Donderdag 22 Mei 2014

Maalvleis - Frikkabolletjies is mos man kos

Hierdie ding van Man Kos is iets wat baie naby aan my hart lê. Man Kos is vir my die soort kos wat manne van hou en wat manne ook graag sal wil kan maak. Maar dis nie waar dit eindig nie ... nee, ek kyk altyd uit vir Man Kos wat vrouens ook van hou. Hoekom ... wel, as die vrouens dit like dan sal hulle dit vir hulle manne maak.

Oor die laaste jaar het my kosmaak deur 'n groot meule gegaan en my kuber vriendin Renette Vosloo het 'n groot rol in dit gespeel. Vandag is ek bereid om te sê dat ek die MOER BY Kok verseker afgeskud het en diep in die kas gebêre het.

Frikkabolletjies
Nou kom ons kyk na die Frikkabolletjies. Hierdie was gedoen om in te pas by my hedendaagse gebruik om net 3 goed op 'n bord te sit ... vleis, stysel en plante.

Om mee te begin moet jy 'n lekker maalvleis mengsel aanmaak ... my SPAR merk deesdae hulle maalvleis soos die Amerikaners en dui die vet persentasie aan ... ek koop die 10% vet maalvleis.

Volgende moet jy jou maalvleis ordentlik spice en geur maar bly weg van enige oormatige souse in die geur proses. Jy soek 'n realtiewe droeë maalvleis mengsel. As jy dit sloppy maak gaan jy die bolletjies verongeluk want dan gaan die sous uitloop en die bolletjies se struktuur verongeluk.

Meng jou maalvleis goed
Moenie grillerig wees nie ... die maalvleis moet baie goed gemeng word. Ek vat so hand vol en maak dan 'n vuis en pers die mengsel tussen my vingers deur. Hou so aan tot jy seker is die mengsel is regtig goed gedoen. Die het nog 'n voordeel en dit is dat dit makliker is om bolletjies of patties te maak sonder om brood en eiers en ander bindmiddels in te gooi. Ek het 'n helse renons in bindmiddels ... ek soek pure vleis.

Moenie die mengsel nat maak nie.
Vir my is die volgende stap ook baie belangrik ... maak 'n klein pannetjie warm op die stoof en maak so klein pattie van die mengsel maalvleis ... braai dit en proe of dit reg is voor jy die balletjies begin maak.

Nou kom ons by 'n stap wat ek getrou volg ... en ek weet ook baie gaan dit vreemd vind. Ek weeg my frikkadelle af ... almal moet min of meer dieselfde gewig en groote hê.
Weeg jou vleis porsies

Hoekom ... hoor ek jou vra.

Wel dis wiskunde ... jy wil hê die goedjies moet almal dieselfde tyd gaar wees. Deur dit te weeg gaan jy verseker dat hulle dieselfde gaar gaan word.

Ek maak myne so 100g rou vleis en maak dan 'n lekker stywe bal. Dis goeie porsie vir die wat versigtig eet en 'n honger man vat maar twee.
Vou die deegkombersie mooi oor

Volgende is dit jy en die deeg. Ek het sommer 'n pak SPAR deeg gekoop. Jy kan brooddeeg maak as jy wil.

Werk versigtig dat jy nie die deeg skeur nie
Gooi meel op jou werkplank en dop die deeg op dit uit. Strooi nou meel ook oor die deeg en druk die deeg plat. Moenie rol nie. Werk maar met jou vingers en handpalms en druk dit omtrent so 10 to 15mm dik. Dop die deeg maar gereeld om terwyl jy dit plat maak en strooi genoeg meel sodat jy die deeg maklik kan hanteer sonder dat dit aan jou hande vasklou. Dis belangrik want anders gaan jy baie sukkel om die kombersies te maak. Moenie nou olie of vet aansmeer nie want die varsmeel gaan help om die sousies binne die bolletjies te hou.

Goed geoliede pan
Ek het gevind op so om en by 12mm dik kalmeer die deeg en krimp nie te kwaai terug nie. Nou gebruik en sommer 'n teekoppie en sny 'n sirkel deeg uit.

Maak die degie nou plat deur dit met jou vingers te druk en rek, maar net soos jy a pizza so doen. Jy sal sien dat die rant altyd effens dikker bly. Dis reg so want jy gaan dit benut as jy die kombersie toeknyp.

Mooi blink en styf teen mekaar
Ek sit my frikkadelle op die werksplank en as die degie groot genoeg is dan trek ek hom oor die bolletjie, draai die pakkie om en tel die randjie op en trek na die middel toe. Dis nou wat jy daai dik rand dunner trek. As jy begin toemaak moet jy maar eweredig optrek sodat jy die hele rand rek tot waar jy toeknyp.

Heerlik
Ek olie my pan baie goed met olyfolie ... Woolies het Cooking Olive oil wat ek gebruik.

Sit nou die bolletjie in die pan met die toeknyp kant onder. Nou moet jy die bolletjie mooi verf met olie aan alle kante. Kry iemand anders om hiermee te help want as jy olie aan jou hande kry gaan jy sukkel met die toemaak van die frikkadelle.

Werk maar so vinnig jy kan en pak hulle lekker styf in die pan soos op die fotos gewys.

Jou mikpunt is om die deeg so dun as moontlik om die vleis te kry. Ons gaan annerdag anner goedjies maak waar ons meer deeg soek.

Oond op 210 C ... lekker warm.

Breek versigtig uitmekaar
In die oond in vir 15 tot 20 minute ... jy moet maar kyk wanneer die kleur mooi goudbruin is. Draai nou af na 160 C vir nog so 10 minute.

Haal die pan uit die oond uit. Toets met a spatel ov mes dat die rante nie vasklou nie en dop die baksel uit op a bord.

Jy kan die bolletjies nou versigtig van mekaar aftrek ... ek gebruik 'n mes se punt om vas te druk waar ek sien die buurman se degie wil saamkom.

Nou sit ek 'n ander bord bo-op die omgedoptes en draai die bondel om.
Lekker ete

Maak hulle nou verder los van mekaar. Dit is nie baie moeilik nie want afhangende van hoe goed jy die bolletjies geolie het in die begin, sal hulle maklik loskom.

Dis seker amper onvermydelik dat van die middelstes so bietjie sous gaan lek maar vir my is dit nie 'n probleem nie.

Man Kos
Die warm oond laat die kors vinnig vorm en help om te keer dat daar sous uitloop tydens die gaarmaak proses.

Op die mates wat ek gebruik is so Frikkabol en slaai nogal 'n vullende maaltyd. Ek het so soet-suur tamatiesous wat ek saam met die bolletjie geeet het.

Vanoggend wou my jongste proe hoe die Frikkabol proe en toe het ek hom net vir 30 sekondes in die mikrogolf oond opgewarm.

Hierdie bolletjies maak lekker kosblik en padkos happies.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy ... Man Kos ... LIKE hom stukkend as jy kan.


Sondag 04 Mei 2014

Karringmelk Beskuit - Maak dit bietjie gesonder

Almal wat my goed lees weet teen die tyd dat ek 'n swakte het vir karringmelk beskuit. Ek het al twee stories oor dit geskryf ...

Karringmelk Beskuit - beskuit wat my hart laat sing
Karringmelk Beskuit - Hier gaan ek alweer

Nou is dit weer ek en die karringmelkbeskuit ... my basiese resep is in die stories hierbo genoem.

Hierdie is nou nie 'n lang storie nie want ek het omtrent alles al gesê oor die beskuit.

Lyk mos gesonder
Laasweek loop ek so deur My SPAR en daar sien ek bruismeel van SASKO ... bruismeel wat met semels versterk is. Man, natuurlik kon ek dit uitlos nie want ek was juis daar om die goeters kry om beskuit te bak. My resep vra 1Kg so ek koop die 1Kg pakkie en een gewone pakkie ... net vir die wis en onwis.

My reseppie is kort en vinnig behalwe ek maak dit langer want ek werk my deeg so bietjie meer as wat die populêre geloof oor karringmelkbeskuit is. Ek het gevind as jy dit te min werk dan is dit geneig om te bros te wees en foeter sommer in die koffie in. So ek rek daai gluten stringe so bietjie.

Mooi baksel
Ek gebruik nie meer karringmelk nie maar AMAZI of Dikmelk ... het baie meer smaak en is bietjie ryker.

Verder gooi ek 1 koppie gedroogde cranberries by ... ek hou van daai surigheid wat die bessies in die beskuit sit.

In die oond om te droog
Ek het so derde van die deeg oorgehou en nie bolletjies gemaak nie en baie dun, ontrent so 15mm dik in die pan uitgedruk en in skyfies gesny ... ek hou daarvan om die beskuit sommer so tussenin te eet as 'n happie en wou dit meer hanteerbaar maak vir die doel.

Soos jy kan sien, die baksel het mooi uitgekom en die plattetjies was ook binne 2 en half uur droog.

Probeer dit gerus.






Lekker kook tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... LIKE hom stukkend as jy wil.





Saterdag 03 Mei 2014

SOESE - Ek ken dit as choux

Sit ek so en kyk na die Kokkedoor program oor die "High" en "Low Tea" en ek hoor a woord wat ek gladnie geken het nie ... SOESE of soos ek dit hoor ... SUSHI. My kop wil nie om die ding kom hoe SUSHI Afrikaans Onthoukos is nie maar ek trek maar 'n lang teug aan my Camel en kyk verder.

Nou soos die ou gesegde gaan ... 'n Man kyk nie TV nie, nee, hy word die TV. Ek het later by Hetta gehoor dat hulle nie die stuk gewys het waaar sy vertel het van waar SOESE vandaan kom nie. Nogal jammer want dan sou ek baie minder verward gewees het.

Soos die program vorder kom ek toe agter wat die SOESE eintlik is.

"Choux ... dis wat dit is" mompel ek en Poppie loer so onderlangs na my kant toe. Sy lyk nogal verbaas want dis ongehoord vir my om te praat terwyl ek TV kyk ... of liewer terwyl ek die TV is.

Op die einde het ek mooi verstaan wat SOESE nou eintlik is en toe dink ek ... ek het die een keer baie lank terug gemaak en dit was nie te sleg nie. Maar toe was ek nognie so gemotiveerd met die bakkery nie en het dit bloot gedoen om te sien of ek kan.

Hetta se storie kom toe uit op haar Blog .... Kos se Storie ... en ek besluit om die bul by die horings te pak. Een van die kokke op Kokkedoor het mos gesê ... "Soese, die ding kan mos 'n kok se vrees ruik."

Nou hierdie ding, Soese, dit vorm die basis van iets wat baie mans van hou maar ek twyfel of baie mans dit sal aanpak ... hierdie is nou Man Kos wat die vrouens maar sal moet maak. O en glo my, as jy dit vir jou man maak gaan jy sommer baie bonuspunte verdien.

Nou kom ons begin met die storie. Gelukkig vir my het Kaptein Karnallie ook verskyn terwyl ek die bestanddele afmeet en die outjie het 'n klomp dinge te sê gehad.

Min bestanddele vir SOESE
Daar is baie min bestanddele, net water, botter, meel, eiers, sout en suiker .... die suiker is heeltemal opsioneel en kan gebruik word as jy 'n soet ding wil maak. Ek is nie baie seker of margarine die ding gaan doen nie ... die botter is 'n groot komponent van die deeg en verseker gaan dit die smaak sterk beinvloed. Ek dink nie dis 'n maak of breek storie nie maar ek sal by botter bly.

Wat baie belangrik is van die maak van die Soese is die op en af skuif van die pot van die vuur af. Dis 'n ding wat mens maklik kan laat struikel.

Nou soos die wat my ken goed weet ... ek soek altyd na die Wiskunde in my prosesse. Vir die wat my nognie ken nie ... vir my is enige ding wat gekoppel is aan chemies of ander wetenskaplike feite sommer net wiskunde.

Kook die water en botter
Die wiskunde in die op en af van die vuur af is daar vir 'n goeie rede. Eers sit jy die water en botter sterk aan die kook op die vuur en dan gooi jy die meel in een hou by. Nou moet jy roer dat dit bars, met 'n houtlepel verkieslik, en die deeg in 'n stywe bal in kry. Sodra die deeg wegtrek van die kante van die pot af en die bal begin vorm moet jy die pot van die vuur afhaal. Deel van hierdie proses laat die meel reeds so bietjie gaar word.
Voeg al die meel by

Nou haal jy die pot van die stoof af en begin die eiers een een in die deeg inwerk. Pasop dat die eier nie skif nie ... dit kan baie maklik gebeur as jy nie vinnig is met jou roerdery nie.

Roer dat dit bars
Dis nou hier waar 'n mens die kluts kan kwyt raak want die deeg is hardegat en wil nie die eier sommer opneem nie. Jy moet roer dat dit bars en as jy woes raak spat van die eier oor die pot se rand of stukke van die deeg klim uit die pot uit. Dis nou wat jy sterk moet staan en moet glo die resep skrywer lieg nie vir jou nie.

Sodra die eerste eier in is gooi jy die volgende een in en so aan. Maar jy moet die eiers een in roer, moenie hier nou slim raak en al die eiers gelyk ingooi nie want dan gaan jy kwaai sukkel en die temperatuur van die deeg te vinnig afbring.

Eerste eier gaan in
Hier is die groot rede hoekom ek my getroue ysterpotte so baie like ... die pot hou sy temperatuur goed en terwyl ek spook met die eiers word die mengsel nie te koud nie. Ek het ook by die tweede eier se einde die houtlepel laat aftree en my whisk nadergetrek. Die whisk sny die taai deeg vinniger stukken en kry die eier makliker in die deeg in.

Tweede eier is in
En toe asof toordery word dit 'n mooi gladde deeg. Jy wil dit nie te styf hê nie maar verseker nie papslap nie want dan gaan dit nie hulle vorm behou as jy die poffertjies maak nie. So dit kan dalk nodig wees om so bietjie meel by te gooi as die vierde eier dit te slap gemaak het. Onthou net om baie goed te roer as jy meel bygooi.

Nou slaan ek oor na die whisk toe
As jy hierdie punt kon bereik dan is jy nou byna oor die hond se rug. Meeste mense struikel in die eiers bymeng proses.

Resepte skrywers vertel jou jy moet baie vinnig werk en dis hoofsaaklik omdat die mengery die temperatuur gaan afbring en die proses gaan nie lekker werk as die deegmengsel te koud word nie.

Baie kokke skuif die pot so dan en wan terug vuur toe om die temperatuur op te hou. My ysterpot hou sy hitte goed en ek word nie so kwaai onder druk gesit nie.

Jou arm gaan les opsê en jy moet maar vasbyt en deurdruk. Die inbring van die whisk help baie. Maar onthou, dis nie maklik nie ... dis eenvoudig maar verseker nie maklik nie.

Nou het jy jou SOESE deeg en wat vorentoe gebeur gaan afhang van wat jy wil doen.

Glad en lekker hanteerbaar
Op die bakplaat
Jy kan piepklein poffertjies maak met allerhande eksotiese vulsels in, jy kan parmantig raak met wat jy bo-oor gaan sit vir versiering.

Jy kan ook lekker groot poffertjies maak, ordentlike Man Kos. Dan kan jy weer besluit oor wat binne in moet gaan en wat jy bo-op wil sit.

Ek het besluit om Renette se sliders te maak en dan vir poerring gaan ek Eclairs maak.

Uit die oond uit
Jou groot issue gaan nou wees om nie te draai nie. Jou oond moet op hitte wees, 200 C ... ek het 210 C gebruik. Jou panne moet gesmeer wees en jy moet nou vinnig die deeg op die panne kry.

Laat afkoel in die oond.
'n Belangrike element om die poffertjies regtig te laat opblaas is temperatuur en ek is 'n ou wat glo in stoom. Nou in ons huisoonde is stoom nie so maklik nie maar ek het 'n metode wat ek gebruik. Nadat jou poffertjies gevorm is op die bakplaat, sproei dit nat met 'n sproeikannetjie, nou blitsig in daai oond in en hou die deur op so skrefie en sproei weer so drie of vier skote in die oond in en druk die deur toe.

Nou moet jy jou oog op die poffertjies hou want jou oond is warm en die deeg het baie vet in. Dinge kan baie maklik skeefloop en die goed verbrand.

Hierdie is 'n twee fase bakproses en dis belangrik dat jy veral in die eerste fase met die warm oond wakker moet staan. As jou oond 'n glasdeur het dan is dit makliker want jy moet verseker nie die oond oopmaak voor ten minste 15 minute verby is nie.

Kaptein se eertse toets ... veer lig
Op 18 minute was my poffers mooi groot en het die kenmerkende krake in die deeg gewys. Hierdie krake is baie belangrik want soos die Kaptein verduidelik ...

"Dis 'n goeie teken want die aanvanklike hitte het die goedjies laat opblaas en begin verkleur en dan soos die binneste deeg warm genoeg raak druk dit nog so ekstra bietjie uit."

So dis 'n goeie teken dat jou hele poffertjie ontplof het en daar sit nie 'n klont taai deeg in die middel nie.

Kaptein se finale toets ... mooi hol
Nou haal ek dit uit die oond en blitsig steek ek so gaatjie in die kant in en dan terug oond toe. Jy moet dit vinnig doen want die poffertjie kan nou baie maklik inmekaar val. As jy skrikkerig is, los die stappie uit. Wat die gaatjie doen is om toe te laat dat die hitte mooi inkom in die tweede fase maar meer belangrik, dit gee plek vir die stoom van die sagte binnekant om te ontsnap en jou met 'n lekker bros kors los. Ek weet meeste kokke los die gaatjie ding tot na die tweede fase en dan laat hulle die poffertjies afkoel in die oond.

Nou draai ek my oond af na 170 C toe vir die laaste 20 minute of so. Maar weereens, hou maar dop en stel koeler want die goedjies sal binne sekondes brand met al daardie vet in die deeg.

Sodra die tweede fase klaar is is dit noodsaaklik dat jy nou 'n gaatjie maak as jy nog nie het nie en sit dan die oond af dat die poffertjies in die oond afkoel. As jy dit uithaal en in koue plek neersit gaan hulle heelwaarskynlik inmekaar val, nie noodwendig omdat jy iets verkeerd gedoen het nie maar omdat die wiskunde dit voorspel. Die skielik afkoeling laat inkrimping plaasvind en die poffertjies is wel mooi gekleur maar het nognie genoeg struktuur om sulke hardhandigheid te oorleef nie.

Nou het jy mooi poffertjies en jy kan nou doen wat jy graag wil met dit, soet, sout of 'n mengsel.

Hier is die tydlyn opsomming:

1. Meet jou bestanddele af. Dis belangrik want dinge gebeur vinnig as dit begin. Maak seker jou eiers ... man ek meen die hoender eiers ... by kamertemperatuur is. As dit koud uit die yskas kom gaan jy sukkel.

2. Sit jou oond op 220 C en die rakkie reg in die middel. As jy die poffertjies insit draai af na 200 C.

3. Smeer jou oondpanne.

4. Kook jou water en botter en sout en suiker. Afhangende wat jy gaan insit. Jy kan natuurlik 'n geursel ook in die water gooi, Lemoen, anys, suurlemoen, rooswater.

5. As die water kook ... gooi al die meel in.

6. Roer die deeg tot die deeg 'n bal vorm en wegkom van die pot rand af.

7. Haal van die hitte af en begin eiers inwerk.

8. As die deeg lekker glad is ... gebruik spuitsak of lepels en plaas op panne. Gee genoeg spasie vir uitpof.

9. Finaal mis sproei ek die degies vinnig en maak lelike puntjies plat met my nat vinger.

10. In die vuurwarm oond in wat jy nou afdraai na 200 C toe.

11. 20 minute en draai oond af na 170C.

12. 20 minute en sit oond af. Maak gaatjies in die poffertjies en laat afkoel in die oond.

Kaptein Karnallie het in die deeg beland
Die resep met aanwysings is hier by Hetta se Kosstories ... SOESE.

Dit was vir my een groot avontuur en het net weereens bewys ... wiskunde werk. Die Kaptein was van baie waarde maar sy oorywerigheid het hom in die deeg laat beland.

Kook lekker tot ek die volgende storie skryf.

Hier is my Facebook bladsy ... LIKE hom stukkend as jy wil.

Volgende sal ek vertel wat ek met my poffertjies gemaak het.

Saterdag 26 April 2014

Kaptein - jou karnallie ...

Jis die ding vreet mos nou al lank aan my maar ek kon nog net nooit die karnallie vaskeer nie ...

"Waarvan praat jy ?" mompel Poppie geirriteerd ... my Poppie is nie een wat van sulke halfvoltooide nikseggende stellings hou nie.

"Man ... hier is iets of iemand wat my dophou as ek kook."

Kyk ... nou het ek die verkeerde ding gesê. As daar een ding is wat my Poppie se moer kan koer dan is dit nou die soort ding. Nee my maat, sy duld nie sulke stories nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek is gladnie liggelowig, bygelowig, of bang vir tokkelossies nie maar in my lewe het ek al heeltemal teveel dinge gehoor of gesien wat gladnie verklaar kan word nie. So in my kop los ek maar ruimte vir "moontlikhede" want so redeneer ek ... net omdat ek dit nie kan verklaar, sien of voel nie, beteken gladnie dat dit nie bestaan nie.

Daai klein seuntjie in my my wil so graag aan feetjies en kabouters glo en elke keer as ek in my tuin stap dan loer ek so bietjie onder die blomme en agter die blare in ... wie weet, dalk sien ek een van hulle. Pure twak sou my ma gesê het en ek sou nie kon stry nie. Maar nouja, maak nou nie saak nie, volgende keer as ek tuin toe gaan sal ek verseker weer bietjie rondloer.

Maar ek dwaal af ... laat ek by die hoofstorie bly.

Dis nou al 'n lang tyd wat ek die gevoel kry iemand kyk vir my daar waar ek kook. Ek kook baie aande diep in die nag ... dan is ek alleen wakker hier in my huis en rondom my is die bos donker en stil. Wel nie altyd so stil nie ... soms skreeu die nagape of hoor ek die uile mekaar roep. Partymaal hoor jy 'n geritsel, geskarrel en benoude twiet ... en iets het sy aandete in die hande gekry. Dis mos maar die lewe en dis mos maar die weg van die bos.

Nou stap ek van my studeerkamer af kombuis toe om koffie te gaan kry en sommer te sien of die oond al op temperatuur is. Vannaand bak ek weer brood ... die ding met die korsies is mos een van my passies en ek wil die proses presies bemeester ... ek wil presies weet hoe om daai lekker dik "artisan" kors te kry en ek wil ook weet hoe om 'n dun taai krakerige korsie te kry vir die meer gesofistikeerde geleenthede.

Halfpad draai ek om ... ek wil my ernstige kamera vat ... ek soek bietjie meer tegniese versorging van my fotos vir hierdie een. Dis al sterk skemer en toe ek terug in die kombuis kom vang iets my oog ...

Wat is dit ?
"Wat de F.... "

Daar op die stoof lê die pan reg met die brooddeeg ... maar dis nie wat my oog vang nie ... nee, daar is iets op die rand van die pan.

"Het jou Katvis ... " dink ek terwyl die kamera amper outomaties aan die skiet gaan.

'n Vinnige kyk na die kamera se skerm en ek besef die lig is laag. My linkerhand skiet uit en die elektriese lig stroom deur die vertrek.

En so wrintiewaar ... daar staan hy ... rooi jas en swart hoed, stewels en so windmaker snor. Die outjie het nou probleme ... hy is in die hoek vasgekeer, voor hom lê 'n vlakte van uitgepofde deeg en aan twee kante, kombuisteels. Op die oopkant staan ek ... formidabel vir hom.

Kaptein Karnallie
Wat my dadelik opval is dat hy beslis nie paniekerig lyk nie ... alles behalwe. Inteendeel ... hy lyk heel opgeruk oor iets.

"En wie is jy ?"

Ek moes mos eenvoudig vra ... ek kan nie anders nie ... maar ek kyk tog versigtig rond of hier nou nie iemand anders naby is wat my hoor nie ... ek kyk ook blitsvinnig weer na die kamera skerm, net om seker te maak ek verbeel my nie. Hierdie kan mos lelike dinge vir my afgee ... Valkenburg is verseker nie op my Bucket List nie.

"Kaptein Karnallie tot jou diens."

Hmmmm ... interesante naam en nogal tot my diens.

"Ok ... en wat maak jy hier?"

Ek was regtig nuuskierig ... binne in my spring die klein seuntjie op en af maar ek hou myself baie kalm ... met moerse inspanning maar ek hou my kalm.

Hy like spices
En toe begin hy my vertel van sy wedervaringe. Stories van sy reise oor die wilde see en hoe hy op die mees fantastiese eilande en plekke al was. Hy praat oor kos ... baie stories oor kos want soos hy verduidelik ...

"Die lewe is te kort om smaaklose kos te eet ..."

Te kort wonder ek ... jis hy klink vir my honderde jare oud.

"Staan so bietjie opsy asseblief." fluister ek "... die brood moet oond toe."







Baie te sê oor die sop
Hy spring rats van die pan se rand af en staan my en dophou terwyl ek die pan in die oond sit. Die deur klap toe en ek sien hy staan op die sop pot se rand.

En toe raak hy bekkig.

"Wel ek sien jy is darem nie heeltemal onhandig nie ... die deeg het goed gerys en die oond is lekker warm ... 210 C ..."

Ek is nou die ene ore, die mannetjie weet skynbaar waarvan hy praat.

"Dis vir my fantasties om te sien jy sproei die deeg goed nat met water voor jy dit in die oond sit en dis veral goed dat jy daardie laaste paar spuite sommer so in die oond in sproei.

O ja terloops, die olyfolie wat jy in die pan smeer en oor die deeg verf, werk baie goed. Nie net kry jy 'n lekker kors nie maar jou brood bly langer vars ... dis nogal belangrik as jy op die oop see is."

"Alles dinge wat gaan verseker dat jy 'n lekker sagte brood gaan kry met mooi korsies."

Hy gooi maar net sy hande in die lug
"Dankie Kaptein." sê ek en die frons verslap so effens op my voorkop. Die outjie het nou my volle aandag.

"Man moenie my bedank nie ... ek doen maar net my werk ... dis jy wat bereid was om te luister as ek praat."

"As jy PRAAT !" ... nou is ek nie so mooi by hom nie. Waarvan praat hy ... as hy PRAAT.

"Kom nou Colyn ... hoe lank is ek nou al hier in jou kombuis ... dis nou al maande. Ek hou jou dop en ek het al baie vir jou tips gegee."

Aggenee ... nou laat die klein wetter my regtig twyfel aan my geestesgesondheid. Hoe de hel kan hy met my praat. En toe begin ek dink ... hoeveel keer het ek al so in my stilligheid voor 'n mengbak, pot, pan of bakplaat gestaan en gewonder ... en dan is dit asof daar 'n stemmetjie fluister ... maak so of so..

Baie happy oor die sop
"Vat nou hierdie einste pot sop wat hier voor my is. Die aand toe jy gewonder het hoe kan jy maksimum geur in die hoenderborsies inkry wat jy die pastei mee wou maak."

"Wie het jou vertel om dit in die sous te laat prut in die oond. En toe jy die hoender uithaal ... wat terloops bevange lekker gelyk het ... wie het jou aangemoedig om nie die sous weg te gooi nie ?"

Nou onthou ek die spesifieke aand ... Poppie wou hoenderpastei hê en ek het gewonder hoe kan ek die borsies sagter en meer geurig kry.

Op die einde het ek toe so stock poaching ding probeer en dit het baie goed gewekr. Die pastei was heerlik.

Later die aand het ek sous in a bak gegooi en gevries. Ek was vannaand hoeka nie seker waar die sop vandaan gekom het nie en het dit maar ontdooi en 'n kans gevat. Ek het 'n sous, soppie gesoek vir saam met die brood vannaand.

Die alarm op die oond gaan af ... 20 minute ... nou tyd om die temperatuur af te draai na 170 C toe.

Inspekteur die brood
"Mooi so ... nou gaan jy die korsie lekker maak ... so 20 minute teen die temperatuur en dinge behoort regtig lekker te weees."

Ek begin nou gemaklik raak met die Kaptein in die omgewing en ons gesels land aan sand. Hy vertel my van spesery en kruie wat hy al teëgekom het en my oë blink. Hierdie is mos nou 'n regte feëverhaal en die seuntjie in my is op sy stukke.

Baie tevrede met die brood
Hierdie is my eie Kaptein ... 'n ou kalant wat die wêreld al gesien het ... en hy is net myne.

Tyd om die brood uit te haal en weereens is die Kaptein vol stories.

" Dis mos nou hoe brood moet lyk ... pragtige goue kleur en dit ruik sommer soos brood. Ek hou van die korsie en dis die regte ding om die brood op 'n rakkie te laat afkoel."

Hy spring van die brood af en loop na die punt toe. Met sy klein vingertjies trek hy aan die sagte wit waar die brode uitmekaar gebreek is. Hy knik sy kop, so amper asof hy heelhartig saamstem.

Poppie kom in die kombuis in terwyl ek opskep en ek merk dat die Kaptein nêrens te sien is nie. Beter so dink ek. Ek is nie nou lus vir 'n klomp verduidelikings nie. Sy dink mos hoeka dat my kop soms raas. Terwyl ek eet dink ek aan wat hy gesê het oor die brood en heimlik wens ek hy kon a stukkie van die brood proe.

Nie tevrede met hoe die een lyk nie
Ek breek die punt van een broodjie af en breek hom oop. Nou is ek sommer lus vir slordig wees ... slordig maar smaaklik dink ek terwyl ek die botter goed opplak en dan 'n ordentlike skep van my koejawel konfyt. Ek is regtig nie meer honger nie en die een is uit en uit net agter die lekkerte aan.

Poppie staan op en gaan gee die honde kos en so wrintie waar ... toe ek mik om my broodjie op te tel toe staan hy daar.

"Hokaai ou grote ... dis mos nou regtig nie mooi gedoen nie ... ja ek stem dit lyk lekker maar ek dink dis beter dat jy nou begin fokus en konsentreer daarop om jou kos mooi te laat lyk ook."

Ek kyk na hom en toe na die broodjie wat hy so ooptrek ... en ek moet saamstem, dit lyk bietjie oes.

"Met wie gesels jy ?" Poppie staan by die agterdeur en kyk vir my. Ek kyk oor my skouer en en staan op. Nou voel ek sommer simpel. Ek dog ek moet haar maar wys en draai om, om die bord op te tel.

NIKS ... hy is weg.

"Ag man ek sit sommer so met myself en praat. Jy weet mos soms raak ek diep in gesprek met myself." sê ek terwyl ek 'n lekker groot hap van die oes broodjie vat.

Hierdie Kaptein gaan my nog soos 'n kluit laak lyk dink ek terwyl ek die tafel skoonmaak. Hy is skoonveld en ek wonder waar is hy heen. Een ding is verseker ... ek het my nie verbeel nie ... nee beslis nie, want ek het die fotos om dit te bewys.

Lag en kook en wees vrolik tot ek weer 'n storie skryf.

PS ... Hier was geen drank of eksotiese kruie betrokke by hierdie storie nie.

Hier is my Facebook bladsy ... share hom wild en wakker asseblief en LIKE hom stukkend.

Dinsdag 22 April 2014

Hoender - 'n nuwe wenner in my kombuis

Kyk, daar is mos 'n ou gesegde wat lui ... "Mens is nooit te oud om te leer nie."

Die storie is so bietjie lank maar ek dink dis 'n mooi storie.

Vandag het ek dit weereens belewe. Die wat my ken sal ook weet dat ek nogal 'n ywerige ondersteuner is van Kokkedoor op Kyknet. Met die eerste reeks is daar so klein saadjie in my geplant en soos die reeks ontwikkel het, het die saadjie gegroei. Teen die einde van die reeks het die jong plantjie mooi stewig gestaan maar nognie mooi geweet wat hy gaan wees nie ... 'n boom of 'n bossie.

Die reeks is toe verby en my lewe gaan aan ... ek kook steeds met entoesiasme maar diep in my begin die plantjie plek plek die nerwe afskaaf. Ek het geweet ek wil beter wees maar nie regtig hoe nie.

Nou die internet is mos 'n vreemde ding by tye en baie maal dink ek die ding connect met ons innerlike gees sonder dat ons dit weet. So kom dit dan dat ek een oggend op 'n Taal Blad 'n gesprek raakloop wat heeltemal teen die normale beteulde goed gaan. En daar is 'n vrou wat gladnie op haar bek geval het nie. Sy vat daai manne aan met kwinkslae wat my laat ril van die lekkerte. Ek kon dit nie laat verbygaan nie en "Friend" haar toe.

Nou ek gaan nie die hele geskiedenis ophaal nie maar hier is so kort uittreksel ... dis alles op 19 Julie 2013.

Ons doen maar die gewone "introductions" en vra bietjie uit en sy maak die stelling ...

"ek sien jy is lief vir kook!"

Ek antwoord ...
"Jip ek love kook
En ek love bikes
En ek love fotografie."

Sy antwoord ...
"hahaha  nee ek love nie bikes nie hulle raas
ek neem fotos met my Nokia oor ek iets wil share so dit tel seker nie as fotografie nie!
maar ek kook m**r goed!"

Ek antwoord ...
"Aha ... maar dan kan ons mos lekker gesels oor dit.
Ek wil ook m**r goed kook ... ek leer nog."

Ons het nog so bietjie gechirp oor die kos en bikes en toe is dit klaar.

Nou soos dit maar op Facebook gaan hoor en sien ons niks weer van mekaar nie en toe byna op die dag na, twee maande later 18 September 2013 to pop my chat window oop ...

"Het jy ingeskryf vir Kokkedoor ?"

Ek antwoord ...
"Nee jong ... ek is maar net a huiskoker wat like om dinge te probeer"

Sy ...
"ek probeer maar weer."

Ek ...
"Sterkte vir jou ... ek is nou op a mission om my basic skills agtermekaar te kry."

Ons tjirp toe nog so bietjie en toe is dit klaar ... dis mos maar hoe chats op Facebook gaan.

So paar dae later toe roep sy my weer en ons gesels oor wat sy beplan vir die oudisie. Ek kan sommer sien sy is opgewonde en dit laat my lekker voel. Ek is mal oor mense met passie.

En toe op die 22 September 2013 gee sy my 'n kompliment wat my sommer emosioneel wou laat raak. Net 'n kort boodskappie wat ek eers laataand sien.

"Na ek met jou getjirp het, het ek n paar crucial adjustmens,gemaak. Dankie vir dit. Lekker om iemand te ken, wat deel sonder agenda."

Nouja die res is geskiedenis en sy het dit toe gemaak. Renette Vosloo - Kokkedoor 2014

Nou hoekom die stukkie geskiedenis ... wel dis omdat Renette my passie vir die kokery sonder baie inspanning erg gefokus het en my laat besef het dat daar is waarheid in die slagspreuk ...

"You can stay as you are or you can change ..."

Hierdie hele blog is basies geskoei op die inspirasie wat sy my gegee het en dit was vir my lekker om haar eerste resep op die Kokkedoor Bladsy te kry. Natuurlik kon ek dit nie vermy nie ... ek moes dit eenvoudig probeer.

So kom dit dan dat ek vannaand in my kombuis staan met haar resep op my Galaxy Note 3 en begin om die gemmersous te maak. Ja ek het met dit begin want die hoender is nou nie juis 'n uitdaging vir my nie ... ek kan die voëltjies op bykans enige manier gaarmaak.

Rou Gemmer
Eerste kom ek by die vars gemmer uit ... kyk die knollerige ding is mos 'n terduiwel om af te skil en die minder geduldige kokke rand die ding lelik aan. Soos met alles in my lewe is ek altyd opsoek na die beter manier om dinge te doen. Ek het eendag op 'n video gesien hoe 'n slim kok die gemmer in 'n japtrap met a lepel afskil. So ek sny die verlangde duim stuk af, skil dit en toe kerf ek dit op.

Skil met lepel
Ek eindig met die stokkies so bietjie dunner as vuurhoutjies en ek wonder ... my Poppie is nou nie eintlik een vir vreemde smake nie en ek kan al sien hoe sy die stokkies uit die sous gaan uitkrap.

Hier gaan ek nou 'n stokkie steek voor daai uitkrappery en die lang mes flits in die kombuislig. En daar lê nou 'n hopie klein blokkies ... Poppie gaan besig wees as sy dit probeer uitkrap ...

Kap in blokkies
Ek het die gemmer doelbewus eerste gedoen want die resep sê jy moet die suiker smelt en dan al die ander goed behalwe die botter bygooi. En soos die kok waarsku ... moenie jou oog van daai suiker af vat nie want dit gaan brand in 'n oogwink.

So ek het my gemmer reg en al die speserye en pynappel sap.

Ek besluit om liewer 'n pot te gebruik as 'n pan vir die storie want my instinkte het my vertel dat daai gesmelte suiker erg obsternaat gaan raak as ek die pynappel sap bygooi. En dit was ook so. Die karamel het net mooi niks daarvan gehou om skielik vol koue sap gegooi te word nie en het wild protesteer. So wees gewaarsku, die ding raak agressief.

Na Pynappelsap in die stroop in is
Wat my die meeste laat frons het was die feit dat die karamel sulke dik taai klonte in die sap gevorm het en terwyl ek dit so stadig bly roer met die houtlepel het ek net besef ... resepte behoort mens mos te vertel van die soort ding. Die plaat was nou op sy laagste soos die kok ook aanbeveel en kalmte keer terug in die pot. Skynbaar het die suiker maar oorgegee en behalwe dat hy homself in 'n krul getrek het is hulle nou kalm.

Die resep sê jy moet braai speserye ingooi maar ek het besluit ek gaan my gunsteling Portugese Hoender Rub gebruik. Die Rub het soos verwag van Portugese Hoender Speserye, heelwat chili in. Nou nie so dat dit jou mond verbrand nie maar net genoeg om so elke kort kort te sê "Hoezit !"

Heerlike Gemmer Karamel Sous
Na so paar minute se geduld en liefkosing met die houtlepel begin die klonte verdwyn en spoedig is daar 'n lekker dik stroperige sous in die pan. Ek sit die pan af en die deksel op die pot. Nou is dit ek en die hoender.

Nou is dit so dat ons almal al baie goed verstaan dat daar nie so ding is soos "underdone" hoender nie ... nee hoender is gaar of rou maar kan te gaar wees en dan is dit droog. Dis nou hierdie vrees vir rou wat gewoonlik daartoe lei dat ons die hoender oordoen. Ek gaan nou met julle deel hoe ek met hoender stukke werk as ek dit vir ete voorberei.

Nou daar is natuurlik puriste wat gaan frons maar dis hulle probleem. Ek gooi droë speserye op my hoenderstukke en dan gaan dit in 'n stomer in en in die mikrogolf oond. 12 minute. As dit daar uitkom dan is dit goed gaar maar baie sappig.

Uit die stomer uit en in die pan in
Nou gee ek dit weer so lekker opknapping met die speserye en dan pan toe. Ek gebruik my ou staatmaker, Ou Albert, en eers laat ek die pan mooi egalig opwarm. Dan gooi ek so bietjie olie in, so twee eetlepels en ek temper die olie met die gekose braai speserye.

Vir die hoender wil ek die pan darem nie te warm hê nie want ek soek so lekker korsie aan die stukkies. Ek het boudjies en dye gebruik.
Byna klaar. Net eenkeer omgedraai

So 5 minute en dan draai ek die hoender om ... en so 5 minute later is dit gaar. So jy het heerlike hoender in 20 minute ... ek hou van dit en die puriste moet maar eers kom proe voor hulle begin frons.

Ek het gekies om heel aartappel in die skil voor te sit ... dit het ek ook 'n plan mee ... 12 minute in die stomer en mikrogolf en dan verf ek die hele aartappel met olyfolie en sit dit in 'n oondpannetjie in die oond. Oond is op 210 C gestel en die rak is in die middel. 45 Minute en jy het die heerlikste aartappel met so lekker gebakte skil ... niks foelie of gaatjies in gestekery nie ... net stoom, olie en oond.

Ok nou is alles reg ... maar kom ek gee die program en tydlyn net terwille van duidelikheid.

1. Kerf die gemmer en meet al die ander bestandele uit en sit dit reg vir gebruik.
2. Sit die oond op 210 C
3. Sit die swaar pan reg op die stoof.
4. Sit die souspot op die stoof ... geen hitte.
5. Sit die hoenderstukke en die aartapples in die stomer. Mikrogolf vir 12 minute.
6. Gooi die suiker in die sous pot.
7. Sit die vuur aan onder die suiker en staan reg om die pot so dan en wan te kantel sodat die gesmelte karamel orals inkom. Moenie roer met a lepel of ding nie, self nie eers jou vinger nie.
8. Karamel is reg ... gooi pynappelsap, gemmer en speserye in die stroop in.
9. Sit stroop nou op baie lae hitte terwyl die karamel weer oplos. Nou moet jy die sousie liefkoos met 'n houtlepel.
10. Stomer is nou reg.
11. Olie die aartappels en sit dit in die oond.
12. Hou 'n ogie op die stroop. Sodra alles mooi opgelos is en die stroop lekker dik is, sit die plaat af ... die stroop kan nou niks oor kom nie en jy kan relax. Die aartappels het 45 minute nodig.
13. Nou het jy tyd om jou tafel te dek en jou lipstiek op te vars, ek gebruik nie lipstiek nie so ek vat maar a vinnige Camel.
14. 15 minute na die aartappels in die oond is, sit die plaat op lae hitte onder jou swaar pan.
15. Gooi olie en speserye in die pan en hou 'n ogie.
16. 15 minute voor die aartappels reg is ... sit die stroop op lae hitte.
17. Draai swaarpan se hitte op na medium
18. Pak jou hoenderstukke in die swaar pan ... ek sit ook 'n spatsel sif oor die pan.
19. 5 minute ... draai die hoender stukke om.
20. Roer die botter in die stroop in en sit die plaat af.
21. Sit jou hoederstukke op a bord om te rus.
22. Haal die aartappels uit die oond en sit op die bord.
23. Sit hoender op die bord.
24. Kloof die asrtappels en sit botter of suurroom in.
25. Gooi sous oor jou hoender.
26. Sprinkel gemaalde swartpeper op aartappel en garneer met pietersielie.

Hoender en Karamel Gemmer sous op die bord
En daar is dit ... heerlik. Smaakvol en ook meer stylvol as net sommer 'n stuk hoender.

As jy mooi beplan doen jy dit in so om en by 60 minute. Verseker nie kitskos nie maar dis die moeite werd.

Ek is baie in my skik met hierdie hoendertjie ... die Gemmersous is uit die boonste rakke en met so bietjie verbeelding kan jy deur die speserye wat jy insit, die laat werk met 'n groot verskeidenheid van vleis en wildsvleis.

Wat belangrik is, is dat jy die komponente een op sy eie goed proe en ervaar en dan sit jy alles bymekaar op een happie. Nou is waar jy die werkliheid van geur en smaak balansering gaan ervaar.

Hier is iets wat ek by 'n wynkenner geleer het ... as jy regtig al die smake en geure wil ervaar ... kou jou kos en dan maak jy jou mond net so effens oop en haal asem deur jou mond ... jy gaan aangenaam verras word.

In my geval het die beetslaai so lekker andersheid ingebring en die sous en speserye so bietjie afgekoel na die aanvanklke "Hoezit" ... die aartappel bring 'n aardsheid en as jy sluk dan luier daar so volronde smaak roompie op jou tong ... reg vir die volgende happie.

Hierdie ervaring was verseker 'n hoogtepunt in my kook lewe en ek voel vol moed vir wat ek nog wil doen in die kombuis.

Dit sal selfs lekker afgaan op 'n Boerie.

Kook lekker to ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Bladsy.

Hier is my Briekmerke Blog vir die wat van my stories hou.

Maandag 21 April 2014

Wors - 'n Boerie moet mos lyf hê

Sit ek so en kyk na die Kokkedoor 2014 program en hulle maak kos by die landbouskou. Nou kyk, moenie my verkeerd verstaan nie, ek besef dat hulle ou gunstelinge nuwe baadjies aantrek en so bietjie meer kultiveer. Maar nouja, vir my is 'n boerewors rolletjie (Boerie in die volksmond) baie meer as 'n pikante happie.

Soos ek al baie gesê het, ek maak Man Kos ... Man Kos wat vrouens ook like.

Alles wat nodig is
As dit by die Boerie kom dan kan ek liries raak. Die Yankees het hulle Hot Dogs en hulle maak TV shows daaroor ... ons het die Boerie en vir my is dit ook iets om 'n Show van te maak.

Lekker uie sousie
Heel eerste ... ek soek nie die poefter rolletjies nie, nee man, geen boerewors wat sy sout werd is gaan met oorgawe in die verpiepte rolletjies in nie. Daar is altyd een of ander probleem. Of die rolletjie staan so skewe bek en met die eerste byt val daar dinge op die grond of die rolletjie verkrummel en los jou met sop en sous teen jou wange af en oor jou vingers. Of hy lyk so mooi opgehoop en "dressed to kill" op die bordjie maar as jy aan hom vat dan gaan dinge "sideways."

Reg vir die Boerie
Nee ... gee vir my 'n rolletjie wat sy man kan staan teen die boerewors. Vir my is die Ciabatta rolletjies die beste. Ek koop hulle by My SPAR of ek maak hulle self.

Eerstens het die Ciabatta 'n ordentlike kors wat die Boerie kan bymekaar hou.
Tweedens kan jy die sagte binnekant uithaal en dan eindig jy met 'n lekker houer vir die sousies en ander aangenaamhede.

Riffelpan met water
Hoekom raak ek nou so langdradig ... wel vir my is 'n Boerie meer as net 'n Hap en Stap storie ... vir my is 'n Boerie 'n ete op sy eie.

Volgende kom ons by die wors. Nou hier is ek ook sommer vol stront as dit by die Boerie se vernaamste komponent kom. Jis man hoe de hel wil jy so krom wors in 'n reguit broodjie sit. Maak mos nie sin nie ... veral nie as jy ernstig is oor jou boerie nie.

Mooi porsies
Die proses begin by die braai van die wors. Die oorgrote meerderheid braaiers gooi mos daai hele rol so op die vuur of in die pan en dan flip hulle hom soos en wanneer nodig. Pure luiheid in my boekie ... pure luiheid sê ek vir jou. Dis mos maklik om daai hele rol mooi te vat en om te draai. Ja dis maklik en jy kry 'n wors met twee gebraaide kante en as jy dit meer as net die twee kante wil hê dan word die wors droog gebraai. Verder as dit dan by die sny kom dan word die laaste ou bietjie voggies ook uitgetap en hoe nader jy aan die binnekant van die spiraal kom, hoe krommer is die wors.
Reguit en vaal 
Lekker sappig

Ek haal die wors uit die pak uit ... trek hom versigtig reguit en masseer hom so bietjie om die reguitmaak meer ontspanne te maak. Dan sny ek die wors om te pas by my broodjies.

Volgende ... en nou is ek nie by 'n braai vuur nie ... sit ek my vierkantige riffelpan op die stoof en gooi koue water onder in die pan sodat net die riffels uitsteek.

Dan sit ek die wors in ... altyd eerste op die gebuigde kant onder. Dis hoekom ek die riffelpan like want jy kan die wors balanseer tussen die riffels. Moenie worry oor die twee punte wat nou effens op wys nie ... sodra die hitte kom gaan die vel begin krimp en die wors reguit trek.

Hol die broodjie uit
Nou sit ek die pan op medium hitte en ek staan wag by daardie pan. Op my stoof is dit genoeg om te braai maar jy kan dal k meer hitte nodig kry. Spoedig begin die water kook en stoom en jy begin ook vetjies sien. Hou hom mooi dop en sodra die wors mooi reguit getrek het, rol hom om. Spoedig is die water weg en die hele wors is vaal. Nou wil jy net so bietjie braaimerke op die wors kry en dan moet dit uit die pan uit. As jy sien dit vat te lank, gee hom gas. Hoe langer jy die wors op die hitte hou, hoe meer smaak gaan jy verloor.

Gedurende die rusproses sal die wors deur gaar word maar steeds lekker sappig wees.

Gooi die sousie in
Nou sit ek van my vulsel/sous in die holte in die Ciabatta. Volgende plaas ek so bietjie ander goedjies by soos gekapte tamatie, avo, kaas ... net waarvan jy hou. Chutney, rissiesous, tamatiesous, mosterd ... almal gewilde keuses.

Vou die Ciabatta toe en siedaar ... lekker ou Boerie toegevou in die perfekte jassie. Nou kan jy maar eet en vrolik wees. Na so een gaan jy verseker nie meer honger wees nie en dis nou regte Man Kos vir my.

En daar is hy ... Man Kos
Nouja ek hoop jy gaan my Boerie met Muscle probeer.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook Blad.




Man Kos wat vrouens ook like