Vrydag 14 Maart 2014

Bosvark - Colyn kook Bosvark Saaltjie

Vandag kook ons weer Bosvark hier in my kombuis. Ek is nou by die 5de deel van die Bosvark en dit word al hoe lekkerder. Die stukke wat reeds gaar gemaak is ...

Bosvark Nek
Bosvark Ribbes
Bosvark Blad
Bosvark Rugstring

Bosvark saaltjie
Nou weet ek nie of Saaltjie heeltemal reg is nie maar ek vermoed so. Maar laat ek verduidelik ... dis die laaste stuk van die rug vanaf die laaste ribbes tot by die stert.

Hierdie stukkie vleis het my baie laat dink en hoe meer ek daaroor gedink het meer het ek besef dat en nie eintlik regtig mooi weet wat gaan die beste wees nie.

Bosvark fillette, porterhouse en rump
Laat ek dit sommer nou duidelik maak ... ek is geensins 'n gekwalifiseerde blokman nie. Ek het oor die jare heen maar self geleer hoe om karkasse uitmekaar te haal en soms sny ek so effens anders as wat die slagters dit sou doen. As ek sny dan sny ek min of meer so dat ek die stukke uitlry wat ek van hou om gaar te maak. As ek vir biltong sny dan breek ek die karkas anders op as wanneer ek vir kook en braai sou opsny.

Ontbeen skoon ...
Die snit het so paar van die tradisionele snitte in. Aan die onderkant of binnekant is daar die sagte fillette, nou die weet ons almal, is gewoonlik murgsag. Dan is daar die deel waar skaap lende tjops gesny word. Verder agtertoe is 'n deel wat gewoonlik saam met die boud uitgesny word maar ons het die boud alleen afgehaal spesifiek om die saal te kon uitkry. By bees sou die agterste deel van die "rump" snitte in hĂȘ.

Hier kom 'n lekker Bosvark sous
Eerste het ek die fillette uitgesny. Daarna het ek die bokant van die rug gesny en die twee rugstukke, in bees is dit ook soms bekend as Porterhouse, uitgehaal. Laastens het ek so stukkie boudvleis afsny, gewoonlik deel van die rump ... en toe bly daar die stuitjie deel oor op die been.

Ek staan en kyk na die stukke op die tafel en wonder hoe ek die vleis moet benader. Die bene en die ander snippers gaan dadelik pot toe om te kook vir 'n lekker sous.

Speserye op en in die yskas
Volgende gebruik ek Woolworths se Moroccan Rub om al die vleis lekker mee te bedek. Gooi so bietjie bruinsuiker, suurlemoensap en Worcestershire sous by en sit in die yskas vir 4 ure.

Drie ure later is die bene in die pot besig om skoon te raak en ek haal die bene uit. Skraap die vleis af van die bene en gooi die fyn vleisies terug in die sous pot.

Die sous kom mooi aan.
Soos gewoonlik het ek Ina Paarman se hoender aftreksel poeier in die sous. Pas net op, dis souterig so jy moenie te gou sout by wil gooi nie. Al wat ek eksta bysit is gekerfde uie en gemaalde swart peper. Nou moet hy maar aan kap op die stoof en dikker word. Net voor ek reg is om op te dien gooi ek so twee eetlepels van my Maroela Konfyt, 100ml varsroom en twee teelepels Mielieblom in.

Bosvark braai in die pan
Nou is dit tyd om die vleis gaar te maak. Eerste doen ek die twee fillette ... die goedjies is maar klein en dun want dis 'n jong varkie gewees. Botter en olie in die pan en dan net so 4 tot 5 minute en uit. As jy dit te lank gaan braai is daar min oor en ek dink dit gaan taai wees.

Volgende braai ek die porterhouse stukke. Hier was ek verras, die vleis is wit, soos by 'n vlakvark. Ek braai ook die stukkie rump in die pan.

Daarna die agterste rugstuk. Die stuk is groterig en ek begin met die bene kant in die pan. Na so 6 minute draai ek hom om en braai weer so 6 minute. Draai hom om en sit die deksel op die pan. Nog so 6 minute.

Ek laat die vleis so 10 minute rus en toe sny ek dit in dun skyfies. Lekker kapok aartappels met sous op die bord en toe begin die fees.

Bosvark op die bord. 3 Snitte.
Nouja, die fillette was puik en so ook die stukkie rump. Heerlik sag en baie geurig. Die porterhouse stukke was nie baie lekker op die manier nie. Dit was taai. Volgende rondte sal dit pot to gaan of oond toe. Die vleis aan stuk om die stuitjie was lekker maar kon meer gar gewees het.

Volgende keer sal ek dit in die pan begin en afrond in die oond. Maar miskien sal ek die boud liewer van die karkas afhaal soos a skaapboud met die heupbeen deel van die boud.

Ek hoop julle het die een ook geniet. So stukkie vir stukkie is ek besig om die Bosvark op te eet en dis nogal 'n kook avontuur.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.