In Kuweit het ek die eerste keer kennis gemaak met dik beesrib en dit was lekker.

Onthou net een ding ... moenie dink jy gaan sagte vleis kry soos met fillet nie ...nee, die ribbes is harde vleis met a growwe grein maar o genade ... geur soos min.

My pa het mos altyd gesê ... "The closer to the bone, the sweeter the meat."  Dit was nou nie noodwendig met verwysing na beesrib as sulks nie ... eintlik niks met beeste te doen nie maar laat ons dit liewers daar laat.

Heerlik sag en sappig
Na 'n lekker gesprek met my vleisman, Wimpie, is ek daar weg ... die belofte was dat ek die ribbes oor drie dae kan kom haal.

Nouja ... Vrydag middag staan ek met die pakkies ribbes in my hande en ek besluit terstonds dat een sommer nou oond toe moet gaan. Met groot waardering kyk ek na die stuk rib in die pan, Wimpie het regtig mooi geluister en mooi snitte gemaak. Elk pakkie het 'n oorvloed van marinade sous in so ek dop die pakkie net in die pan uit met al die sous, plaas die rib so dat die bene boontoe wys en in die oond in. Nou hier kom die ding. Dis in 'n oop pan en die oond is op 110C. Jy kan nou wortels, uie en seldery in die pan sit om meer geur te gee. Jy kan selfs dit toemaak met foelie om dit goed te laat stoom. Maar ek doen dit nie ... ek wil dit soos braaivleis gaar laat word. Oop en sonder ander geure en smake ... ek soek die vleis se smaak en geur.

Vier ure later is die sulke tyd. Die ribbes lyk lekker en al die vet het uitgebak. Nou moet ek bieg, die sou seker lekker gewees het met die hele tradisionele oorrompeling met rys, aartappels, pampoen en boontjies maar ek het dit nie gedoen nie ... ek wil die rib eet ... nie die goed wat die bees eet om die ribbes te maak nie.

Dis mos Man Kos
Ek het 'n lekker brood gebak met so kraakvars korsie. Dit saam met vars plaasbotter en dis al.

Die geur en smaak was baie lekker ... amper aards. Die brood was daar om die sousies op te vee.

As jy lus voel vir iets anders ... gaan vra gerus vir Wimpie.

Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... Man Kos ... like hom as jy wil.