Dinsdag 18 Maart 2014

Steak - Colyn braai steak op die stoof

Steak ... nou dis 'n stuk vleis waaroor daar al boeke geskryf is en nog baie oor geskryf gaan word. Omtrent elke man het sy eie storie oor hoe om die beste steak te braai en baie is reg maar baie het 'n manier wat verseker net vir hulle lekker is en vir niemand anders nie. Steak is Man Kos.

Lekker steak is darem lekker
Daar is twee groepe as dit by steak braai kom ... die wat glo 'n goeie steak kan net op 'n vuur gebraai word en dan die wat weer glo dat 'n goeie steak in 'n pan gedoen moet word. Wel ek deel sentimente met albei maar is 'n groot voorstaander van die pan storie.

Nou wonder jy seker hoekom ?

Wel ek dink ek is 'n beter as gemiddelde braaier maar die onvoorspelbaarheid van kole vure is altyd vir my 'n probleem. Dan is dit te warm en dan is dit te koud en as dit reg is dan is dit net vir 'n kort rukkie reg. Natuurlik gaan die puriste nou baie te sê hê maar dis hulle opinie. Feit is dat die meeste steak in die wêreld word op gas gaar gemaak.

Daarom het ek al in 1983 oorgeslaan na goeie gas braaiers toe. Met gas kan jy ten minste jou hitte reguleer en konstant hou.

Om 'n goeie resultaat te kry is daar so paar dinge wat mens altyd in ag moet neem.

1. Goeie Steak om mee te begin ... maak nie saak hoe jy dit gaan gaar maak nie.
2. Betroubare hitte
3. Toegewydheid.

As jy steak in verskillende grade van gaar wil voorsit moet jy maar liewers wegbly van enige steak wat dunner as so 15mm gesny is. Dun steaks kan net medium well of well done wees met sukses sonder bomenslike toewyding. Tradisoneel word alle steak by 'n braai gewoonlik in grade van well done gedoen.

Ok kom ons begin by die begin ... ek gaan nou steak gaarmaak op die stoof in 'n pan. Ek eet my steak medium rare en Poppie hou van die ding morsdood. Nou net hier begin die moeilikheid seker vir meeste van ons. Twee mense en twee grade van gaar. As ek die standaard 15mm steaks gebruik dan sit ek haar steak eerste in en braai hom albei kante mooi voor ek myne insit. Hierdie dun steaks is gewoonlik iets wat sy gekoop het of iets wat op 'n special was by die vleiswinkel.

As ek steak koop dan soek ek dit 25mm to 30mm dik. Nou dit maak dinge moeilik vir my met Poppie. Om so dik steak "well done" te kry sonder dat hy skoensool raak is nie maklik nie. So ek maak haar vleis saam met myne gaar dan sny ek dit en flash dit weer in die pan ... nou nie die beste plan nie maar dit werk vir my en dit keer dat die vleis regtig droog gebraai word.

Eerste taak is om jou steak by kamertemperatuur of ten minste yskas tempertuur te kry ... gevriesde steak moenie so op die hitte gesit word nie.

Ordentlike steak om te braai
Vir my is dit belangrik om die steak se natuurlike geur te bewaar, so ek is nie iemand wat steaks vreeslik marineer in allerhande souse nie. So ek gebruik gemaalde swart peper en en een of ander braaisout saammet so bietjie olie. As jy nou fancy wil raak dan gebruik jy druiwepit olie maar ek gebruik sommer Canola. Ek strooi die peper en braai speserye lekker dik en ordentlik en dan vryf ek dit in die vleis in.

Ek sny dwars kepies in die vetlaag so 25mm uitmekaar uit. Maak seker jy sny nie in die steak in nie.

GEEN SOUT. Ja ek weet baie mense het stories oor die voordele van die sout maar ondervinding het my geleer om heeltemal weg te bly van die sout af. By steak is sout elke man se eie saak en ek sit sout vlokkies op die tafel.

Sodra die speserye nou mooi ingevryf is dan drup ek so bietjie olie oor en vryf dit ook goed om die vleis. Nog 'n terduiwel wat ek sien is die gooi van suurlemoensap op die vleis. Kyk dis nou iets wat my moerig kan maak ... die teorie is dat die suurlemoensap die vleis kwansuis sag moet kry maar dis nonsnens. Al wat dit doen is om die vleis suur te laat proe. Die sagtheid is reeds bepaal voor jou slagter dit opsny.

Soms sal ek so bietjie Worcestershire sous oor druppel saam met die olie of een of ander gegeurde soja sousie.

Ou Albert
Volgende stap is jou pan ... ja ek gebruik 'n pan. Maar nie sommer enige pan nie ... ek gebruik my staatmaker ... Ou Albert ... hy is 'n stewige en gewigtige gietyster pan wat al saam met my is sedert 1990. Ou Albert is nie vir iemand met swak armpies nie en Poppie haat die pan want sy moet hom met twee hande en baie inspanning hanteer. Vir my is hy onmisbaar. Moenie gaan en 'n pan met 'n dun bodempie gebruik nie want dan gaan jy verseker jou steak brand.

Ek sit Ou Albert op die stoof en laat die lae gas vlam die hele pan goed warm maak ... moenie nou haastig wees nie en net die bodem toets nie ... die hele pan moet egalig warm wees. Dit help om die hitte te bewaar as die koue vleis ingesit word. Nou gooi ek so eetlepel olie in die warm pan saam met braai speserye en draai die hitte op volstoom.

Onthou, jy kannie steak suksesvol braai as jy nie by die pan wil bly staan nie.

Elke kort kort skiet ek so paar druppels water met my vingers in die pan in en sodra die water druppels ontplof en rond skarrel en verdwyn dan is die pan reg. Met sulke dik steaks sit ek die vleis op die vetkant eerste in die pan. Moenie rondspeel met die vleis nie en moenie jou pan oorlaai nie. Gee die vet tyd om te begin uitbraai en deurskynend te word. Die voordeel is dat jy nou lekker natuurlike vet in die pan begin bymekaar maak vir die ernstige braai.

Vet is nou lekker uitgebraai
Dis nou hier waar ek en Poppie weer koppe stamp want die braaiery veroorsaak baie vet spatsels rondom die pan. Terwille van die vrede plaas ek klam vadoeke om die pan om die vet te vang ... pasop net dat dit nie te naby die vuur kom nie. Moet net nie eers daraan dink om 'n deksel of 'n vet skerm te gebruk nie want dan gaan jy jou steak kook.

Ek gaan nie tye gee nie want die dikte van jou vleis en jou hitte gaan dit bepaal. Die ding kry mens net reg met baie oefen.

Sodra die vet lekker uitgebraai het draai ek die steak om op die teenoorgesteld kant van die vet en laat dit nou hier ook lekker braai. Jy sal sommer sien dinge gaan goed want nou het jy mos lekker vet in die pan.

Die braai proses is mooi aan die gang
Nou moet jy oplet hoe die vaal kleur teen die kante begin opkruip. Hierdie is 'n goeie aanduiding van hoe die braai proses vorder. Sodra die vaal kleur omtrent net sover van onder af as van bo af is, is dit tyd om die ernstige braai te begin. Draai die steak nou op sy een kant. Jy behoort op die punte te kan sien of die vaal kleur goed gevorder het.

Nou moet jy pasop want as jy die kant te lank braai gaan jy nie a "rare" steak kan doen nie.

Hier sal jy nou besef hoekom 'n baie warm pan nodig is, as jou pan nie warm genoeg is nie gaan jy te lank moet wag vir 'n goeie korsie en die vleis te gaar maak.

Baie mooi kors op die steak
Die ideaal is om die kors so binne 2 minute te kry. 'n Goeie oog is nodig en net ondervinding gaan jou leer. Sodra jy die laaste kant braai kan jy bietjie braaf raak. Sit so klontjie botter op die bokant. Jy kan selfs gegeurde botter nou gebruik.

Pragtig pienk en sappig
Baie belangrik is om te weet dat die steak moet rus voor jy dit sny. Die goue reël is om die steak vir die helfte van die tyd te laat rus wat dit geneem het om dit te braai. Die rus proses is baie belangrik want dit gee die hitte kans om eweredig te versprei deur die vleis. Verder laat dit ook die vleis ontspan. Dit verhoed dat al die sap uitstroom sodra jy die vleis sny.

Hier in my kombuis skep ek die borde met die bykosse terwyl die steak rus. Dan as ek klaar is sit ek die steak op die borde en bedien.

Net so klein opmerkingkie ... moenie bang wees dat jy teveel peper en speserye om die vleis smeer nie ... omdat ons dit nie vir ure marineer nie sal die speserye in die kors vasbrand. Dit beteken dat elke snytjie vleis net so bietjie van die speserye op sal hê.

Die vernaamste punte is om nie bang te wees vir die hitte nie en om nie die vleis alleen te laat in die pan nie. Dinge loop skeef binne sekondes.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.