Sondag 02 Maart 2014

Bosvark - Colyn kook Bosvark Blad

Lekker Bosvark Blad
Soos julle seker gesien het, ek is besig om die Bosvark so stuk vir stuk op te eet. Hier is die skakels na die ander Bosvark stukke toe wat ek reeds gaar gemaak het ...

Bosvark Ribbetjies
Bosvark Nek
Bosvark Rugstring

Elke keer as ek 'n snit van die Bosvark vleis bewerk dan word ek weer van vooraf beïndruk deur die gehalte, smaak en tekstuur van hierdie besondere wildsvleis. Ek dink dit word hopeloos onderskat en onder benut. Ek is baie bly dat ek nou 'n goeie bron opgespoor het en ek sal verseker nie sommer weer sonder Bosvark in my vrieskas wees nie.

Nouja Vrydagaand het ek my broer oorgenooi vir ete en Bosvark blad was op die spyskaart. Ek het maar vir Poppie hoender gemaak want sy wil mos nie "cute" eet nie en so ook my skoonsus. Ek en Andrè gaan verseker nie honger bly nie want die bladjie gaan net ons s'n wees. Hierdie is Man Kos.

Goed bestrooi met die speserye
Vroegoggend dam ek die blad by met my geliefde braai speserye, so blertsie suurlemoen en bietjie soja sous. Weereens niks in oormaat nie want soos julle seker nou reeds weet, ek soek die smaak van die vleis nie die smaak van die sous nie. Laaste so ligte strooisel bruin suiker en bietjie chili flakes. Dan in die yskas in vir 4 ure se marineer.

Groente en aftreksel in die pan
Vir die oond sny ek uie, wortels en seldery op en pak dit onder in die pan. Ek plaas die blad bo-op dit sodat hy nie aan die bodem raak nie en gooi toe so twee koppies water met Ina Paarman se groente Aftreksel in die pan in. Maak mooi dig toe met foelie en steek hom in die oond. Die oond is gestel 140 C ... lekker koel oond vir 3 ure. Glo vir my, so na 'n uur begin die geure die kombuis vul en my mond water sommer. Ek hou myself in toom en raak nie aan die pan nie ... hy moet dig toe bly vir 3 ure.

Nou in die oond in vir 3 ure
Kort voor sononder is die tyd om en ek haal die blad uit die oond uit ... toe ek die foelie afhaal gee my hart sommer so bokspring. Daardie varkie is murgsag en val so van die bene af. Die oondpan het alles in wat nodig is vir 'n manjifieke sousie en ek grinnik so in my binneste terwyl ek Poppie se hoender in die oond insit ...

"Ok maar lekker dom ..." dink ek terwyl ek die oonddeur toedruk.

Geurig en murgsag



Al wat ek verder gaan sê is dat die bosvark blad heerlik was ... het my nogal sterk laat dink aan skaap met net hope minder vet. Die vleis het so van die bene afgeval en was murgsag.

Die speserye het genoegsame geur gegee sonder om die regte geurigheid van die Bosvark te oordonder.

Kaal bene is al wat oorgebly het
Ek dink dis die regte metode van gaarmaak vir die blad en sal dit weer so in die toekoms doen. Miskien kan mens mos bietjie met die geure rondspeel en ek dink ek gaan die volgende blad appelkoos en heuning geur.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.