Maandag 17 Maart 2014

Bosvark - Colyn bak Bosvark Boud

Nouja, nou is ek by die laaste stuk van die Bosvark, die Boud. Hier is die skakels na die ander stukke toe wat ek reeds gaar gemaak het.

Bosvark Nek
Bosvark Ribbes
Bosvark Blad
Bosvark Rugstring

Bosvark boud en die speserye
Hierdie stuk vleis het baie moontlikhede en my eerste keuse gaan wees om hom in die oond te doen soos my ma en ouma skaapboud gedoen het. Niks van pienk vleis nie, goed gaar met 'n lekker lang sous.







Mooi gesmeer en nou yskas toe

Eerste gooi ek speserye en smaakmiddels, Texan Braai Rub, Steak en tjops speserye, soet chili sous, bruinsuiker, olyfolie, Worcestershire sous en suurlemoen. Steek so paar gleufies in die boud en smeer die mengsel mooi egalig oor die boud. Dan yskas toe vir so twee ure of wat. Die boud weeg 1.5 kg.



Gereed vir die oond

Volgende maak ek twee koppies van Ina Paarman se Bruin sous poeier aan en gooi dit onder in die oondpan. Ek sny 'n ui in kwarte, kap a stingel seldery en gooi ook wortels in die pan.

Nou plaas ek die boud bo-op die groente en maak hom dig toe met foelie. Oond op 140 C vir 3 ure.


Mooi bruin gebak en reg vir die tafel

Na 2 ure en 45 minute maak ek die boud oop. Gooi die pan se inhoud in 'n pot en sit 'n draadrak in die oondpan. Nou sit ek die boud terug in die oond. 190 C vir 15 to 20 minute, ek doen dit om die vetjies so bietjie bruin te bak.

Bosvark boud, aartappels en pampoen
Die sous in die pot word nou met my stingel versapper bygekom en toe versterk ek die sous so bietjie met soja, chutney, botter, suurlemoen en heuning. Kook hom dat hy kan verminder en roer so bietjie mielieblom by om hom dikker te maak.

Nou ek is iemand wat gewoonlik sukkel met 'n boud se snyery en so oor die jare heen het ek geleer om 'n skaapboud van die been af te haal voor ek hom sny vir die tafel. Ek doen maar die een ook so. Sny op die been langs tot by die heup en dan as die been oop is druk ek die mes dwarsdeur net bokant die been sny op tot teen die heupbeen. Dan swaai ek die mes 90 grade en sny die helfte los. So doen ek met die onderste stuk ook en endig op met twee dele. Die been het nog so bietjie vleis aan en dit is die kok se lekkerte tot op a punt en dan gaan dit vir die wagtende brakke.

Ek kerf nou die twee stukke in mooi snye en siedaar ... boud reg vir opdiening.

Hierdie is dan nou die einde van my groot Bosvark Avontuur. Ek het nou elke stuk van die Bosvark gaar gemaak en baie geleer. Verseker sal Bosvark nou op my lys wees van vleis om in voorraad te hou. Ek is mal oor die tekstuur en geur van die vleis en die lae vet maak dit net nog beter.

Kook lekker tot ek weer 'n storie skryf.

Hier is my Facebook blad.

Wees so vriendelik en "Follow" my hier en SHARE dit ook wyd en suid. Ons maak nie geld uit die goed uit nie maar dis baie lekker om te sien dat lesers die inhoud waardeer. O ja en +1 is ook belangrik.

Lees ook gerus my Briekmerke Blog.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

Thank you for your comment. The comments on this blog are moderated and yours should appear soon.

Greetings
Colyn.